Toe Pieter van der Merwe besluit het om sy vrou, Tereza, op ’n liefdesreis te neem, sou hy nooit kon raai hoe dramaties dit hul verhouding sou beïnvloed nie. Ook nie watter geestelike waarhede hierdeur vir hulle sou oopbreek nie . . .
Hulle het as studente in Stellenbosch ontmoet en die lewe het sy draaie met hulle geloop tot waar hulle vandag naby Richmond met Merino-skape boer en ’n gastehuis bestuur. Na Franco en Braam is daar ’n beplande laatlam-dogtertjie, Cara, gebore en al was hulle huwelik heeltemal gesond, het Pieter besluit om iets baie spesiaals vir sy vrou te doen. Dit moes meer persoonlik en spesiaal wees as sjokolade en rooi rose. Dit moes dieper strek as ’n aandete by ’n duur restaurant – en toe besluit hy op ’n liefdesreis . . .
Waar het die idee begin?
“Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat God altyd opdaag waar daar liefde is. Ek het eendag terwyl ek gewerk het ’n bietjie nagedink oor die rangorde waarin ons behoort te funksioneer as kinders van God. Hy eerste, dan ons vrou of man, dan ons kinders en dan ons werk. Waarom raak ons so vasgevang in ons beroep en ons kinders dat ons die aanvanklike vonk wat daar tussen ons was so maklik verloor? Dat ons vergeet van Hom wat ons bymekaar gesit het. Ek besef toe net daar dat as ek my kinders ’n guns in hierdie lewe wil doen, dit nie sal wees om hulle in die beste skool te sit, hulle op elke toer te laat gaan, hul beursies vol te stop en hulle alles te gee wat hul harte begeer nie. Die grootste guns sal wees om op te tree soos die hoof van my huis, my kinders te wys dat ek hul ma liefhet. Ek dink aan my seuns en sien dat hulle alles wil doen wat hul pa doen. Hul idolise my natuurlik soos wat enige seun maar doen. As ek hulle dus kan leer hoe om met hul toekomstige vrouens te werk, dan het ek as pa vir hulle meer waarde gehad as ’n pa wat hul beursies vol gehou het. En natuurlik omdat ek my vrou wou wys dat sy vir my spesiaal is.”
Wat het die reis behels?
Die besluit om sy vrou op ’n love journey te neem, was nie ’n verjaardaggeskenk-idee nie, maar toevallig het Pieter se reis op haar verjaardag geeïndig. Pieter vertel dat hy nie tipies romanties is nie en dat die hele proses vir hom ’n reuse uitdaging was omdat hy oorspronklik wou wees. “Alles moes vars wees en uit myself gebore word. Ek het myself gedwing om uit die boks te dink. Weg van die ou, afgesaagde dinge soos uiteet (waar ek net die rekening betaal). Hier waar ek in die Karoo boer, is in elk geval nie restaurante nie!” Dit was een oggend vroeg, toe Tereza die kinders skool toe neem en Pieter na Cara kyk waar sy om sy voete speel , wat hy sommer so informeel met die Koning begin gesels het, vertel hy. Hy het sy behoefte verwoord en binne ’n halfuur aan nege idees gedink wat hy as vertrekpunt kon gebruik. “Die meeste van die idees was dinge wat ek moes maak. Alle mans is nie noodwendig prakties nie, maar alle mans het talente.” Hy het nie noodwendig tyd bedags nie, so Pieter het twee weke vooraf begin met ván die projekte. Dit moes hy aanpak sonder dat sy vrou iets agterkom. “Party hiervan het ek op die dag van die projek self eers gedoen. Ek het wel voor die tyd al nege dae se aktiwiteite beplan sodat ek nie moes rondval tydens my journey nie.”
