Gedink jy’s nie kreatief genoeg vir muurkuns nie? Gee vir manlief ’n oorspronklike liefdesverklaring in die vorm van ’n canvas collage. Koop ’n skilderdoek in enige grootte wat jy verkies. Neem nou jou ou tydskrifte (almal behalwe jou INTIEM’s!) en knip soveel letters van die woorde ‘Ek is lief vir jou’ uit soos wat jy moontlik kan. Die idee is dat die letters verskillende font tipes, kleure en groottes moet wees. Plak nou “EkisliefvirjouEkisliefvirjouEkisliefvirjou” sonder spasies of punte, langs mekaar in lyne soos die bladsy van ’n boek en siedaar! Dis ’n spesiale geskenk vir manlief en jy het nie enige kunstalent nodig hiervoor nie!

Promosie

Lus vir ’n paar stoute idees? Gee vir manlief geskenkbewyse vir allerlei lekker dinge in die slaapkamer. Gaan kyk aanlyn op http://www.etsy.com vir idees!

Soek jy ’n oorspronklike idee vir jul huweliksherdenking? Pos vir die liefde in jou lewe ’n kaartjie met ’n spesiale boodskap vir elke jaar wat julle getroud is. Jy kan dit ook doen deur redes te gebruik waarom jy hom so liefhet. As julle byvoorbeeld drie jaar getroud is, kan jy vir hom drie kaartjies stuur, elk met ’n boodskap soos: “Ek’s lief vir jou vir die feit dat jy my koffie ekstra lank roer om seker te maak my suikerpilletjies los op…” of “Ek’s lief vir jou omdat ek weet een van die lagplooie om my mond is alles net jou skuld,” of “Ek’s lief vir jou want jy soen ons kind snags totsiens met ’n liefde wat geen boek in die wêreld kan verduidelik nie.”

Gebruik alledaagse items in die huis… om vir hom ’n eenvoudige, simboliese, tuisgemaakte kaartjie te maak. Gebruik wit karton, sny dit kaartjiegrootte en doen een van die volgende vier dinge:

Promosie
  1. Plak ’n verjaardagkoek-kersie voorop en skryf: “Jy is die lig van my lewe.”
  2. Soek die Koning van Harte kaart uit ’n pak speelkaarte, plak die kaart op die kaartjie en skryf: “Jy is die koning van my hart.”
  3. Plak twee legkaartstukke wat inmekaar pas op die kaartjie. Skryf daarby: “Ons is perfekte pasmaats.”
  4. Neem jou duim en maak ’n vingerafdruk voorop die kaartjie. Skryf daarby: “Daar is net een vir jou, dis ek. Daar is net een vir my, dis jy.”

As julle pasgetroud is, onthou die volgende een… Elke keer wat iets groots in jul lewens gebeur, koop klei wat gebak kan word en vorm ’n plat sirkel (so groot soos ’n groot koekie) of vierkant daaruit. Maak dan afdrukke uit die klei van simbole wat groot gebeure in jul lewens versinnebeeld. Byvoorbeeld: Druk jul eerste huis se sleutel in die klei en skryf daarby: “Ons eerste huis. Gekoop op 20 Maart 2014. Pienaarweg 30, Kaapstad.” Maak ook later ’n afdruk van jul eerste kind se voetjie in die klei en skryf: “Ons eerste wonderwerkie. Gebore op 1 Mei 2014. Oorvloedig geseënd.”

Gedink hekel is oudtyds? Dink weer! Wat sal jou ouma oorkom as sy moet weet jy is besig met dié nommertjie? As jy kreatief is en goed kan hekel, behoort ‘n gehekelde bikini vir jou kinderspeletjies te wees.