As die krag afgaan in ’n openbare plek, klink die geluide van teleurstelling in ’n massa op. Maar as daar een voordeel is vir die gereelde beurtkrag wat ons deesdae beleef, is dit dat ’n tekort aan doen-dinge ’n mens na mekaar toe laat draai. Trek voordeel uit jul volgende geskeduleerde beurtkrag-beurt!
’n Ete vir twee is meestal romanties. ’n Ete vir twee by kerslig is altyd romanties. En ’n ete vir twee by nét kerslig (sonder enige elektriese gloede wat vanuit ’n ander kamer skyn) en met ’n bottel goeie wyn neem romanse na ’n heel ander vlak! Voor jy weer deelneem aan die een of ander Eskom-grappie en beledigings toesnou wat die kragreus nie kan afwas nie, laai ’n beurtkrag-toep af op jou selfoon (as jy nie reeds het nie) en kyk wanneer is jul volgende laataand geskeduleerde sessie. Teken groot aan: Date night! Die idee is dat julle ’n heel eenvoudige en doenbare spyskaart vooraf voorberei en jou wyn kies om hierby te pas.
TER VOORBEREIDING
Dink aan donker fluweelkleure – dit lyk luuks en herinner aan ’n tyd toe daar nie elektrisiteit was nie. Koop of leen antieke silwerware, en dek ’n tafel vir twee met ’n antieke gevoel in jul slaapkamer. Dit is ook belangrik om mooi aan te trek vir die geleentheid – jy kan selfs ’n aandrokkie uithaal vir die geleentheid as jy só sou voel. Die geheim van vanaand se voorbereiding is dat jy jou tyd baie mooi moet bestuur – julle weet presies hoe laat die krag afgaan en dan moet alles gereed wees sodat jul afspraak kan begin. Kry al die kerse wat jy moontlik in die hande kan kry en pak hulle oral in jul slaapkamer op verskillende hoogtes (hou dit net ’n veilige afstand vanaf die gordyne en ander vlambare materiaal).
MUSIEK-VOORSTELLE
Onthou, daar gaan nie elektrisiteit wees nie! Miskien het julle ’n klankstelsel wat vooraf kan laai, in welke geval julle die volgende musiek kan gereed kry daarvoor. Indien nie, die stilte kan net só romanties wees . . .
*Dance with Dragons – Brunuhville
*Disney’s Tangled Soundtrack Track 14 – Kingdom Dance
*Swords of A Thousand Men – Tenpole Tudor
*Be Mine Tonight – Blackmores Night
VOG-VOORSTELLE
SJEF ANTOINETTE Sê: My aanbeveling vir wyn is Wildekrans se Chenin Estate 2014 / Pinotage Estate 2013
SPYSKAART:
VOORGEREG
Komkommerslaai met ’n avokadopeer- en heuning-slaaisous.
HOOFGEREG
Varklende met ’n romerige kruie-wynsous.
Franse groenboontjies met geroosterde neute en rooibosbessies.
NAGEREG
’n Sexy middernagfees.
RESEPTE
Komkommerslaai met ’n avokadopeer- en heuning-slaaisous
Vir die slaaisous:
½ avokadopeer
Sap van een suurlemoen
10ml vars knoffel, gemaal
30ml heuning
30ml mayonnaise
’n Knippie sout
Metode:
1. Vroulief, maak jy die slaai. Voeg al die bestanddele saam in ’n mediumgrootte mengbak.
2. Whiz met jou stokkiemenger tot baie glad en romerig.
3. Proe en geur na smaak – as jy dit soeter verkies, kan nog heuning bygevoeg word.
4. Hou in die yskas tot benodig.
Vir die slaai:
1 komkommer
1 wortel
½ rooirissie, in fyn en dun skyfies gesny
15ml ryswyn-asyn
1,25ml sout
1,25ml suiker
Metode:
1. Sny die komkommer en die wortel met ’n groenteskiller in dun lint-repe.
2. Meng die ryswyn-asyn, sout en suiker, giet oor die komkommer en wortel-linte saam met die rooirissie. Meng dit liggies en plaas in ’n mooi opdienbak.
3. Hou in yskas en giet die avokado- en heuning-slaaisous oor net voor opdiening.
Varklende met ’n romerige kruie-wynsous
Bedien twee.
30ml kanola-olie
2 knoffelhuisies, vel verwyder en elk in die lengte deurgesny
15ml vars roosmaryn, gekap
30ml vars salie, liggies gekap
500g vark-lendeskywe of selfs een varkfillet
160ml droë witwyn
Sout en varsgemaalde swartpeper
80ml hoenderaftreksel
60ml room
5ml mielieblom
1. Manlief, pak jy hierdie vleisresep aan! In ’n groot pan met ’n bypassende deksel, verhit die olie oor ’n matige hitte en braai die knoffel, roosmaryn en salie vir ’n minuut.
