Jy het jou ma se lenige vingers geërf. En jou pa se vermoë om klein detail raak te sien. Jy het jou ouma se breë heupe en jou oupa se humeur. Maar wie se geneigdheid tot huweliksgeluk het jy gekry?

Promosie

Genetika is ‘n wye, intrinsieke veld wat net sommige wetenskaplikes waag om te betree. Hoewel ons uit ‘n leke-perspektief kan bespiegel waar Kleinboet se rooi hare vandaan kom, is daar soveel van genetika wat ons nooit 100% sal verstaan nie!

Nuwe navorsing toon dat ‘n paartjie se langtermyn sukses dalk kan afhang van hul gene! Jy het reg gehoor! Daar is verskeie dinge wat ‘n rol speel as dit kom by verliefdheid. Maar as ‘n paartjie trou en by mekaar bly, kan die rede geneties wees, meen ‘n nuwe studie deur navorsers van die Yale School of Public Health, wat gepubliseer is in die PLOS ONE joernaal.

In dié studie het die leidende outeur, Joan Monin (mede-professor aan die instansie) en haar span altesaam 178 paartjies ondersoek. Die paartjies se ouderdomme het gewissel tussen 37 en 90 jaar en elke deelnemer moes ‘n verslag voltooi. Hierin het hulle geskryf hoeveel huwelik-sekuriteit hulle ervaar en hoe tevrede hulle met hul huwelik is. Ja, daar is derduisende meningspeilings, maar hier is die catch: Hulle moes ook ‘n speeksel-monster vir genotipering voorsien…

Promosie

Daar is bevind dat wanneer minstens een maat ‘n genetiese variasie, bekend as die GG genotype, binne die oksitosien geen-reseptor OXTR het, die paartjie merkbaar groter huwelikstevredenheid en gevoelens van sekuriteit in hul huwelik rapporteer het. Dié paartjies se huwelikstevredenheid was groter as ander paartjies met verskillende genotipes.

Terwyl die oksitosien reseptor, variant (bekend as OXTR rs53576), voorheen bestudeer is en geassosieer kon word met karaktertrekke soos emosionele stabiliteit, empatie en sosialiseringsvermoëns, is die nuwe studie uniek in sy ondersoek na huwelikstevredenheid. Dit maak egter sin dat iemand wat emosioneel stabiel is, empatie teenoor sy/haar maan toon en goed kan sosialiseer, die huwelikspaadjie makliker gaan stap…

So ja, hoe jy voel oor jou intieme verhouding (veral ná jy jou tien jaar huweliksherdenking gevier het), het nie net te doen met jou gevoelens en ervarings nie… “In die huwelik word ons ook beïnvloed deur ons eie en ons maats se genetiese predisposisies.”

O gits! Wat as julle twee nie geseën is met die geen nie? Gelukkig hoef net een van julle die GG te hê (paartjies waar albei met die geen geïdentifiseer is, is nie beter daartoe af as dié waarvan net een party die geen het nie).

Die studie het nog ‘n konsep bespreek, genaamd “anxious attachment” (direk vertaal is dit angstige beslaglegging). Dit is ‘n tipe verhoudings-onsekerheid wat ontwikkel as jy seergemaak is in jou kinderjare of in ‘n vorige verhouding – tot só ‘n mate dat jy ‘n verlaagde selfwaarde, ‘n sensitiwiteit vir verwerping en ‘n soeke na aanvaarding hieruit ontwikkel het. Waar een óf meer huweliksmaats angstig en onseker is, is meer huweliksprobleme en minder tevredenheid gerapporteer. Daar is egter gevind dat individue met die GG genotipe minder hiervan in hul verhouding toon as dié daarsonder.

So, hoe ‘n groot rol speel die GG genotipe en is jy in die sop as nie jy of jou maat dit het nie? Die navorsers meen dat genotipe altesaam vier persent van jul huwelikstevredenheid kan bepaal. Op die oog af is dit ‘n klein persentasie, maar wanneer al die ander genetiese en omgewingsfaktore waaraan paartjies blootgestel word, in ag geneem word, is dit merkbaar! Maar wees gerus, dit is nie die “be all” en die “end all” nie. As jy en jou maat oorgesien is toe dié geen uitgedeel is, is jul huwelik nie verdoem nie. Daar is nog 96% om mee te werk. En as jy werklik ag slaan op die woord wérk, kan jy ver kom.

Só doen jy dit:

• Moenie ‘n agterdeur oophou nie. Skei is nie ‘n opsie nie en dít is die raamwerk waarbinne jy jou huwelik moet betree. Moet dit nie eers tyddeel in jou kop gee nie en dink voortdurend aan innoverende maniere om jou huwelik beter en lekkerder te maak.

• Weet wanneer om te sê jy is jammer. Berou en vergifnis gaan ‘n ver pad in ‘n huwelik. Die huwelik bestaan uit twee individue wat foute maak en geen maat is perfek nie. Wanneer jy egter die nugterheid behou om te weet wanneer jy ‘n fout gemaak het, en bereid is om dit teenoor jou maat te bely, beteken dit baie. Ook wanneer jou maat die groothartigheid het om jou daarvoor te vergewe – mits jy nie jou foute herhaal nie.

• Maak respek en liefde ononderhandelbaar. Navorsing het ook getoon dat respek ‘n man se nommer een prioriteit in ‘n huwelik is. Hy wil voel jy respekteer hom. Vir ‘n dame word daardie plek opgeneem deur liefde. Jy kan hom slegs respekteer wanneer jy liefgehê voel en hy kan jou slegs liefhê wanneer hy gerespekteer voel. Moet dus nie wag vir jou maat om die eerste move te maak nie, maar bied eerste wat hy/sy nodig het en die res sal in plek val.

• Onthou die basiese maniere. Dit klink so formeel en irrelevant, maar dit maak meer saak as wat jy dink. Soengroet jou maat goeiemore en goeienaand. Vra beleefd hoe sy/haar dag was. Sê opreg dankie wanneer sy vir jou die toebroodjie bring en vra hom mooi asseblief om jou te help om die yskas te skuif. Dit is ook ‘n teken van respek en dit kommunikeer omgee.

• Werk aan jul kommunikasie en hou dinge opwindend. Moenie toelaat dat onsekerheid of misverstande vatplek in jul huwelik kry nie. Moet ook nie toelaat dat verveling intree nie. Met doeltreffende kommunikasie (gebruik jou woorde en maak skoon jou ore!) hou julle die lyne oop en helder. En met opwinding bly die kersie aan die brand.

Dit is ‘n paar wenke wat jou ver kan bring. En selfs al is die GG geen jou nie beskore, verhoed niks julle om die gee-gee reël in jul huwelik toe te pas nie. Dink aan jul verhouding as ‘n gee-gee verhouding. Gee sonder om enigiets terug te verwag en jy kry waarskynlik soveel meer as waarop jy ooit kon reken!

Addisionele bronne: STudie deur Yale Universiteit en oorspronklike geskryf deur Michael Greenwood. Joernaalverwysing: Joan K. Monin, Selin O. Goktas, Trace Kershaw, Andrew DeWan. Associations between spouses’ oxytocin receptor gene polymorphism, attachment security, and marital satisfaction. PLOS ONE, 2019; 14 (2): e0213083 DOI: 10.1371/journal.pone.0213083. www.sciencedaily.com; www.interestingengineering.com; www.elitedaily.com