Seks word dikwels met ’n gourmet-maaltyd vergelyk. ’n Honger paartjie geniet die voorgereg happie vir happie, verslind die hoofgereg en dan is dit dikwels – ongelukkig – magies vol, ogies toe. Só word die beste gang van die ete dikwels oorgeslaan…

Promosie

Jy het sopas die bed se kopstuk geslaan asof dit ’n bougarabou-drom is, die bure het ’n oomblik hul televisie se volume sagter gedraai en die krapmerke lê dramaties op jou dapper man se rug. Hy weer het amper ’n aar in sy kop gebars en geskreeu dat jy die beste ding is sedert Suid-Afrika die Wêreldbeker huis toe gebring het. Hy voel soos Clark Kent en jy soos Lana. Jou wange gloei en die reuk van tevredenheid hang in die lug. Wat nou?

Hoekom behoort julle naspel aan te gryp?

Die gemiddelde man moes jare lank baie kritiek verduur en die “tipiese man” is uitgekryt as ’n onsensitiewe wese wat begin snork terwyl sy vrou nog hyg na haar asem. En in die verlede het baie Adams daardie stereotipering met erekleure verdien. Mans het beweer dat die hoofmaaltyd heeltemal genoeg is en dat ’n voorgereg oorbodig is. Om nie eers te praat van ’n nagereg nie. Danksy genoeg mediablootstelling en vroue wat al hoe meer begin het om ’n gelyke rol in die slaapkamer te vervul, het mans begin besef dat indien hulle enigsins hul reputasies by hul vroue wou skoon hou, hulle moet seker maak hul bed-etiket is in plek.

Promosie

Die moderne man is ’n wyse wese wat selfs die naspel geniet, maar daar is tog nog sekere oermanne wat dié gedeelte van seks as ’n lastigheid beskou. Wat ’n jammerte! Want verskeie fases van die seksspel is nodig vir ’n gesonde en vervullende sekslewe vir hom én haar. Voorspel maak onderliggende gevoelens wakker en kanaliseer dit na ’n orgasme, terwyl naspel die element van liefde by seks inbring. Moet ons nie verkeerd verstaan nie – liefde moet in elk geval tydens die hele seksdaad sentraal staan, maar dit is tydens die naspel wat ’n mens werklik die kans kry om aan jou maat te bewys dat dit vir jou meer oor die gees as oor die vlees gaan. En as jy daardie fantastiese “Aha!”-gevoel ervaar wat bevredigende seks teweegbring, hoekom sou jy dit nie wou uitrek so lank soos jy kan nie?

John Lenciewics, direkteur van die Instituut van Seksualiteit en Menseverhoudings, vergelyk seks sonder naspel met ’n oop broodjie. “Daar’s niks om die hele ding bymekaar te hou nie.” Hy sê: “Dit gaan alles daaroor om seks meer oor aanraking en meer onvergeetlik te maak. Omdat seks soveel intieme begeleiding behels, is naspel ’n barometer vir die verhouding.”

Die sielkunde agter naspel…

As jou man die braaivleis met die een hand kan “bestuur” en jou baba met die ander hand bottel voer, het jy waarskynlik nie ’n probleem nie. As hy egter die televisie afstandbeheer met sy een hand “bestuur” en sy bier met die ander hand, beteken dit dalk dat jy te doen het met die moeilik veranderbare Flintstone-tipe. Vir hom gaan naspel nie van nature kom nie. En wanneer hy ’n poging aanwend, gaan dit klink asof hy iets aanhaal wat hy iewers gelees het. Goeie naspel beteken ook nie noodwendig jul verhouding is op die regte pad nie. Manipulerende mense werk slu met slim woorde.

Naspel kan seerkry in ’n verhouding na vore bring. “Naspel is ook ’n barometer van ou herinneringe wat nie regtig in die bewussyn bestaan nie,” sê John. “As ons grootgemaak is om te voel dat seks vuil is of dat alle mans afskuwelik is, sal dit die interaksie verkleur.” Het jy al soms ervaar dat jy ná seks huilerig voel en dit toegeskryf aan wankelrige hormone? Sommige onopgeloste gevoelens wat diep weggebêre is, kan daardie post-seks hartseer veroorsaak. Deur na die gevoelens te kyk wat in jou na vore kom na seks, kan jy baie oor jouself leer en seks kan jou as’t ware help genees.

