Hou ’n kompetisie met lawwe aktiwiteite waarvan julle albei hou. Kompeteer teen mekaar met videospeletjies in die sitkamer, kyk wie kan die meeste kaaskrulle eet of gaan speel ten-pin bowling. Kompetisie is ’n natuurlike manier om die bloed deur jou are te laat bruis en jou libido op te jaag!

Kies ’n ontspanne plek – dit kan op julle eie stoep wees of selfs in ’n koffiewinkel. Neem een skootrekenaar saam en gebruik dit om te reis na lande of vakansieoorde wat julle nog altyd wou besoek. Fantaseer saam oor hoe dit sal wees en wat julle alles sal doen by hierdie droomplekke.

Neem ’n kookklas vir beginners saam. Op julle volgende date night, moet een (of albei) van julle jul nuwe kennis op die proef stel en ’n sexy ete voorberei.

Wees jou liefie se troebadoer. As jy nie ’n instrument kan speel om jou lewe te red nie, druk net die play knoppie op julle CD speler of rekenaar en sing saam. Dit maak nie saak of julle vals is nie – kyk jou man diep in die oë en sing jou hart uit. As julle meer lag as sing, is dit net so goed.

Gaan na ’n wynproe aand. Al staan julle ook net eenkant en giggel oor hoe sleg dit proe, gaan daardie hitte op die wange vinnig laer af versprei en die spreekwoordelike kersie op julle aand sit. Indien so ’n geleentheid hom nie voordoen nie, koop ’n paar verskillende bottels wyn en maak dit ’n aand net vir julle twee.