Ja, jy weet hy snork en dat hy ’n bietjie roereier by sy tamatiesous eet. Jy weet hy kan taxi’s wat voor hom indruk nie verdra nie en hy sal ’n vleisbraai enige tyd voor ’n gourmet-ete verkies. Maar is julle waarlik in voeling met mekaar? Doen ons toets en vind uit!

1. Stem julle ooreen wat jul geaardhede aanbetref?
a) Ja, beslis. Ons voltooi mekaar se sinne.
b) Ons verskil nogal, maar ek kan sê dat ons mekaar goed verstaan.
c) Soms is ons soos vinkel en koljander, met ander tye bots ons!
d) My man is definitief van Mars en ek is van Venus.

2. Hoe hanteer julle konflik?
a) Konflikhantering het ons lankal uitgesorteer en onder die knie.
b) Soms skaaf ons maar aan mekaar, maar uiteindelik oorkom ons ons konflik.
c) Ons het nog nie konflikhantering onder die knie nie, maar ons werk daaraan.
d) Ons stamp gedurig koppe en ons konflikhantering-meganismes verskil soos dag en nag.

3. Noem die name van jou maat se twee beste vriende (name én vanne).
a) Ek weet presies, want hulle is my beste vriende ook!
b) Dit was nie moeilik nie, ek weet wie dit is.
c) Ek het een van hulle verkeerd gehad.
d) Dis ’n duister saak – hy het soveel vriende.

4. Is romanse en passie van jul topprioriteite?
a) Ons kan mekaar nie uitlos nie en vind mekaar steeds onweerstaanbaar.
b) Ons loskop-romanse en passie het plek gemaak vir volwasse liefde.
c) Dit is op en af – soms is ons dol oor mekaar en soms het ons spasie nodig.
d) Ons het ’n bietjie voeling met daardie deel van ons verhouding verloor.

5. Weet jy wat jou maat se grootste bekommernisse is?
a) Ja, ek weet beslis wat hom bekommer (hy het geluister en dit beaam).
b) Ek kan raai wat hom bekommer, maar is nie seker of ek reg is nie.
c) Ek het geraai, maar sit blykbaar die pot mis.
d) Ek het geen idee wat in sy kop aangaan nie.

6. Weet jy met wie jou maat tans wrywing ondervind?
a) Hy praat met my daaroor, so ek weet presies.
b) Ek vermoed wie dit kan wees.
c) Ek het geraai, maar is blykbaar heeltemal verkeerd.
d) Vir my is dit ’n duister saak.

7. Kan jy jou maat se geloofsoortuiging in drie sinne saamvat?
a) Ek weet presies wat hy glo, want ons gesels gereeld hieroor.
b) Ek ken my maat goed genoeg om te weet wat hy glo, hoewel ek dit nie noodwendig kan verwoord nie.
c) Net sodra ek dink ek weet wat hy glo, verras hy my.
d) My maat praat nie oor sy geloof nie.

8. Stem jul norme en waardes ooreen?
a) Ons voel dieselfde oor integrale dinge soos kinderopvoeding en familie.
b) Natuurlik is daar verskille, ons is tog twee individue, maar die belangrike dinge stem ooreen.
c) Daar is een of twee groot kwessies waaroor ons verskil, maar ons het al geleer om daarmee saam te leef.
d) Oor die algemeen verskil ons oor kernkwessies en dit veroorsaak baie konflik in ons huwelik.

Meestal A’s

Veels geluk! Ons raai dat julle óf pas getroud is óf die geheim van ’n gelukkige huwelik ontdek het. Daar is klaarblyklik goeie kommunikasie tussen julle en julle praat oor die dieper dinge. Wat jul intimiteitsvlakke aanbetref, is julle waarskynlik goed op dreef. Kan julle dit volhou? Onthou om nie té hoë eise aan mekaar en aan jul huwelik te stel nie. En laat genoeg ruimte toe vir elkeen om as individue én as paartjie te groei.

Meestal B’s

Glad nie sleg nie! Dit klink of julle ’n goeie, normale en gebalanseerde huwelik het. Daar is intimiteit, maar julle gee mekaar ook die nodige ruimte. Julle het waarskynlik al ’n paar sakke sout saam opgeëet en julle gesels genoeg. Dit klink ook asof julle in voeling is met mekaar, maar mekaar steeds ruimte gun. Daar is dalk een of twee opsigte waarin julle effens kan verbeter, maar oor die algemeen is julle op ’n goeie plek.

Meestal C’s

Geen huwelik is altyd maanskyn en rose nie en dit klink of julle dit al eerstehands beleef het. Julle kan ’n bietjie skaaf aan jul intimiteitsvlakke. Dalk is julle kommunikasie en konflikhantering nie op die plek waar julle graag wil hê dit moet wees nie. Lees ’n paar boeke en artikels oor hoe julle nader aan mekaar kan beweeg en in jul probleemareas kan verbeter.

Meestal D’s

Iewers mis julle mekaar en ons raai dat een van julle dikwels soos ’n “toe boek” funksioneer óf dat jul skedule nie die nodige gehaltetyd toelaat nie. Sukkel jy om inligting uit jou maat te kry? Openlike kommunikasie tussen ’n paartjie is broodnodig vir ’n huwelik met goeie intimiteit. As julle in die gees nader aan mekaar beweeg, sal jul sekslewe floreer en dit kan na die ander kant toe ook werk. Die kans is ook daar dat een van julle skugter is daarvoor om broos voor jou maat te wees. Werk hieraan en kry professionele terapie as julle nie self jul probleme kan baasraak nie.