Neem jou kinders soveel tyd en energie in beslag dat jou huwelik daar onder ly? Hersien jou prioriteite en alles mag dalk net in plek val…
Vra ‘n ma wie kom eerste – haar man of haar kinders – en haar antwoord sal hoogs waarskynlik laasgenoemde wees. Dis deel van die moedersinstink: Jou man is ‘n uitgevrete lummel, maar jou bloedjies is afhanklik van jou om hulle te versorg en emosioneel met liefde te oorlaai.
Vra ‘n huwelikskenner wie eerste behóórt te kom en die antwoord is onomwonde: Jou huwelik. Vir baie ma’s klink dit verregaande om die huwelik bó die kinders te stel. Hoekom? Jy glo jou huwelik het jou minder nodig as jou kinders en jy voel dat jou huwelik sál oorleef sonder jou onmiddellike toewyding – maar nie jou kinders nie.
Feit is: Huweliksgeluk is een van die grootste geskenke wat jy jou kinders kan gee. Om te werk aan jou huwelik, werk jy onbewustelik (maar baie ywerig!) aan jou kinders se welstand en toekomsgeluk. Bou aan jou huwelik, en jy bou aan jou kinders!
Ons is getroud – is dit nie genoeg nie?
Die invloed van egskeiding op kinders is alombekend. Kinders uit geskeide huise is geneig om swakker op skool te presteer, meer gedragsprobleme te ontwikkel en probleme met verhoudings en sosiale interaksie te hê wanneer hulle ouer word. Daar is kwessies soos obesiteit, verslawing, ‘n geneigdheid tot kriminele gedrag en later probleme in hul eie huwelike…
Maar wees versigtig, want ook die gehalte van jou huwelik beïnvloed jou kinders op ‘n baie direkte vlak. Kinders wat bó eggenote gestel word, is geneig om meer behoeftig en meer onseker van hulself te wees as kinders uit ‘n huisgesin waar die huwelik eerste prioriteit geniet.
In ‘n huwelik waar frustrasie hoogty vier en konflik gevolglik ‘n problem is, kry kinders meer emosionele probleme, sosiale probleme en fisieke gesondheidsprobleme wanneer hulle ouer is (insluitende immuunstelsel-probleme, hartsiektes, depressie, emosionele reaktiwiteit, verslawing, eensaamheid en probleme met intimiteit).
In huwelike waar ouers te moeg is vir konflik en gevolglik passief baklei (met tegnieke soos konflikvermyding en onttrekking) is die effek op kinders selfs meer destruktief. Kinders kom agter iets is fout (wat tot spanning lei), maar hulle weet nie wat of hoekom nie en dit is vir hulle moeiliker om by hierdie onsekerhede aan te pas. Chroniese stress as gevolg van herhaalde blootstelling hieraan, kan lei tot kinders wat bekommerd, angstig, kwaad, aggressief, siek en moeg is. Dit kan ook lei daartoe dat hierdie kinders akademies worstel.
Die teenoorgestelde is egter ook waar. Deur gesonde liefde vóór jou kinders aan jou maat te bewys kan hul emosionele gesondheid ‘n groot hupstoot gee. “Wanneer ‘n kind grootword in ‘n huis wat liefdevol is op verskeie maniere – deur fisieke aanraking, mooi woorde en dade, deurdagte diensbaarheid teenoor mekaar – sal hulle natuurlik aangetrek word deur ‘n lewensmaat wat dieselfde eienskappe openbaar,” vertel gedragsterapeut Cara Day.
Susan Orenstein sê aan P&G Everyday dat om jou liefde aan jou maat te wys, jou kinders meer selfversekerd en stabiel laat voel – wat beteken dat hulle kind-wees kan geniet.
“Kinders wie se ouers se verhouding afgekoel het, is meer geneig om gedrags- of akademiese probleme te hê as die kinders van gelukkige paartjies,” meen Philip Cowan, ‘n professor aan die Universiteit van Kalifornië, wat jare lank gesinne saam met sy vrou, sielkundige Carolyn Pape Cowan, bestudeer het. Hy verduidelik dat ‘n mens aan jou verhouding moet dink as ‘n emosionele omgewing waarbinne jou kinders leef. Net soos jy wil he hulle moet skoon lug inasem en suiwer water drink, so wil jy hê hulle moet grootword in ‘n liefdevolle atmosfeer.
