Verloof? Veels geluk! Wat voor julle lê, is ‘n leeftyd van ‘opwindende-opdraande-afdraande-uitdagings’. Ja, wees voorbereid op storms. Julle sal saam ‘n heerlike avontuur beleef. ‘n Reis wat nie slegs met roosblare besaai sal wees nie, maar wat ook ‘n paar roostakkies en dorings mee sal bring. Moet dit nie in ‘n negatiewe lig sien nie, maar eerder as die geleentheid om hierdie verhouding nugter te bestuur.
Ek onthou toe ek en my vrou, Elize, ons eerste groot storm na ons troudag beleef het…’n storm wat gedreig het om ons pas-geboude huis in mekaar te laat tuimel, ‘n storm wat ons huweliksboot geskud en die Anker getoets het. Genadiglik het Vader ons op daardie aand teruggebring na Sy woord en die oortuiging van ons gemoed waarmee Hy ons saamgebind het, Sy vrede (waardeur ons saamgevoeg is deur Hom), Sy mandaat (waarmee ons deur Hom geseën is as lede van Sy liggaam om Hom saam te dien) en ‘n diep dankbaarheid vir Sy voorsiening in ons lewens – twee lewens wat een geword het.
Hoe weet ek dat ek die regte huweliksmaat kies?
Geen verhouding, of huwelik, is gevrywaar van die lewe se storms nie. Jesus leer ons in Mattheus 6:24-27 (1983): 24 “Elkeen dan wat hierdie woorde van my hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25 Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. 26 En elkeen wat hierdie woorde van my hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27 Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”
Storms is deel van die lewe. Ons wens dikwels dat daar nie storms was nie, maar sonder ‘n storm, kan daar nie ‘n reënboog wees nie. Sonder ‘n storm kan die krag van ons huweliksbootjies se ankers nie getoets word nie. Die enigste manier om die storm werklik te bowe te kom, is deur jul voorgenome huwelik op die Woord te basseer. Rus ook in die oortuiging dat God julle bymekaar gebring het.
Daar is die storie oor ‘n student wat eendag aan ‘n Rabbi gevra het: “Waarom beantwoord u altyd my vrae met nóg ‘n vraag?” Waarop die Rabbie geantwoord het: “Dóén ek?”
Dieselfde is dikwels waar van ons Liewe Vader, is dit nie? Hy beantwoord dikwels ons vrae met ‘n teen-vraag. Ons pleit en soebat by Hom “Vader, wys my, gee my ‘n teken, is hy/sy die regte persoon vir my?” Waarop Hy dan gewoonlik (en nie noodwendig hoorbaar met ‘n stem uit die Hemel nie, maar deur ‘n sagte influistering) saggies en teer aan jou hartsnare trek… ‘n Hartsnaar-trek wat jou snags van onsekerheid in jou bed kan laat rondrol, tot jy met oortuiging weet wat Sy wil is, omdat Hy wil hê dat jy met sekerheid moet optree.
Maar hoe weet jy dat jy weet, dat jy weet?
Weereens, die Woord is ons anker, en ons rots, waarop ons ons lewens vestig.
Die Woord leer ons in Kolossense 3:15 (1983) dat; 15 Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, Sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees.
In beide hierdie gedeeltes is daar verskeie sleutels wat van groot waarde is vir die huwelik:
1. Bou julle jul lewens, jul voorgenome huwelik en jul oortuiging daarvan op die Rots van God se Woord? Dit is van kardinale belang dat jul in oortuiging moet handel, en nie vol twyfel die toekoms ingaan nie!
2. Christus se vrede moet jul lewens, en verlowing, regeer. Etlike Engelse vertalings praat van vrede wat as skeidsregter moet optree… die vraag is dus, het jy werklik vrede oor die verhouding en die oog op trou, of nie?
3. Is die persoon wat jy in oog het deel van die liggaam van Christus? En kan julle saam die Here aanbid en dien as deel van Sy liggaam, die gereelde byeenkoms van die gelowiges?
4. Leef jul in vrede in jul verhouding met God en met mekaar, of is julle in voortdurende rusie? Konflik is ‘n normale deel van enige verhouding en kan baie gesond wees, maar as daar meer onrus as vrede tussen julle is, dan moet daar ag geslaan word op die rooi ligte.
5. Is jy dankbaar vir die verhouding, of is daar ‘n sug, of ‘n swaarmoedigheid, met ‘n gepaardgaande ‘onsekere-ondankbaarheid’, wat in jou gemoed sit wanneer jy dink aan die persoon en jou lang toekoms saam met die persoon?
Luister na die moeilike vrae
Laat toe dat Hy jou die moeilike vrae vra… verkieslik voor die huwelik. Geloof is nie ‘n ‘onverantwoordelike-dwase-blindelings-mistiese’, onsekere ervaring nie, maar ‘n sekerheid in jou gemoed rondom Vader se leiding en beste vir jou lewe… die kompas op jou seiljag.
In Hebreers 11:1 (1983) staan: 1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
So, wees seker van die dinge waarop jul hoop en wees oortuig van die dinge wat jul nie sien nie. Bou jul lewens, en voorgenome huwelik op die rots van God se woord. Dan sal jul groot sukses beleef in alles wat jul aanpak.
Ter afsluiting, lees Joshua 1:8-9 (nlv): 8 Hou hierdie Wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. 9 My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”
Artikel deur Charles van Onselen