Daar is verskeie uitdagings wat ’n huwelik toets en ’n mens wonder dikwels of jóú huwelik die spesiale behoeftes van ’n breinbeseerde kind sou kon oorleef. Stel jou voor drié van jou kinders het buitengewone behoeftes . . .
In September 2008 is ’n wonderwerk in die Viljoen-gesin gebore. Abigale Viljoen (die jongste in ’n gesin van vier) is ’n perdeliefhebber, paddaredder en dog whisperer. Hannes en Jana was uit die veld geslaan . . .
Wat maak Abigale so besonders? Sy is die enigste in ’n gesin van vier kinders wat “normaal” gebore is. Haar ander sussie en broers is almal breinbeseerde kinders. Só klink ’n pad vol struikelblokke en wonderwerke vir Jana en Hannes . . .
Die seëninge en uitdagings
Met die koms van hul eersteling, Kyna (tans nege jaar oud), was Jana en Hannes salig onbewus van die pad wat vir hulle voorgelê het. Maar op die ouderdom van 13 maande het Kyna ’n beroerte gekry waarvoor daar geen mediese verklaring was nie.
Asof die uitdaging en skok van Kyna se skielike verlamming en beroerte nie groot genoeg was nie, is haar boetie, Gian (8), net ses weke voor haar beroerte met Downsindroom gebore. Hul derde seun, Leo (7), het ’n vorm van outisme. Dit klink na té veel hartseer vir een ouerpaar . . .
“Ons weier om negatief te wees”
Maar outisme, Downsindroom en hemiplegie (eensydige verlamming) is etikette wat Hannes en Jana nié om die nekke van hul kinders hang nie. Elke mylpaal wat bereik word, is vir hulle ’n wonderwerk – ’n geskenk van genade. Dis soms moeilik wanneer hulle met mense deel watter ongelooflike potensiaal hul kinders het. “Mense het gesukkel om dit te aanvaar. Dit is asof hulle met jou kan identifiseer wanneer hulle jou jammer kry, maar nie weet hoe om die goeie nuus te hanteer nie,” vertel Jana.
Jana se verhaal
Hannes en Jana het mekaar in hul jong dae by ’n leierskamp buite Pretoria ontmoet. Jana het aanvanklik gedink dat sy nooit met ’n Afrikaanse man sou trou óf Afrikaanse musiek sou sing nie. Sy wou eerder vrywilligerswerk oorsee gaan doen as om voor die kansel te staan.
Maar die lewe het ander paaie met dié twee geloop. Binne drie maande ná Hannes en Jana ontmoet het, is hulle getroud. Hulle het in die eerste vier jaar van hul huwelik vier kinders gekry. En ironies genoeg het Jana nou ’n Amerikaanse visum om Afrikaanse musiek en kultuur in Amerika te bevorder.
Hannes se verhaal
Dié gewese besigheidsman, boer en kontrakteur-werker vir gemeenskapsprojekte is nou voltyds pa en terapeut vir sy kinders. Hannes spesialiseer in kinderbrein-ontwikkeling en bied ook motiveringspraatjies aan vir die ouers van kinders met spesiale behoeftes.
Ook Jana (musiek-vervaardiger en sanger) bestee die grootste gedeelte van haar dag aan haar kinders se terapie en tuisonderrig. Sy is ook die projekbestuurder van die Brain Child Fund, waar sy die vertonings, webwerf en sosiale netwerk van dié organisasie behartig.
Ons huwelik – ons kinders se behoud
Hulle het besef dat as hul huwelik en verhouding nie sterk en gesond is nie, hulle geen genade en energie het om in hul kinders se identiteit in te bou nie. Wanneer hulle nie ’n eenheid is nie, is daar chaos in die huis en dit beïnvloed die kinders.
“Sommige mense sê dat ’n kind met spesiale behoeftes ’n huwelik verwoes, maar dit is die grootste leuen wat daar is. ’n Kind met spesiale behoeftes is soos ’n spieël wat reflekteer wat reeds daar is,” beklemtoon Jana. Jana en Hannes sorg ook dat hulle vir mekaar tyd maak. Hulle glo dat om aan hul huwelik te werk, die beste vir hul kinders en hul toekoms is.
“Ons mik hoog vir ons kinders”
Hannes en Jana het ’n vrou in Botswana ontmoet wat na die Institute for the Achievement of Human Potential (IAHP) in Philadelphia was en die intensiewe tuisbehandelingsprogram met haar kind gedoen het. Haar kind was as baba in ’n ongeluk waar sy baie erge breinskade opgedoen het.
Toe hulle sien wat sy met haar dogter doen, het Jana en Hannes besef dat hulle soveel méér met hul kinders kan uitrig. Jana het die boek What to do about your brain-injured child deur Glenn Doman (stigter van die IAHP) gelees en dit het haar aan die hart geruk.
’n Droom om ander pare te help
Die gesin het eers vir ’n tydperk die VSA besoek om hulself toe te rus om hul kinders te help, maar vertrek op 1 September 2014 permanent na Philadelphia om ’n nuwe hoofstuk saam met hul kinders te begin.
Jana stel dit duidelik: “Mense moenie dink dit is nodig vir hulle om in Amerika te gaan bly om die tuisprogram met hul kind te kan doen nie. Ons doen dit omdat ons drie kinders met spesiale behoeftes het. Alle ouers bly in hul eie land en doen die tuisprogram met die hulp van familie, vrywilligers en die gemeenskap.”
Jana en Hannes wil ook graag onderhandel om die instituut na Suid-Afrika te bring, omdat die behoefte hierna so groot is. Sedert die Viljoens met hierdie terapie begin het, het hul kinders mylpale bereik wat medici voorspel het nooit moontlik sou wees nie.
Vandag is Jana en Hannes se verhaal een van hoop wat alle verwagtinge oortref. En hul huwelik? ’n Eenheid waarbinne hul kinders, elk met hul eie uitdagings, floreer in sekuriteit en liefde.