Om verlief te raak is eenvoudig . . . Om lief te bly, is ’n perd van ’n ander kleur en baie moeiliker as wat jy dink. Is dit ooit moontlik vir twee mense om verlief te raak en bymekaar te bly?

Verhoudingskenner, skrywer en spreker Andy Stanley verduidelik in Staying in Love hoe jy die skynbaar onmoontlike kan regkry. Andy leer ’n mens op ’n eenvoudige, gemaklike en humoristiese manier dat die voorbeeld van hoe huwelike moet wees nié van die mense en media rondom ons behoort te kom nie. Dié reeks bestaan uit vier dele van ongeveer 40 minute elk met die titels Die Juno-dilemma, ’n Nuwe voorbeeld om na te volg, Om dit te voel en Multikeuse-huwelik.

Deel 1: Die Juno-dilemma

Andy skop die eerste deel af met ’n verwysing na die fliek Juno. Die fliek gaan oor ’n tienermeisie wat swanger raak en dan moet besluit wat om te doen. Sy gaan aanvanklik na ’n aborsiekliniek en besluit dan dat dit nie is wat sy wil doen nie. Haar ouers is geskei en sy bly by haar pa en haar stiefma in ’n middelklas-woonbuurt. Sy besluit uiteindelik om wel geboorte te gee aan die baba en die baba te laat aanneem. Sy ontmoet daarna die paartjie wat graag haar baba wil aanneem en besef dat daar probleme tussen hulle is. Haar verhouding met haar kêrel is rampspoedig, haar ouers se verhouding is rampspoedig en die paartjie wat haar baba wil aanneem se huwelik is in ’n krisis.

Sy het in die fliek ’n wonderlike gesprek met haar pa en vra dan vir hom ’n vraag wat volgens Andy baie diepsinnig is.

“I guess I wonder if people ever stay together for good . . . like people in love. Dad, I just need to know if it is possible for two people to stay happy together forever?” Wat ’n goeie vraag! Baie mense glo dat dit moontlik is vir hulle. Ten spyte van dit wat jy rondom jou sien, of wat in jou vorige verhoudings of huwelik gebeur het of wat in jou ouers se huwelik gebeur het, is daar iets in elkeen van ons wat glo dit is moontlik. Om die waarheid te sê, ons glo dit is moontlik vir óns. Jy hou aan die grashalm vas dat jy dit moontlik eendag gaan regkry op een of ander manier. Mense gaan na julle kyk en dink: “Sjoe, kyk hoe oud is hulle en hulle is steeds verlief.” Jy glo dat dit ’n moontlikheid vir jou is, ten spyte van wat die samelewing en vorige ondervinding vir jou sê. Andy glo dit is ’n klein bietjie van die beeld van God binne-in jou wat jou dit laat glo. Ons glo ons sal ons huwelik sáám voltooi.

Makliker én moeiliker

Dit is verseker moontlik om verlief te bly, maar dit is nie waarskynlik nie. Hy skerts dat die enigste vereiste om verlief te raak, ’n polsslag is. “Sommige mense is selfs verlief op mense wat hulle nie eens ken nie. Mense wat op die televisie is. Sy lees dalk die nuus, maar jy is verlief op haar,” verduidelik Andy. In die VSA is daar ongeveer 1 500 webtuistes waar jy mense kan ontmoet. Deur middel van die media en sosiale netwerke was dit nog nooit makliker om verlief te raak nie. Maar die ander kant van die munt is ook waar: Dit was nog nooit moeiliker as in vandag se tyd om verlief te blý nie. Daar is iets in my en jou wat daardie spesiale een wil ontmoet en die lewe saam met hom of haar wil klaarmaak. Ons wil nie net in ’n verhouding wees nie, ons wil nie net die jare oorleef nie. Ons wil verlief wees en vir mekaar lief bly!

Ons begin ’n verhouding met ’n agterstand

Die probleem is dat baie min mense al rondom hulle mense gesien het wat ná baie jare steeds verlief is. Baie min mense het al ’n gesonde romantiese verhouding beleef. Dit wat aan ons voorgehou word as voorbeelde, is dit wat die situasie vir ons moeilik maak. Dit maak dit byna onmoontlik vir ons om dit reg te kry. Ons word eintlik swak toegerus met die voorbeelde om ons. Die reëls omtrent verhoudings wat aan ons voorgehou word, is verkeerd, en tog is dit presies die reëls wat ons aanleer.

Jy het dalk nog altyd gehoor: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.” Maar in plaas daarvan kies ons om aan ander te doen wat hulle aan jou doen. Jy doen aan ander soos wat jou bui voel. Jy doen aan ander om hulle sover te kry om dinge uit jóú oogpunt te sien. Jy doen aan ander totdat jy hulle aftrek om dinge op jóú manier gedoen te kry. Jy doen aan ander totdat jy gereed is om weg te gaan. ’n Mens sien dikwels mense wat ná jare nog saam oorleef, maar hulle is nie lief vir mekaar nie. Hul verhouding is nie wat jy wil hê nie.

