Gretha en Francois Wiid ken mekaar al vir amper 17 jaar. Hoewel hulle nou ’n verhouding het wat baie mense beny, was die paadjie wat hulle moes stap om uit te kom waar hulle vandag is, een wat die meeste mense se hare sal laat rys …
Wanneer ’n mens vir die eerste keer by hul praghuis in die Noorde van Pretoria instap, word jy omring deur inspirasie. Woorde soos ‘geloof’, ‘hoop’ en ‘liefde’, uit hout en staal, is deel van die versierings. Reeds by die voordeur hang die eerste boodskap: “Hulle wat sonskyn in die lewe van ander bring, kan dit nie van hulself weerhou nie”.
’n Amper-egskeiding, sekwestrasie, vier pragtige dogters – Giano, Tiónne, Ghitte en Fabiénne – en baie geloof, hoop en liefde later, bring Gretha en Francois sonskyn in ander se lewens en huwelike en dit word gou duidelik dat dié sonskyn ook ’n knus plekkie in hul huwelik het.
Twee Tukkies ontmoet by die see
In die verkorte weergawe van hul ontmoeting, vertel Gretha dat hulle by die see, “Ons sal maar nie sê waar nie”, spot sy, ontmoet het. Dan lag sy en gee ’n bietjie meer detail: “Ons het na ’n show gaan kyk en toe sit Francois langs my pa en ek aan die anderkant van my pa. Ek was ’n tweede jaar en hy ’n eerste jaar. My pa het deur die loop van die aand lekker met Francois gesels – asof hy hom al vir jare ken. Maar ek steur my nie aan die ‘eerste jaar’ langs my pa nie, want ek het met ’n ander ou uitgegaan, en boonop was hy jonger as ek. Eintlik is ons ewe oud – Francois was net eers weermag toe en daarom ’n eerste jaar. Toe ons die aand ry, sê my pa vir my: ‘Ek het vanaand langs jou trouman gesit’.” Hulle het mekaar op vakansie verder een of twee keer raakgeloop en ’n jaar later, ietwat onverwags, weer op Tukkies.
Gretha het in daardie stadium Francois se een broer gevra om saam met haar na ’n troue te gaan. “Toe ek daar aankom, sê ek ek soek vir Mnr. Wiid en hulle stuur my na hom (Francois) toe.” Sy het maar saam met die broer gegaan, omdat sy immers ’n afspraak met hom gehad het. “Ek het later vir Francois gaan bedank dat ek saam met sy broer kon gaan en die bedanking het later ’n verhouding geword.”
Hulle was vir ongeveer vier jaar saam voordat hulle in 1996 getroud is en Francois, wat van Steynsrus af kom, vertel gretig, en spottenderwys, wat hy onthou van hul eerste tyd saam: “Ek kom van die platteland af waar daar net drie ‘girltjies’ was – almal plaasboere se dogters. Toe ek op Tukkies kom, is hier 60 000 studente om my en ek besluit toe: hier gaan ek vir seker ’n vrou kry. Lang storie kort: ek het met baie meisies uitgegaan, maar nooit enige iemand ontmoet wat regtig vir my was nie en in ’n stadium sê ek net virdie Here: ‘Ek is nou moeg vrou gesoek’”. Terwyl hy op ’n bankie voor die Ossewa sit en sy woorde aan die Here skaars koud was, kyk hy op en daar kom Gretha aan. “Van daardie dag af het ek geweet,” sê hy.
Hul troudag: kosbare herinneringe
“Ons het nie ’n glamorous begin gehad nie,” vertel Gretha. Sy het nie ’n tipiese oggend-voor-die-tyd, met iemand wat vir haar ’n bad tap en pamperlang, gehad nie. “Ek is wakker gemaak met: ‘Greets jy moet nog die servette gaan koop!’.” Sy het haar troudag baie anders voorgestel. “Toe ek terugkom nadat ek die servette gaan koop het, staan daar ’n bos wit rose. Ek het nog nooit eers blomme gekry nie!