In haar artikel It’s not over till it’s over skryf Elisabeth Winkler oor ’n vriendin, Julia, wat gesê het naspel het haar tot ’n besef gebring. “Dit het my laat opmerk dat daar twee soorte seks tussen my en my man is. Daar is eksotiese bonking – pret op die oomblik, maar wat my later baie hartseer en leeg laat voel, asof ek net wil afskakel. Maar wanneer seks regtig daaroor gaan om liefdevol en gekonnekteer aan Nick te voel, dan is die gevoelens ná die tyd heeltemal anders. Ek voel gevoed en gloeiend. Die volgende oggend kyk ek na Nick op ’n ander manier en daardie spesiale gevoel kan dae lank duur.” Nick erken op sy beurt: “Ek het deur die jare geleer om meer sensitief te wees. Nou besef ek dat dit saak maak om nie te gou te onttrek nie, maar om gekonnekteer en ineengestrengel te bly lê ná die tyd. Seks het minder oor ’n vinnige bonk begin gaan en eerder daaroor om in ’n verhouding te wees, wat naspel ’n meer vervullende ervaring gemaak het.”

’n Sielkundige en verhoudingskenner, Malcolm Stern, erken ook dat hy baie akrobatiese seks in sy jong dae gehad het. “Dit vervul jou vir tien minute, maar dit laat ’n leegheid agter. Dit het my jare geneem om te leer dat seks nie gaan oor die ontlading van spanning nie, maar oor ’n diep ontmoeting tussen twee mense. As ons die risiko kan neem van oorgee, is naspel ’n wonderlike smeltingstyd, soos ’n heerlike nagereg ná ’n goeie maaltyd.”

As ’n gemiddelde man sy sin kon kry…

Wanneer mans gevra word aan watter aktiwiteite hulle graag wil deelneem kort ná seks, is slaap heel bo aan die prioriteitslysie. Nommer twee? Om iets te eet. “So, die uiterste manlike seksfantasie is om goeie seks te hê, weg te raak en wakker te word met ’n glimlaggende minnares wat oor jou buk met ’n bord warm Nachos en ’n koue bier,” skryf Eve Salinger in The Complete Idiot’s Guide to Pleasing Your Women. Die rede hiervoor is blykbaar fisiologies. Met orgasme stel jy die hormoon oksitosien vry wat jou van nature slaperig maak.

Tog plaas mans te maklik die skuld op hul lywe! John sê: “Mans het ’n weerbarstige periode wanneer hulle nodig het om hul batterye te herlaai, maar tensy dit baie laat in die nag is, kan die slaperigheid vergelyk word met die effek van ’n glas wyn. Kom ons oordryf nou nie – ons praat van matige moegheid hier, nie post-koitus narkolepsie nie.” Wat ’n lekker verskoning, dink jy waarskynlik! Hoekom werk dit nie vir Evas dieselfde nie? Omdat ons begeerte om emosioneel te konnekteer, ons fisieke drang vir slaap oorheers. Nog ’n rede is dat ’n mens weerloos voel teenoor jou lewensmaat ná seks. Mans, wat nie daarvan hou om so te voel nie, hanteer dit deur slaap in te haal. ’n Vrou wil die gevoel prosesseer deur die band tussen haar en haar maat te versterk – deur te troetel, te gesels of mekaar aan te raak.

Kom ons maak jou touwys…

VIR HOM: Wenke vir die naspel

As jy regtig ’n paar goeie punte by vroulief wil aanteken, maak seker jy doen iets spesiaal om haar te wys jy neem haar gevoelens in ag:

  • Moenie aan die slaap raak nie. Wat jy ook al doen… moenie aan die slaap raak nie.
  • As sy op die nat kol lê, bring vir haar ’n waslap of handdoek om die vog mee te absorbeer.
  • As sy badkamer toe moet gaan, moenie voor haar uithardloop nie, al glo jy jou nood is groter!
  • Laat haar toe om eerste te stort of bied aan om saam met haar te gaan stort.
  • As sy dors is, gaan haal vir haar ’n glas water of iets anders om te drink.
  • As julle kondome gebruik, maak seker jy gooi die kondoom weg en moenie dit iewers in die bed of op die bedkassie los nie – nie eers vir ’n minuut nie!
  • As sy ’n diafragma gebruik, gee haar die privaatheid wat sy nodig het om dit te verwyder.
  • Vir topgehalte-cuddling kan jy jou hele lyf om haar drapeer.
  • Prys haar met mooi (en opregte) komplimente.
  • As sy haar onderklere wil aantrek, gee dit vir haar aan…
  • … maar verseker haar jy verkies haar daarsonder
  • Moenie opstaan en loop nie – nie om melk te gaan koop nie en nie om jou e-posse te lees nie. Vir niks!
  • Moenie oor oppervlakkige dinge gesels waaraan sy geen erg het nie.
  • Bly weg van jou selfoon af – jou boodskappe kan wag tot later.

