Dit is moeilik genoeg om ’n gewone verhouding te laat werk, maar om kilometers, provinsies en soms selfs ’n oseaan tussen die twee van julle te hê, maak dit nog moeiliker. Tog, suksesvolle langafstandsverhoudings bestaan wel en kán werk. Dít is hoe jy joune ’n kans op oorlewing kan gee en kan laat floreer . . .

Deirdre het Clay, ’n Amerikaanse soldaat, in Oktober 2002 ontmoet – kort na sy van Suid-Afrika na die VSA verhuis het. “Ek het Clay daardie Januarie in ’n universiteitsklas ontmoet. Ons het kort daarna begin uitgaan, direk voordat hy in Mei weg is vir sy basiese opleiding.” Die paartjie het hul verhouding deur middel van briewe en enkele telefoonoproepe voortgesit en besluit om daardie November te trou. “Daar is vir Clay gesê dat hy kort daarna Irak toe moes gaan, wat ’n groot rol in ons besluit gespeel het om vroeër te trou,” vertel Deirdre.

Weg van mekaar . . .

Die paartjie het amper ’n jaar en ’n half weg van mekaar af deurgebring, nadat hulle in 2003 getroud is. “Hy is na Afganistan ontplooi,” sê Deirdre. Clay, ’n valskermtroep, spring gereeld uit vliegtuie en hy bevind hom dikwels in gevaar. “Ek dink nie dis gevaarliker as die moontlikheid van ’n motorongeluk nie,” sê Deirdre. “As ek net op die gevaar fokus, sal ek nie met my lewe kan voortgaan nie.”

Promosie

Vir Deirdre was die besluit om met ’n man te trou wat ‘n groot deel van sy lewe van die huis af sou wees, nie maklik nie. “Dit is al wat ek toe geken het. Hy is ontplooi vandat ons begin uitgaan het, so dit is iets waaraan ek maar gewoond moes raak. Dit maak dinge nie noodwendig makliker nie, maar jy leer om met die verwydering saam te leef.” Sy glo sy is besig om ’n baie sterker vrou te word as gevolg hiervan. “Jy leer om dinge self te doen, waar jy vroeër op jou maat sou staatmaak, soos om ’n gebreekte kar, lekkende yskas en baie laatnag-babavoedings alleen te hanteer. Ek het nou ’n sterk selfbeeld, omdat ek vir myself kan sorg, en kan doen wat ek moet doen om te oorleef, sonder die fisieke hulp van my lewensmaat.”

Hoewel Deirdre so gelukkig is om krag uit haar onafhanklikheid te put, glo sy ook dat ’n wedersydse behoefte aan mekaar steeds ’n noodsaaklike bestandeel vir huweliksukses is. “Selfs wanneer ons weg van mekaar af is, het ons mekaar steeds nodig. Hy verwag van my om dinge by die huis aan die gang te hou, en ek het sy ondersteuning nodig. Die blote gedagte dat ons weer by mekaar sal wees, dra ons deur hierdie lang tye van verwydering.”

Hoe moeilik is dit regtig?

“As ek moet stilsit en dink hoe moeilik dit soms is, sal dit ondraaglik word, en sou ek nie kon aangaan nie,” sê sy. “Dit is die moeilikste ding om sonder die persoon wat jy die liefste op aarde het, oor die weg te kom. Dit is moeilik as ek hoor hoe ons kind na haar pa vra, en nie kan verstaan hoekom hy nie hier is nie, maar ek het nie ’n keuse nie . . . en ek wil nie een hê nie. Ek het die dag toe ons getroud is my aan hom toegewy, en ek het belowe om hom te ondersteun – dit maak nie saak wat gebeur nie,” sê Deirdre vasberade. “Die weermag is sy werk. Sommige vroue se mans gaan op sakebesoeke van twee weke lank, my man gaan weg op ’n jaarlange ontplooiing. Dit is hoe hy in ons gesin se onmiddellike behoeftes, asook vir die toekoms voorsien.”

Hoe bly sy sterk?