‘n Kindergesentreerde huwelik
In die meeste huwelike kom degenerasie van huwelikskwaliteit soos ‘n dief in die nag. Jou eerste paar jare van getroud wees is wittebroodsdae. Julle stel mekaar eerste, daar is niemand anders wat afhanklik van jul aandag is nie, julle kry genoeg slaap en jul stresvlakke is redelik beperk. Dan word die babas gebore en alles verander… skielik verskuif jul fokus na die afhanklike bondeltjies en ál julle energie, tyd en moeite word in ouerskap belê. Noodgedwonge word jou huwelik op die agtergrond geskuif.
Natuurlik dink jy dis krisisbestuur en slegs ‘n tydelike reëling, maar voor jy jou oë uitvee, is daar ‘n patroon: Die seks raak skaars, want julle is moeg. Die gesprekke raak min en gebroke, want daar is altyd ‘n klein mensie wat ook ‘n woord wil inkry, ‘n peuselhappie vereis, of in die bed gesit moet word met ‘n slaaptydstorie. Date nights raak ‘n vae herinnering, want nie net is daar niemand wat jul kinders kan oppas nie, elke laaste sent word nou eerder aan babastoeltjies, kinderkamers, kleuterskole en universiteitsfondse bestee…
Nee, nie een van julle is waarlik gelukkig of vervuld op ‘n romantiese vlak nie, en albei voel afgeskeep maar julle oorlééf en glo dit sal beter raak. Soos wat die kinders ouer raak, is daar egter elke keer nuwe eise… tot hulle groot genoeg is om self te begin funksioneer. Maar teen dié tyd het jy en jou maat al vergeet hoe om huweliksmaats te wees. Baie min paartjies kry hul pad terug sonder om eers te verdwaal. En… jou kinders betaal die prys.
‘n 2003 Journal of Marriage and Family analise het gevind dat nuwe ouers, veral ma’s, baie minder huwelikstevredenheid ervaar as hul kinderlose eweknieë – iets wat vererger namate die gesin groei. Redes hiervoor? Ouerskap rol-konflik en lewensstyl beperkings. Die rede word toegeskryf aan ons hedendaagse kultuur waar ons ons lewens rondom ons kinders bou. Die ondersteuningstruktuur is ook baie kleiner as jare gelede en met albei ouers wat moontlik werk, is dit ‘n dag-tot-dag sleurtaak om almal aan die gang te hou. Kort-voor-lank raak huweliksmaats besigheidsvennote of huismaats.
Dit eis sy tol op selfs die mees liefdevolle huwelike. Paartjies strewe na perfeksie en die eindresultaat is oormoeg, geirriteerde ouers wat nie tyd vir hulself of hul huweliksverhouding het nie. ‘n Care.com studie het bevind dat 30% van paartjies nie die afgelope ses maande ‘n date night gehad het nie, ten spyte van 85% wat smag na meer alleentyd saam. Afgesien van beperkte tyd saam, speel skuldgevoelens ook ‘n groot rol as dit kom by ‘n ‘kindergefokuste huwelik’.
7 STAPPE VIR GOEIE OUERSKAP EN ‘N GELUKKIGE HUWELIK
So, wat is die oplossing? Om nie jou greep op jou huwelik te verloor nie. Om nié jou kinders bo jou huwelik te stel nie en om nié te vergeet om daagliks hierdie groeiende verhouding nat te lei nie.
STAP No 1: Begin by date night. (Selfs al huur julle ‘n kinderoppasser en hou date night by die huis). Dit is nie ‘n luukse nie, dit is ‘n noodsaaklikheid. Outeur Dr. Mike Tremba, sê ook dit is belangrik om elke dag ‘n dosis romanse by jul huwelik te voeg. Selfs al behels dit ‘n halfuur se een-tot-een tyd met jou maat voor slaaptyd. En soms is dit nodig om vir ‘n halfuur lank die slaapkamerdeur te sluit. Moenie toelaat dat jou gewete jou huwelik opkeil nie. Ons voel dikwels te skuldig om ons maats eerste te stel, of om ‘n babaoppasser vir date night te kry. Maar, meen huweliksterapeut Rachel Sussman: “Deur jou kinders die heel belangrikste prioriteit te maak, skeep jy jou maat af. En hoe gaan jou kinders dan voel as jou huwelik uitmekaar val?”
