Die samelewing versag pornografie maklik tot ’n skadelose tydverdryf. Wéét egter dat dit jou huwelik kan vernietig en dat verslawing ’n baie realistiese nagmerrie is . . .

Dit is laataand, jy is pas klaar met jou werk, vroulief slaap en jy soek na jacuzzi’s op die Internet. Een van die skakels op jou resultaatlys lyk definitief nie of dit iets met die borrelbad self te doen het nie . . . eerder met wat binne-in die borrelbad gebeur. Sal jy of nie? Dit kan tog nie skade doen nie . . . Dink weer.

In 1986 is pornografie gedefinieer as materiaal wat hoofsaaklik seksueel eksplisiet is en bedoel is alleenlik vir die doel van seksuele opwekking. Sedertdien het baie dilemmas na vore gekom. Tye het verander en wat destyds as seksueel eksplisiet beskou is, word vandag as alledaags gesien. Boonop verskil een persoon se definisie van die volgende. Internetpornografie het dié bedryf veel meer toeganklik en gevolglik baie gevaarliker gemaak. Behalwe hiervoor kan pornografie steeds in ’n paar kategorieë ingedeel word. Volwasse tydskrifte is hoofsaaklik op die manlike gehoor gerig en videokasette kan in sekswinkels aangeskaf word. Dié industrie het radikaal gegroei aangesien mense sulke video’s deur die pos kan ontvang sonder die verleentheid van ’n kassiere wat die transaksie beklink en die gemak om dit in die privaatheid van hul eie huise te kyk. Flieks bevat ook pornografie. Wat slegs ’n dekade gelede as obseen beskou is, het vandag ’n 2-16-ouderdomsbeperking. Soos met flieks, is die standaard vir kommersiële televisie mettertyd voortdurend verlaag. Oudio-pornografie is nog ’n gewilde vorm van pornografie en dan is daar natuurlik Internetpornografie.

Seksuoloë beveel paartjies dikwels aan om na erotiese materiaal te kyk of te lees. Daar is egter ’n groot verskil tussen materiaal wat opbouend en opvoedkundig van aard is en doodgewone pornografie. Maar waar lê die lyn tussen erotiese materiaal en pornografie? Met sekere kykstof is dit duidelik – daar is materiaal beskikbaar waardeur almal afgestoot behoort te word. Kinderpornografie is ’n voorbeeld hiervan en enige gesonde Christen behoort te weet dat dit inherent boos is. ’n Belangrike kenmerk van pornografie is dat dit neerhalend en vernederend is teenoor vroue en dat die karakters blote objekte is, sonder emosies en verhoudings. Op die webtuiste everything2.com, skryf Erica Jong dat erotiese materiaal die erotiese aard van die menslike skepping op ’n kunstige, dramatiese manier vier, terwyl pornografie daarteenoor, slegs ’n hulpmiddel vir masturbasie is, sonder enige artistieke voorwendsel of waarde. Pornografie sowel as erotiese materiaal gaan hoofsaaklik oor seks en seksualiteit en albei is daar om hul gehoor op te wek. Die grootste verskille, meen sy, is egter emosie en empatie. Met erotiese materiaal toon die skepper daarvan respek vir die karakters, daar is ’n motivering vir hulle om op ’n spesifieke manier op te tree en hulle word uitgebeeld as lewende wesens met gevoel en ’n bestaansreg afgesien van hul seksualiteit. Die kyker is voortdurend bewus daarvan dat die karakters mense is en intimiteit en verhoudings is ter sprake. In pornografie bestaan een of meer van die karakters bloot vir die doel van seks of as onderwerp van seksuele fantasie. Daar is geen gevoel of respek vir die karakters nie. Enige uitbeelding van verkragting (met die doel om opwekking te veroorsaak) is pornografie. Dieselfde geld vir pedofilie en enige vorm van vernedering waar een of meer partye sonder empatie in die narratief hanteer word.

