Elanie Kruger se verhaal klink onwerklik. As ’n voormalige slagoffer van seksuele mishandeling en mensehandel, vertel sy haar verhaal van hoop . . .
“Aan al die slagoffers van mensehandel – daar is hoop, daar is genesing en die kettings sal afval, jy is nie alleen nie!” Só staan die uiting tot hoop in die boek Van skoolbank tot bordeelbed, ’n roman gebaseer op Elanie Kruger se verhaal en geskryf deur Jaco Hough-Coetzee. Lees jy Elanie se verhaal, kan jy bykans nie gló dat soveel hartseer en ellende één persoon kon oorkom nie.
’n Kindertyd van wegkruip in ’n klerekas
“My ouers was verslaaf aan dwelms en drank. Ek (toe seker so vier of vyf jaar oud), my suster en my broer moes kos steel om aan die lewe te bly. My pa was nooit by die huis nie en my ma het dikwels mans by haar in die huis gehad. My ma het my partykeer in ’n boom vasgemaak sodat ek stilbly as daar ander mans kom kuier. Daar was ook ’n paar gevalle waar ek deel was van die onthaal van my ma se mansvriende.
“Op ses jaar het my broer my seksueel begin aanrand. Hy het my drank en pynstillers ingejaag; dit was seker sy manier om van al sy hartseer ontslae te raak. My suster was nie bewus van wat tussen my en my broer gebeur het nie. My suster was soos my ma. As my ma aggressief geraak het, het my suster my in die klerekas weggesteek en vir my water en brood aangedra. Ek is tot seksueel aangerand deur een van my broer se onderwysers. Ons het so nou en dan by hom op sy plaas gaan kuier en dit was ons toevlug van die huis af. Dit wat ek alles moes deurmaak, het my hele kinderhart uitmekaar geskeur.”
Ek het ’n seksslaaf geword
Nadat Elanie se ouers geskei is, is sy na ’n welsynsorganisasie gestuur, maar ná ’n tydperk was sy terug by haar ma se huis, wat tóé saam met ’n nuwe man gewoon het. “Op die ouderdom van 16 het ek haar eendag by die huis aangetref – doodgeskiet. Ek het by my broer en sy vrou gaan bly en was sielsongelukkig.” Elanie het begin werk soek, maar is deur haar broer aan ’n mensehandel-agentskap verkoop vir geld wat sy hom geskuld het. Vir agt maande lank het sy as ’n seksslaaf gewerk.
“Dit was die ergste ding wat ek moes deurmaak. Wat my liggaam deurgegaan het, die pyn en vernedering, kan ’n mens vir niemand verduidelik nie. Ook die besef dat geld ’n groot afgod is en dat ek daar was vir geld – soos al die ander slagoffers. Ek het wel ontsnap van die haglike mensehandel-agentskap en het vir ’n paar weke op straat gebly. Net voor my ma oorlede is, het ek uitgevind dat die pa wat my grootgemaak het nie my regte pa was nie. Hy het dit self bevestig voor sy dood in 2010.
Toe dinge vir my begin draai het
“Met die geboorte van my dogtertjie, Michaela Davis, het my lewe begin verander. Ek moes verander, want my lewe was ’n nagmerrie en deurmekaar en ek wou dit nie vir my dogter hê nie. Ek het die Here gevind. Ek was gebroke, maar die Here het my aanmekaar gevleg, gehelp om die stukke van my lewe aanmekaar te sit en my heel gemaak. Alhoewel my lewe nie perfek is nie, lê ek my kop teen Sy skouers, want Hy sal my altyd dra.”
Nadat haar dogter se pa getrek het, was Elanie ’n enkelma en sy het in Bethal gebly toe sy vir Johan Kruger ontmoet het. Hulle is nou al tien jaar saam en nog net so gelukkig getroud soos die eerste dag toe hulle mekaar ontmoet het. Dit alleen gee hoop vir diegene in dieselfde situasie. Sy vertel ook watter verse sy vir die toekoms het en gee raad vir dié wat dit nodig het. Natuurlik het haar verlede haar huwelik beïnvloed. “Dis nie altyd maklik nie, maar ek is geseënd met ’n wonderlike man. Hy is die sagtheid vanself en het my al gedra in moeilike tye. Vertroue was moeilik en om ’n goeie seksuele verhouding te leer ken, was moeilik. Ek en my man dra mekaar elke dag.”
Sy gee God alle eer wanneer ’n mens vra hoe sy haar struikelblokke oorkom het: “Deur gebed, vertroue en om op te kyk na God, om mekaar se laste te dra en mekaar te vertrou. Ek moes mans weer leer vertrou en die mooi sien wat God gemaak het tussen man en vrou. God is ons Troon in ons huis!”
“Vandag is ek self ’n ma”
As ma van ’n tienerdogter, wat dieselfde ouderdom is as wat sy was toe sy al die ondenkbare dinge moes deurmaak, leer sy haar dogter die waarheid oor seks. “Dat God dit mooi tussen man en vrou gemaak het. Ek leer haar ook van die bose daar buite en dat sy moet weet wat reg en wat verkeerd is. Ons tieners is só blootgestel vandag en daardie vertroue word gou afgebreek omdat seks so goedkoop gemaak is.”
Haar verhaal is in ’n roman omskep en só is die boek Van skoolbank tot bordeelbed geskryf om die waarheid op die tafel te lê. “Almal weet van ‘taken’ en dat dit oorsee gebeur. Maar ek moes skryf sodat mense kon besef dit gebeur in Suid-Afrika! Elke ses ure word ’n kind in ons land vermis, maar daar is hoop vir die slagoffers.” Vir Elanie is daar die vrees dat die mensehandel-sindikate net groter en groter word. “Ek is ook oneindig bang dat ons nie elke ouer en tiener sal kan waarsku teen mensehandel nie, daarom doen ons baie veldtogte en bewusmakingsprogramme. Elke ouer en kind moet weet wat om te doen in hierdie situasies en hoe om jouself nie bloot te stel daaraan nie.”
Vrymaking van pornografie
“Ek het in November 2014 met ’n projek, Addiction Set Free (ASF), begin wat daarop gemik is om klein sentrums regoor Suid-Afrika te stig vir diegene wat aan pornografie verslaaf is.” Sy vertel dat dit ’n gesellige byeenkoms is wat een keer per maand gehou word en fokus op die omset van verslawing aan pornografie tot die vrymaking daarvan. Gerehabiliteerde mense word bygestaan in die pogings om hul huwelike te red, hulself weer te vind en kwessies aan te raak, soos wat die persoon in die eerste plek tot pornografie aangetrek het. Vergifnis is nog ’n belangrike kwessie wat aangeraak word.
“Die rede vir hierdie projek is dat daar soveel mans en vroue is wat verslaaf is aan pornografie en wel daaruit wil kom, maar nie weet hoe nie en ook nie waarheen om te gaan nie.”
Elanie se verhaal is een van onmenslike hartseer en tragedie, maar ook ’n verhaal van verlossing en hoop . . .
• Vir enige navrae oor ASF, om betrokke te raak of om hulp oor mensehandel te ontvang, kontak gerus vir Elanie by stoptrafficking@live.com. Haar boek, “Van skoolbank tot bordeelbed”, is beskikbaar by CUM Boeke, PNA, Bargain Books, Leserskring en Jonathan Ball Uitgewers.
Artikel deur ANSIE EHRKE