Mors jou derms met jou gesondheid? Klits jou kolon skoon en sê totsiens aan ongemak, pyn en opgeblasenheid, en “hallo” vir genoegsame energie vir daardie langasem aande saam met manlief.
Nadat jy ’n lekker bord kos geniet het, vergroot jou maag genoeg om ’n refleks te veroorsaak wat ’n massa peristaltiese golf uitstuur na jou dunderm. Die golf druk enige vloeibare afvalmateriaal wat in die laaste deel van jou dunderm rus, na jou dikderm.
Sodra genoeg vloeibare afvalmateriaal versamel het in die eerste deel van jou dikderm, beweeg die afvalmateriaal na jou stygende kolon.
Die beweging van afvalmateriaal deur jou kolon word ‘haustral drukking’ genoem. Jou kolon is verdeel al langs sy lengte in klein sakkies genaamd die “haustra”. Wanneer een van die sakkies gevul is met genoeg afvalmateriaal, stoot dit met behulp van kontraksies die afval na die volgende sakkie.
’n Mens ondervind ongeveer drie tot twaalf matige golwe elke minuut.
Maar dit is nie al nie. In jou kolon is daar ook twee groepe gespesialiseerde selle. Een groep selle verskaf smeermiddel om jou stoelgang makliker af te voer, en die ander groep is verantwoordelik vir waterabsorpsie. Dit klink nogals grillerig, maar 10% van die water wat jou liggaam benodig, word verkry uit hierdie afvalmateriaal asook sekere minerale en soute.
Dit neem ongeveer tussen drie tot tien ure vir jou dikderm om genoeg water te absorbeer uit afvalmateriaal om dit te omskep in ’n soliede of gedeeltelik soliede stoelgang. Jou stoelgang bestaan hoofsaaklik uit water, slym, vesel, ou selle van jou dermvoering, miljoene mikro-organismes en klein hoeveelhede anorganiese soute.
Die laaste deel van die reis eindig in die rektale sak. Sodra die sak gevul is met genoeg afval, laat weet jou liggaam jou dat dit tyd is vir ‘nommer twee’.
Hierdie is ’n baie eenvoudige verduideliking van ’n taamlike ingewikkelde proses, maar hieruit kan ’n mens aflei dat daar baie goedjies moet gebeur (en fout kan gaan!) along the way. Jou dun- en dikderm kan saam enigiets vanaf ses meter lank wees (dit is langer as jou hele lyf!), so dit is ’n aansienlike storie om die afval te kry om uiteindelik die liggaam te verlaat.
ONS ALMAL ERVAAR DIT EEN OF ANDER TYD
Twee algemene toestande wat mense dikwels ondervind as gevolg van ’n knorrige kolon, is diarree en hardlywigheid. Diarree word veroorsaak deur:
- Slegte mikro-organismes
- Voedsel intoleransie (soos laktose) en
- Stres
Hardlywigheid word toegeskryf aan:
- Sporadiese kosinname of etes wat te klein is om massa peristalse te veroorsaak.
- Wanneer jy die drang om te ‘gaan’, ignoreer.
- ’n Gebrek aan ’n gesonde dermvoering wat nie in staat is om genoeg slym te produseer om die dermwande te smeer nie.
- Onvoldoende inname van water, waterryke voedsel en/of voedsel ryk aan vesel.
Albei dié toestande het ’n negatiewe effek op jou algemene gesondheid. Afvalmateriaal wat te lank in die liggaam vertoef, kan ’n toksiese effek op die liggaam hê wat enigiets van energieverlies tot ’n slegte vel kan veroorsaak. Oormatige uitskeiding kan weer aanleiding gee tot infeksies (blaas en rektum) en essensiële voedingstowwe laat verlore gaan.
