Ja, daar is reëls, regulasies en riglyne. En dan is daar gebooie – wette wat in liefde aan ons gegee is om reg te leef. Al ooit gewonder hoe jy daardie gebooie op jou huwelik kan toepas?
“Ek het die jackpot geslaan toe ek met Eddie getroud is!” sê die jong bruid na haar wittebrood. Tot sy by die huis kom ná die wittebrood en hul nuwe huisie is papsopnat – Eddie Extraordinary het nie die geute skoongemaak voor hulle weg is nie … en skielik lyk dié huwelik nie soos meer soos ’n jackpot nie! Wel, as jy dit nog nie weet nie – ’n goeie huwelik is nie ’n kwessie van geluk nie. Wel, vir diegene wat dit nog nie weet nie: “Goeie huwelike is gebou op veel meer as passie. Dit is gebou op beginsels.” Só sê die prediker Bayless Conley op crosswalk.com. Volgens hom bied die Skrif die heel beste riglyne ooit vir ’n gesonde huwelik en dit is alles opgesluit in die tien gebooie.
Gebod #1: Eksklusiwiteit.
In Eksodus 20:3 staan daar: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Hiermee sê God, in kort, dat hy ’n eksklusiewe verhouding met jou wil hê. Hoe gepas is dit nie vir die huwelik nie? Toe Henry Ford op sy vyftigste huweliksherdenking gevra is wat sy geheim tot ’n suksesvolle huwelik is, het hy gesê: “Die geheim van my suksesvolle huwelik is dieselfde geheim wat ek in besigheid het: I stick to the same model.” Besef dat jou lewensmaat geen kompetisie behoort te hê nie. Besluit vandag: Een God. Een man. Een vrou. Dis genoeg.
Gebod #2: Moenie ’n plaasvervanger liefhê nie.
Eksodus 20:4-6 gee jou die volgende beginsel vir ’n sterk huwelik: God beveel dat ons nie enige afgode mag dien nie. Want wat is ’n afgod anders as ’n plaasvervanger vir die ware God? Net só is jou man of vrou jou lewensmaat in vlees en bloed en mag jy nie jou vervulling soek in iets soos pornografie nie – dit beroof jou van ’n intieme verhouding met jou vlees-en-bloed perfekte ander helfte.
Gebod #3: Praat mooi van jou maat.
In Eksodus 20:7 staan: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.” Dalk dink jy jou stukkie kritiek is skadeloos, maar daar is min dinge wat ’n huwelik só kan laat verspoel soos negatiewe woorde. Bayless sê woorde is houers wat liefde, haat, vreugde of bitterheid kan bevat. Jou woorde kan jou huwelik in ’n rigting stuur – kies watter rigting jy wil hê dit moet wees.
Gebod #4: Bring eksklusief tyd saam deur.
Die vierde gebod kom voor in Eksodus 20:8-11 en hierin beveel God ons om die Sabbat heilig te hou. Sabbat beteken intermissie – om jou werk neer te lê en te rus. Om asem te haal. Met hierdie gebod, meen Bayless, vra God spesiale tyd saam met Hom vir ’n langtermyn-verhouding. Op dieselfde manier het ’n man en vrou geskeduleerde tyd saam nodig vir hul huwelik om te floreer.
Gebod #5: Eer jou maat deur vir hom/haar te wys hoe dankbaar jy is.
Eksodus 20:12 sê dat jy jou vader en moeder moet eer. ’n Deel van hierdie gebod herinner ons om dankbaar te wees teenoor ons ouers. En in die huwelik beteken dit om dankbaar te wees teenoor jou maat, vertel Bayless. Kyk na al jou maat se mooi eienskappe en komplimenteer hom of haar, of wys hoe dankbaar jy is met ’n kaartjie, ’n bos blomme of mooi woorde.
Gebod #6: Moenie jou maat vernietig nie, maar wees sag.
Eksodus 20:13 beveel ons om nie moord te pleeg nie. Baie mense spot deur te sê: “Ek het nog nooit aan egskeiding gedink nie, maar aan moord? Baie!” Op ’n ernstiger trant is hierdie gebod meer van toepassing op die huwelik as wat jy dink. Jy mag nie jou maat vernietig nie. As jy ’n langdurige huwelik wil hê, moet jy leer hoe om sag met jou maat te werk. Gewelddadigheid en kort humeure vernietig verhoudings. Onthou dat jy jou maat se selfbeeld met jou woorde kan vernietig of kan bou.
Gebod #7: Moenie egbreuk pleeg nie.
Eksodus 20:14: Daar is seker niks so skadelik soos ’n affair nie. Waak ook teen die affairs wat in jou gedagtes gepleeg word, meen Bayless. In Matteus 5:28 staan die woorde: “Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Bayless sê daar is soveel plek vir liefde, maar geen plek vir lus in ’n huwelik nie. “Liefde gee, lus neem. Liefde dien, lus eis. Liefde voed, lus wurg.” Daarmee saam prys hy seks as ’n heilige instelling wat binne die grense en heiligheid van ’n huwelik geniet mag word.
Gebod #8: Wees ’n persoon met integriteit.
Eksodus 20:15 sê ons aan om nie te steel nie. As jy nie ’n persoon met integriteit is nie (as jy altyd cheat of kortpaaie wil vat), gaan dit vir jou maat moeilik wees om jou te respekteer. Jou eerbaarheid moet jou maat trots maak, want respek tussen huweliksmaats is só belangrik. Dis moeilik om jouself volkome aan iemand te wy wat nie integriteit het nie.
Gebod #9: Wees eerlik.
Eerlikheid staan sentraal tot ’n gelukkige huwelik, want iemand wat leuens vertel, is nie ’n goeie huweliksmaat nie, want, meen Bayless: “As jy sonder moeite vir iemand anders kan jok, kan jy ewe maklik vir jou maat jok. En as jy mense indoen, oneerlik is om bo uit te kom of in enige opsig vals is, gaan jou maat jou nie kan vertrou nie.”
Gebod #10: Wees tevrede met wat jy het.
Die tiende gebod in Eksodus 20:17 sê dat jy nie mag begeer nie. Dit is ’n direkte gebod. Wees tevrede met wat jy het. Beklemtoon dit waarmee jy en jou huweliksmaat geseën is. Dit beteken dat jy jou maat se giere en geite moet vier eerder as om te dink: “Ek wens hy was eerder só . . .” Gee jou maat se gawes vlerke en moenie dink die gras is groener aan die ander kant van die draad nie.
Leef jou lewe volgens die tien gebooie en voor jy sien, het jy ’n huwelik gebaseer op beginsels – en dan kom die passie só maklik!
Deur Annelize Steyn