Is dit moontlik vir twee mense om vir altyd vir mekaar lief te bly? Dít is die kernvraag waarmee Andy Stanley se gewilde preekreeks Staying in Love begin is. In die slotgedeelte van die reeks getiteld Multikeuse-huwelik, fokus Andy op die twee keuses wat elke persoon binne ’n huwelik elke dag moet maak. Die geheim? Die keuse lê by jou!
Wanneer jy verlief raak, maak jy intuïtief die keuse om die beste van jou maat te glo, maar later gebeur dit nie meer so vanselfsprekend nie. Die Skrifgedeelte in 1 Korintiërs vers 13 is vir baie mense bekend. Dit word die liefdeshoofstuk genoem en word dikwels as deel van huwelikseremonies voorgelees. Andy erken dat hy al dikwels na dié gedeelte in die Bybel geluister het en gedink het dat dit alles reg klink, totdat hy by vers sewe kom. Dit klink na slegte raad… en sê die liefde “bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Die gaping
Vers sewe klink of dit iets van “liefde is blind” versinnebeeld. Hoe kan dit alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra? In enige verhouding is daar ’n gaping tussen wat jy verwag aan die een kant en jou maat se gedrag aan die ander kant. Jy het byvoorbeeld verwag sy sal vier uur na werk by die huis opdaag, maar in werklikheid het jou maat se gedrag getoon dat sy eers half vyf opgedaag het. Of jy het verwag dat hy sekere takies in die huis sou voltooi, maar die werklike gedrag wys dat daardie take nog onaangeraak is.
In die middel van hierdie twee kante het jy twee keuses waarmee jy die gaping kan vul. Jy kan óf kies om die beste te glo óf jy kan kies om die ergste te verwag.
Daar is twee dinge wat bepaal wat jy in daardie gaping gaan plaas: 1) Wat jy sien en 2) Wie jy is. Dit is baie moeilik, want in deel drie van ons artikel-reeks het jy gehoor dat elkeen sy eie “kraletjies” (probleme) binne homself het en dit bepaal wie jy is. Alles wat binne jou is en wat jy met jou saamneem na ’n verhouding, sal bepaal of jy die beste van jou maat gaan glo of die ergste gaan verwag. Mense wat dit regkry om lief te bly vir mekaar, léér om die beste te glo.
’n Onrealistiese beeld kan liefde skep
’n Groep navorsers (in die skrywer Marcus Buckingham se leierskapsboek The one thing you need to know) het onderhoude met mense in suksesvolle verhoudings gevoer om uit te vind wat hul verhouding so suksesvol maak. Hulle het vooraf vermoed dat hulle reeds die antwoord ken, gebaseer op hul kennis en navorsing met mense wat uit onsuksesvolle verhoudings kom. Hulle het geglo dat mense in suksesvolle verhoudings realistiese verwagtinge van mekaar het. Hul onderhoude met die paartjies in suksesvolle verhoudings het presies die teenoorgestelde gewys van dit wat hulle verwag het! Hulle het oor en oor gesien dat dié paartjies mekaar heeltyd hoër punte gegee het in elke kategorie as wat die persoon vir homself toegeken het! Hul gevolgtrekking was dat die liefde blind is en dat dié paartjies nie ’n realistiese beeld van mekaar gehad het nie.
Hierdie positiewe illusie het ’n opwaartse spiraal in hul verhoudings geskep. Dit is presies hoe dit werk wanneer ’n mens aanvanklik verlief raak. As iemand iets oor jou maat wil sê, sal jy hul doodpraat, want jy sien net die goeie raak. Die navorsers het gesien dat hierdie illusie sorg vir oortuiging en dat die oortuiging weer sekuriteit waarborg en dat die sekuriteit intimiteit skep en die intimiteit dan weer liefde skep. Jy moet dus altyd die vrygewigste verduideliking vir jou maat se gedrag soek en dit dan glo!
Die teenoorgestelde is ook waar: ’n siklus van negatiwiteit is iets wat homself voed. Dit maak dat ’n mens uiteindelik fout soek by jou maat, net sodat jy kan ‘reg’ wees. Jy doen dit net sodat jy argumente kan ‘wen’ en in die proses verloor jy die belangrikste verhouding in jou lewe.
Kies om die beste te glo
Soek na die vrygewige verduideliking. Jou maat wil jou nie teleurstel nie, maar as jy altyd negatief is, gaan jy hom of haar laat voel dat hy of sy nooit aan jou standaarde sal kan voldoen nie. Sodoende stoot jy net jou maat al verder weg. Jy wil hom of haar net altyd hoër laat spring. Probeer om volgende keer anders te reageer wanneer jou maat ’n verskoning het vir hul gedrag. Wys dat jy hom of haar liefhet ongeag…
Jesus het homself aan die kruis onderwerp, daarom moet huweliksmaats hulself ook aan mekaar onderwerp. Jy moet sorg dat jy jou hart mooi monitor, omdat jy weet watter kraletjies (probleme) daar binne jou hart is en uiteindelik moet jy elke dag die keuse maak om die beste van jou maat te glo.
Deur Lize Groenewald