Ek en my man leef by mekaar verby. Hy werk nagskof en ons is letterlik soos skepe in die nag. Al wanneer ons tyd saam deurbring, is oor naweke, maar dan is ons albei te moeg om dinge deur te praat en ons wil nie argumenteer nie. Só die groot dinge word net vinnig deurgewerk en die klein goedjies glad nie. Hoe kan ons konflikhantering onder die knie kry?
Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers by die verhoudingsbediening Connection Impact, sê:
As ons so na julle luister, kan ons die behoefte in julle brief hoor vir diep emosionele konneksie. Ongelukkig kan hierdie tipe konneksie nie vanself kom nie. As paartjies begin uitgaan, gebeur hierdie konneksie só maklik, en die rede daarvoor is dat die paartjie eenvoudig kies om tyd te maak vir mekaar. Dan, na die troue, gebeur die lewe! Dit is in hierdie fase van die huwelik waar baie paartjies vasval.
In julle geval het die lewe en veral werk dit vir julle uiters moeilik gemaak om daardie diep intieme konneksie te behou. Ons kan verstaan dat julle moeg is en dat julle voel asof julle verby mekaar lewe en dat as julle wel ’n konneksie het, dan kom die dinge uit wat julle frustreer. Julle konflik is hoofsaaklik gebaseer op onaangespreekte behoeftes en verwagtinge van mekaar.
Vra eerstens: Hoe belangrik is ons huweliksverhouding? En wat sal ons hierin belê? Julle moet beide die belangrikheid raaksien, want anders kan dit baie frustrerend raak en net jul konflik verhoog. As julle verskil, kry ’n objektiewe fasiliteerder sodat julle mekaar se harte kan hoor (iets wat dikwels moeilik is om op ’n mens se eie reg te kry as ’n paartjie erge diskonneksie het).
As julle egter saamstem oor die belangrikheid hiervan, stel ’n plan in plek. Sommige mense wil dadelik die konflik uitsorteer, maar bly gerus eers weg hiervan. Julle is nie noodwendig nou op ’n veilige plek om die konflik te hanteer nie.
As ’n paartjie eers weer gekies het om tyd saam met mekaar te spandeer en nader aan mekaar te beweeg, keer die veiligheid terug en dan lyk die konflik dikwels baie kleiner as voorheen. Kies dus tyd. Praat oor julle behoeftes en julle verwagtings. Kom weer op daardie veilige plek. As julle dit eers weer het, sal julle die moeilike dinge in die lewe met meer gemak kan aanspreek.
As julle ervaar dat konneksie net glad nie moontlik is in julle program nie, moet julle aan drastiese stappe dink. Dit sluit onder andere in ’n verandering van werk, sodat julle tyd kan skep. Ons gaan altyd van die standpunt af uit dat jy nou die regte keuses moet maak vir jou oudag.
Ons is seker dat julle saam wil wees as julle albei eendag afgetree het. As dit só is, glo ons julle wil gelukkig wees tydens daardie aftrede. Daardie geluk word bepaal deur die keuses wat julle nou maak, en ook waar julle jul beste tyd en energie investeer. Maak seker dat daardie beste tyd en energie vir mekaar gegee word, en nie noodwendig vir iets of iemand anders nie. Hulle gaan nie saam met julle oud word nie.