Nuwe modes kom en gaan. Eens op ’n tyd het elke vrou wat “in” wou wees shoulder pads gedra en later ’n Rachel-haarsnit gekry en toe die volgende en die volgende en die volgende gier gevolg. As manlief geweet het wat goed is vir hom het hy net gesê: “Sjoe liefie, die denim baadjie saam die denim hemp en denim romp lyk darem vreeslik mooi.” En vroulief se knieë sou eens op ’n tyd lam geraak het vir die nuwe mullet waarmee manlief by die huis gekom het. Daardie modes het darem lankal, en gelukkig, oorgewaai. Om modegiere te volg is nie gelykstaande aan stylvol wees nie. Styl gaan oor hoe jy jouself uitdruk. Hoe jy praat, hoe jy loop, hoe jy mense hanteer. Jou uiterlike voorkoms is egter die eerste ding wat mense sien en hoe jy jou klere kas benader is dus baie belangrik vir jou styl.

Wanneer laas het manlief vir jou of jy vir hom gesê: “Skat, jy is vir my ontsettend stylvol.” Michelle Kok van MK Image, INTIEM se voorblad stilis, gee haar top 8 gewoontes van stylvolle mense om jou styl weer bietjie op te knap of selfs te herontdek.

1. Styl is nie gelykstaande aan mode nie. Om jouself te behang met die nuutste modegiere daar buite maak jou niks anders as ’n mannekyn nie. Fokus op die snit, styl en kleur wat vleiend is vir jóú vel ondertoon.

Promosie

2. Styl is dapperheid en die gereedheid om in die skare uit te staan. Eenvoud is die sleutel tot styl. ’n Eenvoudige, goed ontwerpte pak van goeie gehalte materiaal is meer stylvol as enige van die nuutste modegiere. Moet nooit jou voorkoms met te veel bykomstighede bederf nie.

3. Styl is ’n groot geskenk – niemand van ons het die perfekte liggaam nie. Leer om die elemente van perfeksie aan jou liggaam te herken, sowel as die perfekte pas vir jou liggaamstipe. Wees gedissiplineerd genoeg om items te koop slegs as dit perfek pas. Daar is ‘n vryheid daarin om te weet wat presies by jou pas.

4. Styl is die identifisering en aanvaarding van jou “bates en laste” – maak die beste van jou sterk punte (bates) en verbloem jou swakker punte (laste).

5. Styl is die dra van kwaliteit oor kwantiteit. Jy kan minder items hê, maar dit pas jou perfek en is vleiend vir jou liggaamstipe, en meer stylvol wees.

6. Styl is om ’n bietjie minder “opgemaak” te lyk as enige iemand anders. Styl is deel van wie jy is en gaan nie net oor hoe fancy jy kan lyk nie.

7. Styl is ’n individu wat verstaan dat die kledingstuk se etiket hulle nie meer stylvol maak nie. Jy kan stylvol wees om enige begroting en met enige goed gekose items ongeag waar jy dit koop.

8. Stylvolle mense is nie slawe van mode nie.

Maak die 8 gewoontes deel van hoe jy elke dag jou voorkoms benader en sien hoe daar nuwe lewe in jou styl ingeblaas word. Kontak Michelle gerus vir ’n konsultasie by michelle@mkimage.co.za. Manlief sal van voor af weer besef met watse stylvolle vrou hy getrou het.

Tel: 064 160 8540
Epos: michelle@mkimage.co.za
Facebook: @michellekokimageconsultant
Instagram: @michellekokimage