2. Voeg die varklende bo-op die gebraaide kruie en braai vir ongeveer 5 minute aan elke kant. Verwyder die varklende uit die pan en hou eenkant.
3. Giet die witwyn onmiddellik in die pan en skraap die bodem van die pan om seker te maak al die lekker geure word ingemeng. Kook tot die sterk alkoholreuk weg is, vir ongeveer 2 minute lank.
4. Verlaag die hitte en plaas die varklende terug in die pan. Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Bedek die pan met ’n deksel en prut vir ongeveer 1½ uur. (As jy filette gebruik, sal 30-40 minute voldoende wees.) Onthou om die varklende om te draai en die vloeistof dop te hou ná elke 20 minute – as die vloeistof min raak, kan jy ’n bietjie water byvoeg.
5. Verwyder nou die varklende uit die pan en hou dit eenkant om effens te rus. Gooi die hoender-aftreksel in die pan en stel die hitte ’n bietjie hoër. Skraap die pan weer om alle geure van die bodem af te kry. Verwyder van die hitte en roer die room by.
6. Meng die mielieblom met 10ml water in ’n klein mengbakkie. Plaas die pot terug op ’n baie lae hitte. Moet glad nie die mengsel laat kook nie, dit sal ’n tragiese eindresultaat hê!
7. Voeg bietjies-bietjies van die mielieblom-water by en hou aan met roer oor ’n baie lae hitte tot jy die korrekte tekstuur het volgens jou keuse. Proe en geur na smaak.
8. Plaas die vark op ’n kapplank (voel vry om van die vleissappe terug te giet in die pan saam met die sous, wat uitgeloop het uit die lende) en sny in dun skywe, plaas op ’n opdieningsbord en bedruip met jou lieflike wyn-roomsous.
Franse groenboontjies met geroosterde neute en rooibosbessies
(As dié resep na te veel moeite klink, los dit en bedien jou varklende bloot saam met lekker kapokaartappels.)
350g Franse groenboontjies – verwyder net die stammetjie (die sterte lyk fraai!)
15ml olyfolie
60ml geroosterde, gemengde neute, effens rofweg gekap
30ml gedroogde rooibosbessies
Sout en varsgemaalde swartpeper
1. Verhit ’n groot pot met water en minstens 15ml sout tot kookpunt.
2. Sodra die water kook, voeg die boontjies by en kook vir 4 tot 6 minute lank.
3. Terwyl die boontjies kook, meng die olie, neute en rooibosbessies in ’n groot mengbak.
4. Dreineer die boontjies en verfris in yswater. Verwyder onmiddellik en voeg by die olie, neute en rooibosbessies. Meng goed deur en geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
NAGEREG
Julle nagereg begin met ’n romantiese sterrekyk! Julle kan dit op twee maniere doen . . . óf julle kan vir eers al die kerse uitblaas en buite op ’n piekniekkombers lê (as julle veilig voel om dit te doen). Omdat die hele buurt beurtkrag het, behoort die omgewing donker genoeg te wees sodat julle die sterre op hul mooiste sal kan sien. Só nie, kan julle jul eie naglug maak uit gloei-in-die-donker sterre, reg bokant die bed! Gebruik ’n bottel gloei-in-die-donker verf en verf jul eie naglug teen die plafon (dit sal beteken dat dit ’n permanente toevoeging tot jul slaapkamer-dekor sal wees, tot julle besluit om dit weer toe te verf) of julle kan plakkers kry wat julle vooraf aanlyn op Amazon.com kan bestel. (Die pakkies bevat sowat 400-500 sterre in verskillende groottes. Julle kan besluit of julle regte konstellasies wil bou of jul eie patrone.) Sodra julle gereed is, blaas al die kerse uit (behalwe vir een) en gaan sit poedelnaak onder jul sterrehemel vir ’n malvalekker-braai. Julle kan jul afspraak “mak” hou deur bloot die malvalekkers te eet, maar ons kan aan soveel ander kreatiewe dinge dink wat jy met ’n gesmelte malvalakker kan doen! Plak die gesmelte malvalekkers oral op jou maat se lyf voor jy dit eet (van jou maat se lyf af natuurlik). Jy kan die fees nog lekkerder maak deur sjokolade oor ’n teeliggie te smelt en die malvalekkers daarin te doop . . . dan het jy boonop ook nog gesmelte sjokolade-lyfverf om jul aand ekstra spesiaal te maak!