Só het Pieter se liefdesreis verloop:
Liefdesreis: DAG 1
Ek maak my vrou wakker met vars filterkoffie in die bed. Op die skinkbord is drie blommetjies uit ons tuin, ’n stukkie beskuit, ’n groot glasfles vol houtsterre en ’n brief. Die sterre is rof uitgesaag en onafgewerk van verskillende groottes en diktes. Ek het ook een perfekte ster uit hout gemaak wat ek mooi geskuur en vernis het. Die mooi ster was presies in die middel van die fles. Al wat ek op die brief geskryf het, was die volgende: “Daar is baie sterre in die wêreld. Grotes, kleintjies, mooies, blinkes ensovoorts, maar vir my is jy die grootste, helderste mooiste ster. My ster. Kyk in die fles of jy die ster kan kry wat ek sien as ek na jou kyk.” Ek verlaat die huis en gaan boer.
Liefdesreis: DAG 2
Ek is ’n redelike betrokke pa, maar doen nie juis my deel wanneer dit by doeke omruil en kleintjies bad kom nie. My vrou doen alles. Ek besluit om vir haar te wys hoe ek dit waardeer en skryf boodskappies namens my eenjarige dogtertjie, wat ek in die boonste vyf doeke wegsteek. Natuurlik maak ek seker dat sy die doeke eerste sal gebruik. Doek een is net vol rooi papierhartjies. Doek 2 sê: “Dankie dat mamma my doek omruil as pappa so naar word.” Doek 3: “As ek vir pappa moes wag om hierdie doek om te ruil, het ek al brandboude gehad.” Doek 4: “As ek so na mamma kyk terwyl mamma my doek omruil, sien ek die beste mamma in die hele wêreld.” Doek 5: “Mamma, weet jy hoe mooi is jy?”
Liefdesreis: DAG 3
07:00 Ek maak my vrou wakker met koffie en ’n klein botteltjie van my gunsteling parfuum met ’n briefie wat sê: “Jy mag dit dalk vandag nodig kry. Lief vir jou.”
11:00 Ek bel my vrou om iets vir my in die kantoor te gaan soek. Langs die rekenaar staan ’n lekker pot roosgegeurde room en ’n gediggie wat gaan oor persoonlike goedjies tussen ons. Sy lag haar byna dood toe sy my bel. Ons kan bykans nie praat nie. Groot pret!
14:00 ’n Uitnodigingskaartjie uit hout gemaak wat die volgende sê:
PLEK: Rondawel (dit is ons plaas se naam).
TYD: Sodra jou gaste uitgesorteer is (my vrou het ’n gastehuis op die plaas).
WAT GAAN ONS DOEN: ’n Ete vir twee by kerslig.
DRAG: Sexy.
REëLINGS VIR CARA: Pak haar tassie, sy slaap uit.
REDE VIR ALLES: Jy verdien dit, ek het jou ongelooflik lief en wil by jou, om jou, saam met jou, in jou wees. My woorde is te min.
Die oomblik is prysloos. My vrou se oë blink. Iets tussen huil en lag . . . Terwyl Tereza haar gaste organiseer, kom lewer my buurvrou die viergang maaltyd af wat sy vir ons voorberei het en neem sommer ook ons dogtertjie saam met haar. Ek pak die hele sitkamer en eetkamer vol kerse, sit my vrou se gunsteling musiek aan, dek ’n mooi tafel met spesiale eetgerei en vars rose uit ons tuin. Met haar aankoms, blinddoek ek haar tot in die kamer waar sy mooi kan gaan aantrek. Ons aand begin. Die lekkerste in al die jare wat ons mekaar ken het ons in ons eie huis, bloot omdat die atmosfeer reg is. Geen fancy restaurant in die wêreld kon dít vir ons bied nie. My vrou is ontspanne en só emosioneel dat sy byna nie met my kan praat sonder om te huil nie . . . ons dans lekker, gesels en geniet mekaar se teenwoordigheid sonder kind of kraai. Ná ete noem ek dat koffie in die bed bedien sal word. Intussen het ek vir haar mooi nagklere gekoop wat sexy is, maar by haar ouderdom pas – en dit op die bed vir haar neergesit. Dit is ’n onvergeetlike aand van passie wat ons nooit sal vergeet nie . . .