Pornografie word dikwels beskou as ’n blote ’n manier om van opgeboude seksuele spanning ontslae te raak. Die algemene siening oor pornografie wat deur die massamedia uitgedra word, is dat mans ’n  redelik ongekompliseerde plesier uit pornografie kan put. Ongelukkig bestaan pornografiese materiaal nie meer uit blonde pruilmondjies in eina-bikini’s nie. Die grense van pornografie het die afgelope paar jaar dramaties verskuif en die kuberruimte, waar pornografie moeilik reguleerbaar is, het eintlik daarvan ’n donker wêreld sonder enige veilige grense gemaak. Mense, en dikwels kinders, word onskuldig by internetpornografie betrek. Dit word ’n maalkolk wat uiteindelik lei tot pornografie-verslawing lei.  En dís iets waarvan jy nié ’n slagoffer wil wees nie.

“Die probleem met pornografie begin egter wanneer, in plaas van ’n tydelike rusplek op pad na volle seksuele omgang, dit ’n voltydse woning raak. Hoe meer tyd mense in hierdie fantasiewêreld bestee, hoe moeiliker raak dit om die oorgang na die werklikheid te maak. Net soos met dwelms, voorsien pornografie ’n quick fix, ’n masturbasie-heelal waarin mense vasgevang raak. Dit kan daartoe lei dat niemand anders later toegelaat word nie,” skryf Edward Marriot in sy artikel Hardcore Addiction op die webtuiste antonellagambotto.com.

VIR VROUE: Hoekom trek pornografie mans soos motte na ’n kers?

Mans hou van kaal lywe. Dit is nou maar eenmaal so. Vroue wat besef hoe integraal seks in ’n man se lewe is, sal begryp dat seks twee keer per maand nie ’n voldoende uitlaatklep vir sy begeertes is nie. En ja, die kans dat jou man nog nooit aan pornografie blootgestel is nie, is bitter skraal. Maar hoekom is dit so ’n groot trekpleister? Dit gaan nie bloot oor fisieke begeerte nie.

Vir die meeste mans raak die manier waarop pornografie seks beliggaam (objectify) ’n diepgesetelde emosionele snaar. In hul boek Raising Cain: Protecting the Emotional Life of Boys, sê psigoterapeute Michael Thompson en Dan Kindlon dat die beliggaming van seks reeds vroeg vir seuntjies begin. “Teen adolessensie word ’n seuntjie die meeste oggende met ’n ereksie wakker. Dit kan gebeur of hy nou in ’n goeie of slegte bui is, of dit ’n skooldag of ’n naweek is . . . seuns geniet hul eie fisieke ‘apparaatjie’. Maar die gevoel is nie altyd ‘Kyk wat kan ek doen nie’, maar eerder ‘Kyk wat dít kan doen.’ Weereens ’n weerspieëling van hoe ’n seun sy seksuele orgaan as  ’n blote objek sien. Wat mense dalk nie besef wanneer hulle mans kritiseer omdat hulle seks objectify nie, is dat wanneer seks gesien word as iets wat jy doen, eerder as iets wat deel van ’n verhouding vorm, die eerste ervaring van die beliggaming van seksualiteit in ’n seun se lewe kom van sy ervaring van sy eie liggaam deur ’n penis te hê wat sy eie eise stel.”

