Is jou man ook een van daardie ouens wat elke nuwe gadget op die mark móét hê? Die gevolg is hope en hope klein kabeltjies! As hierdie kabeltjies jou tot raserny dryf, maak die volgende slim plan!
Gaan koop ’n stukkie kunsleer by ’n materiaalwinkel van sowat 20cm x 80cm.
Sny nou die een punt in ’n hoekvorm en werk ’n lussie aan die regte kant bo-op die gepunte stuk vas. Maak ’n knoop aan die ander kant vas. Lê die stuk kunsleer horisontaal voor jou neer. Nou neem jy ’n messie en maak snitte in die leer. Begin sowat 10cm van die kant af en maak twee horisontale snitte van sowat 3cm lank. Maak die onderste snit 1cm onder die boonste een.
Steek nou die opgerolde kabel daardeur (aan die verkeerde kant van die leer). Maak genoeg “paarsnitte” om (op die meeste) sowat tien kabels te akkommodeer. Rol dit op en knoop die pak toe.
Jy kan ook sulke verskillende “sakke” volgens handelsmerk maak en sorteer.