Voor julle kinders gehad het, het jy gedink jou “spesiale tee” en spesiale liefde kan enige siekte regdokter. Manlief sou steun en kreun, maar jy het geweet daar word ’n bietjie oordryf en al wat hy nodig het, is ’n bietjie van jou liefdevolle sorg. Dié “liefdevolle sorg” het ’n hele spannetjie kinders tot gevolg gehad en vandag lyk jou noodhulpkissie heeltemal anders.
Altans, ons hoop so, want ’n goeie noodhulpkissie is ’n noodsaaklike item in elke huis. As joune bestaan uit ’n skoenboks met halfleë botteltjies “beertjiestroop” en maagmedisyne wat danksy ’n ou vervaldatum dalk meer maagpyn kan gee as verlig, moenie sleg voel nie.
’n Noodhulpkissie is iets wat gereeld onderhou moet word en as julle gelukkig genoeg is om nie gereeld siek te word nie, is die kanse goed dat joune dalk nie lyk soos dit veronderstel is om te lyk nie. Ons wil egter ’n beroep op jou doen om dié situasie gouer as later te verander – jy mag dit dalk baie dringend nodig kry…
Hoekom is ’n noodhulpkissie nodig?
- Sodat jy nie hoef te soek nie! As jy jou kind met ’n gapende wond by die huis indra, is die laaste ding wat jy wil doen om te soek na iets om die bloeding te keer. Jy wil reguit kas toe stap en kry wat jy nodig het. ’n Noodhulpkissie sorg dat daar ’n sentrale punt is waar alle mediese benodigdhede gebêre word. Dit kan uiters belangrik wees in ’n geval waar tyd ’n faktor is en jy nie hiervan het om te mors nie.
- Sodat jy ’n vakansie gladder kan laat verloop. Wanneer gebeur die meeste ongelukke? Wanneer ons ontspan. Jy wil nie in die boendoes wees en betrap word met ’n by-allergie of ’n brandwond langs ’n braaivleisvuur nie! As jy en jou gesin met vakansie gaan, gaan daar nog ’n baie belangrike reisiger saam – jou noodhulpkissie.
Begin met die volgende stappe (volgens redcross.org):
- Hou twee noodhulpkissies byderhand – een in jou huis en een in jou voertuig.
- As julle weggaan, neem jou noodhulpkissie saam of maak seker jy weet waar om een te kry.
- Maak seker jy weet waar word die werk se noodhulpkissie gebêre.
Hoe kies ek ’n noodhulpkissie?
Daar is talle noodhulpkissies op die mark wat jy net só kan koop. Dié kissies is gewoonlik handig om in die motor te hou of mee te reis. Sekere noodhulpstelle word ook pasgemaak vir spesifieke aktiwiteite, soos dié wat geskik is vir bootreise of vir staproetes.
Redcross.org beveel aan dat jy jou noodhulpstel gereeld moet nagaan. Stel ’n herinnering op jou selfoon om op die laaste dag van elke maand te kyk hoe lyk die stand van sake. Gaan die vervaldatums na en vervang enige medisyne waarvan die vervaldatum verstryk het. Jou noodhulpstel moet ook ’n flitslig met batterye (en ’n spaarstel) hê.
Wat moet ’n medisynekissie bevat?
’n Medisynekissie moet die regte items bevat om alles – vanaf ’n skraap tot ’n steekplek of ’n seerkeel – reg te dokter. Jou medisynekissie kan enigiets wees – van ’n rugsak tot ’n yshouer, plastiek-koelboks, metaal-gereedskapkissie, tassie of plastiekkrat.
’n Professionele organiseerder, Geralin Thomas, beveel aan dat die noodhulpkissie ook die volgende bevat: ’n Selfoonnommer van ouers en die huisadres, kinders se volle name, allergieë en geboortedatums, die pediater se naam en telefoonnommer, die huisdokter se telefoonnommer en adres.
Hier is ’n lys wat ons saamgestel het uit ’n kombinasie van dít wat verskeie kenners aanbeveel:
- ’n Orale inspuiting of gekalibreerde beker en teelepel (om medisyne mee toe te dien).
- ’n Vloeibare acetaminophen of ibuprofen (nie-aspirien) vir kinders.
- ’n Vloeibare middel wat slym losmaak en deur pediaters goedgekeur word.
