Ons wag dikwels vir die perfekte oomblik om ons huwelike te vier. En dan … gebeur dit nie, want die lewe is bloot te dol om stil te staan by perfekte oomblikke.
Dit was ‘n malle gejaag hierdie jaar en julle het daarvan gedroom om ‘n lekker lang romantiese wegbreek vakansie te neem, maar helaas. Boeta het siek geword, en daarna het sussie se rapport die mat onder julle uitgeruk. Nou moet julle maar wag tot volgende jaar, of die jaar daarná, om jul huweliksherdenking behoorlik te vier.
Of moet julle? Soms is dit belangriker om die klem van groot dae af te haal en eerder groot klem op gewone dae te lê. Só voorkom julle die teleurstelling wat met spesiale dae (soos Valentynsdag of huweliksherdenkings) gepaard gaan en word eerder verras deur alledaagse gebare. Versterk jou huwelik elke liewe dag deur spesiale gebare! En wys jou maat daagliks hoeveel hy/sy vir jou beteken.
• Wys jou fisieke liefde. Gee jou maat elke liewe dag minstens een druk wat een minuut duur en minstens een soen wat sowat 30 sekondes duur. Dit is dié soort aanraking en intimiteit wat julle band aansienlik kan versterk.
• Verwoord jou gevoelens. Skryf vir jou maat ‘n liefdes nota en steek dit weg sodat hy dit kan vind. Die liefdes nota hoef nie met pen op papier te wees nie. Dink aan ‘n PS-sjokolade papiertjie, ‘n boodskap in haar Bybel, ‘n hartjie teen ‘n gewasemde ruit of ‘n whatsapp boodskap.
• Ken die pad na jou maat se hart. Kook minstens een keer per week iets waarna jou maat gek is. Bel sy ma vir haar bobotie-resep, maak tuisgemaakte susji of, as sy ‘n piekniek-mens is, pak vir haar ‘n piekniek (met genoeg sjokolade) vir ‘n Saterdagmiddag in die tuin.
• Wys jou dankbaarheid. Wys jou dankbaarheid deur spesifieke dinge te lys waarvoor jy dankbaar is. Sê: “Ek waardeer dit dat jy elke dag vir ons kinders sulke spesiale kosblikke maak.” Of: “Dankie dat jy vir Kolle veearts toe neem wanneer ek bekommerd is, selfs al weet jy ek oorreageer.”
• Verklaar jou liefde voor jou kinders. Vertel vir jou kinders hardop (voor jou maat) hoekom jy hom/haar so lief het. Praat in ‘n taal wat hulle verstaan, maar só dat jou maat besef die boodskap is eintlik vir hom/haar bedoel.
• Verklaar jou liefde met gevoel. Neem jou maat se gesig in jou hande, kyk haar in die oë en sê: “Weet jy hoe lief ek vir jou is?” Doen dit tien minute later weer.
• Gee jou maat ten minste een keer elke dag ‘n spesiale kompliment. Maak seker jy bedoel dit opreg en maak seker jy komplimenteer jou maat op ‘n fisieke, emosionele en intellektuele vlak.
• Vra jou maat hoe sy/haar ideale dag in hierdie stadium sou lyk. Beplan dié dag dan as ‘n verrassing vir jou maat.
• Koop vir jou maat ‘n ronde glasbak. Maak dit propvol jelly beans, jelly tots, wine gums, smarties, liquorice of wat ook al sy/haar gunsteling lekkergoed is. Laat lewer dit by sy/haar werk af om op sy/haar lessenaar te hou.
• Maak ‘n opoffering. Kerm jou vrou nou al vir jare dat sy vir Tango-lesse wil gaan (en weier jy nou al vir jare om dit te doen?) Smeek hy nou al vir ‘n jaar dat sy irriterende susterskind vir ‘n skoolvakansie kom kuier? Of dit nou ‘n plattelandse dorpie is wat jou maat wil sien, of ‘n romcom met ‘n akteur waarvan jy niks hou nie… maak die opoffering. Hoe meer jy dit haat, hoe meer gaan dit vir jou maat beteken as jy wel instem om dit te doen.
• Spog met jou maat op sosiale media. Plaas ‘n mooi foto en skryf daarby: “Kan julle glo hoe ‘n gelukkige ou/vrou ek is om met hierdie kosbare/sexy/oulike/suksesvolle/slim/mooi/snaakse/goeie mens getroud te wees?
• Vra jou maat hoe sy/haar dag was. Los dan alles waarmee jy besig is en luister aandagtig na elke liewe woord – selfs al is dit ‘n monoloog wat ‘n uur lank duur. Soms is al wat ‘n mens nodig het, ‘n maat wat vir jou luister.
• Laat neem foto’s van julle as ‘n paartjie en neem soms net ‘n alledaagse foto van jou maat, daar waar hy Nintendo speel saam met die kinders, langs die vuur staan, daar waar sy met die jongste enetjie swem of saam met haar vriendinne kuier.
• Gee mekaar ‘n soen met heildronke. Sodra die heildronk ingestel is en voor jy ‘n sluk sjampanje neem, gee jou maat ‘n soen. Dis ‘n innige manier om jul liefde te vier.
Addisionele bronne: www.thesoccermomblog.com; blackandmarriedwithkids.com; bellebrita.com