Hier stuur hy vir my ’n bos wit rose elk met ’n kaartjie wat iets verteenwoordig. Dit was baie, baie romanties.” Francois voeg vinnig by dat die rosies nog jonk was “want, het ek vir haar gesê, ons huwelik is nog jonk”.
“Ons het niks geld gehad nie; met my ma en ouma saam is my rok self gemaak, so ook die kos en die blomme. Maar vir ons was die troudag hemel op aarde. Ons is op die ou einde eers kwart voor vier die oggend by die troue weg,” vertel Gretha. Dis vir my die spesiale oomblik – toe ek en sy met ons skoene uitgetrek, voete op die tafel sit en daar kuier saam met ons hartsmense,” onthou Francois.
En wat sou hulle anders doen in die eerste jaar van hul huwelik? “Niks nie,” antwoord hulle byna gelyk. “So erg as wat die pad was wat ons gestap het, so seer as wat dit was, sou ek dit vir niks verander het nie – ek sou dit vir niks, niks, niks ruil nie,” meen Gretha.
Die gesprek word meer ernstig, en Gretha skuif nog nader aan Francois – ’n gebaar wat jou laat besef dat hulle in absolute eenheid is as dit kom by die dinge wat hulle harte raak.
’n Lewenspad met meer op- as afdraande
Hoewel Gretha wel voel dat pornografie en owerspel (ses jaar nadat hulle getroud is) nie die beste ding is wat met iemand kan gebeur nie en dat sy dié beproewinge ook nie sal wil verander nie, praat hulle openlik (en verbasend maklik!) daaroor en ’n mens kan nie help om te wonder: hoe kry hulle dit reg nie? Sy voel dit is nie iets wat ’n mens noodwendig met ander wíl deel nie, maar hulle is “oop mense”. Was dit nie moeilik nie? “Die eerste jaar na die owerspel was moeilik,” sê Francois, “maar die Here het ons huwelik op ’n vlak gevat wat ek nie vir jou kan beskryf nie”.
Min of meer ’n jaar nadat Francois vir Gretha van sy owerspel vertel het, het hulle by ’n paartjie, vriende van hulle, gesit en hy het ’n dringende gevoel gehad dat hy sy ervaring met die vrou moet deel. “Ek sê toe vir haar wat ek gedoen het en hoe die Here my vrygemaak het en ook hoe ons huwelik nou sterker is as gevolg daarvan.” Die vrou was verstom en kon dit nie glo nie en twee weke later bel sy hulle tienuur die nag, stukkend, en vertel dat haar man na haar toe gekom het en vertel hoe hy by prostitusie, swingery en dies meer betrokke was.
Vir Francois was dit duidelik dat die Here wou hê dat hy sy verlede met haar moes deel en ses maande later was dié vriende se huwelik ook sterk. Nie lank daarna nie, het Francois weer dieselfde gedoen. “Ek het weer my ervaring gedeel en vir die ou gesê ek voel so vry, ek voel so skoon, ek het nie geraamtes in die kas nie en hier’s niks geheime tussen my en my vrou nie.” Twee dae later bel hy en sê hy is ook betrokke by owerspel en hy wou ook daardie selfde vryheid hê.
Hulle het toe begin besef deur hulle ervaring te deel, kan mense hulle met hulle vereenselwig. Dit het begin by ’n klomp pelle wat ’n naweek gaan hou het en ervarings gedeel en gekuier het. “Dié naweek het toe nog ’n naweek geword en toe word dit huweliksverrykingskampe. Vandaar af het dit net gegroei en ons het nie eers gevra daarvoor nie”.
Die grootste les wat hulle geleer het, en ook vir ander wil leer, is gewoon om jou trots te sluk. Gretha sê vinnig: “Hierdie man (Francois) het nie ’n stukkie selftrots in hom nie. Hy sê so maklik dat hy jammer is … selfs vir die kinders! What a man!”