 

VIR HOM: As jy haar werklik haar sin wil gee…

Ja, vroue is fisiologies anders geskape en ja, sy wil vertroetel word… maar daar is nog ’n rede waarom jou vrou dalk nog wakker is terwyl jy die slaap uit jou oë probeer vee. Sy het miskien nog nie ’n orgasme bereik nie! Of dalk het sy wel, maar is sy heeltemal geneë om vir rondte nommer twee te gaan! As jy ’n ware heer is, vra haar of daar nog iets is wat jy vir haar kan doen. Jy is dalk nie daartoe in staat om dadelik weer ’n ereksie te kry nie, maar wie het gesê jy het altyd jou penis nodig om haar genot te verskaf…? Probeer die volgende:

  • Stimuleer haar met jou hande. Jy kan nie te moeg wees om een vinger te gebruik nie en dit mag dalk al wees wat jy nodig het. Beweeg jou vinger stadig en tergend oor die lengte van haar skaamlippe. Streel dan haar klitoris totdat sy ’n orgasme bereik.
  • As sy nie baie geïnhibeerd is nie, moedig haar aan om te masturbeer terwyl jy toekyk en haar lyf bewonder.
  • Gebruik seksspeelgoed. As sy steeds voel sy kry nie genoegsame stimulering ekstern nie, kan jy haar met ’n vibrator of soortgelyke seksspeelgoed penetreer.
  • Daar is natuurlik altyd die geskenk waarvoor min vroue “nee dankie” gaan sê. Voer orale seks op haar uit. As jy genoeg energie het om kos te wil verorber, kan jou tong nie te moeg wees hiervoor nie.

 

VIR HAAR: Onthou, hy is anders geskape as jy…

Terwyl jou liewe man lyk asof hy sopas ’n marathon gehardloop het (as jy die hele artikel gelees het, sal jy nou weet dit is hoofsaaklik net ’n aansittery, tensy hy werklik nie sy kop kan regop hou ná een glas wyn nie…), het jy ’n tweede asem geskep. Jy wil gesels. (Dalk juis die rede vir die aansittery!) Mans weer, voel dit is oorbodig om nou te wil praat. Hulle is aksie-georiënteerd en glo jy het sopas met jou lyf “gepraat”. As jy regtig iets op die hart het, voel vry om te gesels, maar maak seker jy raak nie die volgende kwyt nie…

  • “So, vertel my… hoe voel jy oor ons verhouding?”
  • “Liefie, volgende keer moet jy asseblief probeer om nog so ’n rukkie uit te hou…”
  • “Ek is nie mal oor daai ding wat jy met jou tong doen nie…”
  • “Waaraan het jy gedink terwyl ons seks gehad het?”
  • “Het jy oor iemand anders gefantaseer? Wie is sy en waar bly sy?!”
  • “Waaraan dink jy?”
  • “Dink jy die kinders is okay…?”
  • “Sjoe, my beenhare is seker twee weke laas geskeer!”

Probeer eerder die volgende:

  • “Grote Griet, maar jy’s ’n stallion!”
  • “Onthou jy ons eerste aand in die bed?”
  • “Jy weet nét hoe om jou vingers die praatwerk te laat doen…”
  • “Jy laat my jonk voel.”
  • “Ek wens ons kon dit elke dag doen.”

 

VIR HOM: Onthou, vroulief is ’n sensitiewe wese…

Net soos wat sy sekere onderwerpe behoort te vermy, moet jy haar ook in ag neem. Gesprekke wat begin met die volgende, is taboe:

  • “Sjoe, daar het baie water in die see geloop van daai eerste flop in die bed, huh?”
  • “Weet jy, ek het nou gelê en wonder of ons nie hier ’n paar dakliggies moet insit nie…”
  • “Ek moet gou kyk wie my gebel het…”
  • “My ma-hulle kom môre kuier, het ek jou gesê?”
  • “Het jy onthou om jou belastingvorm weg te stuur?”

Dít gaan jou egter volpunte gee:

  • “Ek voel regtig naby aan jou…”
  • “Ek kan maar net nie genoeg van jou lyf kry nie.”
  • “Jy was fantasties.”
  • “Dit is tye soos dié wat my opnuut herinner hoekom ek en jy bymekaar is.”
  • “Ek kan vir ewig so by jou bly lê…”
  • “Kyk wat daardie paar borste van jou aan my doen!”

