Ná jare se hartseer is jou vriendin uiteindelik gelukkig getroud (of só dink sy). Sy blom van vreugde en daarom was jy gister stomgeslaan om te hoor dat haar man saam met ’n gemeenskaplike vriendin Kenia toe is. Nee, nié op ’n sakereis nie … Moet jy haar vertel?
“Pinkie swear,” het julle gefluister, pinkies inmekaar gehaak. As sewejarige beste maats het dinge só eenvoudig gelyk. Natuurlik sou jy haar vertel as iemand haar probeer verkul het. Jy het haar beste belange op die hart gedra en as sy met jou ’n geheim gedeel het, sou jy dit bewaar. Maar toe word julle groot en die wêreld is soveel gryser as wat jy ooit gedink het dit sou wees …
Jy ontdek dat haar man ’n affair het en jy is in twee geskeur.
Ja, natuurlik moet jy vertel – sy is immers jou beste vriendin.
Marié se vriendin Nadia is onlangs van haar man geskei. “Aan die begin van die jaar het ek by iemand gehoor dat hy ’n affair het met iemand by die werk en dat hy geskors is vir seksuele teistering. My man het gesê ek moet stilbly, ’n mens meng nie in iemand anders se huwelik in nie. Vir meer as ’n week het ek haar elke dag in die oë gekyk en geluister na al die leuens wat hy vir haar vertel.
“Ons werk saam en is al vir meer as agt jaar lank beste vriendinne. Ek het geworstel met die besluit en het ’n sielkundige gevra wat saam met ons werk. Sy het voorgestel dat ek die man konfronteer, vir hom sê ek weet wat hy doen en as hy nie ophou nie, ek haar gaan sê. Ek het na haar raad geluister, maar het besluit dat my lojaliteit by haar lê … vir seker nie by hom nie,” vertel Marié.
“Dit het al my moed geverg, ek het haar alleen vertel. Sy was meer bekommerd oor my, want sy het gedink sy het iets gedoen en dat ek kwaad vir haar was aangesien ek so weird was die vorige week. Ons het albei gehuil, maar sy het gesê dat sy dit vermoed het. Dit is nie die maklike opsie om die lelike waarheid na vore te bring nie. Maar tog is dit die regte een. Vra jouself: ‘Sou ek wou weet?’”
“Nadat my vriendin uitgevind het van die affair, het baie mense na vore gekom en gesê hulle het geweet, maar kon haar nie vertel nie. ’n Mens kan nie ’n besluit neem as jy nie al die feite het nie. Die belangrikste is dat jy haar moet ondersteun in haar besluit. Jou werk as vriendin is nie om kant te kies of om te oordeel nie. Wees net daar vir haar.”
Dr Johan Ferreira, ’n sielkundige van Johannesburg, sê dat vertroue in enige vriendskapsverhouding baie belangrik is. “Hoe langer die vriendskap, hoe dieper is die vertroue gewoonlik. Indien ’n vriendin waarmee jy ’n diep en lang verhouding het se man ontrou is, kan jy beslis met haar hieroor praat. Vra jouself af of jy sou wou weet indien jy in daardie bootjie was?”
Kobus Pauw, ’n verhoudingsafrigter en spreker, beaam dit. “As jy weet jou vriendin gaan seerkry as gevolg van haar man se buite-egtelike verhouding, sal ek verwag dat jy die vriendin daaroor inlig. Maak egter eers heeltemal seker dat jy jou feite reg het en nie bloot deel is van ’n smeerveldtog teen haar man nie. Die gevolg kan wees dat jou vriendin jou innig dankbaar sal wees. As jou feite verkéérd is, kan jy egter jou vriendin verloor. Moet daarom nie deel hê aan skinderstories nie – raak net betrokke omdat jy regtig omgee.”
“Daar is slegs ’n kans dat jou vriendin jaloers gaan raak as die feite nie korrek is nie en jy dan aan jou vriendin moet verduidelik hoekom jy haar huwelik in gevaar gestel het. Indien jou feite korrek is, sal daar ’n diepe dankbaarheid wees omdat jou vriendin nie meer in ’n wêreld van leuens hoef te leef nie en omdat die waarheid geseëvier het.”
Hoe doen jy dit?
Eerstens, maak seker dat die inligting korrek is en nie bloot ’n skinderstorie is nie. Praat dan reguit en eerlik met jou vriendin. Vandag is daar realiteite in terme van gesondheidsgevare wat ontrouheid inhou. Weet dat sy moontlik eers in ontkenning sal wees. Sy mag dus eers vir jou kwaad wees voordat sy die realiteite in die gesig kan staar. Indien sy onmiddellik kwaad is, poog om haar woede eers te hanteer voordat sy aksie neem. Poog om sover as moontlik nie eienaarskap van haar konteks te neem en dit te probeer regmaak nie. Dit bly haar probleem – jy kan haar ondersteun, maar jy kan dit nie regmaak nie.
Kies ’n gepaste tyd om dit met haar te deel, nie by die hek voor die skool net voor die kinders in die kar klim nie. Ook nie terwyl haar man op ’n twee weke lange sakebesoek is nie. Sy gaan met hom moet praat. Bied aan om die kinders vir ’n uitstappie te neem, sodat sy alleen met hom kan praat. Laat haar toe om die skok te verwerk voordat sy aksie neem.
Sommige mense neem langer as ander om tot ’n besluit te kom. Respekteer haar besluit indien sy hom nie dadelik wil konfronteer nie. Sy mag ook besluit om dit glad nie te doen nie! Poog om nie jou waardestelsel op haar te projekteer nie, want ondersteuning is al wat sy nodig het. Haar pad vorentoe is moeilik en dit mag lank neem voordat sy weer haarself sal wees.