Mans geniet pornografie omdat dit ongekompliseerd is. Daar is nie kritiek nie en vroue is altyd, volgens die teks op die gemiddelde internet-webtuiste “warm, gereed en maklik om tevrede te stel”. In die werklikheid beskou mans vroue as alles behalwe dit! Die moderne vrou het ’n hoër werkstatus, eis om self seksueel bevredig te word en wil deesdae haar loopbaan en moederskap kombineer. Mans voel ook bedreig deur die emosionele mag wat vroue oor hulle het. Glo dit of nie, mans voel nie lewendig tensy hulle in ’n verhouding met ’n vrou betrokke is nie, wat maak dat hulle besef die enigste redding van isolasie geskied deur ’n seksueel aanvaarbare vrou. Hierdie behoefte kan ook tot intense woede lei, wat uitdrukking kry in die besigtiging van pornografie. Anders as in die werklike lewe, is die pornografiese wêreld ’n plek waar mans voel hul outoriteit word nie uitgedaag nie en vroue gewillige, selfs dankbare, diensknegte is, skryf Marriott. Hy meen ook dat pornografie ander manlike vrese, soos ereksieprobleme, aanraak. Volgens psigoanalitiese denke is pornografie ’n man se visuele bewys vir falliese potentheid!

Pornografie is dus ’n leuen en skep valshede oor mans, vroue en menslike verhoudings. In die naam van opwekking verlei dit kwesbare loslopermans en ’n klein hoeveelheid vroue met ’n belofte van intimiteit, maar eintlik gee dit slegs ’n kortstondige verligting deur middel van masturbasie. Marriott skryf in sy artikel dat mans al hoe meer openlik hieroor raak. David McLeod, ’n uitvoerende bemarkingsbeampte, verduidelik die manier waarop pornografie werk: “Ek word aangetrek na pornografie wanneer ek alleen is, veral wanneer ek enkellopend en seksueel gefrustreerd is. Maar ek kan maklik gewalg raak met myself. Nadat ek ’n  fliek twee of drie keer gekyk het, sal ek dit weggooi en belowe om nooit weer daarna te kyk nie, maar my voorneme hou nooit baie lank nie.”

Nick Samuals, ’n getroude man, sê dat toe hy in sy twintigerjare was, hy begin het om sy siening te verander oor wat hy uit ’n seksuele verhouding wou hê. Hy het van sy vriendinne verwag om dít te doen wat hy op pornografiese materiaal gesien het en toe hy getroud is, het hy dieselfde verwagting in die slaapkamer ingebring. Daar was baie spanning omdat sy vrou net nie daardie soort mens was nie.

Die psigoanalis Estela Welldon, outeur van die teks Mother, Madonna, Whore, het ’n aantal paartjies behandel wat in die kloue van pornografie beland het. “’n Aantal mans sluit hul maats by die gebruik van pornografie in. Hulle sal tipies sê: ‘Wil jy nie ’n beter sekslewe hê nie?’ Ek het gevalle gesien waar die vrou eerste daaraan blootgestel is en daarna het hulle hul kinders vir pornografiese doeleindes aangewend.” Wanneer paartjies saam pornografie gebruik –’n neiging wat klaarblyklik al hoe meer toeneem – is daar die illusie dat hulle nader aan mekaar beweeg. Hulle neem ’n video van hulself terwyl hulle seks het en voel dan “buite hulself”. “Hierdie ontmenslike aspek is ’n belangrike deel van pornografie. Dit verontmenslik die ander maat, die verhouding en enige vorm van intimiteit.”

Hoe meer interne spanning daar bestaan, hoe meer aanloklik raak pornografie, meen Marriott. Slagoffers van Internetverslawing is dikwels bang vir ware seks wat onvoorspelbaar is en wend hulle daarom tot pornografie, wat heeltemal onder hul beheer is. Natuurlik bring dit intense teleurstelling, omdat dit nie regtig is waarna so ’n persoon smag nie.

VIR MANNE: Ek doen dit vir die pret – hoekom word dit as skadelik beskou?