Hulle sien in hulle eie huwelik en die ander waarmee hulle werk dat daar net soveel genesing en dieper verhoudings kom as mense bereid is om hulle trots te sluk, en emosioneel naak voor mekaar te staan. Hulle moes self vir mekaar
van hul verledes vertel en dit was nie sommer iets soos:
Liefie, ek het vir jou gejok – die hempie by Truworths het R400 gekos en nie R200 nie. “Dit was gróót goed”, beklemtoon Gretha.
’n Man is ’n man, en ’n man moet eet
Dit gebeur soms dat mans ’n verslawing aan pornografie op een of ander wyse probeer regverdig – ’n man is ’n man. Wanneer Francois van sy reis deur hierdie nagmerrie vertel, sê hy daardie tipe regverdiging is “’n leuen van die duiwel af”. “Die oomblik as jy by pornografie betrokke raak, klim daardie wellus op jou en jy kan nooit weer dieselfde na jou vrou (en ander vrouens) kyk nie. Jy begin op ’n ander manier oor vrouens dink. So, vir ’n ou om te sê dis ’n manne-ding, is nonsens. Die oomblik as jy daardie goed kan bely teenoor jou vrou, dan kom die Here regtig en Hy herstel die verhouding.”
Hy sê verder dat pornografie ’n muur tussen jou en God bring, en dat dit ’n vrou verwerp laat voel. Hoe het Gretha gevoel? “Ek het nie net van die pornografie uitgevind toe ons tot bekering gekom het nie. Ek en hy het sáám daarna gekyk in ons huwelik.” Francois het altyd geweet dat sy nie daarvan hou nie, maar het dit probeer regverdig dat mans ander tipe behoeftes het wat vrouens nie sal verstaan nie. Gretha erken, sy het ook ingekoop op die leuen van mense wat sê: “Gretha, as jy dit nie saam met jou man doen nie, gaan hy iewers anders heen gaan. Ek het toe maar saam gekyk, maar dit was vir my walglik. Dit het my baie verwerp laat voel. Alhoewel Francois my nooit gedwing het om dit saam met hom te kyk nie, het ek gewoonlik ingestem uit vrees dat hy ander vrouens sal gaan opsoek …”.
Die dag toe Francois tot bekering gekom het, het Gretha eers uitgevind van die owerspel en in daardie stadium, was hy nog in ’n seksuele verhouding met ’n ander vrou. “Daardie dag was amazing,” vertel Gretha met onverwagte vreugde op haar gesig, “want die Here het my voorberei daarvoor”. Waar kry ’n mens die krag vir die vergifnis wat sy gehad het? “Genade, genade, genade”.
Sy het vir maande lank vir Francois gebid nadat ’n vrou vir haar gesê het sy gees is gebind. Dit was ’n lang reis van vertroue dat God ons huwelik gaan herstel en my man gaan red. “’n Week voordat ons finaal sou skei, het ek tot bekering gekom.” Dit was juis tóé wat die Here vir haar gewys het hoe Hy Francois sien. “Francois was vir my hierdie wonderlike man. Mense (nogal kinders van die Here!) het vir my gesê om hom te los, want hy gaan nie verander nie, en dat God my wil seën met ’n ander man. Ek dank die Here ek het na God en nie na mense geluister nie. En ja, God hét vir my ’n ander man gegee. Dit was toevallig dieselfde mens, maar ’n nuwe man!”
In die tyd wat hulle nog wou skei, het verskillende mense vir hulle gesê dat God hulle huwelik gaan ‘draai’, sodat hulle ander huwelike kan draai. Gretha erken dat sy gedink het hierdie mense was mal en Francois het op sy beurt geweet dat dit nie die waarheid kan wees nie – hy’t mos geweet waarmee hy besig was. Vir hulle was die situasie so hopeloos – hy wou nie meer by haar wees nie, hulle het nie geld nie en bly net in ’n kamer – dat dit byna vanselfsprekend is dat hulle dit nie wou glo nie.
