Watwou voorspel vir ’n aand – probeer voorspel vir ’n maand! Ons kan nie waarborg dat jy een “af” aandjie gaan hê as jy dié wenke toepas nie. En kan jy dink aan die vuurwerke ná ’n hele maand se prep-werk?
Seks begin soggens as jy jou oë oopmaak. Dink dus weer voor jy sê jou maat se broek sit effens knap, want dis woorde soos dié wat ’n lelike duik in enige libido kan slaan. Só kan ’n bietjie doodonskuldige “eerlikheid” jou ontneem van smullekker katelkaskenades later vanaand.
Gelukkig is die flipside hiervan ook waar. Begin vanoggend al vry met jou oë, jou hande en selfs jou woorde . . . en teen vanaand is julle soos twee gloeiende kooltjies wat net wag vir ’n bietjie wind om vlam te vat! Ons gee jou 30 voorspel-wenke – een vir elke dag van die maand. As die maand 31 dae het, herhaal wenk nommer een.
Dag 1: Gee jou maat vandag ’n kompliment oor sy/haar voorkoms. Dink aan die mooiste manier waarop jy dit kan sê en wees baie spesifiek. Doen dit oor die telefoon, per SMS, in haar dagboek, op ’n sticky note . . .
Dag 2: Staar in jou maat se oë oor die etenstafel. Wanneer hy/sy ongemaklik vra wat aangaan, sê: “Ek dink net aan wat ek alles beplan om vanaand met jou te doen.”
Dag 3: Los vir jou maat baie subtiele “leidrade” dwarsdeur die dag. ’n Bra oor ’n stoel, ’n kondoom op sy lessenaar, ’n das wat om die bed se kopstuk hang . . .
Dag 4: Gee jou maat ’n massering en vermy al die erogene sones, maar raak ligweg en “per ongeluk” daar waar jy nie mag raak nie.
Dag 5: Trek sensueel en baie stadig uit wanneer jou maat in die vertrek is. As jy dit teen ’n ander tempo doen as gewoonlik, sal jy gou jou maat se aandag kry.
Dag 6: Verras jou maat uit sy/haar sokkies uit met ’n onverwagse soen op ’n onverwagse tyd, wat baie langer duur as wat hy/sy ooit verwag het dit sou.
Dag 7: Wys vandag vir jou maat ’n bietjie meer vlees as wat jy normaalweg sou. Dink aan daardie slim fit T-hemp wat sy aandring jy moet dra, maar nooit doen nie. Die rokkie waarvan die hals jou net so effens ongemaklik laat voel . . .
Dag 8: Probeer vanaand iets onbekends. Besoek ’n restaurant met cuisine waarmee julle onbekend is of beproef ’n nuwe resep!
Dag 9: Skryf vir jou maat ’n erotiese briefie. Moenie skaam wees sover dit grafiese detail aangaan nie en los dit op sy/haar kopkussing.
Dag 10: Streel jou maat vanoggend wakker deur haar/sy lyf oral met jou naels te kielie.
Dag 11: Trek jou klere uit voor jou maat wakker word en gaan lê styf teen hom/haar. Die geheim hier is om julle drange te beteuel en julle in te hou tot later.
Dag 12: Kenners meen dat ’n behoorlike soen sowat 20 sekondes lank moet duur. Die meeste paartjies soen mekaar ses sekondes, maar oksitosien word vrygestel en as jy 20 sekondes lank voordeel uit hierdie liefdeshormoon kan trek, gaan die seks vanaand iets wees om te onthou.
Dag 13: Bel jou maat vandag ten minste twee keer deur die dag om net te gesels.
Dag 14: Voor julle werk toe gaan, herroep een spesiale en sexy herinnering van julle twee. Sê byvoorbeeld: “Onthou jy hoe ons by die Seychelles heeldag in die bed gebly het toe die weer was soos dit vandag is?”
Dag 15: Sodra jy by die huis kom, skakel jou telefoon af en sê: “Ek is vanaand net joune.”