Kobus sê: “Bied ook aan dat jy by hulle as paartjie sal staan en hulle sal ondersteun terwyl hulle deur hulle probleme werk. Moet niks doen wat daartoe kan bydra dat die huwelik in die slag bly nie. Jou uitgangspunt moet wees om die huwelik te probeer red. Dit is altyd moontlik, selfs in gevalle waar daar buite-egtelike verhoudings is.
“Jou ander keuse is om nie vir jou vriendin van haar man se ontrouheid te sê nie, maar die moontlikheid is groot dat sy wel een of ander tyd gaan uitvind en julle vriendskap in twyfel gaan trek omdat jy stilgebly het.
“Daar sal beslis ’n vertrouensbreuk wees en julle vriendskap sal heel waarskynlik baie vinnig net platonies raak. Jou vriendin sal jou kwalik neem omdat jy deel was van ’n leuen en haar ook in die leuen laat glo het. Die praktyk het ons geleer dat die waarheid altyd uitkom. Dit kan op ’n baie mooi en beheerste manier gebeur, en die meeste rolspelers het dan beheer oor die uitkoms en dan is daar baie hoop dat daar ’n goeie einde sal wees. As jy die ander pad volg, sal jy konstant besig wees om vure dood te slaan en beheer die situasie jou, pleks daarvan dat jy die situasie beheer.”
Die kans dat jou vriendin jou as jaloers gaan afmaak, bestaan net as die feite nie waar is nie en as jy dan aan jou vriendin moet verduidelik waarom jy haar huwelik in gevaar gestel het. In ’n geval waar die feite egter waar is, sal daar ’n diepe dankbaarheid wees omdat daar nie meer ’n leuen geleef word nie, maar die waarheid geseëvier het.
My vriendin se man het ’n affair! Nee, ek gaan haar nie vertel nie.
Sarien* moes ’n simposium vir haar werk bywoon en het vir ’n paar dae in ’n hotel oorgebly. Groot was haar verbasing toe sy haar vriendin se man op ’n afstand uitken by ’n tafel langs die swembad, besig om drankies te drink – saam met ’n ander vrou! Sarien was gereed om hom trompop te loop en haar warm koffie in sy gesig te gooi. Maar in plaas daarvan om haar selfbeheersing te verloor, het sy kop gehou en besef sy gaan groter skade berokken deur in te meng.
Sy het besef hierdie ding gaan na een van twee kante toe gaan – óf die huwelik gaan skipbreuk ly óf hulle gaan die affair oorleef. Watter kant toe dit ook al gaan, haar vriendin gaan bystand nodig hê. Die waarheid het ’n manier om uit te kom en sy wat Sarien is, gaan nie die nuusdraer wees nie!
Sarien se benadering is in die kol, sê Carien du Toit, huweliksterapeut en sielkundige van KwaZulu-Natal. “As ’n mens besef dat jou vriendin se man haar verkul, is jou eerste gut feel om haar dadelik te wil vertel. Maar stop jouself en dink eers goed na oor wat die uiteinde van jou openbaring gaan wees,” waarsku sy.
Carien verduidelik dat die boodskapper van die slegte nuus ongelukkig ook, teen wil en dank, betrek sal word by die opset. “Selfs al het jy goeie bedoelinge, is die kans dat jy gebrandmerk gaan word as die sogenaamde vark in die verhaal baie groot, hoe onregverdig dit ook al is. As die paartjie boonop hul verskille uitwerk en die huwelik die affair oorleef, voel beide verleë in jou geselskap. Uiteindelik gaan die vriendskap stram en ongemaklik wees en nie onder die spanning staande kan bly nie.”
Elke paartjie het hulle eie dinamika, beaam Carien, en deur jouself betrokke te maak by hulle proses kan jy juis hulle vordering saboteer. “’n Affair sê iets van die huwelik se onderstrominge – die huwelik is per slot van sake net tussen die twee huweliksmaats. As jy só daaraan dink, vra jouself af of dit werklik jou plek is om in te meng?”
As jy boonop die een is wat nuus breek, neem jy die las op jóú skouers en ontduik die egbreker sy verantwoordelikheid om oop kaarte te speel met sy vrou. “Dit kan ook gebeur dat die man die affair ontken, en dan is dit jou woord teen syne. In ’n ander scenario verbreek hy dalk die buite-egtelike verhouding, maar slegs omdat hy uitgevang is. Nie een van hierdie prentjies is tot voordeel van die huwelik óf julle vriendskap nie.”
Hoe doen jy dit?
Die beste alternatief, sê Carien, is om ’n ondersteuningsrol in te neem. “’n Affair gebeur nie sommer uit die bloute nie. Dalk rem werks-verantwoordelikhede of kindersorg hulle verhouding af. Bied aan om te babysit sodat hulle meer tyd saam kan spandeer. Of vertel hulle van ’n oulike huweliksverrykingskursus of ondersteuningsgroep (sonder om natuurlik iets oor die affair te sê!). Bou ook intussen aan julle vriendskapsverhouding sodat sy ’n vangnet het vir haar hart as dit nodig sou wees.”
Laastens waarsku Carien mense ook om nie oorhaastig afleidings te maak nie. “Wat as jy ’n situasie verkeerd lees en die man dalk saam met sy suster ’n drankie drink? Of as hulle ou skoolmaats is wat mekaar toevallig in die hotel se voorportaal raakgeloop het? Jou interpretasie van die situasie is dalk heeltemal verkeerd, en dan is jy die een wat verleë is.”
Hoe dit ook al sy, jy wil nie hê jou vriendin moet seerkry nie en uiteindelik moet jy in haar beste belang optree. Elke situasie is uniek, elke vriendskap ook. Evalueer alles sorgvuldig en jy sal weet watter roete die beste is om te stap.
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!