Hal Runkel, huweliks-en gesinsterapeut, sê dat ouers dikwels die fokus op hul kinders (in plaas van hul huwelike) hou, omdat hulle voel die kinders het hulle nodig. Hulle vergeet egter dat die hele doel van ouerskap is om die kinders sover te kry om jou as ouer nié nodig te he nie. As jou kinders jou jaar na jaar al minder nodig kry, doen jy jou werk as ouer reg. ‘n Romantiese wegbreeknaweek is in die haak, want daarmee kommunikeer jy aan jou kinders: “Jy kan die lewe sonder my vir ‘n naweek lank hanteer. Ek glo in jou.”
STAP No 2: Skep mikro-oomblikke: As ‘n halfuur baie optimisties klink, volg sielkundige Belinda Williams se raad wat die ‘mikro-oomblik’ genoem word en wat sy vir al haar kliënte aanbeveel. Bring intimiteit terug in tydsensitiewe blokke. “Daar hoef nie groot hompe tyd te wees om jou verhouding positief te impakteer nie. Mikro-oomblikke is om die kleinste van geleenthede te gebruik om te herkonnekteer.” Dit behels ‘n vinnige drukkie in die gang, hande vashou terwyl julle aan die slaap raak, ‘n klein geskenk soos ‘n koppie tee… Soms is die tye tussen groot gebare te veel, so vat wat jy kry en maak die meeste van klein oomblikke.”
Sy en haar maat het begin deur vyf minute elke aand te skeduleer om net op die bank neer te sak en te sit. “Met my kop op sy skouer sou ons net in heerlike stilte sit, ‘n heilige oomblik tussen die chaos van ons dag waar ons mekaar net kon vashou en vir ‘n oomblik asem haal,” vertel sy. “Ons het ook begin om ons ‘hallo’s’ langer te maak. Dit klink so eenvoudig, maar deur ons piksoentjies te ruil vir ‘n 30-sekonde drukkie, het iets vreemd en onverwags oor ons gekom: die vonk het teruggeskiet. Dit was asof ons mekaar weer gevind het tussen die 17302 stukke LEGO in ons kuiervertrek, en toe ons eers hét, het ons albei verbete vasgeklou.”
STAP No 3: Onthou jul rol as ‘n huweliksvoorbeeld vir jul kroos. Kinders is gebore na-apers en jou kinders weerspieël jou en jou maat se gedrag. Modellering vind plaas voor ‘n kind verbale kommunikasie kan verstaan, verduidelik sielkundige en outeur, Elizabeth R. Lombardo. “As ouers is ons so gefokus daarop om ons kinders verbaal te leer, maar ons vergeet die belangrikheid van ons aksies.”
En, meen sy, daar is geen interaksie méér sigbaar vir ‘n kind as dit wat tussen ‘n ma en ‘n pa plaasind nie. ‘n Studie wat in 2009 deur die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste gedoen is, het bevind dat die gehalte van die ouers ouers se huwelik, ‘n baie groot invloed het op die kind se toekomstige verstandelike en fisieke gesondheid en welstand. “Die belangrikste verhouding in enige familie is die huweliksverhouding en die beste ding wat ouers vir hul kinders kan doen, is om mekaar lief te hê,” verduidelik Daniel L. Buccino, ‘n kliniese sosiale werker en medestigter van die Baltimore Psigoterapie Instituut. “Deur die moeite te doen om mekaar waardig te ag, kan ouers hul kinders belangrike lesse oor intimiteit, konflik, en werk/huis balans leer.” Ja, jy kan jou kinders probeer leer hoe om regverdig te baklei, maar hulle is te besig om elke beweging van ons dop te hou (van die manier waarop ons konflik oplos tot hoeveel gehalte paartjie-tyd ons deel) om te luister na ‘n woord wat ons sê.
