Die egskeidingsyfer is hemelhoog. Trou is peperduur. En om soos kat en hond te baklei oor die tandepasta-buisie, is nie jou idee van pret nie. Tog trou mense al eeue lank – dit is ’n praktyk wat nie gou sal verval nie. Hoekom nie? Want trou is steeds ’n goeie plan.
Soos die meeste vroue, is ek is ’n sucker vir ’n mooi troue. Die romanse wat saam met parfuum en vars blomme in die lug hang, die spierwit rok, oulike blommemeisies en die oomblik wanneer die bruidegom sy jong bruid die kerk sien binnestap, is priceless. En vir die getuies is dit ’n wonderlike geleentheid om ’n paar sentimentele krokodiltrane te stort.
Maar die skeptiese enkelinge tussen ons het ook ’n paar argumente wat hulle aanvoer as redes waarom trou nie meer relevant is nie. Een hiervan is dat formele papierwerk dikwels ’n goeie verhouding omverwerp. Hoekom sal jy wil trou as saamwoon jou alles bied wat jy nodig het, sonder die kompleksiteit wat ’n huwelikskontrak bring?
Ons gee jou ’n paar goeie redes:
Trou is steeds ’n goeie idee, want:
1. Jy het jou beste maat by jou – heeltyd! Maak jy die regte keuse in ’n lewensmaat, gaan jy nie iemand kies wat nié een van jou gunsteling mense is nie. Jy kies tog jou eggenoot omdat jy baie van hom/haar hou, en hoe lekker is dit nie om jou beste maat voortdurend by jou te hê nie?
2. Elke kind verdien ’n formele familiestruktuur. Daar is heelwat navorsing om dié feit te ondersteun. Kinders wat in getroude gesinne grootword, is onder andere meer geneig om tersiêre onderrig te ontvang, minder geneig om fisiek of seksueel misbruik te word, minder geneig tot alkoholmisbruik en jeugmisdaad, en het ’n kleiner risiko om self eendag te skei.
3. Jul liefde is iets om te vier! Om in ’n skeptiese samelewing iemand te vind wat jou sinne voltooi en wat jou warm om die kraag en om die hart laat voel, is ’n wonderlike gevoel – iets wat nooit as vanselfsprekend aanvaar mag word nie, maar gevier moet word.
4. Dit is lekker om huis toe te kom na iemand wat bly is om jou te sien. Die lewe daar buite is beslis nie vir sissies nie. Wanneer jy ’n rowwe dag op kantoor gehad het, jou baas met jou die vloer gevee het, jy jou koffie omgestamp het en boonop slegte griep opgedoen het, is dit lekker om nie by ’n leë huis in te stap nie, maar in die arms van iemand om vir jou te vertel dat alles okay gaan wees.
5. Jy kan meer oor jouself leer deur ervarings met hom/haar te deel. Mense skaaf mekaar en ons het ander nodig om ons tot beter mense te slyp. Jou maat was gevorm vóór hy/sy jou ontmoet het, maar soos wat julle saam in jul verhouding groei, word hierdie dinge deur jou verhouding gekultiveer – dit kan alles bydra tot jul verhouding, sê Daniel Passini, skrywer van die blog Living By Christ.
6. Navorsing wys dat dit jou ’n gelukkiger mens maak. Wetenskaplikes het gekyk na bevindings van twee ondersoeke wat in die Verenigde Koninkryk gedoen is om ’n verband te vind tussen mense se vlakke van geluk, en of hulle getroud was of nie. Daar is bevind dat die getroude lewe baie beter is vir mense se algehele geestesgesondheid.
7. Jy het iemand nodig om saam met jou deur dik en dun te staan. Stel jouself voor dat jy vandag die wonderlikste nuus ter wêreld ontvang het, maar niemand het om dit saam met jou te vier nie. Stel jou ook voor dat jy ’n baie slegte tyding ontvang, maar alleen aan jou swaar nuus moet dra. Dis net soveel lekkerder om die goeie tye saam met ’n maat te vier en op dieselfde maat te steun om jou deur die minder goeie tye te dra.
8. Die huwelik kan jou langer laat leef. Navorsers aan Harvard Universiteit het bevind dat getroude mense baie meer geneig is om prostaat-, long-, kolon- en ander kanker vroeg op te spoor en behandeling hiervoor te ontvang as hul ongetroude eweknieë. Die studie toon ook dat getroude mense minder geneig is as enkellopendes om aan kanker te sterf. (mensjournal.com)
9. Dit behels spirituele, fisieke en geestelike eenheid. Intimiteit is die teenoorgestelde van eensaamheid en diep in elke mens is ’n hunkering na intimiteit, skryf Gary Chapman op sy webtuiste, www.5lovelanguages.com. Die huwelik is ontwerp om daardie diep soeke na intimiteit te vervul, meen hy. Dit is die samekoms van twee siele op die diepste maniere moontlik, wanneer twee lewens intellektueel, emosioneel, sosiaal, spiritueel en fisiek een word.
10. Die huwelik hou jou veiliger. Sielkundiges en navorsers aan Ohio State University meen getroude mense neem minder risiko’s en is minder geneig om dwelms te misbruik as ongetroude mense (selfs ook minder as saamwoon-paartjies), meen die webtuiste www.webmd.com.
11. Die huwelik dwing ons om verantwoordelikheid vir ons keuses te neem. Om te trou, is om ’n doelbewuste keuse te maak om jou maat elke dag te kies. As jy nie getroud is nie, is dit maklik om jou rug te keer op die keuse wat jy gemaak het en daarvan weg te stap. Die gesonde uitweg is egter om verantwoordelikheid te neem vir jou keuses en dit te máák werk.
12. Die huwelik is God se idee en dit bring seën oor jou lewe. God was van die begin af die ontwerper van die huwelik en dit het nog nooit verander nie. Sy plan is dat man en vrou God se aard sal reflekteer waar hulle ook al gaan, saam sal werk in ’n eenheid, ’n getuienis sal wees van God se ontsaglike liefde vir die mensdom en kinders sal grootmaak om Hom te dien. (startmarriageright.com)
Dit is slegs twaalf van die talle voordele wat die huwelik vir paartjies inhou. Wanneer ’n mens na nommer twaalf kyk, is dit duidelik waarom die huwelik só voordelig is – dit is hoe God wil hê ons ons liefde moet leef. Ja, die huwelikskontrak kompliseer dalk dinge, maar wie het ooit gesê die liefde moet eenvoudig wees?
In die woorde van Dave Willis: “Goeie huwelike gebeur nie deur geluk of per toeval nie. Dit is die gevolg van ’n konstante belegging van tyd, bedagsaamheid, vergifnis, toegeneentheid, gebed, wedersydse respek en rotsvaste toewyding tussen ’n man en ’n vrou.”
Addisionele bron: “Why marriage matters: 26 conclusions from the social sciences,” Bradford Wilcox, Institute for American Values.