Aanvanklik het jy gedink dat die enigste verskil tussen jou en Manlief die rigting is waarin julle jul koffie roer. Dit is nou drie jaar later en mettertyd het jy agtergekom dat daar amper niks is waaroor julle ooreenkom nie! Die benoudheid kom sit in jou keel . . . gaan hierdie huwelik dit maak?

Promosie

Christine hou van avontuur en is op haar gelukkigste iewers in die boendoes. Michael, daarenteen, raak slegs opgewonde wanneer sy boeke se syfers klop en hy verkies die veilige ruimte van sy studeerkamer. Sy loop kaalvoet, hy dra net ingevoerde, Italiaanse skoene. Christine glo aan ruimtewesens en sy beweer selfs dat een al vir haar ’n pakkie Astro’s aangebied het, terwyl Michael glo dat daar ’n logiese verklaring vir die Bermuda-driehoekmisterie is. Sy slaap op haar rug, hy op sy sy, haar gunstelingete is Persies, syne is boerekos. Vir hom is seks ’n fynbeplande spel wat die regte musiek, die regte bui en die regte onderklere vereis, terwyl Christine se wange ná ’n besemkas-quickie gloei!

Glo dit of nie, maar Christine en Michael is al twaalf jaar lank dolgelukkig getroud. Hulle baklei selde en is so verlief soos die dag toe hulle mekaar ontmoet het. Natuurlik is daar krapperighede (soos enige huwelik het), maar hulle het ’n manier gekry om sáám met hulle verskille te werk.

Bob en Sheri Stritof, huweliksberaders op die webtuiste www.marriage.about.com, is ook teenoorgesteldes wat nou al veertig jaar lank getroud is. Toe hulle mekaar ontmoet het, was Sheri aangetrokke tot Bob se spontaneïteit, kreatiwiteit, ambisie (sy lengte was ’n toegevoegde bonus!) Hy was mal oor die wikkel in haar stap en haar intelligensie en humor. Van hierdie eienskappe wat aanvanklik so aanloklik was, het mettertyd minder oulik geraak. Bob se lengte het beteken dat Sheri se geliefkoosde hangmandjies in die huis ’n definitiewe nee geword het. ”Haar liefde vir lees het Bob laat voel asof hy tweede viool speel as dit by haar boeke kom. Sy spontaneïteit was nie meer pret toe dit beteken het dat Sheri twee kinders in ’n halfuur moes regkry vir ’n onbeplande reis na ’n naburige staat nie!” skryf die paar op die webtuiste. Miskien is die eens speelsheid wat jou so van jou maat aangetrek het, nou vir jou bloot kinderagtig, en die feit dat jou maat voorspelbaar was (iets waarvan jy baie gehou het) verveel jou nou tot die dood toe!

Promosie

Die debat duur voort.
Is jy en die man in jou lewe ’n Christine en ’n Michael, of voëls van eenderse vere? En wat werk beter? Die debat duur voort. Daar is diégene wat beweer dat teenoorgesteldes mekaar juis aantrek om mekaar onderbewustelik aan te vul, en dat eenderse geaardhede kort voor lank koppe stamp en verveeld raak met mekaar. Dan is daar die ander kant wat meen dat teenoorgestelde karaktereienskappe aanvanklik wel opwindend is, maar dat só ’n paartjie se huweliksgeluk op die lange duur gedoem is.

’n Studie wat in 2005 onder 291 jonggetroude paartjies gedoen is, bepaal dat teenoorgesteldes wel aangetrokke tot mekaar kan wees, maar dat eendersdenkendes ’n beter kans het om te trou en lank en gelukkig saam te leef. Die studie het getoon dat paartjies se gevoelens jeens die politiek, geloof en waardes baie sterk ooreenstem, wat daarop dui dat mense maats soek wat ooreenkomste oor groot kwessies deel.