Jou skooldae is lank reeds vergete en niemand behoort jou voor te skryf oor wat jy mag en nie mag doen nie, nê? Dit is dalk net goed om bewus te wees van watter effek pornografie op jou huwelik kan hê. Pornografie veroorsaak dat die toeskouers, veral jong mans, ’n verwronge perspektief van verhoudings het, meen prof. Lynn Scoresby van die departement kinderontwikkeling en gesinsverhoudings aan die Brigham Young-universiteit.  Mense wat aan pornografie verslaaf is, sal byvoorbeeld op ’n afspraak nie in ’n vrou se oë kyk nie, maar veel eerder na anatomiese gelaatstrekke. Stelselmatig verander so ’n persoon se hele gedagtegang. Rekenaarpornografie-toeskouers raak emosioneel van mekaar geïsoleer omdat hulle voortdurend interaksie met lewelose beelde het. Dit lei tot emosionele onvolwassenheid. Mans wat verlore raak in ’n wêreld van pornografie raak dikwels minder lus en vaardig om langdurige verhoudings te vorm, gedeeltelik te wyte aan die onderliggende boodskap van pornografie wat oppervlakkige verhoudings aanmoedig.

Pornografie besoedel ’n mens se gedagtes. Die mees sigbare skade wat pornografie berokken, geskied in die brein. “Die oomblik wat pornografie deur die portaal van ons sintuie op ons hardeskyf (die brein) afgelaai word, werk dit soos ’n rekenaarvirus en besmet dit ons gedagtes oor seksualiteit.” Hierdie besoedelde lêers beïnvloed ons gedagtes oor geslagsrolle, wat ons oor seksualiteit glo, hoe ons beplan om ons seksueel te gedra en of ons oor die vaardigheid beskik om getrou te bly binne ons huwelike, meen Rob Jackson, ’n gelisensieerde berader in privaatpryktyk. (pureintimacy.org)

Die psigoloog Edward Donnerstein van die Universiteit van Wisconsin het gevind dat blootstelling aan gewelddadige vorme van pornografie tot anti-sosiale houdings en gedrag lei. Hy meen ook dat manlike pornografie-kykers meer geneig is om aggressiwiteit teenoor vroue te toon, minder reaksie teenoor pyn en lyding van verkragtingslagoffers toon en meer gewillig is om verskeie mites oor verkragting te aanvaar. Navorsers drs. Dolf Zimmerman en Jennings Bryant het ook gevind dat massiewe blootstelling aan pornografie ’n begeerte vir toenemende afwykende materiaal het, wat geweld soos sado-masochisme en verkragting insluit. In haar boek, Rape and Marriage bevestig die feminis en outeur Diana Russel dit ook. Sy het gevind dat pornografie mans en vroue konflik, lyding en seksuele ontevredenheid laat ervaar.

In sy navorsing oor hoe mans aan pornografiese materiaal verslaaf raak, het prof. Victor Cline van die Universiteit van Utah gedokumenteer hoedat mans wat verslaaf raak aan pornografie, begin om meer eksplisiete of afwykende materiaal te begeer en uiteindelik doen wat hulle gesien het. Volgens Charles Keating van Citizens Through Lawe het navorsing getoon dat 77% van kindermolesteerders wat seuns molesteer en 87 % van kindermolesteerders wat meisies molesteer, erken dat hulle die seksuele gedrag wat hulle op pornografiese materiaal gesien het, namaak. Sosioloë proff. Murray Straus en Larry Baron van die Universiteit van New Hampshire het gevind dat verkragtingsyfers die hoogste is in state met ’n hoë verkoopsyfer van sekstydskrifte. Dit kom ooreen met navorsing deur psigoterapeut David Scott wat gevind het die helfte van verkragters gebruik pornografie om hulself seksueel op te wek net voordat hulle hul slagoffers uitsoek. (forerunner.com)