Deirdre erken dat sy ter wille van haar dogter sterk bly. “Ek wil haar nie verward laat voel deur te huil en hartseer te wees, terwyl sy reeds verward is oor haar pappa se afwesigheid nie,” verduidelik sy. “Sy weet haar pa is lief vir ons en dat hy eerder by die huis sou wou wees, as hy kon. Sy weet dat hy sal terugkeer en dat ons almal weer saam sal wees. Dít is wat my daartoe in staat stel om sterk te bly gedurende die moeilike tye.”

Deirdre woon naby haar ouers en skoonouers, en sy is ’n tuisblyma. Op die dae wanneer sy ’n behoefte aan alleentyd het, is haar familie meer as bereid om na Ava (haar dogtertjie) om te sien, en dit gee aan haar groot verligting as sy oorlaai voel.

Kommunikasie is die sleutelwoord

Die meeste van die tyd, het Clay ’n e-posadres sodat hy en Deirdre kan kommunikeer, of hy het gereelde toegang tot ’n telefoon, of sy selfoon, wat hulle in staat stel daartoe om te kommunikeer. Hulle probeer ook so gereeld moontlik ‘video chat’ sodat Ava haar pa kan sien en met hom kan gesels. “Dit help haar om dit te hanteer. Sy los grondboontjiebottersoene regoor my rekenaarskerm as sy hom ‘soen’”, vertel Deirdre laggend.

Wanneer drukkies en hande vashou onmoontlik is

“Ek mis dit regtig om fisiek na aan hom te wees. As ’n mens vir soveel maande weg van mekaar af is, vergeet jy hoe dit voel, maar dit maak die kere wat ons wel saam is, soveel te meer spesiaal,” sê Deirdre. “Op die oomblik besoek ek Clay vir ’n paar dae, na ek hom vir ‘n maand lank nie gesien het nie. Ek hou nie sy hand vas sonder om daaraan te dink dat dit binne ’n paar dae weer nie moontlik sal wees nie. Dit maak dat ’n mens mekaar soveel meer waardeer, want jy aanvaar die saamweestye nie as vanselfsprekend nie.”

Om ’n familielewe in te pas

Deirdre en Clay het ’n kind gehad op ’n tyd toe hulle geweet het hy sal ’n ruk nog in die land wees, sodat hy nie te veel van die baba se mylpale of groot gebeurtenisse sou misloop nie. “Hy was kort na Ava se geboorte vir ses maande in ’n ander staat, maar ons kon gereeld kuier, en hy het nie ’n enkele verjaardag of Kersfees misgeloop nie,” sê Deirdre, wat tans hul tweede baba verwag. “Hierdie keer gaan hy egter heelwat van ons nuwe baba se mylpale misloop, dalk selfs die geboorte, maar hy sal terug wees voordat die baba te groot is om te besef dat sy pa nie daar was toe hy klein was nie.”

Om alles bymekaar te hou

As Ava saans bed toe gaan, is Deirdre só moeg dat sy slegs die energie het om ’n paar minute lank televisie te kyk voordat sy self bed toe gaan. “Met ’n kleuter vir wie ’n mens heeldag moet stimuleer, het jy nie soveel tyd om te dink nie,” verduidelik sy.

Deirdre sê sy en Clay laat dinge werk, omdat hy sy werk gekies het, en hy dit geniet om sy land te dien. “Ek is lief vir my man en my kind, en ek hou daarvan om die vrou van ’n soldaat te wees. Ek is baie trots op hom en op wat hy doen, en ek weet dat hy ook op my trots is . . .”

Oorkom die afstand

Hier is ’n paar wenke om ’n langafstandsverhouding te laat werk:

1. Vra die belangrike vrae van die begin af, sodat julle albei duidelikheid oor die aard van die verhouding het. Stel parameters daar, soos om jul verhouding te benoem (‘ons gaan uit’, ‘ons sien mekaar’, ‘ons is net vriende’ of ‘ons is verloof’) en definieer dit as eksklusief, of nie-eksklusief. Dit kan moeilike en ongemaklike vrae wees, maar dit sal later baie hartseer en misverstand spaar. Deur ’n einddoel daar te stel, sal elkeen uit die verhouding kry wat verwag word.