Liefdesreis: DAG 4
Ek werk hard op die plaas en kry nie veel tyd deur die dag nie. Eers teen middagete is my volgende verrassing gereed. Dit is ’n houtkissie met ses rooi houtharte, ’n lavender sepie en ’n botteltjie lavender olie daarbinne. Ek noem dit my love box. Ek probeer om haar dag stresvry te maak deur alles te doen wat normaalweg al haar tyd in beslag neem. Ek gaan gee haar gaste kos, betaal die rekeninge en laat slaap vir Cara saam met my in ’n ander kamer sodat Tereza ’n ordentlike nagrus kan inkry. Met my tydsberekening perfek sodat ek daar is as sy uit die bad klim. Voor sy haarself kan afdroog, doen ek dit vir haar. Ek neem die room en vryf haar lyf van kop tot tone in. Dit is een van my onvergeetlikste oomblikke en ek voel soos Martha wat die kruik nardusolie oor Jesus gegooi het. ’n Gevoel van dankbaarheid oor die gedagte dat dié vrou wat hier naak voor my staan die mooiste ding in die hele wêreld is en God het haar vir my gegee om te versorg, te koester, te bewonder en lief te hê . . .
Liefdesreis: DAG 5
Dis ’n dag van liefdesbriewe. Ek skryf niks vooraf nie, maar soos die dag verloop, stel ek myself in op my vrou en pen ek gedagtes neer. Só verras ek haar met drie briewe deur die dag. Drie briewe met hoofsaaklik drie onderwerpe. My eerste een oor die vorige aand, toe ek haar kon vertroetel. Die tweede brief oor wat ek sien as ek na haar kyk. Die derde brief was ’n vergifnisbrief. Ek het haar gevra om my te vergewe vir al die kere wat ek té selfgesentreerd was om aan haar behoeftes te dink eerder as aan my eie.
Liefdesreis: DAG 6
Ons kinders is deur die week in die koshuis en nou is dit naweek met ons gesin wat voltallig is. Met my volgende twee projekte is die idee om my seuns te betrek om vir mamma soos die prinses van ons huis te laat voel. Ek buig die volgende woorde uit 6mm ronde yster: WE LOVE YOU. Die yster draai ek styf toe met sisal-tou. Ons doop dit in spiritus en steek dit ná donker op die grasperk weg. My vrou kom uit (dit was só donker dat sy ons nie eens kon sien nie). Saam steek ons alles aan die brand. Die seuns geniet dit en my oudste sê: “Pappa, ons is darem ’n lekker gesin, né?”
Liefdesreis: DAG 7
Ek besluit om my seuns die kitaar te laat slaan op hierdie dag en hulle die voortou te laat neem. Ek doop al drie die kinders se hande in verf en druk dit op papier. Dit is hul uitnodigingskaartjie aan haar vir ’n vingerete in die boomhuis vanaand. Die kaartjie sê sy moet kos maak en dat hulle vir die verrassings sorg. Deur die loop van die dag kry Tereza ’n handgemaakte briefie by elkeen met hul eie woorde oor hoekom hul mamma die beste in die wêreld is. Die boomhuis is lekker skoongemaak en vol kussings en slaapsakke gegooi. Daar is baie kerse aangesteek. Ons kinders voel veilig, want ons grootmense beweeg nou op húl terrein. Ons eet lekker en sy lees haar briewe hardop. Tereza stel voor dat ons mekaar geheime moet vertel en ons kinders maak oop . . . hulle deel dinge met ons waarvan ons nooit eens bewus was nie, persoonlike dinge waaraan hulle swaar gedra het. Dit word ’n ongelooflike aand van lag, huil en bevryding.
Liefdesreis: DAG 8
Dit is Sondag en ons kry vandag baie kuiergaste. Ek lees vir Tereza voor uit Hooglied 7. Die doel hiervan is dat sy verstaan daar is ’n rede waarom ek as man meer seksueel ingestel is as sy. God het ons só gemaak. Ek wil hierdeur vir haar sê dat as ek na haar kyk soos in Hooglied 7, sy bly moet wees want vir my is sy die mooiste ding op twee bene. Ek dink dat as vroue dít van ons mans verstaan, die huwelik ’n veiliger plek vir man en vrou sal wees.