Die FBI het met ongeveer twee dosyn seksreeksmoordernaars in die tronk gesels. Ongeveer 81% van hulle het gesê hul grootste seksuele belangstelling was die lees van pornografie en hulle het hul seksfantasieë op egte mense uitgeleef. ’n Voorbeeld hiervan is Arthur Gary Bishop wat aangekla is vir die seksuele mishandeling en moord op vyf jong seuns. Hy het gesê: “As pornografiese materiaal nie beskikbaar was in die state waar ek vroeër gewoon het nie, is dit moontlik dat my seksuele aktiwiteite nie sou toeneem het in die mate wat dit het nie.” Hy het gesê pornografie het hom vernietig. “Ek is ’n homoseksuele pedofiel wat aangekla is van moord en pornografie was ’n bepalende faktor in my ondergang.” (probe.org)

Die siklus van verslawing lei voortdurend slegs in een rigting – harder materiaal. Daar word selfs beweer dat byna alle pornografie later in S&M (sadisme en masochisme) eindig. Dit word ’n verslawing, soos alkohol en só, in ’n poging om vry te kom van verwagtinge, raak mans dikwels vasgevang deur ’n fantasie. Dit is tydelik en verskaf later nie meer seksuele verligting soos in die begin nie. Dan begin mans soek na harder materiaal. Die Amerikaanse seksuele reeksmoordenaar Ted Bundy, wat in Januarie 1989 vir sy dade tereggestel is, het dit die aand van sy dood só in ’n radio-onderhoud verduidelik. “Dit het in fases gebeur, geleidelik . . . my ervaring met pornografie wat op ’n gewelddadige vlak met seksualiteit omgaan is dat, sodra jy daaraan verslaaf raak – en ek kyk hierna as ’n soort verslawing soos ander soorte verslawing –  jy aanhou kyk na kragtiger, meer eksplisiete, meer grafiese materiaal. Soos ’n verslawing hou jy aan om iets te verlang wat harder en harder is, iets wat jou ’n groter mate van opwinding gee, totdat jy die punt bereik waar pornografie slegs só ver gaan . . . dit bereik daardie afsetpunt waar jy begin om te wonder dat as jy dit miskien doen, dit jou sal gee wat verby daardie punt van lees of besigtiging is.”

Terwyl bogenoemde effekte nie noodwendig op jou van toepassing is nie, is dit ’n duidelike illustrasie van watter magtige effek pornografie op ’n mens se brein het.

Die geestelike skade wat pornografiegebruik aanrig, is dikwels die onsigbaarste effek, maar dít affekteer elke Christenman. Volgens forerunner.com val pornografie die eerbaarheid van mans en vroue aan wat na die beeld van God geskape is. Dit verwring ook God se geskenk van seks wat slegs binne die perke van die huwelik gedeel behoort te word en dikwels bevorder dit perversie, wat verkragting, bloedskande, sodomie, marteling en pedofilie insluit. Die Skrif veroordeel praktyke wat deur pornografie veroorsaak word. Voorbeelde is Genesis 9:21-23, wat praat oor seksuele ontbloting, Levitikus 18:23 wat bestialiteit veroordeel en Deuteronomium 23: 17-18, wat prostitusie veroordeel.

Pornografie meen die huweliksbed is elasties en groot genoeg om meer as twee mense te akkommodeer. “Die doel van pornografie is om ’n seksuele reaksie uit te lok. Of dit ’n video, tydskrif of volwasse vermaak is, die doel is om die seksuele passie van die kyker op te wek. Wanneer ons seksuele passie deur iemand anders as ons maat opgewek word, is dit slegs menslik om ons maat se sexyness met die sexyness van die een tot wie ons aangetrokke voel, te vergelyk. So, wat gebeur met ons siening van ons huweliksmaats wanneer ons ’n ferm, pragtig opgemaakte (en rekenaargemanipuleerde) binneblad sien? Die huweliksmaat verloor,” skryf Laurie Hall in The Elastic Bed Syndrome op die webtuiste beliefnet.com.

Uit die perd se bek – híérom moet jy liefs pornografie vermy . . .

’n Voormalige pornografie-verslaafde wat hom 20 jaar lank aan die gebruik van pornografie gewy het en in 1998 deur God se hulp daarvan bevry is, het ’n bladsy op die internet geskep oor redes waarkom mense dit liefs moet vermy. Is jy ’n gereelde pornografie-gebruiker? Lees hier . . .

