Soveel vroue word daaraan blootgestel. Soveel vroue glo dat dit ‘niks’ is nie, of deel van ’n ‘normale’ huwelik is, bloot omdat die letsels daarvan nie met die blote oog gesien kan word nie. Dit beteken egter nie dat dit nie dáár is nie…
“Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me…” As jy hierdie gesegde glo, jok jy vir jouself. Die mag van woorde is baie sterk. Selfs koning Salomo het dit in die Bybel se tyd reeds begryp. Positiewe woorde kan wondere verrig, maar net so kan negatiewe woorde vernietigend wees.
Beverley (42) wéét dit. Sy was met ’n man getroud wat tien jaar ouer as sy was. “Ek het gedink dat ’n huwelik met ’n ouer man my die stabiliteit sou gee waarna ek gesmag het. Ek het aangeneem dat hy reeds sy wilde dae geleef het en dat hy ’n volwasse, stabiele man was waarop ek kon staatmaak…” vertel sy.
Dit was egter nie lank voor die emosionele mishandeling begin het nie. “Hoewel ek nooit op daardie stadium erken het dat sy gedrag mishandelend was nie, was die tekens daar. Ek het gekies om dit te ignoreer, aangesien ’n mens maar altyd vir die beste hoop en die beste wil glo.”
Ben het haar eendag van ’n buite-egtelike verhouding begin beskuldig. “Gaan jy winkels toe om jou affair aan te knoop?” Sy vertel: “Ek het baie verwarring beleef. Ek kon nie verstaan hoekom hy gedink het dat ek ’n buite-egtelike verhouding het nie, en toe hy my ‘vet’ en ‘lelik’ begin noem, en opgehou het om my aan te raak, het dit regtig my hart gebreek…”
Sy was jonk – nie opgewasse om haarself te verdedig nie. Sy het probeer om dinge ‘reg te maak’ en het op eindelose diëte gegaan en die gimnasium gereeld besoek. “Ek het nie op daardie stadium besef dat dit emosionele mishandeling is nie, en tog het die mense om my die tekens begin raaksien en vir my gesê dat dit ’n ongesonde situasie is.
Ons twee dogters sou hom om aandag smeek en vra om hulle goeienag te soen, maar hy het geweier. As vrou het ek dit wat hy gesê het, ter harte geneem, en ek wou dinge net beter maak, maar ongelukkig kon ek niks reg doen nie en het hy my gedurig laat voel dat ek nie goed genoeg is nie.”
Beverley het haar hart teenoor haar beste vriendin oopgemaak. Sy het gedink sy drankprobleem was die oorsaak vir sy gedrag, maar moes kort voor lank ontdek dat dit sy eie skuldgevoelens was wat hy op haar geprojekteer het – Ben het self ’n buite-egtelike verhouding gehad … met dieselfde vriendin teenoor wie sy haar hart oopgemaak het!
Hoewel hierdie vriendin vir Beverley vertel het dat Ben haar emosioneel mishandel en manipuleer, het sy weer omgedraai en die inligting téén haar gebruik om vir Ben te vertel hoe ongelukkig sy vrou is.
“Ek is deur hul albei mishandel. Hulle het my soos ’n bal tussen hulle twee rondgeslaan en hy het elke situasie en desperate poging van my kant af só omgedraai dat dit gelyk het of ek die een met die probleem is…”
Eindelik het Beverley besluit om die bose siklus te beëindig. Sy het ’n Alpha-kursus by haar kerk gevolg en in daardie stadium besef dat hy die een is wat die buite-egtelike verhouding het. Sy het egter emosionele ondersteuning gehad en besef dat sy nie so kon voortgaan nie. “Ek het vir môre geleef … vir ’n beter dag, maar daardie ‘môre’ het nooit gekom nie.”