Liefdesreis: DAG 9
Vandag verjaar my vrou. Sy word 38. Dit is ’n spesiale dag vir haar sonder dat ek ’n geskenk vir haar het (ek het al ’n maand tevore vir haar ’n Le Creusset-kasserol gegee). Sy neem die kinders 6:00 skool toe in Graaff-Reinet, 160km weg van ons af. Ek maak ’n rooi hart vol kerse – 108 kerse. Ons sing en sy ry. Terwyl haar vriendinne haar in Graaff-Reinet bederf, het ek tyd op hande om my planne vir vanaand uit te voer. Ek gaan sny 200 rose by ’n tannie met ’n roostonnel. By die huis gekom, rangskik ek dit in sewe bosse op my manier. Ek pak dit in die kamer en badkamer met kerse wat brand. Ek tap ’n lekker bad met olies en kry ’n bottel sjampanje gereed. Ons bad en gesels. Ek blinddoek haar en laat haar op die bed lê. Weer vryf ek haar lyf met room in en toe ek klaar is, kan sy haar oë oopmaak om die 38 rooi houtharte wat in verskillende lengtes (300mm, 600mm en 900mm) aan vislyn van die dak afhang te sien. Ons sluit ons love journey af, sy in trane met haar hande oor haar gesig.
Wat het die liefdesreis vir Tereza beteken?
Pieter het haar vooraf gewaarsku dat hy iets beplan en sy het vermoed dat dit dalk ’n wegbreek of ’n aandjie uit is. “Die houtsterre was pragtig. Veral myne! Ek het onmiddellik besef dat hierdie reis anders sou wees, dieper . . .” Sy vertel dat Pieter iemand is wat maklik sê hy is lief vir jou of waardeer jou, maar dat hy meer prakties as romanties is. “Ek kon sien dat dié uit homself gekom het, iets wat God in hom gedeponeer het. Hy was beslis geïnspireer en het baie tyd aan die journey gewy in ’n tyd wat hy baie werk op die plaas gehad het.”
Die uiteetaand het ook vir haar uitgestaan, vertel Tereza. “Ek het die middag toe ek my uitnodiging kry ’n bietjie oorweldig gevoel met al hierdie aandag. ’n Mens se eerste verweer is om teenprestasie te lewer. Dit het gevoel of ‘n damwal in my breek. Ek en my man kry so min kans om net te ontspan in mekaar se teenwoordigheid. Dit was wonderlik en baie nodig. ’n Mens moet tyd maak om mekaar se hartklop te hoor – dit is nie ’n kitsding nie.”
Sy vertel dat sy weer geleer het dat intimiteit iets is wat ons by ons Hemelse Vader leer. “As ons Hom naby, binne-in ons toelaat, sal ons ons mans ook só kan liefhê. Dit maak nie saak hoe moeg jy is en hoe besig jou kop is met ander dinge nie. Ons moet ons manne liefhê sodat hulle soos ridders voel. As jy God vra, help Hy jou op tye wat jou beker bietjie leeg voel. Ons mans soek nie net seks nie, hulle soek intimiteit.” Natuurlik is Tereza se vriendinne se mans lekker in die moeilikheid en almal wil weet watter “gunsies” Tereza bied in ruil vir hierdie behandeling. Op ’n ernstiger trant noem Tereza: “Ek dink daar is baie vroue wat begeer dat hulle mans hulle moet raaksien. Hulle soek nie noodwendig die duurste geskenke of vakansies nie. Hulle wil hul mans se prinsesse wees.”
Vir Pieter en Tereza het hierdie liefdesreis hulle baie fyn ingestel op mekaar se behoeftes. “Ek het soveel respek vir hom wat nie skroom om lief te hê en te koester nie. Baie mans dink jy boet manlikheid in om jou sagter kant te wys, terwyl die teendeel eintlik waar is. Ek dink hy het ’n hele klomp mans aan die dink gesit.”
Wat het dit vir Pieter beteken?
