Die tweede hoeksteen wat ons wil neersit vir die huwelik is die een van eenheid. Let wel, nie eendersheid nie, maar wel eenheid.
In Gen 2:24 staan daar: “ en hulle sal soos een mens word…”. Dit laat dink ‘n mens dadelik aan die grappie wat baie keer op troues gemaak word waar paartjies gesê word dat hulle nou nie die res van hulle getroude lewens saam moet probeer uitvind watter een van die twee hulle nou moet raak nie. Of soos daar eenkeer deur ‘n man aan ‘n predikant gesê is: “U het gesê ons sal een word, maar ons is al vyf!”
Die hartseer kant van hierdie grappies is dat dit daarop dui dat die samelewing nogsteeds nie die konsep van Bybelse eenheid verstaan nie. So wat is eenheid dan?
Die Collins verklarende Woordeboek sê: “Unity is ‘a state of being one’, undividedness’ en verder word dit as vol beskryf: “the arrangement of the elements in a work of art in accordance with a single design and purpose.”
God het dit so bewerkstellig dat huwelikspaartjies geestelik, emosioneel en fisies een moet raak. Vir hierdie eenheid om plaas te vind moet daar totale oorgawe wees. Huweliksmaats kom tot die besef dat wat hulle altyd as hulle eie gesien en aan hulle self toegeëin het, moet ewe skielik met iemand anders gedeel word. Gedeelde eienaarskap het begin deel vorm van die lewe.
As ons die analogie van ‘n skildery verder kan gebruik op eenheid te verduidleik, dan is huweliksmaats soos die verskillende kleure en vorme wat die Meersterskilder gebruik om hierdie kunswerk te skep. ‘n Kunswerk wat Hy in gedagte het vir die paartjie. Derhalwe begin die navolging en die eenheid by Hom en hoe Hy dit sien. Dit begin dus nie in die paartjie se gedagtes of hoe hulle daaroor dink of dit sien nie. Die rede hoekom dit daar moet begin is omdat huweliksmaats moet besef dat eenheid begin by die sterf aan myself en my eie gedagtes en van wat ek wil hê.
Die verskillende kleure en die vorme in ‘n skildery vertel nie vir die kunstenaar hoe om hulle aan te wend en wat die beste vir hulle sal wees nie. Die kleure en die vorms word deur die kunstenaar daar gesit soos wat Hy dit goeddink en die rede is omdat Hy die groter prentjie in gedagte het, een wat ons nie kan sien nie. Hy gebruik die uniekheid en andersheid van die onderskeie elemente om ‘n meesterstuk met baie waarde te skep.
Indien ‘n paartjie net op hulle eie insigte gaan staatmaak sal hulle gou agterkom dat hulle nie die insig het om die skildery te kan skilder soos wat die Meester dit kan doen nie. Hulle moet besef dat hulle nie die kunstenaar is nie, maar net die verf en die vorme wat hierdie kunswerk vorm. ‘n Paartjie moet besef dat as hulle oorgee aan Sy kunstenaarshande, dan gebruik Hy hulle andersheid en uniekhied tot Sy eer en skep Hy ‘n voorbeeld van ‘n huwelik vir die wêreld wat smag na ‘n voorbeeld om na te volg.
Die vraag wat hier ontstaan is: “Hoe word dit gedoen?”
Die antwoord begin by die kennis en wete van wie jy as ‘n individu is. Jou selfkennis en identiteit is belangrik. Binne dit sal iemand bewus word van hulle doel en ook die rede vir hulle bestaan en hoe hulle in hierdie kunswerk kan inpas en ook gebruik kan word deur die Meester. Die persoon omarm dus sy of haar eie uniekheid en andersheid en is gemaklik met wie hulle is. Die gevolg hiervan is dat so ‘n persoon dit ook baie maklik met iemand anders kan doen en ook daardie persoon kan help om die beste hy of sy te wees wat hulle kan wees. Die persoon wat omarm word se andersheid en uniekhied sal ook nie ‘n bedreiging wees vir hulle nie.
Die probleem is egter dat indien ‘n persoon nie selfkennis het nie en onseker is oor sy of haar doel in die lewe, sal hulle daardie verantwoordelikheid vir hulle maat gee of selfs ander mense. As hierdie mense vir wie die verantwoordelikheid gegee is egter nie kan help nie, word dit teen hulle gehou. ‘n Persoon moet besef dat hulle ‘n storie het en dat daardie storie deur hulleself ontdek en uitgeleef moet word. Die persoon se maat kan nie die verantwoordelikhied van daardie storie gegee word nie. ‘n Persoon kan wel sy of haar maat vra om hulle te help in die proses van soek na die antwoord.
Wat het al hierdie dan met die eenheid te doen in ‘n huwelik? Wel as jy nie jou maat se andersheid aanvaar nie, sy of haar uniekhied nie, sal jy hom of haar wil verander om by jou storie in te pas, met die hoof doel om eintlik vir jou te help om jou eie storie en onsekerheid, oor wie jy is uit te sorteer. Daar is so baie paartjies wat hier diep ongelukkig is, omdat hulle die ervaring het dat hulle nie goed genoeg is nie, want hulle maat wys hulle die hele tyd daarop. Hulle rvaring is dat hulle die heeltydmoet verander om aanvaar te word of in te pas in die verhouding.
Eenheid lê juis nie daarin om jou maat se foute uit te wys nie, maar om dit te probeer verstaan en dan die Meester kunstenaar toe te laat om hierdie verskille, wat volgens ons nie kan saam werk nie, saam te sit en selfs te meng om nuwe unieke kleure te skep wat die dimensie en die waarde van die kunswerk baie hoog maak. Paartjies moet egter as maats bereid wees om te erken dat hulle nie alles weet nie en ook besef dat hulle eerder makliker hulle maats sal wil verander as om hulle te aanvaar. Hierdie verstaan voeg waarde toe tot die persoon en die waarde van die paartjie. As mense egter voel dat hulle nie waarde het nie en dat hulle uniekheid nie verstaan word nie, gaan hulle onmiddelik in verdediging en rebellie in en dan lei dit tot die afbreek van eenheid eerder as die opbou daarvan.
Besef dat ‘n ander uitkyk dimensie bring. Die andersheid van jou huweliksmaat is iets om oor in verwondering te staan. Die Meester van alle meesters gaan hierdie andersheid en uniekheid aanwend om die skildery van julle lewe saam ontsettend baie waarde en kleur te gee.
Indien persone hulle maat wil verander en dink dat hulle so eenheid bewerkstellig, dan sal hulle besef dat hulle eintlik geen dimensie of andersheid in hulle huweliksverhouding het nie en dat hulle nou net eendersheid ingebring het, en binne dit eintlik met hulself ‘n verhouding begin aangaan het. Wat hulle ook reggekry het is om die realiteit en die uniekheid van hulle maat in hulle teenwoordigheid te vermoor.
As ‘n mens net kyk na die natuur dan sien jy hoe die Here die andersheid en die mooi van dinge gebruik om die wonder van die lewe uit te wys. In eendersheid lê daar ‘n diepe frustrasie en verveeldheid opgesluit.
In kort begin die eenheid in ‘n huweilkspaartjie by introspeksie en om dan by hierdie selfaanvaarding te staan, met die wete dat jou huweliksmaat heeltemal anders is as wat jy is en dat as hierdie verkeidenheid van verskille omarm word sonder oordeel en afkeur, dan ontstaan daar ‘n eenheid wat soveel dimensie en kleur voortbring dat dit ander paartjies in die lewensgallery tot stilstand bring by die meesterstuk wat hulle aanskou.