Mariëtte moes een van die ondenkbaarste vernederings ooit deurmaak. Tog kon haar man se buite-egtelike verhouding nie in die pad van die wete staan dat sy en Christo sielsgenote is nie.
Stel jou voor jou man verkul jou. Goed, stel jou nou voor dat die vrou waarmee hy dit doen, ’n ontkleedanseres is. Die volgende stap is om jouself te verbeel dat hy jou los, besluit om van jou te skei en by sy minnares intrek. Nou: vergewe hom en neem hom terug. Nooit? Vir baie vroue klink dit na ’n ondenkbare situasie om ’n man terug te neem nádat hy haar deur so ’n hel van vernedering laat gaan het. Vir Mariëtte was dit ’n realiteit en sy moes ’n keuse maak …
Sy lewe verander van rigting …
“Een egskeiding is agter die blad; ek moet weer die huwelik as instelling leer vertrou, maar gelukkig wy hierdie nuwe man in my lewe al die afgelope 14 jaar sy lewe aan die kerk toe. Hy moet dus ’n eerbare ou wees,” is wat deur Mariëtte se kop gegaan het toe sy vir Christo Pienaar pas ontmoet het. Dit was ook sý tweede huwelik, maar ná die besef dat hulle sielsgenote vir mekaar is, het hulle ses jaar gelede besluit om weer die groot stap te neem.
Dinge het goed gegaan, maar twee jaar later het daar ’n nuwe geleentheid oor Christo se pad gekom, waaroor hy ’n belangrike besluit moes neem. Hy kon ’n sakeonderneming koop wat in sweiswerk spesialiseer, maar wat van sy roeping? “Eers het hy gehuiwer,” vertel Mariëtte. “Hy het gevoel dat die Here hom in die bediening geroep het en dat hy gehoorsaam moet wees, maar eindelik het hy tóg in die wete berus dat hy dalk hier gebruik kon word.”
Waar alles begin het …
Aanvanklik het Mariëtte hom ondersteun en was sy trots op sy ambisie om hierdie nuwe uitdaging te aanvaar. Wat sy egter nié geweet het nie, is dat sy werk van hom vereis het om kliënte op ’n gereelde basis te onthaal, en dat die plek waar hy hulle onthaal beslis nie by sy aanvanklike roeping gepas het nie …
“’n Jaar en ’n half later het ’n vriendin my vertel dat Christo-hulle so een of twee keer per week ’n ontkleeklub besoek. Hy het my nooit daarvan vertel nie, en toe ek hom konfronteer, was hy jammer en het hy gesê hy doen slegs besigheid daar en hoewel hy niks verkeerd doen nie, weet dat ’n getroude man nie in só ’n plek hoort nie. Hy het egter nie sy lewenstyl verander nie en stadigaan het dinge begin agteruitgaan. Hy het al hoe later begin huis toe kom en het soms eers tweeuur snags by die voordeur ingestap. Die gevaarligte het begin flikker …
’n Bose siklus ontstaan
Vir Mariëtte was hierdie huwelik alles behalwe maanskyn en rose. Dié aande wat Christo uitgebly het, het sy op hete kole vir hom gesit en wag. Eindelik het sy in haar kar geklim en na die klub toe gery, waar sy hom aangetref het. Dit het ’n hewige rusie veroorsaak, waarna hulle dinge uitgepraat het. Vir twee maande het dinge beter gegaan, waarna dit weer van voor af begin skeefloop het.
Een keer het Mariëtte hom gevra om haar saam te neem, sodat sy kon sien wat daar binne aangaan en of dinge regtig so onskuldig is soos wat hy beweer het. “Maar dit was of iemand ’n stuk van my hart uitgebreek het,” vertel sy oor daardie ervaring. “Dit is regtig soos ’n Sodom en Gomorra binne-in so ’n plek en dit voel of die goggas bo-oor jou klim. Intussen moes ek probeer kalm bly, sodat ek hom in sy besope toestand weer daar kon uitkry.”
