Grawe jy in jou ore voor vroulief of gaps haar tandeborsel as jy nie joune kry nie? Uhm, anything goes is nie altyd ’n goeie idee in die huwelik nie. Julle het steeds gesonde grense nodig.

Promosie

Grense? Ons deel dan alles in die huwelik. Jy weet – een vlees en so aan.

Hoewel daar waarheid in dié stelling steek, is julle steeds twee unieke individue met verskillende geite en grille. Net omdat julle getroud is, beteken dit nie dat julle een mens of klone van dieselfde persoon is nie. ’n Goeie huwelik bestaan veel eerder uit twee heel lemoene in ’n vrugtebak as een glas fyngedrukte lemoensap.

Hoekom is grense belangrik? 

Promosie

Grense, hetsy persoonlik of in die verhouding as geheel, help om ’n huwelik liefdevol, sterk, respekvol en gesond te hou.

Ons het almal perke in terme van hoe lank ons dinge kan verdra of hoe ver ons iets kan toelaat om te gaan. As vroulief jou uittrap wanneer jy haar tandeborsel gebruik, beteken dit nie sy is sommer net lelik met jou nie. Sy hou dalk bloot nie van die idee om haar persoonlike items met enige iemand te deel nie.

Indien jy kort-kort oor jou maat se grense trap, gaan dit konflik en bitterheid veroorsaak.

In julle huwelik moet julle ook as ’n span besluit oor julle grense – wat hoort binne en wat hoort buite julle verhouding? Een van die eerste plekke waar julle alreeds hierdie besluit geneem het, is binne die slaapkamer. Die blote feit dat julle in ’n huwelik is, sê reeds dat julle jul voorgeneem het om nie ander seksuele maats te hê nie.

Daar is egter ander belangrike areas waar julle ook koppe bymekaar moet sit en besluit wat is in en wat is uit. Byvoorbeeld: Met wie is julle vriende, hoe laat die kinders in die bed moet wees, hoeveel keer ’n week julle by jul skoonouers gaan kuier en so meer. Interaksie met die teenoorgestelde geslag is ’n gebied waar veral baie duidelike reëls gestel moet word. Indien jou maat nie daarvan hou dat jy alleen saam met vriendinne kuier nie, kan jy nie net jou skouers optrek nie – dit is ’n grens wat jy doelbewus oorskry.

Die idee agter die stel van grense is nie om te kyk hoe selfsugtig julle kan wees of wie sy sin die meeste gaan kry nie. Die doel daarvan is om julle “vrugtebak” stabiel te hou sodat dit nie omkantel en in skyfies op die vloer beland nie.

Hoe vermy ons ’n grensoorlog? 

Identifiseer julle limiete 

Indien jou maat nie weet waar jy jou grensdrade gespan het nie, kan jy haar nie kwalik neem as sy op dit trap nie. Moet ook nie skimpe gooi of verwag jou maat moet ruik as iets jou ongelukkig maak nie. Sit rustig saam met vroulief en identifiseer julle albei se limiete. Wat maak julle ongemaklik en gespanne in julle verhouding?

Doen dit op ’n mooi manier 

Sommige dinge mag dalk nie lekker wees om te hoor nie, so benader die situasie met ’n oop gemoed. Wees eerlik, maar hou julle woorde sag en liefdevol. Sê eerder: “Ek kry seer as jy my daardie naam noem,” as wat jy sê: “Ek is keelvol vir die manier waarop jy met my praat!” Besluit ook wat julle gaan doen om die grense te enforce.

Moenie bang wees om jou mond oop te maak nie 

Soms is ons só bang om die ander persoon seer of kwaad te maak dat ons maar eerder suffer in silence. Dit is egter baie ongesond en onregverdig – nie net teenoor jouself nie, maar ook teenoor jou maat. Klein probleempies bou stoom op tot by die punt waar dit uitbars en alles aan flarde ruk. As julle egter die probleme hanteer soos dit opduik, kry julle kans om die stoom te laat ontsnap. Gee jouself dus toestemming om grense te stel sonder om skuldig te voel.

Maak gebruik van die “kalklig-reël” 

Sodra ’n grensoorlog dreig, maak gebruik van die “kalklig-reël”. Die persoon wat aan die woord is, is soos ’n enkele akteur in die kalklig op ’n verhoog – niks anders bestaan behalwe daardie persoon nie. Dit beteken dus die persoon mag net in ek-terme praat. (EK voel ons moet briek aandraai met ons aankope hierdie maand.) Daar is nie iets soos jy-boodskappe nie. (JY spandeer ons geld net links en regs!) Wanneer jy dus in die kalklig is, vat jy verantwoordelikheid vir jou menings, reaksies en emosies. Sodra jy jou boodskap oorgedra het, is dit jou maat se beurt in die kalklig en jou beurt om te luister.

Begin klein 

Om grense te stel, daaroor te kommunikeer en dit toe te pas, vereis oefening. Begin dus met die klein splinters en kyk hoe vaar julle daarmee. Sodra julle dit uitgepluk het, kan julle voortbou op julle sukses en die balke takel.

Addisionele bronne: www.married.answers.com, www.psychcentral.com.