  • Dit voed die luste van die oë en die vlees, wat nooit versadigbaar is nie. Só begeer jy meer en meer om dieselfde seksuele piek te bereik – dit maak van gebruikers slawe van hul eie begeertes.
  • Dit “verseksualiseer” jou gedagtegang en maak jou perspektief só pervers dat seks onnatuurlik in jou gedagtes verlig word. Pornografiese beelde word in jou brein ingegraveer met behulp van hormone wat tydens seksuele opwekking vrygestel word. Die beelde bly draal lank nadat jy opgehou het om daarna te kyk.
  • Dit bevorder vernietigende praktyke en kan lei tot progressiewe verslawing. Pornografiese webtuistes lei kykers byvoorbeeld na uitbeeldings van elke moontlike seksuele perversie denkbaar soos kinderpornografie, masochisme, sadisme ensomeer. Jou blootstelling aan sulke temas kan lei tot die uitlewing daarvan en uiteindelik seksuele misdade.
  • Pornografie intensifiseer jou gedrewenheid na jouself eerder as ’n behoefte om ander te dien. Masturbasie byvoorbeeld (wat hand aan hand met pornografie gaan) het geen waardetoevoeging tot intimiteit binne die huwelik nie en raak later toenemend ’n selfgesentreerde seksuele oriëntasie, wat kan inmeng met jou vermoë om liefde te gee en te ontvang.
  • Pornografie kan lei tot skuld. Die gerief van kredietkaart-transaksies op die internet bemoedig jou om sonder perke te bestee. Pornografie-skeppers verlei gebruikers met uitlokkende advertensies en spam mail wat jou met gratis pornografie lok. Wanneer jy eers op die webtuiste beland, moet jy betaal om meer te sien.
  • Deur pornografie aan te skaf of daarna te kyk, ondersteun jy die pornografie-industrie en fasiliteer jy die industrie se groei. Jy dra ook by tot die seksuele uitbuiting van wie ook al betrokke is by die beelde waarna jy kyk.
  • Deur na pornografie te kyk, kan jy jou familieverhoudings beskadig, om nie te praat van die vergrote kans vir jou familie of vriende om die materiaal te sien nie. Pornografie kan jou blykbaar ook inspireer om te eksperimenteer met bloedskande –’n algemene pornografie-tema. Pornografie kan ook leuens, mishandeling, buite-egtelike verhoudings, skuld, geweld en irrasionele denke aanmoedig.
  • Om na pornografie by die werk te kyk, kan jou reputasie benadeel. So ook jou produktiwiteit, wat tot werksverlies kan lei.
  • Pornografie kan jou huidige of toekomstige getroude sekslewe beskadig. Pornografie-kykers ervaar dikwels moeite om ware intimiteit met hul lewensmaat te deel wanneer hulle oor iemand anders fantaseer. Dit skep onrealistiese persepsies van seks.  Dit neem wat God bedoel het om ’n private uitdrukking van liefde tussen man en vrou te wees en prostitueer dit vir vermaak. As jy na seksuele beelde van ander mense vir vermaak gekyk het, sal jy  ’n verlaagde waarde van seks hê, wat daartoe lei dat jy seks met jou maat minder waardeer en laer ag.
  • Om na pornografie te kyk, vergroot jou geneigdheid om leuens te vertel omdat jy ’n natuurlike begeerte sal hê om dit geheim te hou om sodoende kritiek, vernedering en ongemak te voorkom.
  • Pornografie kan jou aan masturbasie verslaaf maak.
  • Dit het ernstige geestelike gevolge en is die deur na spirituele onderdrukking en verwarring in jou lewe. Die krag agter pornografie is inherent boos. Dit beheer en domineer die kyker se lewe en laat toe dat ander vorme van boosheid invloed in daardie persoon se lewe kry. Sodra iemand na pornografie begin kyk, word hul oë die hek vir boosheid om binne te tree. Soos wat pornografie invloed kry, verdoof die boosheid die kyker se vaardigheid om tussen reg en verkeerd te onderskei en soos wat tradisionele morele waardes blur, tree verwarring in.
  • Pornografie help jou om die leuens wat pornografie promoveer, te help glo. Dit is leuens soos: * Seksuele vryheid is gelyk aan geluk. *Seksuele uitdrukking is ’n reg, nie ’n gawe van God nie. * Jy kan ’n gesonde lewe hê met pornografiese beelde wat in jou agterkop ronddryf. * Pornografie beskadig niemand. *Seks is hoofsaaklik bedoel vir selfbevrediging. * Pornografiese filmsterre is die gelukkigste mense op aarde. * Volwassenes kan na pornografie kyk sonder langdurige gevolge. * Pornografie kan jou sekslewe bevorder. * Dit is ’n skadelose stokperdjie wat almal beoefen (porn-free.org).