Sy is van Ben geskei, maar voel vandag, tien jaar later, steeds afgetakel. “Genesing is ’n proses wat begin deur jouself in God te vind. Ek het grense gebou wat ek moes afbreek. Ek moes mense weer naby my toelaat. God het ingegryp en my selfbeeld herstel. Ek was stukkend, maar ek tel steeds dag vir dag die stukke op en ek glo in môre, ek glo weer daarin om myself te wees en myself lief te hê…”
Beverley se raad aan ander vroue? “Jy kan emosionele mishandeling oorkom deur God se liefde te ken. Met Sy hulp en krag, is ek nou daartoe in staat om my eie maatskappy te bestuur, in my twee dogters se behoeftes te voorsien en sterk te wees. Jy kan nie in ’n bondeltjie opkrul en doodgaan nie – staan op en veg vir jóú. Ek het geleer om na my emosies om te sien. Ek sou nooit egskeiding voorstaan nie, maar ek het nie ’n keuse gehad nie – hý het die skeisaak aanhangig gemaak. Na die egskeiding het ek besluit: ek sal dit nie meer verdra nie … tot hiertoe en nie verder nie! Ek het my dogters bemagtig om mishandeling te herken en om dit nie te aanvaar nie. Ek is trots daarop dat hulle weet wie hulle is en wat hulle werd is. Ek het nooit daardie voorreg gehad nie…”
Die mensdom is jare lank al van fisieke mishandeling binne ’n huweliksverhouding bewus, maar het eers die afgelope paar jaar begin besef hoe vernietigend verbale mishandeling kan wees. Dit vernietig respek, die verhouding, bewondering en intimiteit – al die kernelemente van ’n gesonde huwelik, verduidelik Gary Chapman in sy boek, Loving Solutions.
Waar enigeen soms in ’n huwelik lelike dinge kwytraak, vra die verbale mishandelaar bykans nooit vergifnis nie en erken hy ook nie dat dit wat hy gesê het verkeerd was nie. So iemand sal sy lewensmaat daarvoor blameer dat sy die mishandeling uitgelok het.
“Verbale mishandeling is ’n oorlog met woorde as bomme en wat handgranate aanwend om die ander persoon te straf, skuld te verplaas of eie aksies en besluite te regverdig. Mishandelende taal is deurspek van giftige neerslae wat die ander persoon laat sleg voel, en verkeerd of onbevoeg laat lyk.”
Shania (24) ken ook die taal van die verbale mishandelaar al te goed. “As jou verloofde sê dat hy ongelukkig is, dat hy vasgevang voel, dat jy net nie meer interessant of opwindend is nie, of wanneer hy voortdurend vir jou skree, jou kritiseer en jou laat huil, gee jy pad – reg? Verkeerd,” vertel sy. “In plaas daarvan word jy ’n marionet wat tevergeefs die perfekte dans probeer dans.”
Tiaan sou voor sy vriende grappe ten koste van Shania maak, en haar arm dan kwansuis liefdevol druk. Sy het op daardie aandag floreer en na elke krummel van aanvaarding wat hy na haar kant toe laat val het, gegryp. Hy sou dikwels na sy model-vriendinne se klere verwys en sê dat sy ook só moet aantrek, met die gevolg dat sy net nooit stylvol gevoel het nie. Hy het gedurig oor haar kleredrag gekla, en toe sy eendag vir hom vra hoe laat dit is, het hy op die motor se paneelbord geslaan, uitgeklim en die deur agter hom toegeslaan.
“Ek het stil gesit – bewus daarvan dat daar nou ’n gevaarlike situasie geheers het. Ek het gebewe. Sou hy my seermaak?” Tien minute later het hy verskonend teruggekeer en sy het sy optrede maar aan normale woede toegeskryf.
Hulle het verloof geraak, maar hy sou die een oomblik oor kinders praat en die volgende oomblik sê dat hy ruimte nodig het. Hy sou nooit die boeke lees waaraan sy gewerk het nie, nooit dankie sê as sy vir hom kos gemaak het, of by hom gaan kuier het nie. Al wat na haar kant toe gekom het, was kritiek. Hy het gevloek as sy gevra het waarheen en na wie toe hulle op pad was.
Eendag het hy ’n stoel langs haar gegryp en dit teen die muur gegooi. “Dit het die kas getref, die hout versplinter, my kop rakelings gemis en bloed uit sy gewonde hand op die vloer gelaat… Dit was die dag toe ek besluit het dat ek genoeg gehad het. Ek het nie iemand in my lewe nodig gehad wat my afbreek, kritiseer en niks behalwe seer en pyn bring nie. Ek was klaar.”
Sy het weggestap en gehoor hoe hy nog vloekend iets gooi, maar sy het nie omgedraai nie. “Ek het hierdie keer weggeloop, en aanhou loop.” Dit was vir haar bevrydend om sonder hom te wees. Sy het nie die argumente en kritiek gemis nie, maar wel die dele van haarself wat sy vir hom gegee het. “Ek het dit gemis om selfvertroue te hê, om te weet wie ek was. Ek moes dit weer opbou. Ek moes dit weer stap vir stap aanleer.”
Sy was steeds kwaad en daar was onbeantwoorde vrae. “Was ek goed genoeg sodat iemand my sou kon liefhê, en nie net begeer nie? Sou ek ooit aanvaar word, net soos ek is, sonder voorwaardes? Vrees was ’n koue bries teen my nek, ’n ysige wind wat selfs die diepste dele binne-in my verkoel het.