- Anti-diarree medikasie.
- Teensuurmedikasie.
- ’n Digitale termometer.
- ’n Skerp skêrtjie.
- Doekspelde.
- ’n Gesteriliseerde naald.
- Hidrokortisoon-room (0,5% vir kinders).
- Suiwer alkohol.
- Waterlose handreiniger.
- Hidrogeen-peroksied.
- Watte-bolletjies.
- Oogdruppels.
- ’n Verhittingsdoek.
- ’n Warmwaterbottel en oortreksel.
- ’n Yspak.
- Pediatriese orale elektroliet-oplossing.
- 2 absorberende verbande (12 x 22cm).
- 25 pleisters (in verskeie groottes). As jy klein kinders het, sal dié met strokieskarakters daarop handig te pas kom.
- 1 kleefband van materiaal.
- 5 antibiotiese salf-pakkies (van 1g elk).
- 5 pakkies antiseptiese “wipes”.
- 2 pakkies aspirien (81mg elk).
- 1 kombers (“space blanket”).
- 1 koue kompres.
- 2 pare nie-lateks handskoene (grootte: L).
- 2 hidrokortisoonsalf-pakkies (ongeveer 1g elk).
- ’n Skêr.
- 2 rolverbande (in verskillende wydtes).
- 5 steriele gaasdoeke.
- ’n Orale termometer (nie glas nie).
- 2 driehoekverbande.
- ’n Knyptangetjie.
- ’n Noodhulpboek.
Oorweeg dit om sekere items afsonderlik te hou
Jy kan ook die volgende items in die noodhulptassie hou of ’n afsonderlike houer kry vir dié items, wat jy waarskynlik meer gaan gebruik:
- Antiseptiese middel.
- Antibiotiese salf.
- Steriele oogdruppels of saline-oplossing.
- Room vir bytplekke.
- Room vir jeukerigheid.
- Pyn- en koorsmedikasie (onthou egter dat kinders en tieners nooit aspirien mag drink nie – dit kan lei tot ’n ernstige sindroom in kinders onder 18 jaar).
- Antihistamien om allergieë en swelling mee te behandel.
- Middels wat slym losmaak.
- Middels teen naarheid en karsiekte.
- Anti-diarree medikasie.
- Teensuurmiddels om ’n omgekrapte maag en sooibrand mee te behandel.
- Lakseermiddels om hardlywigheid mee te behandel.
Jou kissie moet dié addisionele items bevat:
- Noodnommers.
- Vorms vir mediese toestemming vir elke familielid.
- ’n Mediese geskiedenis van elke familielid.
- ’n Klein waterdigte flitslig vir ’n koplampie en ekstra batterye.
- Waterdigte vuurhoutjies.
- ’n Klein notaboekie en waterdigte skryf-item.
- ’n Selfoon met ’n sonlaaier.
- Insekafweermiddel.
- ’n Fluitjie.
Bewaar jou medisyne veilig
Onthou, as jy jou medisyne nie reg stoor nie, kan dit lei tot beskadiging of verswakking van die doeltreffendheid daarvan – selfs voor die vervaldatum! Moet dus nie jou medisyne in ander houers giet nie en behou alle verpakkings en gebruiksaanwysings. Dikwels is die gebruiksaanwysings nie op die botteltjie self gedruk nie, maar slegs op die boksie en verloor jy dié, sit jy sonder aanwysings vir die regte doserings.
Bêre jou medisyne só dat die naam van die medisyne, vervaardigingsnommer en vervaldatum duidelik sigbaar is. Onthou ook dat sekere medisyne en tablette nie aan suurstof en lig blootgestel mag word nie. Medisyne moet altyd op ’n koel, droë plek gebêre word, weg van direkte sonlig, hitte en vog.
Organiseer jou kissie só:
’n Goeie idee is om ’n noodhulpkissie te hê wat verskeie houers bevat. Elkeen van die houers word dan in die volgende afdelings verdeel:
- ’n Houer vir noodsituasies (ingeval van brand, slangbyt, groot wonde, asemhalingsprobleme).
- ’n Houer vir klein skrape en wonde (pleisters, kleefverband, gaas en ’n vloeibare ontsmettingsmiddel wat 99% van alle kieme doodmaak).