’n Verwronge soeke na vryheid
Dinge het al slegter begin gaan en ses maande gelede was die huwelik geensins meer ’n plesier nie. Dinge het ’n laagtepunt bereik en Christo het haar met sy besluit geskok … hy wou die huwelik beëndig. “Hy het gesê hy wou met alle mag weer ‘vry’ wees. Hy kon nie verstaan hoekom ek so ‘oorreageer’ nie, want in sy oë het hy niks verkeerd gedoen nie. As hy drooggemaak het, was dit vir die daaropvolgende drie dae ’n nagmerrie in die huis en hy wou wegkom hiervan,” vertel Mariëtte.
Sy het egter gesê: “Die enigste manier wat ek ooit van jou sal skei, is die dag wanneer jy my verkul.” Hulle het dit daar gelaat en Kersfees 2008 het aangebreek. Dit was ’n goeie tyd vir die gesin en dit het gelyk asof daar ’n wending plaasvind. Christo het gesê dat hy jammer is en sal ophou om die klubs te besoek. En dit hét goed gegaan … tot Nuwejaar aangebreek en die besigheid weer oopgemaak het.
Hy het opgehou huis toe kom
Dinge het begin handuitruk. Sy sou hom saans bel, waarop hy belowe het dat hy huis toe sou kom, maar twee ure later was daar steeds geen teken van hom nie. “Hier teen drie-uur soggens, het hy sy telefoon afgesit en ek het myself soveel dinge wysgemaak – soos dat hy iewers in ’n sloot lê. Hy het egter altyd huis toe gekom, al was dit watter tyd van die nag.”
Kort voor lank het dit begin verander en Christo het bloot net nie by die huis opgedaag nie. Wanneer Mariëtte hom die volgende dag gevra het waar hy was, het hy verskonings uitgedink, byvoorbeeld dat hy by ’n vriend se huis moes oorslaap, omdat hy te besope was om te bestuur.
Ramp van ’n huweliksherdenking
In Februarie vanjaar, twee weke voor hul sesde huweliksherdenking, het hulle ’n huweliksverrykingskursus bygewoon. “Sekere dinge het vir my duidelik geword. Daar is soveel goed uit ons kindertyd wat tot ons huweliksprobleme bygedra het. My pa het my ma verkul, en daar het kleintyd dinge met Christo gebeur (soos dat sy pa oorlede is toe hy ses maande oud was) wat hy nooit heeltemal verwerk het nie.
Twee weke later het hulle weggegaan om hul herdenking te vier, maar ’n vreemde vrou het hom voortdurend gebel. Christo het ’n lang verskoning gehad – dat haar eksman dreig om haar kind by haar weg te neem en dat hy haar net help om ’n prokureur te kry.
Die naweek was ’n ramp, en die daaropvolgende Dinsdag en Woensdag het Christo weer eens nie huis toe gekom nie.
Dinge begin duidelik word
In hierdie stadium was Mariëtte sielsongelukkig, maar die lewe het aangegaan. Sy het besluit om die naweek ’n girls night by haar huis te hou. Die Saterdag was daar rugby en Christo het saam met ’n vriend Loftus toe gegaan. “My vriendinne het skaars by my huis opgedaag, toe my niggie bel en sê dat sy vir Christo by die rugby sien – saam met ’n ander vrou. En dat hulle verhouding beslis nie platonies is nie.”
Mariëtte het dadelik in haar kar geklim en Loftus toe gery. Ná die wedstryd het ek by die losie, waar almal, behalwe dié vreemde vrou my geken het, ingestap. Sy het reguit na haar toe gestap en gevra wie sy is. Ná die vreemdeling haar naam gesê het, het Christo na Mariëtte gedraai en vir haar gesê dat hy van *Lana hou. Mariëtte het vernederd teruggeantwoord: “Wel, jy kan haar kry,” en weggeloop.
Die skok van my lewe
“Ek kon toe sien dat Christo van plan was om my by die losie-eienaar sleg te maak en het omgedraai. Lana het vir my gesê sy en Christo ken mekaar al ’n maand en ’n half en dat ek en sy buite moet gaan gesels. Sy het ook gesê dat daar niks seksueel tussen hulle is nie en dat sy my huwelik respekteer.” Vir Mariëtte was dit lagwekkend – die vrou wat haar man voortdurend bel en hom agter haar rug druk en soen, beweer dat sy hul huwelik respekteer! Sy het gesê: “Al wat ek vir jou wil sê, is dat hy in ontkleeklubs kuier en drink”.