Pieter vertel dat hierdie liefdesreis definitief ’n verskil in hul huwelik gemaak het. Hulle wou heeltyd by mekaar wees. Natuurlik is dit nie maklik om só iets geheim te hou op ’n klein Karoodorpie nie en die nuus het soos ’n veldbrand versprei. Op dag vier het Tereza haar ma vertel wat aangaan en elke oggend het skoonma vir Pieter gebel om te hoor wat gebeur volgende! Sy pelle het gevra waar hy die tyd kry. “Tyd is relatief vir die belegging wat ek in my huwelik gemaak het. Hulle het gevra of ek nie ’n manne-ontbyt wil hou waar ek my storie kan deel en hulle wenke kan gee nie. Eendag het ek vir ’n groep manne wat oor hul vroue gekla het, gesê dat ek my vrou het net waar ek haar wil hê – in die hoop dat hulle my sal uitvra. Dit gebeur toe en ek sê hulle moet gaan bepaal wat hul vroue se harte laat klop en presies dit gaan doen.”
In Tereza se woorde: “Weet jy wat, Pieter? Dit is lekker om te shop en met vakansie te gaan en al die dinge te doen wat jou hart begeer, maar dit maak jou nie vol as dit leeg binne-in jou is nie. Wat my vol maak, is dit wat jy vir my die afgelope nege dae gedoen het.”
Op geestelike vlak het dit vir Pieter en Tereza wêrelde oopgemaak. Tereza het sy liefdesreis met die verhouding tussen mens en God vergelyk. “Om Hom te dien verg ook effort, maar as jy dit doen, bou jy karakter in jou verhouding.” Pieter vertel dat Tereza nie van nature affectionate is nie en dat sy een dag in die middel van die reis op die bed gaan lê het om met die Here te praat. “Sy het gesê sy weet nie wat om hiermee te maak nie en het gevra of sy moet reageer of iets terug moet doen. Al wat Hy vir haar gesê het, was: ‘Ek wil jou met hierdie reis leer wat liefde is. Hoe om dit te ontvang en hoe om liefde te geniet, want dit is ’n geskenk van My. Jy hoef nou niks te doen nie.’”
Hoe het hierdie hele ervaring hul sekslewe beïnvloed?
Pieter sê dat die gereeldheid van seks nie noodwendig toegeneem het nie, maar dat die intensiteit van hul sekslewe dramaties verander het. “Vir my en my vrou het dit gevoel asof ons velle nie naby genoeg aan mekaar kon kom nie. Vir my was my vrou se reuk anders, dieper, sagter, geuriger, kosbaarder. Ons het openlik gesels oor ons behoeftes. Ons was minder skaam en selfbewus en ons wou mekaar please. Ons was onselfsugtig verlief.”
Pieter meen dat sy vrou nou besef dat, al is hy omgekrap of moeilik, sy steeds sy beste maat is. Dat hy haar op die hande sal dra, ongeag wat gebeur. “Ons besef dat elke dag nie maanskyn en rose is nie. Elke dag kan nie spesiaal wees nie. Ons babatjie skreeu steeds in die nag. Ons raak steeds moeg. Ons moet real wees in ons benadering tot die huwelik, maar ons moet heeltyd daaraan werk – al gaan dit ook hóé goed. Selfs in die mooiste tuin is daar ook onkruid, dooie takke, slakke en ander peste en jy moet hierdie goed uitroei voor dit jou tuin verniel. Vir Satan is ’n gesonde huwelik ’n teer saak en hy sal alles in sy vermoë doen om dit te verwoes, want die gevolge van ’n gebroke huwelik is oneindig groot . . .”
Hy sê: “Vandag dink ek terug aan die liefdesreis waarop ek my vrou geneem het. ’n Reis waarin nie net my vrou soveel van liefde geleer het nie, maar ek ook. Eintlik was dit baie meer as net ’n reis. Dit was ’n pad waarop God ons geneem het om die ware betekenis van liefde te verstaan. Nie net liefde tussen man en vrou nie, maar ook liefde tussen ons en Hom.”
Artikel deur ANNELIZE STEYN