- ’n Houer vir rome en salwe (dit sluit in allerlei rome, soutwater-oplossing, alkohol, petroleumjellie en sonroom).
- ’n Houer vir mediese voorraad (watte, handskoene, plastieksakkies).
- ’n Houer vir iets van alles (termometer, maatlepels, ’n skêr, naald, knyptangetjie, flitslig en so meer).
- Medisyne (pille en strope). Hier het jy ’n verskeidenheid nodig vir alle ouderdomme en in alle vorms (ook setpille vir ingeval jou kind nie die medisyne kan inhou nie). Wanneer jy die medisynehouer saamstel, kan jy hier ook verskillende houers hê met die volgende etikette:
- Vir verkoues en griep.
- Vir maagprobleme en naarheid.
- Vir allergieë.
- Voorskrifmedisyne.
Moenie innoveer nie
Moenie kanse waag met medisyne wat verby hul vervaldatum is nie en sorg dat jou medisynekissie op datum is. Moet ook nie innoveer met die grootte van doserings as jy nie die regte instruksies byderhand het nie – dit kan lewensgevaarlik wees. Volg gebruiksaanwysings noukeurig.
Sommige medikasie moet saam met etes geneem word (om ’n omgekrapte maag en newe-effekte te voorkom), ander op ’n leë maag (vir behoorlike absorpsie en sodat die werking daarvan nie gedeaktiveer word deur die spysverteringsproses nie). Kos en medisyne kan interaktief werk, en daar is ook verskeie ander redes waarom jy hierdie instruksies moet volg.
Agt wenwenke vir wanneer jy jou medisynekissie saamstel
WENWENK #1: Hou die noodhulpkissie afsonderlik van die medisynetassie. Jou medisynetassie sal stroop bevat wat baie meer gereeld gebruik word (soos hoesmedisyne, pynstroop en middels teen maagkrampe). Só ook muskietbytroom, antiseptiese room en pleisters (weereens die strokieskarakter-variëteit). Dit is ook hierdie items wat gou sal verval.
WENWENK #2: Hou ’n goedkoop vergrootglas of bril wat vergroot in jou noodhulpkissie om die fynskrif op medisynebottels te lees en om ’n doring uit te delf!
WENWENK #3: Hou jou kinders se inentingskaarte in jou noodhulpkissie. Dit is ’n item wat baie gou verlore raak en as dit by jul ander noodhulpitems gebêre word, sal jy altyd weet waar dit is en kan terugverwys indien jy dit nodig het.
WENWENK #4: Hou organiese klapperolie byderhand. Dit kan help vir bykans enigiets. Omdat klapperolie anti-viraal, anti-bakteries en anti-fungaal is, kan dit klaarspeel met allerlei goggas.
WENWENK #5: Hou ook Ziploc-sakkies byderhand. As jy ’n houer vir ys moet gereed kry, as jy ’n tand wat uitgestamp is moet bêre of as jy gebruikte items (soos bloederige verbande) moet isoleer, kan Ziploc-sakkies soos ’n bom werk.
WENWENK #6: As julle afsonderlike houers op ’n sentrale punt hou, onthou sommer ook om die troeteldiere se mediese kaarte en medisyne daar byderhand te hou. Na alles het jul troeteldiere se gesondheid ook ’n impak op julle s’n! As julle dit binne-in ’n kas hou, plak sommer hul mediese geskiedenis teen die binnedeur van die kas sodat julle weet wanneer dit tyd is vir hul volgende inspuitings.
WENWENK #7: As dit dié maand broekskeur gaan, maar daar is ’n hele paar medisynehouers wat vervang moet word, oorweeg om die generiese produkte hiervan te koop. Dis heelwat goedkoper en behoort dieselfde uitwerking te hê.
WENWENK #8: Klein kinders stamp gereeld hul koppe en dit kan neusbloeding veroorsaak. Sommige kinders se aartjies sit baie vlak, en hul neuse bloei na ’n geringe skraap of stamp. Dit kan vir jou kind ongerieflik wees en selfs ongemaklike oomblikke by die skool veroorsaak. Oorweeg gerus ’n jel-behandeling wat neusbloeding binne oomblikke kan stopsit.
Is daar ’n baba in die huis?
