Die Augustus-winde loei ongenadig en ’n mens kan nie help om hierdie tyd van die jaar half bedruk te voel nie. Te midde van ysige weer vertel ’n vriendin dat hulle hele maatskappy buite op straat gaan slaap ten bate van liefdadigheid en ek dink: “Sommige mense gee in woord en daad … en ander nie.”
’n Hele paar winters gelede stop ek eendag by ’n verkeerslig waar twee emigrant-boeties daagliks bedel. Hul T-hempies is geskeur en die een se kortbroek het ’n groot gat in.
Kleinboet, wat goed vanuit sy karstoeltjie by die venster kan uitsien, kyk af na die ene wat langs die kar op sy knieë staan en smeek. Hy hou sy biddende hande op en kyk met ’n halleluja-gesig vir boet stip in die oë. “Shame … ek dink nie hy het ’n mamma nie,” kom die simpatie-pyne deur.
Waar my sug toe val, sal geen gras ooit weer groei nie, maar ek gaan nou deur hierdie episode moet worstel. Ons besluit saam om by die huis twee hemde, twee broeke en té klein baadjies in Ouboet se kas te soek.
Só gesê, só gedaan. Hy klim op sy stoeltjie in die kombuis en smeer toebroodjies. Twee broodjies vir elk van die verkeerslig-wesies. “Hulle sal hou van katjiebotter en stroop,” prewel hy vir homself en lek die mes so nou en dan af.
Die volgende middag volg ons dieselfde roete op soek na die koue, honger boeties. Kleinboet oorhandig met trots sy skenking en die pakkies word met opregte dankbaarheid ontvang. Ek kyk vir hom in die truspieëltjie en sien die vreugde van GEE op sy klein gesiggie.
Maar helaas, toe hy die volgende middag sien sy liefdadigheidsprojek staan weer en bibber in die stukkende klere, kon hy sy verbasing en teleurstelling nie in sy beperkte woordeskat uitdruk nie.
Ek verduidelik dat hulle die stukkende klere moet aantrek om simpatie te kry, sodat mense vir hulle jammer voel. Dit beteken nie noodwendig dat hulle nie warm klere het om aan te trek nie. Hy draai die venster af en sê in sy kwaaiste stem: “Gaan weg! Ek is klaar met julle!”
Ek soek nou al ’n geruime tyd na die korrekte vertaling van die Engelse woord “indifference”, maar Afrikaans kry dit nie raakgevat nie. Sommige mense gee om en ander is “indifferent”. “In-between cruelty and compassion.” ’n Vreeslike plek om te wees.
Twee bedelaarseuns wat net probeer oorleef, het my kind ’n swaar les geleer, maar ek verduidelik dat daar baie maniere is waarop jy kan sê of wys dat jy omgee:
- Om vir iemand te vra hoe dit gaan en dan met aandag te luister, beteken: “Ek gee om.”
- “Maak jou veiligheidsgordel vas” beteken: “Dit sal my breek as jy in ’n ongeluk moet wees, want ek het jou lief.”
- “Onthou jou kosblik” beteken: “Dit sal vir my sleg wees om te dink jy is een hele oggend honger, want ek het jou lief.”
- “Trek ’n baadjie aan” beteken: “Ek sal eerder self wil siek wees as om jou te sien ly, want ek het jou lief.”
- “Hou vas my hand” beteken: “Ek sal jou veilig oor hierdie pad en nog baie paaie help, want ek het jou lief.”
Hy dink so ’n rukkie na en vra: “Soos wanneer Pappa vir jou koffie bring en jy ’n kombers oor hom gooi as hy voor die TV slaap?”
“Ja, net só.”
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!