Dis die soveelste keer wat julle oor dieselfde probleem baklei en kwaad vir mekaar gaan slaap. Jy glo dis net ’n fase waardeur alle verhoudings gaan, maar dan sien jy eendag boodskappe op jou man se selfoon en is wreed ontnugter . . .

Promosie

Of jy nou vir drie maande of vir 30 jaar getroud is, jou huwelik is ongelukkig nooit immuun teen die aanslae van ’n buite-egtelike verhouding nie. Twee INTIEM-lesers vertel hulle hartroerende stories, maar sê ook dat God hul huwelike vernuwe en gered het.

“Ons het alersepsies gehad oor die huwelik”

Op papier was Nelize (25) en Benna (28) Joubert se huwelik in ’n sprokiesboek geskryf. Hulle het egter baie vinnig ná die troue besef dat die idee van happily ever after baie anders is in realiteit.

Promosie

“Ons troue was die perfekte dag, gevolg deur ’n fantastiese wittebrood in die Drakensberge,” dink Nelize terug. Hulle het in Februarie 2011 deur ’n gemene vriend ontmoet en ’n jaar later voor die kansel gestaan. Haar vriende en familie was gaande oor hom, vertel Nelize. “Ek was aanvanklik skepties oor Benna – hoe kan só ’n mooi man ook ’n goeie man wees?”

Haar ma het haar egter aangeraai om vir Benna ’n kans te gee. “Van daar af het ’n fantastiese vriendskap tussen ons gegroei en ons het ’n paartjie geword waaroor mense dikwels vir ons vertel het hoe ons straal en mekaar geniet.” Die verhouding se dinamika het egter kort na hul wittebrood in ’n negatiewe spiraal beland.

Die paartjie het in Secunda gaan woon, waar Benna ’n betrekking as elektriese ambagsman by Sasol aanvaar het. Nelize is kort daarna by Hoërskool Secunda aangestel. “Dit was vir ons albei ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak ons presteer by die werk,” sê Nelize. Hulle was onvoorbereid op die groot veranderinge as pasgetroudes waarby hulle sou moes aanpas.

“Ons het gesukkel om mekaar te verstaan, veral oor klein goedjies soos wie sorteer die wasgoed uit en wie hang dit op,” sê sy. Hulle het óf lelik begin baklei óf mekaar vermy deur eerder te vlug en by hul vriende te gaan kuier. Wat godsdiens betref, het hulle ook van mekaar vervreem begin raak.

“Dit was vir my aaklig om nie my man vas te hou nie en om soms in verskillende kamers te slaap sonder om nag te sê,” dink Nelize terug. Benna sê hy het soos ’n mislukking gevoel as man, asof hy nie meer sy vrou gelukkig kon maak nie. Nelize se vriendin, Tanja*, het vir Benna probeer opbeur en vir hom boodskappe gestuur om te hoor hoe dit met hom gaan. Benna en Nelize was op daardie stadium vier maande getroud.

Nelize het sekere gevaartekens tussen Tanja en Benna opgemerk, maar dit in haar kop as belaglik afgemaak. Uiteindelik het Benna erken dat hy gevoelens vir Tanja het, maar dat die aangetrokkenheid nie tot fisiese toenadering oorgegaan het nie. Aanvanklik was die nuus vir Nelize verpletterend, maar na baie toegewydheid en introspeksie het Benna weer haar vertroue gewen. Nelize het ook ingesien dat sy ’n rol gespeel het in die negatiewe rigting wat hul verhouding ingeslaan het.

“Alhoewel ek dit nie toe besef het nie en slegs myself as ’n slagoffer gesien het, was Benna nie die enigste skuldige nie, want ek het in my selfsugtigheid ook ’n groot rol gespeel in die tragiese gebeurtenis.”

Vandag, ’n bietjie meer as drie jaar later, is Nelize en Benna se verhouding skotvry van enige seer of littekens. “As die Here ’n situasie oorneem, word alles ten volle genees,” sê Nelize.

*Skuilnaam

“God sê Hy sal my huwelik se mure herbou”

Anneke (53) se huwelik het in ’n egskeiding geëindig as gevolg van haar eerste man se ontrouheid. En, vertel sy, haar tweede huwelik het byna-byna ook op die rotse beland as gevolg van haar huidige man, TJ (46), se buite-egtelike verhouding. Maar nadat sy met haar hart na God toe gegaan het, was sy oortuig daarvan dat Hy haar huwelik sál red.