“Die oomblik as mense in ’n toegewyde verhouding staan, is dit hoofsaaklik persoonlikheidsooreenkomste wat huweliksgeluk beïnvloed omdat ’n toegewyde verhouding gereelde interaksie en uitermatige koordinasie in die hantering van take, kwessies en daaglikse probleme behels,” het die navorsers geskryf.” Waar persoonlikheidooreenkomste geneig is om hierdie proses te fasiliteer, kan persoonlikheidsverskille tot meer wrywing en konflik in die alledaagse lewe lei.” Die resultate toon dat ooreenkomste en verskille in houding en persoonlikheid verskillende rolle in verhoudingsontwikkeling kan speel, met elke faktor wat ’n belangrike rol in verskillende fases van die verhouding speel.

Verskille is daar met ’n doel
Christine en Michael, sowel as Sheri en Bob se huwelike bewys egter die teendeel, en gee hoop aan paartjies wat glo dat hul verskille hul huwelik in die afgrond kan dryf. Dit is normaal om soms met jou maat se teenoorgestelde eienskappe geïrriteerd te raak, maar wie kan ooit die bekende frase in die fliek, Jerry McGuire, “You complete me . . .” vergeet. Baie dikwels is dit presies waarna maats in mekaar soek – iemand om aan te vul waar ons tekort skiet.

Op www.tellingthetruth.org skryf Jill Briscoe: “Die feit dat ons verskillend is, kan al die seëninge, al die vreugdes en al die probleme in ’n huwelik affekteer. As God ons verskillend geskape het, moes Hy iets in gedagte gehad het. God het dit vir een huweliksmaat bedoel om die ander een aan te vul waar hy of sy tekortskiet.

Het jy al opgemerk hoe dikwels teenoorgesteldes in huwelike mekaar aantrek? Dit is God se plan – om die gedeelte wat jy het, te neem en dit by die gedeelte wat jy nie het nie, te voeg sodat jy en jou maat een kan wees.” Sy skryf verder: “In God se ekonomie is daar nie plek vir irreconciable verskille nie. Verhoudings gaan daaroor om ons eie behoeftes vervul te kry, dikwels op ’n onderbewustelike vlak. Met ander woorde, ons probeer iemand kry wat komplementêr tot ons staan, en ons kan help om te leer, te genees en te groei nie,” sê Paul Cutright, outeur van die boek, You’re Never Upset for the Reason You Think.

William Ickes, professor in sielkunde aan die Universiteit van Texas en outeur van Empathic Accuracy, meen dat teenoorgesteldes wel in ’n mate mekaar aantrek, anders sou almal op die planeet óf aseksueel of homoseksueel gewees het. ”Maar jy soek vir ’n komplement, nie iemand identies nie,” meen hy.

Susan K Perry, ’n sosiale sielkundige en outeur van die boek, Loving in Flow: How the Happiest Couples Get and Stay That Way, is ook ’n sielkundige vir ’n aanlyn-afspraak agenskap. Sy sê daar is sekere opsigte waaroor ’n paartjie liefs moet ooreenstem, en sy glo dat as ’n paartjie se waardesisteem en die manier waarop hulle tyd wil bestee, verskil, dit tot groot moeilikheid kan lei. Het eenderse mense dan ’n beter kans op ’n stabiele verhouding? Susan sê daar is baie mense wat hiermee saamstem, maar dat stabiel nie noodwendig gelyk aan gelukkig is nie.

’n Oplossing vir teenoorgestelde pole
Natuurlik gaan daar dinge van jou maat wees wat jou irriteer. In enige huwelik werk dit so, of julle nou teenoorgesteldes is, of ooreenstem. Geen huwelikspaar is klone van mekaar nie, en die bron vir konflik is tog verskille. Dit is belangrik om met mekaar te kommunikeer en mekaar van jul verwagtinge en gevoelens te vertel, meen Bob en Sheri. Wil jy regtig hê dat jou maat moet verander?