Hul huwelike se laagtepunt was ook die hoogtepunt
Daardie “patetiese situasie” was vir beide die laagtepunt in hul huwelik. Maar Francois voeg by dat dit ook die hoogtepunt was. Hy verduidelik dat dit belangrik is om God se Woord te glo dat die waarheid jou vry maak. “Ek kan dit nie vir jou beskryf nie. Ek het geweet ek moet vir my vrou gaan sê; dis wat die Here vir my sê. ’n Mens moet egter nie detail deel nie (posisies, ens.) Dit veroorsaak net probleme. Dit was die mees vernederende oomblik wat jy kan hê, maar dit was ook die beste oomblik van my lewe, want dit het my vry gemaak … Ek het geweet dat God ons gaan vashou, want God sou my nie vrymaak ten koste van my vrou en ons verbond nie. Vandag weet ons ook dat die mate van berou, die mate van die ander party se vergifnis en genesing bepaal.”
Wêreldse standaarde en idees dryf mans tot uiterstes
Uit die aard van die saak is daar min mans wat die vraag: Waarom doen mans dié tipe ding?, beter sal kan antwoord as Francois. Hy som dit in ’n neutedop op: “Mans se hoofvraag is nie of hy ’n man is nie – as ek in die spieël staan kan ek sien ek is ’n man – die groot vraag is: Is ek mans genóég (in alles wat ek doen)? Die wêreld se antwoord is: geld, mag en seks. Daardie goed maak dat jy die heeltyd jou vraag beantwoord: ek is mans genoeg. As ’n pa nie in sy seun ’n identiteit gebou het dat hy mans genoeg is nie, en die identiteit lê nie in Jesus nie, gaan soek ’n man sy antwoord in die wêreld. As ’n man in enige stadium van sy huwelik op ’n laagtepunt is … hetsy finansieel, seksueel, wat sy identiteit betref of wat ook al, wil hy uitbreek; sy identiteit gaan soek of bevestig. Dan vra hy: Is ek mans genoeg? En dan kan daar so maklik ’n vrou op sy pad kom. . . wat hom mans genoeg laat voel en dan word dit ’n affair.”
Nóú is hul grootste belegging hul huwelik en hulle sê gedurig vir mekaar: “Jy is vir my goed genoeg. Weet jy ek is lief vir jou? Is daar goeters wat ek doen wat jou nie so laat voel nie? Sê dit vir my”.
“Ons is professionele jugglers”
Hoe kry hulle tyd vir mekaar en die familie met ’n propvol skedule? “Ek is nie iemand wat maklik stres nie, miskien is ek te dom … who knows?” skerts Gretha eers en dan sê sy: “Ons vat élke skoolvakansie af. Skoolvakansies is familietyd.” Daarmee saam speel hulle ook graag bordspeletjies na ete saam met die kinders eerder as om televisie te kyk; en vir mekaar beplan hulle tyd in hul dagboeke.
Tussen die mooi-goed, tonne familiefoto’s, inspirerende versierings en hartseer verhaal deur, kan ’n mens sien hulle “like” mekaar regtig en dat hulle huwelik se geluk en vrede aansteeklik is.
Gretha en Francois glo dat:
• mans geroep is om die konings van hul gesinne te wéés.
• vroue aangestel is as hul mans se geestelike warriors.
• God se Woord vas en waar is – élke deel daarvan.
• ons meer kan leer van hoe God ons sien in ons verhoudings met ons kinders.
• elke mens geroep is om God se Woord te bedien – daar waar hy werk en woon.
• huwelike net kan werk as jý daaraan werk.
• common sense partykeer meer sin maak as al die sielkunde in die wêreld saam.
• owerspel nie die einde van ’n huwelik hoef te wees nie.
• ’n mens se bediening geleë is in jou verlede se seer en foute.
• jy God se Woord, jou gesin en jou eie drome nie moet compromise nie – vir niemand nie!
Addisionele Bron: www.grethawiid.co.za
Artikel deur Hesca Joubert