Dag 16: Stuur vandag vir jou maat ’n geskenkie. Dit kan ’n boks sjokolade wees, ’n stukkie onderklere, ’n bos blomme, wat ook al jou maat laat tick.
Dag 17: Neem ’n sexy foto en stuur dit vir jou maat. Wees suggestief, maar nie heeltemal blatant nie. Neem byvoorbeeld net ’n stukkie vlees af en vra vir jou maat: “Ek gee jou drie raaie – watter deel van my lyf is dié?”
Dag 18: Daardie ding wat jy uitstel en jou maat jou al maande lank oor nag, doen dit vandag. Of dit nou is om vir hom ’n kaaskoek te bak of om vir haar die badkamerlig reg te maak – doen dit.
Dag 19: Roep jou maat om saam met jou te kom stort/bad. Is dit ’n gesqueeze om julself ingepas te kry? Dan gaan julle in elk geval lekker lag – wat ook uitstekende voorspel is!
Dag 20: Trek mooi aan vir jou maat. Al is dit ’n doodgewone aand waarvoor julle nie planne het nie. Doen moeite en as jou maat vra wat fout is, sê jy wil net goed lyk vir hom/haar.
Dag 21: Soms is die heel beste voorspel onder die son bloot om jou maat te help. Wat veroorsaak spanning by hom/haar? Haat sy dit om kos te maak? Los haar af. Vergeet hy om die vullissakke uit te neem? Doen dit vandag vir hom.
Dag 22: Wat dra jy bed toe? Jou oudste pajamas met die vlek en die drie gate? Trek vanaand bed toe aan soos jy op jou honeymoon het. Of dit nou ’n sexy nommertjie of jou Adamsgewaad is . . .
Dag 23: Skryf vir jou maat vanoggend ’n sexy boodskap op die badkamer-spieël voor jy uit die huis uit gaan.
Dag 24: Speel. Ja, jy het reg gehoor – spring op jou maat en hou ’n stoeigeveg, slaan jou maat met ’n kussing. Tel haar oor jou skouer en stap slaapkamer toe. Uitstekende voorspel!
Dag 25: Gee jou maat ’n A+! Almal wil voel hulle presteer van tyd tot tyd. Neem rooi lipstiffie en ’n wit vel papier en skryf iets soos: “’n A+ vir jou skerp humor” of “’n A+ vir jou ma-wees”.
Dag 26: Wys die wêreld vandag dat jou maat joune is. As julle saam in die winkels is, loop hand om die lyf of hou hande vas. Gee jou maat ’n behoorlike soen in die supermark.
Dag 27: Het julle ’n sexy liedjie? Daardie liedjie wat gespeel het met jul eerste soen, op jul wittebrood, tydens jul eerste dans op jul troue? Dra daardie liedjie aan jou maat op oor die radio.
Dag 28: Basiese maniere. Dit klink dalk simpel, maar wanneer laas het jy vir haar die kardeur oopgemaak? Wanneer laas het jy vir hom behoorlik dankie gesê? As dit ’n skaarste geraak het, kan dit vandag ’n dramatiese impak maak!
Dag 29: Raak “per ongeluk” aan jou maat dwarsdeur die dag met dele van jou lyf wat hy/sy onweerstaanbaar sal vind. Skuur met jou borste teen sy rug, stamp met jou agterstewe teen haar rug wanneer jy iets uit die kas haal. Glimlag stout.
Dag 30: Gaan vandag werk toe/winkels toe sonder ’n draad onderklere. Fluister in jou maat se oor dat jy en hy vandag ’n geheim deel en vertel hom/haar dan, waarna jy hom/haar uitdaag om dieselfde te doen . . .
Teen dié tyd weet jy al watter voorspel-wenke werk en watter nie so doeltreffend is as dit by jou maat kom nie. Gebruik nou wat jy weet en maak die pap lekker dik aan.
Deur Annelize Steyn