Die paartjie was op pad om Namibië toe te emigreer en Anneke het alleen gereis om die nodig reëlings te tref. Tydens hierdie tydperk het sy ervaar hoe TJ se houding teenoor haar verander. “Ontrouheid het reeds voor ons troue kop uitgesteek,” vertel Anneke.

“Toe ek weer merk dat my man aan sy selfoon vasklou – en dit selfs saam met hom badkamer toe neem – het ek dadelik geweet iets is nie pluis nie.” ’n Vloedgolf van emosies het oor haar gespoel, vertel sy. “Skok, woede, teleurstelling, hartseer en verwerping. Tog nie weer nie . . .”

Anneke het vir TJ gekonfronteer. Hy het aanvanklik die buite-egtelike verhouding ontken, maar sy selfoon-boodskappe het die teendeel bewys. Anneke het besluit om hom die deur te wys, maar ongelukkig het hierdie keuse vir TJ reguit in die ander vrou se arms ingestuur.

Anneke het tyd nodig gehad om haar kop skoon te maak, vertel sy. Sy het vir ’n ruk by haar broer in Namibië gaan kuier sodat sy tot verhaal kon kom en haar wonde kon lek. Sy het vir TJ gedagvaar vir ’n egskeiding. “My man het egter daagliks boodskappe aan my gestuur en gevra ek moet terugkom, dat hy lief is vir my en dat hy ’n groot fout gemaak het.”

Sy het deur ’n foltering gegaan, vertel Anneke. Sy het gesoek na God se Woord en wil, dag-in en dag-uit gevra vir Sy leiding. Op ’n dag het haar stiltetyd ’n duidelike boodskap opgelewer. “Sagaria 1 vers 14 tot 16 het lewend geword en met my gepraat: Ek moes teruggaan Jerusalem toe (wat ek as ’n simbool van my eie huwelik sien) om die tempel (my huwelik is vir God net so heilig soos Sy tempel) te herbou.” Hier het hulle reis van herstel en heling begin.

Dit sou nog meer as drie jaar neem vir hul huwelik om ten volle te herstel, maar vandag is Anneke en TJ nuutgemaakte mense deur God. “Die belangrikste boodskap wat ek wil oordra, is om te baklei vir jou huwelik, om Satan se aanvalstegnieke te erken en om die geveg teen Satan te rig en nie teen jou maat of die derde persoon nie.”

Anneke het ook introspeksie gedoen en haar rol in hul huwelik se probleme besef. “Dit was ’n geleidelik proses en dit is eintlik nog steeds,” sê Anneke. “Eintlik is enige huwelik veronderstel om ’n daaglikse proses van verbetering te wees,”

Wat sê die huweliksterapeut?

Affairs is alledaags en in sommige kringe selfs die norm, meen Carien du Toit, ’n voorligtingsielkundige en huweliksterapeut in ’n private praktyk. “Ons word dikwels gesosialiseer om eerder konflik te vermy – of om verskille op ’n aggressiewe manier te hanteer – as om probleme op ’n wen-wen manier uit te sorteer.”

Beide hierdie taktieke lei egter daartoe dat huweliksmaats uitmekaar dryf. “Uiteindelik beantwoord ’n derde persoon die onvervulde behoefte aan aanvaarding en bewondering, terwyl die huweliksmaats óf hul probleme ignoreer óf aanhoudend koppe stamp oor dieselfde issues.”

Carien sê ook dat moderne tegnologie die definisie van ’n affair herskryf. “Seksuele ontmoetings met ’n ander persoon is sekerlik die uiterste beskrywing van ’n buite-egtelike verhouding, maar intieme e-posse en SMS-boodskappe kan tekens wees van ’n emosionele affair – wat uiteindelik maklik ontwikkel in iets meer fisies.”

’n Affair is byna altyd die simptoom van ’n ander probleem, of ’n reeks probleme, tussen die huweliksmaats. “Alhoewel daar nooit ’n verskoning is om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop nie, is dit wel noodsaaklik dat beide maats hul rol in die huwelik se negatiewe dinamika besef,” sê Carien.

Die onus rus wel op die maat wat buite die huwelik getree het om sy of haar toegewydheid en vertrouenswaardigheid te bewys. “Dit sal tyd neem vir die maat wat verkul is om weer te vertrou. Doen dus ekstra moeite om deursigtig te wees – skakel jou selfoon se wagwoord-funksie af, kom julle afsprake na en wees presies waar jy sê jy sal wees. Die maat wat oor die trou getrap het, is dit verskuldig aan die ander maat om weer vertroue op te bou.”