Die volgende woorde het Mariëtte tot in haar skoene geskok. Die vrou het erken dat sy ’n ontkleedanseres is … Mariëtte se voete was loodswaar. Haar man, haar sielsgenoot van ses jaar verkul haar – nie met ‘n kollega of een van sy vriendinne nie, maar met ’n ontkleedanseres! Tog was haar skouers lig, want eindelik het sy ’n verklaring vir haar man se vreemde optrede gehad …
Egskeiding op die tafel
Dit was duidelik – dié huwelik was in ’n doodloopstraat. Christo het eindelik vir haar ’n rede gegee om te skei en omdat dit hul albei se tweede huwelik was, was dit soveel makliker om daardie besluit te neem. Die Maandag het sy en Christo dit bespreek, al het haar emosies wipplank gery. Hy het by Lana ingetrek en sy het by hom begin werk.
Intussen het Mariëtte net kop bo water probeer hou. Sy was saam met ’n selgroep Lesotho toe en besig met ’n beradingskursus by die kerk. “Baie dae het ek nie kans gesien om te gaan nie, maar ek het deurgedruk en elke keer ’n les geleer. Tydens die twee maande nadat hy die huis verlaat het, het ek besluit dat ek twee opsies het: óf ek kan dinge op die wêreldse manier doen, óf ek kan die Here se manier kies. Ek het elke aand vir hom gebid, gebid dat die Here sy hart sal sagmaak …”
Kan ’n mens die verlede vergeet?
Oor Paasnaweek het hy vir haar ’n SMS gestuur en gesê dat sy kop baie besig is en dat hy wens dinge was anders. ’n Vlammetjie van hoop het in Mariëtte se binneste gebrand. Kon hulle dinge uitwerk? Is daar ’n moontlikheid op ’n tweede kans? Sy het gesê dat hy welkom is om haar te bel, maar hy het net een SMS gestuur: “Kan ’n mens die verlede vergeet?” Sy het terug geantwoord: “Nee, ’n mens kan dit nie vergeet nie, maar jy kan wel ’n les daaruit leer en iets omtrent vandag en môre doen.”
Die Woensdag het hy haar gebel en gesê dat sy dié dag haar dagvaarding sou kry … maar dat hy voel hulle maak ’n fout. Intussen het die Here daardie naweek baie hard met hom gepraat. Hy wou nie sy stem hoor nie, maar die Here het vir hom gesê: “Ek sit lewe en dood, seëninge en vloek voor jou. Kies die lewe, sodat jy kan leef. Jy kan alles verloor, maar onthou, jy gaan hierdeur ook jou sielsgenoot verloor.”
Christo het besluit om daardie laaste SMS vir Mariëtte te stuur, en dan ná haar antwoord vir die Here te sê: “Síén jy?” Hy was egter magteloos teen God se plan.
’n Ondenkbare ommekeer
Daardie aand het hulle ’n gesprek van bykans sewe ure lank gehad. Christo het teenoor Mariëtte erken dat hy gedink het vryheid is om te kan kom en gaan soos jy wil, maar dat hy nou besef dit is eintlik om die Here in jou hart te hê. Hy het gevra of Mariëtte hom sal vergewe. “Ek het vir hom gesê: ‘As jy gedink het ons huwelik was voorheen moeilik, moet jy weet dit gaan nou nóg moeiliker wees, want ek het geen respek vir jou of vertroue in jou nie. As ek jou twee-uur soggens vra of sy beter met seks was, sal jy dit kan hanteer?’”
Christo het getwyfel, maar intussen het hy sy suster, ’n pastoor in bevryding, gaan sien. Spreuke 5 en 6 is aan hom geopenbaar en dit het lig in sy lewe gebring. “Dit het baie dinge na vore gebring … kwessies met sy eksvrou, dinge uit sy kindertyd …” vertel Mariëtte. Die bevryding het ’n vrag van sy skouers afgeneem.
