As paartjies trou, doen hulle dit met die geloof en verwagting dat hulle huwelike enduit sal hou. Die geloof en hoop is dat hulle vir die res van hulle lewens saam sal wees – “Until death do us part”. Dit is ’n wonderlike voorneme en moet in ’n perfekte wêreld die enigste antwoord en mikpunt van elke huwelik wees.

Die realiteit is egter dat ongeveer 50% van huwelike in die egskeidingshof eindig. Die vraag ontstaan dan: “Hoekom?”

Daar kan verskeie redes hiervoor wees, maar een van hierdie redes is verseker omdat die paartjie nie bewus gemaak is van die uitdagings in hulle spesifieke verhouding nie.

Romantiese films en leesstof, asook die “blindheid” van die liefde van ’n paartjie wat op die punt staan om te trou, help verseker ook nie om hulle van die realiteit van die lewe bewus te maak nie.

Baie paartjies voel dat hulle nie nodig het om huweliksvoorbereiding-gesprekke te hê voordat hulle trou nie. Hulle redes is onder andere: “Ons is dan só ingestel op mekaar” of “Ons is dan só lief vir mekaar”.

Gewoonlik sien hulle ook nie mekaar se foute raak nie en indien hulle dit wel raaksien, sal die oortuiging van hulle gemoed wees dat hierdie probleme nie so erg is nie en tog doeltreffend hanteer kan word as die ringe eers aan die vingers is.

Die werklikheid is dat niemand iemand anders kan voorberei vir die huwelik nie. Daar is net te veel veranderlikes wat deel vorm van die scenario. Dit is fisies nie moontlik om alle moontlike gebeurlikhede doeltreffend te hanteer nie.

Wat wel gedoen kan word, is om die paartjie bewus te maak van die probleme en uitdagings wat in die toekoms kan kop uitsteek, en hulle dan ook so voor te berei om nie onkant betrap te word met die situasie wat dan op hande is nie.

Die manier hoe hierdie bewustheid geskep kan word, is om in voorhuwelikse gesprekke te belê. Hierdie gesprekke is daarop gerig om paartjies bewus te maak van moontlike scenario’s wat in hulle toekomstige huwelik kan opduik.

Dit gee dan vir die paartjie gereedskap om hierdie scenario’s doeltreffend te hanteer. Die paartjie word geleer om situasies van vroeg in die huwelik af te hanteer en die bul by die horings te pak, eerder as om weg te stap van mekaar af.

Behalwe vir die situasies waarvan die paartjie bewus gemaak word, word die realiteit van die lewe ook aan hulle verduidelik. As hulle dan later in hulle huwelik sekere dinge ervaar, weet hulle dat dit die realiteit van die lewe is wat inskop en dat hulle nie ’n unieke paartjie is wat hierdie dinge vir die eerste keer ervaar nie.

Die paartjie begin gou besef dat daar baie min dinge, indien enige, is wat die lewe na jou kant toe gooi. Hulle kan dus dinge met gemak hanteer, sonder dat hulle voel hulle is die enigste paartjie wat met daardie spesifieke situasie sukkel. Die feit dat paartjies voel hulle is nie alleen nie, neem baie spanning weg en laat die realiteit van die lewe normaal voel, en dus word dit nie as ’n bedreiging beskou nie.

Nog ’n baie belangrike voordeel is dat die paartjie mekaar as persone en individue beter verstaan. Hulle word blootgestel aan vrae wat hulle nie nou as van toepassing sien nie, en dit verbreed hulle horisonne oor hulself en hoe hulle persoonlikhede sekere situasies sal hanteer. Die gevolg is ’n verdieping in hulle kennis van mekaar, van hoe om mekaar te hanteer en wat om van mekaar te verwag.

Paartjies begin besef dat die huwelik ’n nuwe reis is saam met iemand vir wie ’n mens baie lief is, maar wat jy nie noodwendig so goed ken nie. Hulle ontdek nuwe paaie in hulle verhouding en word bewus daarvan dat hulle saamgevoeg is om ’n verskil in die wêreld te maak. Hierdie tipe gesprekke lei daartoe dat paartjies met groter opgewondenheid en verwagtinge die lewe saam aanpak.

Kobus en Linda Pauw
Verhoudingskonsultante en -Afrigters
www.connectionimpact.co.za