Omdat julle albei in ’n ontspanne luim is, is dit ’n goeie idee om ná seks te gesels oor toekomsdrome, ’n naweek weg of ’n naderende vakansie. Moenie spannende onderwerpe aanraak nie en moenie die bui belemmer met ’n flou grappie nie. Gee jul onverdeelde aandag aan mekaar, met die houding dat tyd irrelevant is, en raak voortdurend aan jou maat.

VIR HOM EN HAAR: ’n Paar prettige dinge om ná seks aan te vang…

Julle is albei in ’n onverbeterlike luim, mits daar nie onderliggende kwessies is wat julle tydens die seksdaad gepla het nie. Trek voordeel hieruit deur die atmosfeer vir solank moontlik uit te rek.

1. Hou ’n middernagfees…

As julle albei lus is vir iets om aan te peusel, gedra julle soos stoute kinders. Waag dit om poedelnakend met die gang af te hardloop kombuis toe terwyl die kroos slaap. Hou die ligte af (net vir in geval junior ook honger word) en haal uit die yskas wat julle harte begeer. Jy kan selfs ’n spesiale rak hê waar jy skelm allerlei luukse lekkernye bêre vir aande soos dié. Gaan sit kaal op die vloer en eet terwyl julle in mekaar se ore fluister. As julle weet hoe om mekaar te voer, kan dit dalk net die bui skep vir ronde nommer twee… in die besemkas!

2. Luister saam na ’n spesiale liedjie

“Een van die eerste kere wat ons seks gehad het, was in die kar. Die radio was aan en ’n baie sexy liedjie van Stevie Nicks het gespeel. Van daardie dag af is dit ons spesiale ‘seksliedjie’. As ons dit hoor, gryp ons mekaar, mits die scenario dit toelaat. En as ons in die openbaar is wanneer dit speel, kyk ons net vir mekaar en elkeen weet wat later wag!” vertel Maya Benade. Ná daardie vroeë ervaring in die kar, het die paartjie gelê en lank nog na rustige musiek geluister. Vandag speel hulle steeds soms daardie CD ná seks en vir Maya is dit kosbare en spesiale tyd saam met haar man. Kry vir julle post-seks liedjies waarvan julle albei hou en waarna julle rustig kan lê en luister – een waarop julle selfs later stil in mekaar se arms aan die slaap kan raak.

3. Gaan stap ’n paar keer om die blok

Dit gaan nou nie werk as julle hittige seks rondom middernag gehad het nie, maar as julle ’n lui Saterdagoggend gehad het en julleself nie so ver kan kry om die dag te begin nie, trek vinnig iets gemaklik aan en gaan stap hand aan hand deur die buurt. Julle kan selfs vir mekaar lag en julle onderklere na ’n hoek in die vertrek skop voordat julle uitgaan. Só weet elkeen van julle daar is ’n stoute geheim wat onder julle klere skuil en dit dien sommer as goeie voorspel vir julle volgende sessie bedpret vanaand. Om saam in die buitelug te verkeer, is ’n intieme ervaring en die vars lug sal julle nuwe lewe gee.

4. Deel ’n duvet voor die televisie

Jy weet watter televisieprogramme die konflik in julle huis veroorsaak, so nou is nie die tyd om aan te dring op Gossip Girl nie. En hy mag nie die DSTV op History Channel sit nie. As julle saam wil fliek kyk ná onvergeetlike seks, kyk iets waarvan julle albei hou en verkieslik iets romanties wat uit die vyftigerjare dateer. Die idee is dat julle diep onder die duvet inkruip en styf teen mekaar lê. Om te lag, kan julle ook die wêreld se goed doen, so trek sommer ’n komedie ook nader.

5. Blaai saam deur tydskrifte

Vermy die Sondagkoerant – dit kan ’n baie spesiale ervaring bederf deur weer van die moord, doodslag en die elektrisiteitskrisis te lees. Kry eerder ’n glanstydskrif en blaai saam daardeur. Dit kan ’n baie intieme ervaring wees. Miskien beplan jy om die badkamer ’n nuwe voorkoms te gee – wys vir hom al die idees wat jy het. Hy weer kan vir jou wys wat hy van plan is om vir die nuwe babakamer te bou. Julle kan selfs ’n reisartikel lees van ’n plek waaroor julle droom en planne maak om dit te besoek. As julle albei taalkundig aangelê is en ’n bietjie laf wil wees, vul saam ’n blokraaisel in.