Nog ’n probeerslag
Christo en Mariëtte het besluit om weer te probeer. “Vir die eerste keer in my lewe is my man die priester van die huis,” vertel sy. “Vorige kere het hy gesê dat hy sy nare gewoontes gaan los, maar hy het dit in liggaam probeer, maar in gees dit nooit reggekry nie. My man het handomkeer verander. Hy het al sy brûe gebrand en vir die ontkleeklub, waar hy al ’n VIP was, gesê dat hulle hom nooit weer sal sien nie.
“Hy vertel dat hy die eerste keer toe hy die klub besoek het, geweet het dat ’n Christen-man nie daar hoort nie. Die tweede keer was dit makliker en daarna het dit net al hoe makliker gegaan. Drie ouens saam met wie hy gereeld gedrink het, het hul lewens verander na aanleiding van wat met hom gebeur het.”
Mariëtte se ouers was baie bekommerd omdat sy bereid was om hom terug te neem. “Maar ek weet dat dit hierdie keer die Here is wat in hom werk, nie hyself nie. Almal vra hoe ek dit regkry om te vergewe en te vergeet. Wel, die duiwel kom so nou en dan, maar ons verhouding is nou beter as ses jaar gelede toe ons mekaar net ontmoet het. Ons wil ook later ’n selgroep begin om ander getroudes te lei en hulle te wys waardeur ons is, en dat enigiets moontlik is deur genade van bo.”
Dit is nie maklik nie
Vir Mariëtte het vergifnis nie natuurlik gekom nie. Sy is alles behalwe ’n push over. “Ek was ’n wraaksugtige mens en ek kon gedurig ou koeie uit die sloot grawe. Daardie 20% was my aandeel in die huwelik. Die ander 80% was Christo se drinkery en die verkeerde plekke waarheen hy gegaan het, maar vir die eerste keer in my lewe is ek bevry. Jy kán ’n huwelik ná ’n buite-egtelike verhouding herstel – mits albei bereid is om dit te doen, en God eerste in hul huwelik en in hul lewens kom. Voorts moet jy ook nie na dieselfde huwelik streef as wat jy voorheen gehad het nie, maar na ’n ryker, beter huwelik.
“Ek is onvoorwaardelik lief vir my man. Hy is my soulmate. Ek is vandag heelwat rustiger, en ek bekommer my nie meer oor goed buite my beheer nie – ek los dit bloot in die Here se hande. Christo geniet steeds sy drankies, maar hy drink beheers,” vertel Mariëtte. “Hy het nooit by daardie ontkleeklub ingestap as hy nugter was nie. Die shooter wat hom die moed gegee het, was ’n Jägermeister. Vandag kan hy nie die reuk daarvan uitstaan nie, want hy vereenselwig dit met wat gebeur het.”
Dit is vandag ’n maand en ’n half later. “Ek dink dat as ’n mens se man saam met ’n ontkleedanseres slaap, dit een van die laagste laagtepunte is waardeur ’n vrou kan gaan, maar die Here is genadig genoeg om jou daaruit te ruk en jy het ’n keuse. Ook Christo het gekies. Hy het geweet dat as hy op sy weë sou bly, sy gees sou sterf … Wat met ons gebeur het, is ’n absolute wonderwerk.”
*Skuilnaam is gebruik
Is besoeke aan ontkleeklubs regtig onskuldig?
Uit Mariëtte en Christo se verhaal: beslis nié. Gelukkig het geloof hulle gered en hulle kon hul huwelik herstel ná die vernietigende uitwerking wat besoeke aan ontkleeklubs op hul verhouding gehad het. Jy het waarskynlik al gehoor van die tipiese ontkleedanseres wat sê dat haar werk streng reëls het en dat dit nie eties vir haar is om persoonlike verhoudings met kliënte aan te knoop nie. Daar ís professionele ontkleedanseresse wat hierby hou, maar ongelukkig is daar geen waarborge nie …
Só sê ’n ontkleedanseres:
“Ons het ontmoet toe ek ’n ontkleedanseres was. Ek het nie vir baie lank gedans nie, en ek wil ook nie hê julle moet my stereotipeer nie. Ek is ’n ordentlike vrou met sterk, morele waardes. Ek moes dans omdat daar nie ’n ander manier was waarop ek my groot skuld kon afbetaal nie. Daarby wou my nuuskierige aard altyd weet hoe dit sou voel om ’n paaldanseres, eintlik ’n ontkleedanseres, te wees!