STAP No 4: Wys jul liefde én konflik vir jul kinders. Kinders wat sien hoe hulle ouers mekaar druk en soen, gaan dit dalk “gross” noem en blosend wegkyk, maar in werklikheid gee dit kinders ‘n gevoel van sekuriteit om te weet hulle ouers is lief vir mekaar en dat daar warmte en intimiteit tussen hulle heers. Dit lei tot nabyheid in die gesin. So ook konflikhantering… Dit is gesond vir kinders om te sien hoe jy en jou maat jul verskille oorkom en daardeur werk. Net soos wat julle nie fisieke aanraking vir hulle moet wegsteek nie, so moet julle ook nie konflik vir hulle wegsteek nie. Dit is hoe hulle leer om hul toekomstige verhoudings te bestuur (Onthou egter dat verbale of fisieke mishandeling, sarkasme, stilstuipe, skinder en skel jou kinders angstig sal maak én hulle sal leer dat sulke gedrag aanvaarbaar is – dit wil julle nie hê nie!) Argumenteer op ‘n positiewe, konstruktiewe manier.
STAP No 5: Streef daarna om ‘n goeie eggenoot te wees. Wees ‘n span en staan saam wat reëls, roetine en verwagtinge aanbetref. Dit gee hulle struktuur en konsekwentheid. “Deur jou kinders die middelpunt van jou lewe te maak, kan dalk kindervriendelik lyk, maar dit kan langtermyn ongelukkigheid vir almal in die gesin te weeg bring,” sê David Code, ‘n prediker en outeur van die boek To Raise Happy Kids, Put Your Marriage First. Hy sê ook dat volwassenes wat die beste vir hul kinders wil hê, minder tyd moet bestee daaraan om die perfekte ouer te wees, en meer tyd moet gebruik om daarna te streef om die perfekte eggenoot te wees.
STAP No 6: Gee bietjie minder aandag aan jou kinders. Die meeste van ons het kindergesentreerde gesinne geskep waar kinders prioriteit geniet. “Maar soos wat ons ons rûe vir ons kinders breek, vlieg ons huwelike en selfvervulling by die deur uit terwyl ons kinders meer veeleisend en ontevrede raak,” meen hy. “Deur onsself dood te maak om ‘n perfekte, trauma-vrye kindertyd vir ons kinders te skep, mors ons energie. Die grootste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is om ‘n vervullende huwelik te he.” Gee bietjie minder aandag aan die kinders. Hulle mag jy en jou maat byvoorbeeld nie onderbreek terwyl julle besig is met ‘n gesprek nie. Dit is belangrik vir hulle om te leer dat julle kommunikasie prioriteit geniet en ook om geduld te kweek.
STAP No 7: Behou die intimiteit. “Baie paartjies glo hul huwelike is sterk omdat hulle selde baklei, maar die ware huweliksmoordenaar is wanneer ons onsself distansieer van ons maats om die vrede te behou. Ons werp onsself in ouerskap om kwessies wat konflik kan veroorsaak te vermy. En afstand tussen jou en jou maat, plaas druk op jou kinders om jul emosionele behoeftes te vervul.” Dis gevaarlik wanneer jou kinders die afstand tussen julle kan aanvoel. Bly in voeling met mekaar. Julle kan kan byvoorbeeld daagliks ‘n hoogte- en laagtepunt met mekaar deel en as jy sien wat jou maat deurgaan, kan dit meer empatie kweek en julle meer van ‘n span maak.
Moenie dink jou huwelik kan op autopilot funksioneer terwyl jy jou kinders grootmaak nie. Fokus egter op die gesondheid van jou huwelik en ‘n groot gedeelte van gesonde kinders grootmaak, gebeur vanself…
Indien jy hier lees en jy dink “sjoe, ek het my huwelik so bietjie afgeskeep sodat ek ‘n Superma vir my kinders kan wees”, wil ons jou bemoedig en sê, hou goeie moed! Met die meer as 12 jaar ondervinding wat ons by INTIEM opgebou het, het ons vir jou 7 Stappe ontwikkel wat jou gaan help om selfs NOG ‘n beter ouer en huweliksmaat te word! Ons gaan jou wys hoe om meer tyd vir jouself en jou huwelik te maak, hoe om nie net ‘n Superma nie, maar ook ‘n Supervrou te wees… dit alles in ‘n haalbare, eenvoudige oplossing met meetbare resultate… Ons noem dit Marriage Capsule!
Kliek hier en ontdek die 7 Geheime Wat JOU Huwelik Makliker en Beter Gaan Maak!
Met trots aan jou gebring deur Marriage Capsule…. Hoekom? Want jou huwelik maak saak!
Addisionele bronne: kidspot.com.au; www.familyfocusblog.com; www.scarymommy.com; the guardian.com; www.businessinsider.com; www.today.com; www.parents.com; psychologytoday.com; www.today.com