Dit maak nie saak hoe gesond of versigtig jy is nie, een of ander tyd kry ons almal maar ’n probleempie down under. Gewoonlik is die sondaar een van twee toestande – UTI (urienweginfeksie) of haar kleinsus, vaginale infeksie.
WATTER EEN HET EK?
Enige iets wat fout gaan naby die vaginale area is vir ’n vrou ’n bron van bekommernis. Hoekom ervaar ek brand, jeukerigheid of pyn? Sê nou net dit is iets ernstig, soos ’n seksueel oordraagbare siekte?
Haal asem, jy hoef nie hospitaal toe te jaag nie.
Urienweginfeksie beïnvloed jou hele urienstelsel (niere, blaas, uretra) en word veroorsaak deur bakterieë (meestal E. Coli) wat op ’n manier in jou urienstelsel beland het.
Een van die eerste simptome wat jy ervaar, is die drang om gereeld te urineer. Maar as jy badkamer toe gaan – verrassing! Daar is niks. Soos wat die infeksie deur jou urienstelsel beweeg, ervaar jy ’n dowwe pyn aan die regterkant van jou lae rug – dit is waar jou urienstelsel jou niere ontmoet. Jy kan ook pyn in jou buik of sy ervaar. Jou dokter sal moontlik antibiotika voorskryf om die infeksie te vernietig en te voorkom dat dit jou niere infekteer.
Vaginale infeksies word gewoonlik deur gis veroorsaak. Dit word gekenmerk deur ’n jeukende, eina-om-aan-te-vat vagina en labia. Jy sal ’n reuklose afskeiding kry wat dikker is as gewoonlik met ’n witgrys kleur. Dit sal ook voel of jou uriene jou brand.
Gis-infeksies is makliker om te behandel en behels gewoonlik die aanwending van anti-gis rome of oor-die-toonbank medikasie.
GAAN DIT MY SEKSLEWE BEÏNVLOED?
Kom ons wees eerlik – geen van die simptome gaan nou juis help om jou in die mood te kry nie. Dit is moeilik om op seks te konsentreer as jy heeltyd voel jy moet urineer of as jou vagina jeuk of brand. Maar buiten dit alles, is dit beter om seks te vermy terwyl jy van jou infeksie herstel. Seks kan jou blootstel aan meer bakterieë, wat jou infeksie kan vererger of jou geïnfekteerde weefsel verder kan irriteer.
“Oukei, wat kan ons doen terwyl ek herstel?”
Julle hoef nie in aparte kamers te slaap of elke aand bordspeletjies te speel om julle gedagtes van seks af te hou nie. Julle kan steeds pret hê sonder penetrasie.
Laat die seksuele spanning opbou: Terg mekaar, vat aan sy boud in die verbyloop en praat oor al die stoute goed wat julle gaan doen as dit weer lentetyd vir jou blom is.
Vry mekaar onderstebo:
Siende dat die hoofdis van die spyskaart af is, wat van ’n fokus op voorgereg? Soen mekaar met elke kans wat julle kry en oefen weer julle vrytegnieke. Komaan, vry weer soos lawwe tieners!
Probeer daardie nuwe blow job– of hand job-tegniek: Jou vagina is dalk off limits, maar dit beteken nie jy mag nie manlief se juwele ’n bietjie politoer gee nie. Net om veilig te wees, maak maar seker dat manlief ook infeksievry is voor julle orale seks probeer. Onthou, antibiotika takel die immuunstelsel so ’n bietjie af, so jy wil nie dalkies nog ’n gogga of twee bykry nie.
Versterk die emosionele bande: Wanneer laas het julle regtig met mekaar gepraat? En nee, gesprekke oor die kinders of werk tel nie. Lê in mekaar se arms en praat weer ’n bietjie oor julle drome, ruil geheime uit en leer mekaar weer ken.
Verbrand energie: Raak die seksuele spanning nou te hoog? Nou is die ideale tyd om saam te begin draf of fietsry om energie te verbrand. Wie weet, dit is dalk net wat julle nodig het om julle van die rusbank af te kry!
HOE KAN EK MY BLOM GESOND HOU?
- Vee jou vagina van voor na agter af sodat jy nie bakterieë vanaf jou anus na jou vagina versprei nie.
- As jy gereeld infeksies kry, stort eerder as bad.
- Indien julle seksspeelgoed gebruik, ontsmet dit gereeld met warm water en seep.
- Gaan toilet toe as jou blaas praat – moenie knyp nie.
- Let op na jou higiëne en was jou hande veral deeglik as jy in ’n publieke badkamer was.
Hou jou blom gelukkig en sy sal die guns terugbetaal as jy en manlief weer bokspring tussen die lakens.
Deur Thalia Brüssow
Bronne: empowher.com, madisonwomensclinic.com, everydayhealth.com