Nog ’n nare ongelukkigheid van ’n ongesonde kolon, is dat dit jou sekslewe heeltemal omver kan gooi. Jy wil verseker nie woeker tussen die lakens as jy heeltyd bang is jou magie gaan grom nie. En ’n orgasme klink nie juis interessant as jy so opgeblaas is dat jy op niks anders kan fokus as daardie aaklige ‘vol’ gevoel in jou maag nie.
MAAK DIT REGTIG SAAK OF MY KOLON GESOND IS OF NIE?
Baie beslis! ’n Gesonde kolon en rektum hou die volgende gesondheidsvoordele in:
- ’n Verlaagde risiko van die ontwikkeling van kolorektale kanker – die tweede of derde grootste tipe kanker in die meeste geïndustrialiseerde lande.
- ’n Verminderde kans om Prikkelbare Dermsindroom, chroniese hardlywigheid en diarree, divertikulose, moegheid, opgeblasenheid en gas te ontwikkel.
- ’n Verlaagde risiko vir die ontwikkeling van aambeie of skeurtjies in die anus.
- Minder ongewensde gasproduksie.
- Meer doeltreffende opname van water en minerale.
- ’n Gevoel van ligtheid, gemak en welstand in jou maag.
HOE KAN EK MY DERMS GELUKKIG HOU?
Eet groot, voedsame maaltye
Indien jou derm ’n ongelukkige outjie is, eet liewers groter maaltye deur die dag as om kort-kort te peusel. Daar is twee redes hiervoor. Eerstens benodig jou derms die massa peristalse om vir hulle te sê: “Maak plek, hier is nuwe gaste oppad.” Indien die maaltyd te klein is, gaan jou derms nie die ou kuiergaste uitjaag nie en gaan dit moeilikheid veroorsaak. Tweedens is dit makliker vir jou derms om meer soliede stoelgange te vorm indien groter hoeveelhede kos op ’n slag saam met mekaar reis.
Moenie ‘knyp’ nie
Het jy al ooit ervaar dat jy dringend ’n draai by die toilet moet maak vir jou ‘nommer twee’, maar jy besluit om te knyp en dan is daardie gevoel sommer weg vir ure, selfs dalk tot die volgende dag? Dit gebeur omdat jou derms jou afval terug hou (omdat jy geknyp het) tot dit weer ’n massa peristaltiese golf met ’n ete ondervind.
Indien jy gereeld die alarm om te ‘gaan’ ignoreer, gee dit aanleiding daartoe dat afvalmateriaal meer tyd in jou kolon spandeer as wat gesond is. Jou derms absorbeer dan te veel water uit die afval en dit veroorsaak dat jou stoelgang hard word. Dit is ook een van die oorsake van Prikkelbare Dermsindroom.
Eet veselryke kos
Veselryke voedsel is ’n goeie keuse vir ’n gesonde kolon. Vesel help om voedsel teen ’n gesonde pas deur jou derms te laat beweeg sodat hulle nie hulle welcome overstay nie. Sowat 25 – 35 gram vesel per dag sal nuwe lewe in jou derms en energievlakke blaas. Probeer gerus frambose, piesangs, pruime, ertjies, broccoli, bone, seldery en volgraanprodukte.
Neem genoeg vloeistof in
Water en waterryke kos help om afval effektief deur die derms te voer en ook om gasopbou en vergiftiging te voorkom. Onvoldoende water inname kan veroorsaak dat jou stoelgang te vroeg begin vorm – voordat dit jou rektale sak bereik – en dan kan jy met hardlywigheid sukkel.
Vitamines is belangrik
Vitamien D: Die American Journal of Clinical Nutrition sê dat ’n bestendige inname van vitamien D help met die voorkoming van Kolonkanker asook met die handhawing van algemene kolon gesondheid. Jy kry vitamien D uit ’n verskeidenheid bronne, insluitend die son (15 – 20 minute van daaglikse blootstelling is voldoende) en voedsel soos brood, vetterige vis, melk en graan. Jy kan dit ook as ’n aanvulling neem.
