Hmm, as daardie skoenlapper-gevoel en die courting net vir ewig kon hou. Maar nou is julle ’n paar jaar getroud en skielik weet julle nie hoe om weer die passie terug te kry nie…

Promosie

Sowaar – hoe langer julle in die land van verantwoordelikhede bly as ’n getroude paartjie, hoe minder is die vonke, die passie en die romanse! Elke paartjie ervaar dit en mis die “ek wil jou heeltyd opvreet” passie van daardie eerste fase van hul verhouding. Dit mag wees dat jy so sit en staar na jou maat en dink: “Hoe op aarde was ek so vreeslik verlief op jou dat ek heeltyd skoenlappers in my maag gevoel het wanneer ek jou sien? Daardie tyd toe ons mekaar amper nie kon uitlos nie en dikwels gegiggel het oor die lekker seks-manewales wat ons aangevang het? ” Hoe kan ons daardie uitgerekte, romantiese sekservarings hê in plaas van deesdae se meer gereelde “wham-bam-thank-you-ma’m”-sessies?

Hier is ’n paar wenke om die vuurtjie van passievolle seks weer aan die brand te kry:

  • Hou in gedagte: Om sexy te voel, verg ’n ligte hart en heelwat speelsheid.
  • Gee gefokusde aandag aan mekaar – al is dit net vir kort rukkies. Wys dat jy regtig in jou maat belangstel. Vra uit en luister met baie belangstelling – leer altyd weer wie jou maat regtig is. Gesels soos ’n beste maat of ’n nuwe liefde. Dit moet voel soos opregte belangstelling in wie die ander persoon is en wat in sy/haar lewe aan die gang is. Maak oogkontak.
  • Maak jouself nou en dan mooi soos op ’n eerste date – julle ook, manne! Ruik lekker, skeer glad, maak jou naels mooi, trek ’n stukkie klere aan waarvan jy weet jou maat hou of waarin jy weet jy lyk goed.
  • Let op na dinge waaroor jou maat opgewonde raak. Maak ’n punt daarvan om daardie dinge op ander geleenthede spesiaal aan te bied. As jou man graag gesels oor sport, verras hom met twee kaartjies na ’n rugbywedstryd. As jou vrou van naels mooimaak hou, steek vir haar ’n geskenkbewys van ’n bederf-naelsalon op haar kussing weg.
  • Vra jou maat se mening oor dinge wat in sy/haar veld van belangstelling of beroep is, of net te doen het met kwessies wat julle moet hanteer – laat hom/haar gerespekteer voel. Woorde soos: “Wat dink jy?”, “Ek wil graag by jou hoor wat jy dink hieroor?”, “Wat sou jy gedoen het as dit jy was?” of “Wat sou jy voorstel in só ’n situasie?” laat ’n mens belangrik en waardevol voel.
  • Komplimenteer jou maat en wys waardering vir wie hy/sy is, enige van sy/haar fisiese eienskappe en dinge wat hy/sy doen. Dit laat enige mens raakgesien en gewaardeer voel – baie lekker!
  • Passievolle seks verg kreatiwiteit! Verras mekaar een keer per maand op ’n seksuele vlak: trek ietsie anders aan, nooi jou maat vir ’n sensuele massering met olie of inisieer seks op ’n ander manier.
  • Beplan om saans meer kontak te maak – skakel die TV af en gesels, maak saam kos, sit en gesels met jou maat terwyl hy/sy bad (of bad saam), sit julle fone af/neer, skakel die rekenaar af. Beweeg nader aan mekaar eerder as om afgelei te word deur al die ander dinge in die omgewing.
  • Gee mekaar baie goeie terugvoer oor wat die ander een in die bed doen wat lekker is. Dis vir elkeen lekker om te hoor hy/sy is ’n goeie lover! ’n Goeie seksuele selfbeeld maak jou volgende keer meer waaghalsig en avontuurlustig in die bed!

Dis baie maklik om in ’n saai roetine vasgevang te raak as jy in ’n langtermyn verhouding is. ’n Mens se natuur is nou maar eenmaal so dat ons baie meer warmbloedig is wanneer ons mekaar wil beïndruk, na mekaar verlang, mekaar “jag”. Dit verg ’n ander uitkyk, ’n benadering uit ’n ander hoek uit en ’n volgehoue wil om met mekaar te wil konnekteer op ’n emosionele en fisiese vlak om “vir ewig en altyd” ’n passievolle sekslewe te kan hê.

Promosie

 

Deur Dr Wilmé Steenekamp