Ons leef in ‘n digitaal-gedrewe era. Om te dink jy kan tegnologie omseil is naïef. Dit is ook nie baie wys nie, want saam met die frustrasies, kom ook wonderlike geleenthede…
Sukkel jy om jou kinders agter die kassie uit te skuif? Om van hulle aktiewe verskilmakers in plaas van passiewe absorbeerders te maak? Twee kinders genaamd Luca en Melua Lamberti kan dalk help. Dié twee jongelinge word groot met die natuur as hul erf en meerkatte, koggelmanders en paddas as speelmaats…
Hul ouers, Peter en Zaria Lamberti is storievertellers wat ‘n onafhanklike film, televisie en digitale platform produksie-maatskappy, genaamd Lion Mountain TV besit. Peter vervaardig al vir meer as 20 jaar lank dokumentêre materiaal oor die wildernis. Hy het ook al, onder andere meer as eenhonderd ure vir National Geographic vervaardig en meer as vyftig ure vir Animal Planet en Discovery.
Daar was oomblikke in hul lewens toe hulle besef het dat hulle eerder hul kinders aan ervaringe en avonture as ‘n rigiede skoolsisteem wil blootstel. Soos die dag toe Zaria ‘n aktiwiteit saam met Luca gedoen en hom probeer inspireer met haar woorde: “Luca, dink buite die boks, jy kan enigiets doen.” Tranerig het hy geantwoord: “Mamma, hoekom sê jy vir my ek moet buite die boks dink – nou is die boks al wat ek dink, ek wil dink asof daar glad nie ‘n boks is nie…”
En die dag toe Zaria lui na die zebras (wat sy al derduisende male gesien het) gekyk en klein Melua opgemerk het: “Mamma, kyk, hierdie perde lyk asof hulle pajamas aanhet,” met ‘n lag uit haar maag. “Ek het daardie dag ‘n les geleer en dit is dat deur die oë van ‘n kind elke dag ‘n avontuur sal wees.”
Hul kinders maak hul reise mee en gedurende een van dié avonture het ‘n idee ontstaan: Om ‘n inspirerende program-reeks vir kinders te begin. Die onderneming was reeds besig om familie en geloof-gesentreerde programme te skep wat ontwerp is om te vermaak, te onderrig, te inspireer en gehore wêreldwyd te motiveer.
Met Kids Safari kon hulle ander kinders meer oor die natuur leer op ‘n vlak wat hulle verstaan en uit die perspektief van Luca en Melua.
Dis ‘n unieke konsep en ‘n intekening beteken dat jy toegang het tot die video on demand formaat (as jou kinders klaar is met hul huiswerk, kan hulle bederf word met ‘n episode wat hulle dan op die televisie, selfoon of ‘n tablet kan kyk).
Elke episode is agt minute lank. Teen die skrale bedrag van $1.99 (+/- R30) per maand (dis minder as ‘n hamburger!) of $19.99 (+/- R300) per jaar kry jy vir ‘n jaar lank toegang tot alle inhoud op www.lionmountain.tv (insluitende Kids Safari). Daar is boonop ‘n gratis proef-periode van drie dae lank, waartydens jy kan besluit of jy wel wil inteken.
Stel só jou kinders bekend aan die Afrika-bos en die Rocky Mountains, die dieptes van die Stille Oseaan en die woude van Madagaskar. Kids Safari wys ‘n wonderwêreld wat kinders weer nuuskierig maak oor die natuur en hoe om dit te bewaar.