Langafstandverhoudings is – volgens paartjies wat geen ander keuse gehad het as om dit op die proef te stel nie – een van die moeilikste dinge om te laat werk. Dis eintlik heel te verstane, want die twee betrokke partye is nie by mekaar nie, hulle hou nie tred met mekaar se doen en late nie, kommunikeer nie na wense nie en loop die gevaar om ook emosioneel uit mekaar te dryf.
Dit vat werk as ’n paartjie dit wil laat werk.
Wat ek daarteenoor besef is dat daar paartjies is wat bymekaar, in dieselfde huis woon, en hulleself in langafstandverhoudings bevind. Die huwelik raak twee mense wat hulle eie lewe leef, hulle eie bestaan, onafhanklik, voer. Hulle is nie op hoogte van mekaar se doen en late nie, kommunikeer minimaal en is emosioneel verder uit mekaar as mense wat duisende kilometers van mekaar af woon.
Hoe gebeur dit? Eintlik baie maklik. Wanneer die twee indiwidue in die verhouding – sonder dat hulle dit besef – bloot ophou probeer, ophou moeite doen, ophou praat, ophou luister en ophou werk aan die aanvanklike gedeelde ideaal van ’n droomlewe met “die een”.
Wat is die gevaarligte?
- Wanneer jy besef jou maat se aandag is nooit ten volle by jou wanneer jy praat nie.
- Wanneer julle die meeste van die tyd nie weet waarmee die ander een besig is nie.
- Wanneer werk en vriende (selfs drome) belangriker as jou gekose lewensmaat word.
- Wanneer julle by mekaar begin verbyleef en kamermaats – in plaas van passievolle, liefdevolle huweliksmaats – raak.
- Wanneer julle emosioneel so ver verwyderd geraak het dat fisieke kontak ’n skaarsheid word.
Coldplay sing in The Scientist: Nobody said it was easy. No one ever said it would be this hard. Oh, take me back to the start.
Wat as jy terugdink aan waar alles begin het en jy kan nie onthou nie? En erger nog, nie meer dieselfde gevoel binne-in jou vind nie, al soek jy?
Hoe begin twee mense oor? Waar begin jy?
Jy kies liefde. Jy kies elke dag opnuut om vir jou lewensmaat lief te bly én om moeite te doen om dit te wys. Jy maak God deel van die huweliksgenesingsproses, want Hy het van die begin af bestem dat julle twee een word. Jy vergewe. En probeer om te vergeet, elke liewe baksteen wat die muur tussen julle gebou het. En bou iets nuut daarmee, in plaas daarvan dat jy dit daar eenkant laat lê en net weer ’n baksteen het om te gryp om mee te gooi tydens ’n volgende struweling.
Jy gee tweede kanse.
Jy erken jou eie tekortkominge en wees bereid om aan jouself te skaaf. Huweliksmaats kan harde karton word, maar kan ook weer uitgeknip en ingekleur word om soos legkaartstukkies perfek in mekaar te pas in God se plan. God bring nie twee mense verniet by mekaar uit nie. As huwelikspaartjies dit net elke dag besef, sal hulle besef die spesiale mens aan jou sy moet altyd dít wees en dít voel: jou gunsteling, jou een. Neem vandag die besluit om jou wêreld te laat wentel om jou maat – soos aan die begin toe julle nog smoorverlief was. Dis nooit te laat nie.
Artikel deur Esmarie Yssel