Kreatiwiteit in jou huwelik is soos gis in jou brood. Sonder gis sal jy wel ‘n brood hê, maar dit sal ‘n wurgbrood wees – een wat nie is wat ‘n brood veronderstel is om te wees nie. Dieselfde met ‘n huwelik – sonder kreatiwiteit sal jy wel ‘n huwelik hê, maar beslis nie een wat uitrys bo die res nie.
Elke nuwe verhouding is deurspek met kreatiwiteit. Onthou jy die skoenlapper-gevoel? Daar was nuuskierigheid en kreatiwiteit wat gelei het tot betekenisvolle gesprekke wat tot vroegoggend geduur het. Julle het geen intensie gehad om die magic te skep nie… dit was bloot daar! Grazia Attili, outeur en professor in sosiale sielkunde aan die Sapienza Universiteit in Rome verduidelik dit as “… die resultaat van ‘n chemies-biologiese proses wat natuurlik gesneller word as ons saam woon.” Verskeie hormone is ter sprake. “Hierdie hormone maak ons opgewonde, opgewerk, aangetrokke tot ons maats,” verduidelik Attili. “Die genot is so intens dat dit amper ‘n fisieke afhanklikheid skep, wat noodsaaklik is vir genetiese doeleindes.” So, aanvanklik is dit natuurlik om bykans ál jou tyd aan jou maat toe te wy. Die chemie van passie kan egter nie hou nie – die brein kan dit nie volhou nie!
Dan, na ‘n tydperk van agt maande tot drie jaar, begin fase twee waartydens toewyding ‘n prioriteit raak. Hier is ook hormone ter sprake en oksitosien veroorsaak ‘n stilte, kalmte en ontspanning. Oksitosien is ook die hormoon wat tydens borsvoeding en swangerskap vrygestel word. By ‘n man word dit tydens orgasme vrygestel en by ‘n vrou wanneer sy en haar maat mekaar druk, cuddle en die goeie tye onthou. So, die skoenlappers vlieg weg en hoewel jy niks kan doen aan fase een se verbygaande aard nie, kan jy wel, met moeite, meer magic in jou huwelik belê en só die vervaardiging van oksitosien aanwakker. “Dit is nie die onthou van verjaardae of kerse op die tafel wat liefde verteenwoordig nie, maar ‘n aktiewe, emosionele teenwoordigheid in die oomblikke wanneer dit nodig is.”
Gewoonte tree in en passie taan. Jy moet doen wat jy kan om jou huwelik kreatief te vertroetel en jou broodjie te laat rys. Verwelkom (en verwag) verandering. Mense verander voortdurend en vandag is jy nie wie jy gister was nie. Die veranderinge is dikwels subtiel. Dit is maklik om jou maat se subtiele veranderinge mis te kyk en dan eendag, skielik onkant betrap te word deur iets wat jou maat kwytraak. Soms is die verrassings nie aangenaam nie! Wees dus bewus van die verandering wat jou maat (en jyself) ondergaan en pas daarby aan. Dit is belangrik om te vra: Verander my huwelik bloot, of is daar groei ter sprake? Jou huwelik moet mettertyd positief verander en jy en jou maat moet in dieselfde rigting groei, andersins kan julle in die moeilikheid beland.
Behou dus emosionele intimiteit om seker te maak julle bly in voeling met mekaar se verandering en groei. Emosionele intimiteit is die gom vir enige verhouding. Dit hou die ‘magic’ lewendig! En dit is om te weet wat jou maat wil hê vóór jy daarvoor hoef te vra (maar dit is ook die vrymoedigheid om te vra wanneer jy nie weet nie). Emosionele intimiteit raak jou maat se vrese, hoop en drome aan.
Psigoterapeut Camilla Larsen meen dat interaksie (van vroeg af elke dag) ‘n belangrike rol speel as dit kom by ‘n huwelik vol kreatiwiteit. Sy beveel vier kern-oomblikke elke dag aan waarin jy die kans moet gebruik om te wys jy wíl graag na jou maat luister en hom/haar ondersteun. Dit skep vertroue en ‘n gevoel van bereidwilligheid, wat die vrystelling van oksitosien bevorder en ‘n optimistiese gesindheid vir die res van die dag waarborg. Slegs een minuut se goeie, opregte kommunikasie kan julle weer in lyn met mekaar bring, meen Luca Mazzuchelli, skepper van die YouTube kanaal. Veral wanneer julle op ‘n lang afstand jul liefde staande moet hou. Dit is belangrik om ‘n spesifieke tyd opsy te sit vir kommunikasie. Maar dit is ook belangrik om intern te werk aan jul emosionele intimiteit. Dink voortdurend aan jou maat se beste eienskappe, wees dankbaar vir die maat wat jy het en dink aan wat in jul verhouding werk. Gee hierdie eienskap kans om in jul gesprek na vore te tree. Gee, sonder om iets terug te verwag en vra altyd wat jy kan doen om jou maat se dag makliker te maak.
Kenners meen dat een van die belangrikste maniere om jou huwelik kreatief te hou, is om nuuskierig te bly oor mekaar. Vir baie paartjies is die gedagte hieraan ‘n uitdaging! Wat is daar immers van jou maat wat jy ná vyftien jaar saam nog nie weet nie? Meer as wat jy dink… Soos vroeër genoem, ons verander voortdurend. Ook in die manier waarop ons liefhet. En ja, soms is intensie nodig om die broodjie aan die rys te hou. Wees intensioneel nuuskierig oor jou maat. Wanneer julle iets bespreek, luister werklik na jou maat en gee jou volle aandag, sodat jy hom werklik verstaan. Sit jou selfoon neer, jaag die kroos kamer toe en kyk na jou maat wanneer hy praat. Wees nuuskierig oor haar gedagtes. Jy dink dalk jy ken haar deur en deur maar sy mag jou dalk net verbaas. Vra haar mening oor sekere sake. Onthou ook dat jy nie weet hoe hy dink nie. Wees nuuskierig oor sy gevoelens en sy behoeftes. Daar is ‘n sterk verband tussen nuuskierigheid en emosionele intelligensie. En emosionele intelligensie hou dikwels verband met jou huwelikstevredenheid.
Eindelik stem die meeste kenners ooreen: Om waarlik nuuskierigheid te behou wat kreatiwiteit in jou huwelik teweeg sal bring, wees teenwoordig. Teenwoordigheid (nie slegs fisiek nie, maar ook emosioneel en geestelik) gaan jou ver bring in die rys van jou broodjie.
www.designatlarge.it; www.finerconnections.com