Nie net moet jy sorg dat jou noodhulpkissie op datum is met allerlei medikasie wat ’n klein babatjie mag benodig nie, maar jy moet ook seker maak dat jou huis veilig genoeg is sodat daardie mensie sy wêreld kan verken sonder dat dit vir hom of haar enige bedreiging inhou. (Ons praat natuurlik nou van die kruipstadium, wat enige jong ma die skrik op die lyf jaag!)
Onthou die volgende wenke as daar ’n baba in jou huis is:
- Moet nooit jou kind alleen in die bad los nie – nie eers vir ’n minuut nie! ’n Kind sal binne twee minute onder water sy bewussyn verloor en onherstelbare breinskade gebeur binne vier minute!
- As jy jou kleinding se bad intap, tap altyd eerste die koue water in. Hy of sy mag dalk net besluit om vroeër in te klim pleks van later.
- Hou handsakke buite bereik van jou kind. Daar kan talle gevaarlike, skerp items wees of bloot tablette wat lewensgevaarlik kan wees.
- Wees ekstra versigtig as dit by kos kom. Die grootste gevare is neute, druiwe, lekkergoed, springmielies, wortels, sonneblomsade en malvalekkers . . . en ander items wat nie eers as kos geklassifiseer word nie! Kinders onder drie jaar het die grootste kans vir verstikking.
- Omdat grondboontjies en grondboontjiebotter erg allergenies is, moet dit nooit vir ’n kind jonger as drie jaar gee nie (boonop hou die grondboontjies ook ’n risiko vir verstikking in).
- Ja, dis stresvol, maar wanneer jou kleintjie jonk is en nog nie kan swem nie, sien die gevare om elke hoek en draai raak! Soos die visdam, die swembad langsaan en die emmer water in die tuin . . .
- Versmoring is die nommer een oorsaak van nie-intensionele beseringsverwante sterftes onder kinders jonger as een jaar. Maak dus seker jou kind se wiegie bevat nie sagte kussings, komberse, kwilts en opgestopte diere nie.
- Moenie koffie drink en ’n baba vashou nie. Dis onverantwoordelik. Voor jy jou oë uitvee, het daardie nuuskierige handjies jou beker beet en mors kokende warm vloeistof oor daardie broos velletjie.
- Hou alle koorde buite bereik van ’n baba. Maak ook seker jou panne se handvatsels is na die muur se kant toe gedraai en buite bereik van enige jong mensie wat kan voel of hulle jou wil help kook.
- Pasop vir ballonne op jou kind se eerste verjaardag. Kleuters sit graag gebarste ballonne in hul monde, die lateks sit vas in die keel en só verstik ’n kleintjie voor jy jou oë uitvee. Ballonne is blykbaar verantwoordelik vir 44% van alle speelgoed-verwante fatale verstikkings.
Oorweeg ’n noodhulpkursus
Sodra jy jou noodhulpkissie gereed het, kan jy jouself ’n klop op die skouer gee. Oorweeg egter ook om ’n noodhulpkursus of KPR (CPR)-kursus te doen. Nie net kan dit een van jou gesinslede se lewens in ’n noodsituasie red nie – dit kan jou ook bemagtig laat voel, want as jy ’n noodhulpkursus onder die knie het, kan jy alles binne jou vermoë doen om noodlottige gevolge te verhoed.
Om te dink aan die moontlikheid dat jou kind kan verstik of dat jy kardiopulmonêre resussitasie (KPR) sal moet toepas, is skrikwekkend, maar dit kan jou kind se lewe red!
Sekere beserings kan ’n persoon laat ophou asemhaal en wanneer daar nie asem is nie, kan bloed nie sirkuleer nie – dit kan veroorsaak dat die brein suurstofnood ervaar. As daar nie iemand is wat baie vinnig KPR kan toepas nie, kan permanente breinskade oorgehou word en die slagoffer kan selfs binne agt minute sterf!
Gevalle waarin ’n noodhulpkursus jou handig te pas kan kom, is wanneer jou kind, jou maat of enigiemand wat jy teëkom in ’n ongeluk was, bykans verdrink het, versmoor, vergiftig is, rook ingeasem het, geskok is en in die geval van moontlike wiegiedood. Sorg dat jy jouself só toerus dat jy van bystand kan wees in só ’n situasie.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: redcross.org, familyhealth.org, kidshealth.org, mayoclinic.org, youremergencyplan.com, www.parents.com.