Josef en Maria is twee bekendes in die Bybel wat jou inspireer om binne jou huwelik nuwe hoogtes te bereik. Uitdagings staar ons elkeen vierkantig in die oë en ek stel hierdie betrokke paartjie, Josef en Maria, voor om ’n paar lessies by te leer! Hulle uitdagings, omstandighede en sukses het my só aangespreek dat ek dadelik ’n paar gehalte-besluite geneem het. Elke huwelik skryf hulle eie toetse van tyd tot tyd. Die groot vraag is of jy hulle deurkom of nie?
Kyk, hierdie paartjie se agtergrond met hulle tradisies, verwagtinge, doelwitte en teenstand in ag genome, was Josef en Maria se realiteit! Manne, niemand is gevrywaar van ongemak, probleme en oorlewing nie. As ons praat oor huwelike, kan ek dadelik dié betrokke paartjie se uitdagings uitlig en jou aanspoor om die leisels te neem, op te staan en die regte rigting in te slaan.
Josef en Maria het hulle gegewe skeppingsdoel nagestreef. Wat is jou skeppingsdoel? Verseker nie om mekaar teen die mure uit te dryf nie, nee! Maak bietjie tyd vas met vroulief. Lei gesprekke oor passies wat wel ’n verskil kan maak in hierdie gebroke wêreld. Maak ’n lys van wat vir julle belangrik is en hou aan tot ’n paar folio’s hiervan vol is! Julle sal sien, die lys sal dalk oppervlakkig begin en wel op die einde diepte kry. Hou net aan met grawe – en met ’n bietjie deursettingsvermoë sal julle by jul ware doel uitkom, waaruit julle heelwat waarde kan put. Moenie toelaat dat omstandighede julle terughou nie, dié hele proses gee uiteindelik ’n duidelike riglyn vir jou en liefie se ware skeppingsdoel. Doen hierdie uitdaging sommer vandag nog!
Josef en Maria het hulle uitdagings deurgesien. Elke huwelikspaartjie kry te doen met uitdagings in die een of ander stadium in hulle verhouding. Die vraag is egter of die regte keuses gemaak is om deur die bepaalde uitdagings te werk. Manne, onthou julle is ’n span en spanne moet saam die eindstreep bereik! Hou dus vir vroulief naby aan jou sodat sy sekuur en veilig saam met jou kan wees, al is die storm hoe erg. Bly saam en moenie haar agterweë laat nie. Fokus daarop om probleem-areas in julle verhouding te identifiseer en op te los, anders kan ongelukkigheid oor die lang termyn wel skade aanrig. In boeretaal: Stop die gate toe, anders gaan jou dammetjie nooit vol word nie! Manne, vra die Here om jou wysheid te gee. Hy het net jou beste belange op die hart.
Josef en Maria het hul bestaansreg ingeneem. Huwelike maak saak! Vir ander om jou mag hierdie instelling dalk verskil. Maak dié saak ’n instelling en neem standpunt in deur volgende jaar vanaf 1-7 September Nasionale Huweliksweek te vier. Manne, huwelike het ’n bestaansreg, maak ’n verskil! Suksesse word bepaal deur regte keuses, goeie beplanning en deur te begin met die einde in gedagte.
Josef en Maria het ’n keuse gemaak vir Goddelike leiding. Huwelike is nie deur enige staatsinstansie bepaal nie, maar wel deur die Here ingestel. Soos Josef en Maria duidelik gehoor moes gee aan Goddelike inspraak vir leiding om hulle bepaalde skeppingsdoel te bereik, was dit belangrik om gehoorsaam te wees aan basiese opdragte wat my en jou lewe vandag nog beïnvloed! Wanneer jy jou lewe en huwelik-stuur in die hande van Goddelike leiding plaas, waarborg ek ’n eindbestemming wat ware vreugde en totale vervulling bied.
Josef en Maria het die term “genade” verstaan. Ek glo nie dat enige huwelik bestaansreg kan hê sonder dat hierdie belangrike saak genade uitspel nie! Jong, een ding is seker en die begrip is vas – niemand is sonder foute nie! Jy mag dalk só dink. Vra gerus vir iemand wat jou goed ken. Jy sal miskien verras wees indien jy oop is vir die waarheid! Worsie in die bekende TV-reeks Vetkoekpaleis het altyd gesê: “Moet ek die waarheid praat sodat jy kan sleg voel of ’n leuen sodat jy kan goed voel?” Manne, die Here slaan ’n reguit hou met ’n skewe stok, onthou dit! Kom ons wees ekstra genadig met mekaar, verdra mekaar en wees ingesteld op mekaar se gevoelens. Indien jy hierdie gesprek met vroutjie voer, sal jy wel vind dat sy net die beste in gedagte het vir jou en nie noodwendig hoe jy dit geïnterpreteer het nie!
Ten slotte: Vind julle skeppingsdoel, hanteer daardie daaglikse uitdagings, onthou julle huwelik het bestaansreg, maak ’n keuse vir Goddelike leiding en ten slotte, wees genadig met mekaar!