Nog iets wat dit vir ons moeilik maak, is dit wat jy ervaar het terwyl jy grootgeword het. ’n Paar mense het bymekaargekom en ’n lys opgestel van dinge wat ’n kind nodig het om groot te word in ’n versorgende omgewing, om adolessensie agter te laat en as volwassene toegerus te wees om te kan deelneem aan gesonde verhoudings. Hulle het bevind om emosioneel toegerus te wees om deel te kan hê aan langtermyn-verhoudings, moet jy grootword in ’n huis waar jy respek, aanmoediging, gemaklikheid, sekuriteit, ondersteuning, aanvaarding, goedkeuring, waardering, aandag en liefde ontvang. Jy moet hierdie dinge gereeld in groot maat kry, sonder dat iemand in die gesin weggaan.

’n Wurggreep om die nek

As dít is wat nodig is oor ’n lang tydperk vir ons om betrokke te raak in langtermyn-verhoudings as volwassenes, wat is dan jou kans om volkome toegerus te wees om al hierdie dinge te kan doen? Veral as jy iemand ontmoet wat dit ook nie ontvang het nie. Die gevolg vir baie mense is dat hulle volwassenheid binnekom en uitkyk vir iemand van wie hulle al hierdie dinge kan kry. Ek raak dus verlief op jou en noudat ons verlief is, wonder ek of jy vir my respek, aanmoediging, gemaklikheid, sekuriteit en so meer gaan gee? Of is jy net oulik? Of het jy net ’n goeie werk? Want wanneer ons eers verlief is op mekaar, verander dit wat eers ’n drukkie om die nek was in ’n wurggreep om die nek. Gee vir my liefde, gemak en sekuriteit! Ek móét dit kry! Want ek het in hierdie verhouding ingekom met ’n tekort. Ek het wanvoeding in terme van liefde en toegeneentheid en ek gaan dit uit jou druk en jy gaan dit uit my druk.

Nog ’n belangrike faktor is die gebrek aan ’n vaderfiguur. Altesaam 40% van die kinders wat in die VSA gebore word, word groot sonder ’n vaderfiguur. Daar sal geen stabiele manlike invloed wees nie. ’n Mens kan daaroor redeneer soos jy wil, maar iewers in die lewe gaan hierdie kinders sukkel. Dit is nie hulle skuld nie, maar dit is die realiteit. Dit wat ons as kinders ervaar het en dit waarmee ons toegerus word as voorbeelde, maak dat ons nét nie volkome toegerus is nie.

Wees die regte persoon

’n Ander probleem van ons tyd is dat ons ’n ongelooflike lae pyndrumpel het. Iets hoef nie eens baie seer te maak nie, dan laat vaar ons dit. Sodra iets vir ons onaangenaam word, stap ons net daarvan weg. Die dae is lankal verby wat “ja” voor die kansel beteken het dat ek regtig “ja” bedoel en dat ek sal aanhou probeer om aan te gaan, of ek daarvan hou of nie. Die boodskap wat ons elke dag rondom ons kry, is dat as jy nie gelukkig is nie, is jy by die verkeerde persoon. Jy het verkeerd gekies. Dan wil hulle van voor af begin. Hulle glo as jy net aanhou soek, sal jy die régte persoon kry. Elkeen glo dat hy of sy net die regte persoon moet kies! In plaas daarvan om die regte persoon te begin wéés.

Maak liefde ’n werkwoord

In al daardie chaos het Jesus 2 000 jaar gelede gepraat. Hy gee vir ons die basis vir verhoudings. Aanvaar Jesus se lering. Johannes 13:34 sê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Jesus maak liefde ’n werkwoord. As Jesus vir jou vra: “Het jy haar lief?” antwoord jy dalk: “Wel, ek wás altyd lief vir haar . . . ” Jy wag totdat jy die gevoel terugkry, in plaas daarvan om dit te “onderhou”. Die fondament moet wees om liefde ’n werkwoord te maak.

Andy vertel tong-in-die-kies ’n groot geheim rondom dié werkwoord: “The more you make love a verb, the more you’ll make love . . .”

“Julle moet mekaar liefhê . . .” Die vers stop nie daar nie. “Soos Ek julle liefhet.” Moenie die voorbeeld van die samelewing om jou volg nie. Ook nie noodwendig van jou ouers nie. Jy het nie nodig om te leer om verlief te raak nie (as jy ’n pols het, weet jy reeds hoe), maar jy moet leer hoe om lief te bly vir jou maat.

Jy eerste

Jy moet élke dag vir jou maat sê: “Jy is my prioriteit!” Huweliksmaats moet hulself aan mekaar onderwerp – daar moet wedersydse prioritisering plaasvind. Jy moet vir jou maat sê: “Selfs al maak jy my nie jou prioriteit nie, maak ek jou mý prioriteit.” Julle moet elke dag vir mekaar sê: “Jy eerste! Jy eerste!” Maak seker dat sodra jy iemand gekies het, dat jý die regte dinge doen. Kies élke dag om daardie persoon lief te hê.

 

Deur Lize Groenewald