Vitamien A: Soos reeds genoem, is dit nodig vir jou derms om slym te vervaardig om die afvalmateriaal te “smeer” vir beter afvoering. Dikwels word slymvervaardigingsprobleme toegeskryf aan die tekort van vitamien A in die liggaam. Sorg dus dat jy gereeld aanvullings of voedsel inneem soos wortels, patats, mango’s en rooi soetrissies.
Neem gesonde vette in
Nie alle vet is sleg vir jou nie. Al jou selle, insluitend dié van jou dikderm en senuweestelsel, vereis ’n konstante invloei van onbeskadigde vetsure en cholesterol. Jou senuweestelsel en die gladde spiere rondom jou spysverteringskanaal, wat verantwoordelik is vir die skep van peristaltiese golwe, benodig gesonde vette vir optimale funksionering. Kos wat ryk is aan gesonde vette sluit in: avokado, olyfolie, klapperolie, kokosneute, rou neute, rou sade en kouewater vis.
Moenie van jou vriendelike bakterieë vergeet nie
Het jou ma altyd vir jou jogurt gekoop as die dokter vir jou antibiotika voorskryf? Dit is omdat ’n produk soos antibiotika die vriendelike bakterieë in jou liggaam verminder en gevolglik breek dit jou weerstand af. Kolonies van goeie bakterieë is juis nodig om jou spysverteringskanaal squeeky clean en parasiet-vry te hou. Raadpleeg gerus jou dokter oor probiotika produkte.
Neem beheer oor jou stresvlakke
Spanning is dikwels die oorsaak van spysverteringsprobleme. Ons hanteer nie almal stres op dieselfde manier nie en waar sekere situasies jou bloot vlinders op die maag gee, kan ander so erg wees dat jy meer tyd binne as buite die badkamer spandeer. Hoekom is dit so? Spanning veroorsaak dat die aantal peristaltiese golwe (wat die afvalmateriaal deur jou derms laat beweeg) toeneem. Dus word jou kos vinniger deur jou liggaam gestoot as wat dit moet en kry jou derms nie kans om die water behoorlik te absorbeer vir ’n meer soliede stoelgang nie. Indien jy sukkel met spanning of emosionele probleme, klop gerus aan by ’n sielkundige of berader vir hulp.
Gereelde oefening
Fisiese oefening help met die verhoging van bloedsirkulasie en suurstof in jou hele spysverteringstelsel. Dit kan help met die afwering van Kolonkanker en ander siektes. Jou oefen-roetine hoef ook glad nie ekstreem te wees nie. Doen strekoefeninge, joga of stap vir 10–15 minute per dag. Of nog beter: ‘sexercise’ gereeld!
EK HET MEER NODIG AS DIT, WAT IS MY OPSIES?
Kolonoskopie
Hoewel ’n kolonoskopie geensins ’n prettige ervaring is nie, is dit noodsaaklik vir die voorkoming en vroeë opsporing van Kolonkanker. Vir individue bo die ouderdom van 50 is ’n kolonoskopie ’n noodsaaklike stap in die handhawing van kolongesondheid. Raadpleeg ook jou dokter oor ’n kolonoskopie as jy konstant diarree of hardlywigheid ervaar, want dit kan moontlik tekens wees van kolon- en dermprobleme.
Kolonreiniging
’n Kolonreiniging is ’n gewilde manier om ontslae te raak van die gifstowwe en afvalmateriaal wat in die derms opbou. Daar is ’n verskeidenheid produkte op die mark (lakseermiddels, kruietee, enemas, ensieme, magnesium) wat jou kolon in ’n japtrap skoon kan spoel. Jy kan dit kry by apteke, gesondheidswinkels en selfs supermarkte. Wees altyd veilig en raadpleeg eers ’n mediese kundige om uit te vind of ’n spesifieke produk geskik is vir jou unieke behoeftes vóór jy dit probeer.
Deur Thalia Brüssow
Addisionele Bronne: naturalnews.com; webmd.com; lifegaiam.com