Griep word veroorsaak deur die influenza virus. Dit word van persoon tot persoon deur druppel verspreiding versprei en dit veroorsaak onder andere koors, lyf- en spierpyn, hoofpyn en oë wat traan. In gekompliseerde gevalle kan dit selfs tot longontsteking of neurologiese komplikasies lei – hospitalisasie word dan benodig. As ’n dokter en ma is ek gereeld op soek na maniere om my familie te beskerm.
’n Griep inenting bly die primêre metode om griep te voorkom. Die Suid-Afrikaanse griep-seisoen kom gedurende die winter maande voor (hoofsaaklik vanaf die eerste week van Junie) maar dit kan so vroeg as die laaste week van April ook voorkom. Dit neem 2 weke vir die liggaam om ’n beskermende reaksie op die inenting te loots – dus kan die inenting so vroeg as Maart of April toegedien word, maar dit is nooit te laat in die seisoen om dit toe te dien nie.
Die griep-inenting is ’n ongeaktiveerde inenting – met ander woorde daar is nie ’n lewendige virus in die inenting nie. Dit het ’n baie goeie veiligheidsrekord. Ongeveer 16 – 20% van persone wat ingeënt is kan ’n lokale reaksie hê op hulle arm wat 1 – 2 dae kan duur. Korttermynreaksies van koors en spier pyne is al binne die eerste paar ure na die inenting aangemeld onder ’n baie klein persentasie van mense. Dit veroorsaak nie griep nie, maar daar is geen waarborg dat jy nie griep kan kry nie.
Jaarlikse inenting
Die Wêreld Gesondheid Organisasie maak jaarlikse aanbevelings oor watter variasie van die influenza virusse in die inenting ingesluit moet word, siende dat die influenza virusse gereeld verander. Daarom is dit nodig dat ’n mens elke jaar ingeënt moet word teen griep.
Wie moet ’n griep inenting kry?
Daar word sterk aanbeveel dat die volgende persone die griep-inenting moet kry, siende dat hulle ’n hoër risiko het om gekompliseerde griep te ontwikkel:
• Swanger vroue (ongeag van die trimester) – daar is bewyse dat die inenting die swanger vrou en baba na geboorte tot op 6 maande ouderdom kan beskerm
• Kinders tussen 6 maande en 5 jaar oud (kinders kan vanaf 6 maande die inenting ontvang)
• Gesondheidspersoneel (om hulself en pasiënte te beskerm)
• Persone met chroniese siektes soos diabetes, chroniese nier of long toestande, immuunonderdrukkende siektes soos MIV
• Persone ouer as 65 jaar
Indien jy nie in een van hierdie hoë risiko groepe val nie, is dit nogsteeds aanbeveel dat jy die griep-inenting kry, om diegene / persone wat nie die inenting mag kry nie, soos babas onder 6 maande, te beskerm.
Kontra-indikasies:
Die volgende persone mag nie die inenting ontvang nie:
• As jy ’n vorige ernstige anafilaktiese reaksie tot die inenting of een van die bestanddele, soos eier proteïen, gehad het
• Kinders onder die ouderdom van 6 maande
Persone met matige tot ernstige siekte, met of sonder koors, moet verkieslik wag tot nadat hulle verbeter het voordat hulle die inenting kry.
Beskerm manlief, kinders, ouma en oupa deur ’n griep inenting te oorweeg hierdie winter. Indien jy enige vrae of bekommernisse het, kontak jou dokter of klinieksuster.
Artikel deur DR CHRISTA ROCHER