2. Doen dinge saam. Dit is belangrik om ander dinge, behalwe klets oor die foon, saam te doen. Inkorporeer ander vorme van interaksie. Mense in kortafstandsverhoudings bestee nie al hul tyd aan praat nie, maar aan saam dinge doen. Probeer terselfdertyd na ’n televisieprogram of ’n fliek kyk, en bel mekaar dan om dit te bespreek.

3. Kommunikeer elke dag. Doen dit meer as een keer per dag as dit moontlik is. Aangesien julle mekaar nie sien nie, is dit belangrik om ’n emosionele verbintenis te vestig en te behou. Dit hoef nie altyd lang, ernstige gesprekke te wees nie, maar vertel mekaar van die vreugdes en tragedies wat julle ervaar het, of vra mekaar se raad. Gebruik teks, voicenotes of skype vir direkte gesprekke, of videogesprekke vir visuele kontak.

4. Trek voordeel uit jul langafstandsverhouding Dink aan die volgende voordele: Meer tyd saam met vriende en/of familie, geen argumente oor die toiletsitplek nie, die blye weersiens na ’n lang afwesigheid, ensomeer. Om weg van mekaar af te wees, gee ’n mens die geleentheid om jou individualiteit te behou – iets wat verlore kan raak as paartjies al hul vrye tyd saam bestee.

5. Jaag gedeelde belange na, selfs al beteken dit dat julle dit afsonderlik moet doen. Lees ’n spesifieke boek op dieselfde tyd. Kyk vir die sterre terwyl julle oor die telefoon gesels, laat julle wekkers elke dag op dieselfde tyd afgaan en sinkroniseer jul horlosies. Maak ’n punt daarvan om aan mekaar te dink wanneer die wekker lui, en geniet die feit dat hy of sy ook aan jou dink. Kry kreatiewe maniere om ’n hegte band te smee.

6. Vermy die versoeking om jou maat te wil beheer. ’n Mens het ’n vrye wil en niemand mag ’n ander mens beheer nie. Sodra een van julle besluit die ander een is nie ’n goeie maat nie – of iemand anders is ’n beter maat – sal dit die einde van jul verhouding wees, of julle nou twee strate of 3000 kilometer van mekaar af is.

7. Kuier gereeld. Probeer tyd maak om mekaar so gereeld moontlik te besoek. ’n Verhouding kan nie net op telefoonoproepe floreer nie. Dit is belangrik om mekaar soveel moontlik te sien. Die sleutel is om ’n paar reëls oor die gereeldheid van kommunikasie en besoeke vas te lê en daarby te hou.

8. Vermy jaloesie en bou vertroue. Een van die maklikste maniere om ’n perfek gesonde verhouding te vernietig, is om dit met jaloesie te vergiftig. Wanneer julle ’n langafstandsverhouding begin, moet julle realisties oor die probleme wees wat voorlê. Dit help om ’n verhouding te begin met die aanname dat jou maat onskuldig is en jou vertroue verdien, tot hy of sy die teendeel bewys. Moenie in die slaggat trap om jou maat te ondervra elke keer as hy saam met ander ’n drankie gaan drink het, of nie dadelik bel as jy ’n boodskap gelaat het nie. Elkeen moet sy of haar individuele, sosiale aktiwiteite behou.

9. Bly positief ter wille van jul verhouding. Gebruik die ekstra tyd wat jy het om jou belange en loopbaandoelwitte na te streef en jou stokperdjies te beoefen. Solank as wat julle die langtermynverhouding as ’n tydelike uitdaging sien, sal julle ’n gevoel van sekuriteit en geluk aan mekaar kan oordra.

10. Gee vir hom ’n persoonlike objek, iets wat aan jou behoort, en wat hy in krisistye, of as hy jou mis, kan vashou. Dit sal hom herinner aan hoe dit voel om by jou te wees.

Artikel deur JODY BOSHOFF

Addisionele bron: www.wikihow.com