Skokfeite van regoor die wêreld

  • Harde pornografie word nou deur bykans 33% van alle internetgebruikers in die Verenigde Koninkryk gebruik.
  • In Amerika, met pornografie wat bykans $15 biljoen per jaar inbring, bestee mense jaarliks meer geld hieraan as wat hulle aan fliekkaartjies en al die uitvoerende kunste tesame bestee!
  • Jaarliks, in Los Angeles alleenlik, word meer as 10 000 harde pornografiese flieks gemaak, teenoor ’n jaarlikse Hollywoodgemiddeld van 400 flieks.
  • In Australië het die Melbourne-gebaseerde Age-koerant gewaarsku dat internet-affairs kantoor-affairs as die hoofoorsaak van egbreuk vervang het.
  • Vandag is daar meer as 260 miljoen bladsye pornografie op die Internet. Volgens die soekenjin Google is dit 7% van die 3.3 biljoen bladsye op die web.
  • Die meeste internetgebruikers het al pornografie gesien – dikwels per ongeluk in hul soeke na iets anders of wanneer ’n webblad in hul inbokse verskyn.
  • In ’n uitgawe van U.S. News & World Report skryf die verslaggewer Eric Scholosser dat pornografie in Amerika meer geld inbring as al die inkomste wat deur rock- en country-musiek opnames gegenereer word.

Is jy aan pornografie verslaaf?

  • Skeep jy jou verantwoordelikhede af om op die internet na pornografie te soek?
  • Het jy agtergekom dat jou behoefte aan pornografie met die tyd vergroot het?
  • Het jou maat al begin kla dat sy/hy afgeskeep word?
  • As jy nie in ’n verhouding is nie, het jy al ooit gevoel dat pornografie jou een konstante kameraad is?
  • Wens jy jy kon minder geld aan pornografie bestee?
  • Het jy gunsteling pornografiesterre?
  • Kom jy agter dat hoe meer jy pornografie gebruik, hoe minder stel jy belang in die werklike lewe?
  • Steek jy jou pornografie-gebruik weg?
  • Kom jy agter dat jy jouself nie van pornografie kan wegskeur nie?
  • Het jy in die verlede verhoudings verloor weens jou pornografie-gebruik?
  • Word jou huidige verhouding bedreig weens jou pornografie-gebruik?
  • Wens jy jy kon al jou tyd aan die besigtiging van pornografie bestee?
  • Voel jy dat mense nie jou gebruik van pornografie verstaan nie?
  • Is jy afhanklik van pornografie as ’n stimulant vir ware seks?

As jy deur hierdie vrae lees en jouself hierin herken, is jy verslaaf aan pornografie en ongelukkig daaroor.

(utdallas.edu)

Hoe om jou verslawing te oorkom . . .