Soms het ek goed gevoel, asof ek nie sy liefde nodig gehad het nie, omdat ek geweet het dat om hom te verloor, ’n seën was.”
Vandag is Shania al twee en ’n half jaar lank met ’n man getroud wat haar waardeer, en wat presies die teenoorgestelde is van dit waaraan sy gewoond was …
Die meeste mense wat hul lewensmaats verbaal mishandel, sukkel met ’n swak selfbeeld. Hulle is nie sterk, selfversekerde individue nie, maar soos kinders wat hard probeer om volwassenes te word en desperaat baklei om hul eiewaarde te bewys. Hulle probeer hulself verhef deur ander te verneder, verduidelik Gary. “Baie verbale mishandelaars het ’n onbewustelike behoefte daaraan om as perfek beskou te word. Sosiale goedkeuring het amper soos ’n heilige soektog geword. Hulle dink dikwels dat goedkeuring perfeksie vereis… hulle ontplof by die geringste aanduiding van kritiek, omdat hulle eiewaarde bedreig word.”
Volgens Gary het baie emosionele mishandelaars in huise grootgeword waar ’n ouer verbaal mishandel is, en druk hy sy woede op dieselfde manier uit.
Is jy vasgevang in ’n emosioneel mishandelende verhouding? Só ontsnap jy:
- Bevestig die behoefte, verwerp die gedrag. Probeer om sy innerlike, emosionele behoeftes te verstaan, sonder om dit te aanvaar. ’n Gesonde benadering is dikwels moeilik, omdat vroue hul mans se kritiese opmerkings aanvaar, en aanmerkings soos ‘simpel’, ‘waardeloos’ en ‘’n slegte vrou en ma’ later glo. Die vrou begin glo dat sy niks beter verdien nie, en wend nie ’n poging aan om die situasie te verbeter nie. Vir só ’n vrou is die eerste stap om haar man se mishandeling met ’n vriend of berader te deel. Sy moet eers haar eiewaarde herontdek, voordat sy ’n positiewe verandering in die huwelik kan bewerkstellig. As sy nie aan haar eie beskadigde selfbeeld werk nie, sal sy nie die emosionele energie hê om daadwerklike aksie te neem nie.
- Glo in jou maat se waarde. “Agter elke verbaal mishandelende maat is ’n mens met waarde. Ten spyte van sy (of haar) duiwelse gedrag, dra hy/sy die beeld van God en het hy/sy innerlike waarde. Dit is wat jou na hom of haar toe aangetrek het. Onthou dat daar agter die verbaal mishandelende leeu met wie jy getroud is, ’n lam is wat jy eens op ’n tyd gekoester het. Glo dat daardie lam steeds daar is en oorheersend kan word. Bemoedig hom op ’n positiewe manier, dit kan sy kwynende selfbeeld opbou.
- Deel jou eie gevoelens. Dit help nie as jy voorgee dat sy harde woorde jou nie onderkry nie. Moenie terugklap met jou eie verbale mishandeling nie. Jou maat moet daaraan herinner word dat jy ook ’n mens met gevoelens is en dat sy woorde diep sny. Daar is immers ’n perk aan die hoeveelheid pyn wat ’n mens kan verduur voordat jy ’n geneesheer besoek. In die emosionele sfeer is daar ook ’n punt waar jy met ’n berader of ’n vriend moet gesels. Jou maat moet weet dat jy daardie stap geneem het, al veroorsaak dit aanvanklik bespotting, maar op die lange duur behoort die impak van sy woorde tot hom deur te dring.
- Stem saam oor ’n strategie. Sodra die probleem ter tafel gelê is, moet julle ’n strategie ontwikkel. As jou maat bereid is, kan julle saam hieraan werk, en as jy vir berading gaan, sal jou berader jou hiermee help. As jou maat egter nie bereid is om saam te werk nie, moet jy jou eie strategie uitwerk en dit aan jou maat voorlê. Jy kan byvoorbeeld aan hom sê dat jy nie die uitbarstings kan hanteer nie, en as dit weer gebeur, jy ’n paar dae wil weggaan om daarvan te herstel – nie om hom te straf nie, maar om regtig tot verhaal te kom. Moet nooit toelaat dat sy mishandeling ‘werk’ nie. As jy aan sy versoeke toegee, word die mishandeling aangemoedig.
Moet veral nie glo wat jou verbaal mishandelende man jou toesnou nie. Onthou, jy kan nie jou man se besluite bestuur nie. Jy is nie verantwoordelik vir sy gedrag nie, maar vir jou eie gedrag, en jy kies wat jou reaksie op daardie mishandeling sal wees…
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!