In 1945 is ‘n opname gedoen wat vasgestel het waarvoor ongetroudes in ‘n huwelik hoop. Dit het soos volg geklink: Iemand wat my liefhet; wie ek in my vertroue kan neem; wat toegeneentheid teenoor my toon; iemand wat my ideale respekteer en my waardeer; iemand wat ek graag wil bereik en iemand wat my eensaamheid verlig. Ek glo nie hierdie lys van behoeftes het veel verander nie en dat baie mense steeds hoop om dít in ‘n lewensmaat te vind.
In ‘n boek geskryf deur die egpaar John en Diana Hagee, onderskeidelik getiteld: “Wat elke man in ‘n vrou wil hê” en “Wat elke vrou in ‘n man wil hê” verskyn dieselfde behoefte op albei se lys: Iemand wie jy ten volle kan vertrou/getrouheid. Daar is min mense wat nié vertroue as kernwaarde in ‘n vriendskap of verhouding sal wil hê nie.
In haar deel van die boek skryf Diana Hagee: “Jesus se ware getrouheid is een van die baie redes waarom ons as gelowiges onvoorwaardelike vertroue in ons Verlosser kan hê”.
Omdat God in Christus vir ons die voorbeeld is van getrouheid, kyk ons na vertroue ook in ons verhoudings, huwelike en vriendskappe. Deuteronomium 7:9 sê: “Die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat Sy verbond in stand hou en Sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en Sy gebooie gehoorsaam”. Praat van Iemand op wie jy kan vertrou! Presies om hierdie rede, verwag God van ons om soos Hy getrou te wees.
As ons in dieselfde gees as Lukas 6:36 dan sê: Wees nie alleen barmhartig soos julle Vader barmhartig is nie, maar wees ook volgens Deuteronomium 7:9 dan “… betroubaar soos God betroubaar is”, wat beteken vertroue volgens die Bybel? Die woord word afgelei van die woord vir geloof. Met ander woorde om jou geloof in iemand te stel, om te glo dat iemand goed en eerlik is. Vertroue is dus ‘n werkwoord.
Dit is in essensie moeilik om die woord ‘vertroue’ te definieër. Maar wanneer dit in jou lewe afwesig is, wéét jy dit. As vertroue nie daar is nie, kyk jy met ‘n ander bril na jou maat. Jy bestee jou energie nie daarop om jou maat aan te vul en gelukkig te maak nie, maar om jouself gelukkig te maak, jou eie onsekerhede te stil of jou eie belange te bevorder – en eindelik onttrek jy jou energie van die verhouding.
Die oorspronklike bedoeling van God om man en vrou na mekaar toe te bring om kameraadskap en liefde te ervaar, word dus dan verhinder. God se droom vir die huwelik is ‘n ruimte waar mens onverhinderd op mekaar kan steun, mekaar kan aanvul en die beste uit mekaar kan haal.
Wat is die voordele van ‘n huwelik waar vertroue heers? Die huwelik word die ruimte waar jy voel jy “behoort” en waarin jy kan floreer. Vertroue maak enige verhouding ‘n veiliger plek. Vertroue gee Vryheid. Jy voel jy is tot meer in staat (‘n drie-dubbele tou breek nie maklik nie, sê Prediker). Jy is meer eg, en jou huwelik is meer eg.
Wanneer daar dus vertroue in ‘n huwelik is, glo ons die beste van ‘n persoon. Ons glo dat ek myself ‘naak’ voor daardie persoon kan stel, ek glo dat daardie persoon my aanvaar vir wie ek is. Dit impliseer verder dat ek die beste kan glo van daardie persoon. Dat daardie persoon lojaal en eerbaar sal wees, my beste belange en my geluk op die hart sal dra. ‘n Betroubare mens verbind hom of haar aan die beloftes wat gemaak is.
Bob Moeller het geskryf – “As jy by jou gelofte hou, sal dit jou huwelik in stand hou”. ‘n Gelofte is ‘n plegtige belofte aan God; ‘n belofte van getrouheid aan en liefde vir die eggenoot wat jy gekies het.
As ek twee stappe kan neerpen wat vertroue in ‘n huwelik bou, dan is dit deursigtigheid en deur altyd die geleentheid te benut om die waarheid te praat. Dit impliseer egter ‘n verdere trappie: Moenie jou maat straf as hy of sy die waarheid praat nie.
Iemand het gesê dat vertroue soos die olie is wat ‘n verhouding laat aanhou brand. Maar soos in enige motor of olielamp, moet die olie van tyd tot vervang word. Dus vra vertroue voortdurende insette van elke huweliksmaat.
Hoe doen jy dit, hoe behou jy vertroue in ‘n huwelik?
Deur elke keer jou maat, jul huweliksbelofte en die belofte aan God te kíés!
Artikel deur Natalia Strydom
- Natalia Strydom is voltydse leraar by NG Alberton-Suid. Sy het ook haar eie onderneming genaamd We Promise Wedding Ceremonies en het deeltyds haar eie beradingspraktyk. Sy is al 8 jaar voltyds in die bediening en het onlangs haar tweede Meestersgraad in Teologie voltooi. Sy is al ses jaar getroud met Reuben en is ma van drie dogters.
***
Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!