“Ek het my lewe in daardie stadium geniet, en toe stap hierdie man in my lewe in. Hy was so selfversekerd en vermakerig en het vir my gesê dat hy my kon kry. Vir ’n tyd lank wou ek niks met hom te doen gehad het nie. Daar was net iets waarteen my instink my gewaarsku het. Om die een of ander rede het ek dit geïgnoreer. Ses maande later het ons saam ingetrek. En 18 maande later was ons verloof.” (www.experienceproject.com)
Só sê ’n ontroue man:
“Die plek waarheen ek gaan, het regte meisies. Hulle lyk nie asof hulle uit ’n Playboy of enige so iets gestap het nie. Hulle praat met jou, selfs al gee jy nie vir hulle geld nie. Hulle is nie meisies wat hulle mediese graad daarmee betaal nie. Hulle is net ontkleedanseresse. Dit is waarvan ek hou. Die plek het ’n paar agterkamers. Jy sê jy wil ’n skootdans hê en die meisie neem jou soontoe. As jy weet watter om te kies, kry jy meer as ’n simpel skootdans vir ’n redelike prys. Gewoonlik sal ek net ’n lekker blowjob kry, maar soms iets meer. Daar is drie meisies waarvan ek hou. Hulle hou almal van my ook. Vir my voel dit nie of ek my vrou verkul nie. As jy in ’n ontkleeklub is, is dit regtig net fantasie. Dit is nie asof ek ’n buite-egtelike verhouding het nie. Dit is net soos om na pornografie te kyk, net ’n bietjie meer eg.” (www.suchacheater.com)
Só sê ’n verkulde vrou:
“My man het vir meer as vyf jaar na ontkleeklubs in Windsor, Ontaria en Detroit, en Michigan gegaan. Ek is nie seker of dit die plek is waar hy met die prostitute te doen gekry het nie, maar hy het hulle ook gebruik. Hy het sy gesin emosioneel verlaat, omdat hierdie ontkleedanseresse vir hom ’n vals sin van belangrikheid gegee het. Hy is verslaaf aan sy nuwe lewenstyl. “Dit is ’n man se onsekerhede, selfsugtigheid en onvolwasse behoefte aan selfbevrediging wat veroorsaak dat hy hierdie tipe plekke/mense besoek. Hy kan sy vrou as ’n verskoning gebruik, maar selfs die oulikste, mooiste vroue word verkul. Luister vroue, en neem aksie. My man het my ’n seksueel-oordraagbare siekte gegee, en ek skei nou van hom. Gaan vir doktersbesoeke en word sterk: Jy verdien nie ’n ontroue man nie!” (www.telepicturesblog.warnerbros.com)
Só sê ’n privaat inspekteur:
“Ja, sommige getroude mans gaan na ontkleeklubs om bloot te kyk. Ander gaan ongelukkig ook met meer in gedagte. In enige man se brein is ’n ontkleedanseres die alfa-vrou. Sy is altyd eroties en moet daarom uitstekend in die bed wees. Baie mans, veral dié met geld, is dikwels daartoe in staat om ’n dom, jong ontkleedanseres te kry wat hulle toelaat om haar uit te neem. Soos jy kan raai, het die meeste mans geen probleem daarmee om vir hierdie vroue te jok nie, aangesien die meeste van hierdie vroue nie omgee of die man getroud is of nie. Dit is nie vreemd vir ’n ontkleedanseres om saam met vier of vyf getroude mans op ’n gegewe tyd te slaap nie. Om hierdie mans te ‘juggle’ terwyl hulle toegegooi word met geskenkies, lenings, etes en ander materiële dinge, word as werksvoordele beskou en hulle is meer as gelukkig om hierdie dinge van jou man te ontvang.” (www.cheatingspousepi.com)