Menopouse is nie iets waaroor vroue hulle te veel bekommer nie… totdat dit jou tref. Meteens gooi jou veranderende hormone alles omver, jy kry bykans permanent warm en jy kyk net vir ’n sny sjokoladekoek, dan voel jy al hoe die kilogramme naderkruip… Al hierdie skielike veranderinge kan ook ’n wesenlike invloed op jou huwelik hê. Kennis is mag en met die regte inligting, wenke en raad, hoef jy niks te vrees vir dié nuwe fase in jou lewe nie.
1. Weet wat om te verwag
Die ouderdom waarop jy dit te wagte kan wees, kan wissel, maar dit is meestal in ’n vrou se laat veertigs of vroeë vyftigs. Die gemiddelde ouderdom vir vroue wat hul menopouse ervaar is 51. Menopouse kan onder meer ’n invloed op jou slaappatroon, energievlakke en emosionele gesondheid hê. Die warmgloede is waarskynlik een van die mees algemene simptome van menopouse waarvan jy al gehoor het, maar gewigstoename, vaginale droogheid, nagsweet en gemoedskommelings kom ook voor. Menopouse kan ook jou risiko vir verskeie toestande soos osteoporose verhoog.
2. Ken die vooraf-fase en tekens
Daar is ’n vooraf-fase waarin jou liggaam begin gereed maak vir die menopouse. Tydens hierdie fase begin jou liggaam se afskeiding van hormone verminder. Jy kan begin om van die algemene simptome van menopouse te ervaar, soos warmgloede. Jou menstruele siklus kan begin afneem, maar totdat jy nie vir ’n volle 12 maande geen maandstonde ervaar het nie, het menopouse nog nie aangebreek nie.
3. Tref voorsorg vir goeie beendigtheid
Wanneer estrogeen-produksie in jou liggaam afneem, het dit ’n groot impak op die kalsium in jou bene. Minder kalsium in jou bene, kan beendigtheid laat afneem wat uiteindelik tot osteoporose kan lei. Deur jou alkohol-inname te beperk en nie te rook nie, ekstra vitamien D-aanvullings, suiwelprodukte en groenblaargroentes, sowel as gereelde oefening met gewigte kan jy jou beendigtheid versterk. Bespreek die moontlike aanvullingsopsies met jou dokter.
4. Onthou dat elke vrou verskil
Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat elke vrou tydens hul menopouse deur dieselfde simptome en ervarings gaan gaan nie. Daar is dus nie een kitsoplossing of resep wat vir elkeen gaan werk nie. Praat met jou dokter oor jou leefstyl en dit wat jy ervaar, sodat jy die beste professionele raad en hulpmiddels tot jou beskikking het.
5. Maak leefstylaanpassings
As jy byvoorbeeld met warmgloede stoei, is daar ’n paar dinge wat jy kan doen om die simptome te verlig of te sorg dat jy dit nie vererger nie. Bly liefs weg van sterkgegeurde kosse en onthou dat alkohol en kafeïen ook nie warmgloede se maats is nie. Dra klere en materiaal wat jou nie ekstra laat sweet nie. Jy kan ook ’n produk soos Menoclove® van Bioharmony® gebruik. Dié natuurlike hulpmiddel, is ’n aanvulling in kapsulevorm wat verligting kan bring van simptome soos gloede en nagsweet, terwyl die vitamien B6 die gemoedskommelings kan help verlig.
Moenie in stilte swaarkry en op jou tande kners nie. Soek eerder betyds professionele hulp vir enigiets wat menopouse na jou kant toe mag gooi. Dit is belangrik om soos jy ouer word gereelde voorkomingstoetse te laat doen. Gereelde toetse en ondersoeke soos ’n mammogram, borsondersoeke en enigiets anders wat jou dokter aanbeveel, sal tot jou voordeel wees.
Vir meer inligting, besoek: bioharmony.co.za
Addisionele bronne: www.healthline.com www.mayoclinic.org