Pornografie is ’n vorm van seksverslawing. Terwyl sommige verslaafdes nie veel erg daaraan het nie, draai ander seksverslaafdes se lewens daarom. Pornografie gee die gebruiker die illusie dat elke seksuele kompulsie deur fantasie tegemoetgekom kan word. Met goeie behandeling is dit egter vir ’n pornografieverslaafde moontlik om weer ’n ware verhouding bó die fantasiewêreld van pornografie te verkies. Ongelukkig glo pornografieverslaafdes dat hulle die beste van beide wêrelde het – hul fantasie én hul verhouding. Dit is egter verkeerd omdat hul verhoudings beperk word deur hul geheime verslawing, aangesien een van die groot belonings van om pornografieverslawing te oorkom, is om op ’n liefdevolle manier ten volle toegewyd aan mekaar te wees, sonder dat ’n mens iets hoef weg te steek en terwyl jy seks kan geniet.

  • Erken jou probleem. Hierdie eerste, integrale stap word ’n groeiende probleem omdat die gemeenskap weier om pornografie as ’n probleem te sien. Diegene wat ’n stryd het met pornografie, moet besef hul keuses en aksies, hoe privaat ook al, het blywende en vernietigende uitwerkings op hulle, hul families en die gemeenskap.
  • Soek hulp. Om jou probleem te probeer wegsteek is dikwels so skadelik soos die probleem self. Daar moet egter lig op die geheime gewerp word. ’n Belofte aan jouself is maklik breekbaar. Wanneer jy egter ’n commitment teenoor ’n ander persoon maak wat jou liefhet en vir jou omgee, is dit ’n aansporing om te verander. Om met ’n goeie vriend, familielid, geestelike leier, dokter of terapeut te gesels, is ’n belangrike stap in jou genesingsproses. As jy boonop na God toe draai en Hom vra om jou te help om jou verslawing te oorkom, kan dit ’n groot las van jou skouers afhaal.
  • Raak ingelig. Diegene wat aan pornografie verslaaf is en dié wat hulle help, moet geloofwaardige inligting oor die probleem ontvang. Die inligting moet bruikbaar wees, maar nie die verslawing stimuleer nie. In 2001 het die Brigham Young-universiteit ’n konferensie oor pornografie, getiteld Cyber Secrets, geborg. Transkripsies van die voorleggings kan op hul webtuiste, edu, gelees word. Nog ’n bruikbare webtuiste is enough.org.
  • Bou ’n ondersteuningstelsel. Behalwe vir lewensmaats en ander familielede vind baie verslaafdes ondersteuning by groepe wat deur dieselfde ervarings is. Dit is goed om ’n vriend te kry wat sy verslawing oorwin het en presies weet waardeur jy gaan. Iemand vir wie jy kan bel wanneer jy voel die versoeking raak te groot om te weerstaan. Hierdie mense weet ook dat dit die regte manier is om ’n verslaafde te bemoedig en op te voed, eerder as om te tugtig en verneder.
  • Raak betrokke by verhoudings en die lewe self. Baie mense raak by verslawings betrokke as ’n rede om ware verhoudings en die lewe te vermy. Om by ’n verhouding betrokke te wees, vereis toewyding en eerlikheid en daar is ook ’n moontlikheid om seergemaak of teleurgestel te word. Pornografieverslaafdes weerhou hulself van verhoudings wat aan hulle emosionele en sosiale behoeftes kan voorsien. Hulle soek dikwels liefde in pornografie, maar al wat daarin te vinde is, is wellus. Daar is geen omgee vir ander nie, geen intimiteit nie, geen verhouding nie, net naamlose liggame wat tot seksuele objekte ontmenslik word.

(marriageandfamilies.byu.edu)

Vir diegene wat by pornografie betrokke is, is daar altyd hoop en ’n moontlikheid om genees te word. Dit verg egter harde werk, opvoeding en ondersteuning van ander mense.