6. Gee mekaar ’n massering

Miskien is julle albei te uitgeput vir ’n volskaalse, intense massering. Onthou egter dat daar verskillende maniere is om mekaar aan te raak. Laat jou maat met sy kop op jou skoot lê en gee hom ’n kopmassering. Of lê met jou voete op die kussing en laat hy jou voete masseer. Julle kan mekaar ook slegs streel of oor mekaar se rûe vryf. Dit is ’n manier om die fisieke konneksie op ’n nie-seksuele (maar wel sensuele manier) voort te sit.

VIR HOM EN HAAR: Slaap saam…

As julle albei ewe moeg is en ingestem het om saam te slaap, kan dit ‘n baie intieme en belonende ervaring wees. Maak egter daarvan ’n groot gebeurtenis en moenie bloot omdraai en die lig afskakel nie. Hier is ’n paar wenke…

  • Brand wierook of ’n brandertjie met essensiële olies wat die kamer ’n lekker geur gee.
  • Trek ’n luukse throw of comforter nader, een wat julle slegs met spesiale geleenthede vir gaste uithaal.
  • Moenie op die bondel beddegoed neerplons nie. Neem ’n oomblik om die lakens glad te stryk.
  • Maak seker jou maat word nie afgeskeep wat beddegoed aanbetref nie.
  • Pof jou maat se gunsteling-kussing vir hom of haar op.
  • Blaas die kerse dood en skakel die ligte af, maar laat jul gunsteling musiek sag in die agtergrond speel.
  • Maak seker jul slaapkamer is nie te warm of te koud nie.
  • Gaan lê met jou kop in die waai van jou man se arm. Dit is nie baie gemaklik nie, maar dit sal jou beskermd en hom belangrik laat voel, selfs al doen jy dit net vir ’n rukkie.
  • Soek dan ’n posisie wat vir jul albei gemaklik is, soos om lepel te lê.
  • As julle gewoond is om elkeen op sy eie te slaap, behou fisieke kontak deur hande vas te hou of selfs net met jul voete aan mekaar te bly raak.

VIR ALBEI: Naspel is aaneenlopende voorspel!

Daar is geen reëlboek wat sê naspel is ’n moet nie. Daar is selfs nie eens soveel klem op naspel as goeie etiket soos op voorspel nie. Diegene wat egter gereelde naspelers is, beweer dat dit ’n ongelooflike atmosfeer tussen ’n paartjie skep en dat hulle definitief ’n meer aktiewe sekslewe het omdat naspel natuurlik oorloop in die volgende voorspel. Dit kan nie skade doen om hul teorie te toets nie…

  • Los ’n nota op jou maat se kussing terwyl hy in die stort is: “Steeds jou hande op my lyf…”
  • Stuur ’n teksboodskap later die dag wat se: “Laas nag bly drentel in my kop…”
  • Stuur ’n bos blomme met ’n nota wat sê: “Hoop ons doen dit gou weer…”
  • Stuur ’n intieme e-pos wat begin met: “Twintig redes hoekom ek jou waardeer…”
  • As jy by die huis kom, laat val alles in jou hande by die voordeur en gryp hom om die nek.
  • Buk laag voor hom wanneer jy sy kos vir hom aangee, knipoog vir hom en raak aan sy hand.
  • Maak ’n afspraak vir volgende keer – goeie na- én voorspel!

Seks, soos God dit bedoel het om te wees, bring mense nader aan mekaar. Dit is ’n spel van passie wat gespeel word deur by sommige reëls te hou en ander heeltemal oorboord te gooi. Onthou egter dat ’n ete nie eers die helfte so lekker is as jy in ’n restaurant sit met ’n leë sitplek voor jou nie. Seks is gee en neem, om mekaar te voer en elke happie te geniet. Moet nooit jou maat geïsoleer of misbruik laat voel nie. Deur iets so eenvoudig soos naspel toe te pas, kan jy hom of haar laat verstaan wat seks regtig vir jou beteken. So sal hy of sy uitsien na die volgende keer wat dit nóg meer wins vir jul saamwees gaan inbring. So, onthou: Nagereg is té lekker om oor te slaan en as jy reg kies, sal jy die soet nog lank daarna op jou tong bly proe…

 

Addisionele bronne: The Complete Idiot’s Guide to Pleasing Your Women, deur Eve Salinger; vixentales.blogspot.com; buzzle.com; ‘It’s not over till it’s over’, The London Independent (21 Januarie 1996) deur Elisabeth Winkler