Waarskynlik gaan sy verstrooide geaardheid hand aan hand met kreatiwiteit, en as hy die dag sy skoene begin optel en sy lessenaar begin orden, gaan hy waarskynlik ophou om jou met bosse veldblomme te verras, of interessante kaartjies vir jou te maak. Maak ’n lysie van wat julle aanvanklike tot mekaar aangetrek het en wat julle steeds van mekaar waardeer. “Soveel hang van ’n paartjie se gewilligheid af om verdraagsaam oor die verskille te wees,” sê Susan. “Dit help as een meer easy going as die ander een is,” meen sy.

So, wat doen jy as jy met ’n teenoorgestelde pool getroud is? Die oorsaak van die meeste huwelikskonflik is nie omdat mense van “verskillende planete” of geslagte kom, soos John Gray in sy topverkoper verklaar het nie, meen dr Ron Shackelford, skrywer van die boek, Married to An Opposite. ”Die algemeenste, alledaagse konflik kom voor as twee teenoorgestelde persoonlikheidstipes probeer om ’n gesamentlike besluit te neem. Hulle sien die situasie vanuit verskillende perspektiewe en as daar nie genoeg waardering en begrip vir die ander persoon se benadering is nie, kan dit groot huismoles veroorsaak!

In sy boek verwys hy na ’n studie wat aangetoon het dat meer as die helfte getroude pare verskillende persoonlikheidsbenaderings tot die vier mees kritiese areas van die huwelik het, naamlik besluitneming, geloofsisteme, energieherlaaïng, en lewenstylvoorkeure. As jy ’n grondige begrip van jul verskille het, kan nuwe liefde geskep word. Hierdie verskille kan wonderlike, persoonlike groei teweegbring.

Leer hoe om verskille doeltreffend te hanteer
Daar gáán konflik in jou huwelik wees; die vraag is egter hoe jy en jou maat potensiële konflik gaan oplos. Hoe meer begrip jy vir die wyse het waarop jy en jou maat konflik hanteer, hoe beter kan julle ’n doeltreffende vorm van konflikhantering in werking stel. As dit een van die areas is waarmee jy en jou maat worstel, kan dit handig wees om ’n terapeut te raadpleeg wat met die Myers Briggs persoonlikheidsvoorkeuremodel werk.

Sommige persoonlikheidstipes sal byvoorbeeld konflik wil uitpraat en ander wil eers stilweg daarop reflekteer. Sommige tipes sal dieselfde probleem raaksien, maar vanuit twee verskillende perspektiewe en sal natuurlik by ’n oplossing uitkom. Daar is persoonlikheidstipes wat ’n konfliksituasie met ’n natuurlike en logiese ‘voordele versus nadele’- benadering wil beredeneer, terwyl ander slegs die persoonlike en emosionele kwessies raaksien.

Terwyl sommige persoonlikheidstipes ’n ernstige dialoog begeer om die wortel van die konflik te kan verstaan, benader ander die probleem sonder om te veel vir ’n oplossing te delf. Hoe dit ook al sy, elke persoonlikheidstipe bring ’n natuurlike en eiesoortige bydrae tot die verhouding. Dit geld nie net vir konflikhantering nie.

Wanneer twee mense by mekaar kom, het elkeen sy eie bydrae ten opsigte van die manier waarop hulle seks verkies, die manier waarop hulle kinders wil grootmaak, die wyse waarop hulle hul tyd wil bestuur, die wyse waarop hulle wil ontspan of probleme wil oplos. Dieselfde geld hul belangstellings, waardesisteme en die wyse waarop hulle geld hanteer. Solank hulle leer om mekaar se bydraes te respekteer en dit tot hul voordeel aan te wend, is daar geen rede waarom ’n paartjie die tipiese vinkel en koljander hoef te wees nie!

Bronne: http://www.cbsnews.com/stories/2005/02/14/health/webmd/main674003.shtml; Luo, S. Journal of Personality and Social Psychology, Februarie 2005; vol 88: pp 304-326. Persvrystelling, American Psychological Association.); (http://marriage.about.com/cs/issues/a/opposites.htm; ( http://www.webmd.com/sex-relationships); (www.personality-power-for-everyday-living.com).