Almal beskryf dit verskillend, maar dis daardie een ding wat elke vrou begeer! Sukkel jy om die groot O te bereik? Ons gee jou ’n paar goeie wenke.

Promosie

Die vroulike orgasme is ’n intense sensasie van lekkerkry wat gepaard gaan met intense ritmiese sametrekkings van die baarmoeder en bekkenvloerspiere. Jy voel ontspanne en in ekstase daarna. Daar is verskeie metodes wat jy kan volg om daardie orgasme te bereik! Die klitoris en vagina is die algemeenste areas van stimulasie, maar stimulasie van die borste en ander erogene sones kan ook lei tot orgasme. En contrary to popular male belief, kry die meeste vroue orgasmes deur middel van klitorale stimulasie! As manlief dit nog nie weet nie, wys hom wat hier staan!

Die klitoris het meer as 8 000 senuwee-eindpunte. Vroulike orgasme kan ook deur denke of fantasie gestimuleer word sonder noodwendige fisiese stimulasie en kan ook tydens slaap plaasvind! Die nuutste navorsing dui daarop dat verskillende gedeeltes van die brein geaktiveer word tydens orgasme. Orgasme is meer as ’n eenvoudige refleks, dit het ook baie met persepsie en jou belewenis daarvan te doen.

Die intensiteit van orgasmes kan van dag tot dag verskil en word beïnvloed deur hormoonvlakke en hoe opgewek jy is. Langer stimulasie en opwekking kan intensiteit verhoog. Natuurlik beïnvloed jou gemoedstemming en die gevoel van intimiteit met jou maat dit ook. As jy moeg, gespanne of depressief is, kan dit jou orgasme beïnvloed. Onthou ook dat chroniese medikasie, veral anti-depressante, ’n negatiewe impak kan hê. Gesels met jou dokter hieroor.

Promosie

Ongeveer 70% van vroue kry nie orgasme met penetrasie alleen nie en het addisionele stimulasie van die klitoris nodig. Sommige glo dat vaginale orgasme die toppunt van orgasme is. Daar is verskillende menings hieroor, maar die nuutste navorsing sê dat orgasmes bloot verskil in die intensiteit daarvan en niks te doen het met die verskil in klitorale of vaginale stimulasie nie. Een orgasme is dus nie beter as ’n ander een nie. As jou brein nie saamspeel nie, kan daar soveel stimulasie as moontlik wees en jy sal nie ’n orgasme kry nie.

12 sleutels tot orgasme:

  1. Wat gebeur in jou kop? Maak seker jy dink aan ’n sexy en erotiese situasie. Fantaseer en moenie dink aan die tien dinge wat jy nog móét doen nie.
  2. Wees in jou lyf. Fokus op jou eie ervaring en die sensasies in jou lyf, en nie op wat jy vir jou maat moet doen nie. Gebruik al jou sintuie.
  3. Ontspan! Haal diep asem, masseer mekaar en ontspan.
  4. Moenie voorspel afskeep nie. Doeltreffende en lang voorspel is die magic wand. Meeste vrouens het ongeveer 20-30 minute se stimulasie nodig voordat hulle ’n orgasme kry. Laat hom gerus oplees oor vaginale massering en lees saam met hom! Sê hom ook waarvan jy hou, hy kan nie jou gedagtes lees nie. Eksperimenteer met verskeie soorte smeermiddels (gegeur) en masseertegnieke . . .
  5. Gebruik variasie. Hoe meer verskillende vorms en tipes van stimulasie, hoe beter. Dink aan orale klitorale stimulasie en kombineer dit met stimulasie met die hand. Moenie die borste en die krag van intieme soene onderskat nie.
  6. Gebruik die wen-posisie. Dis die sendeling-posisie met die pelviese tilt. Die klitoris word indirek gestimuleer. Die vrou moet op haar rug lê, onder die man met haar pelvis na bo getilt. Die vulva moet só getilt wees dat dit plat druk teen die man se pelviese been, wat dan wrywing op die klitoris veroorsaak. Eksperimenteer met verskillende hoeke van penetrasie. Dit kan help om ’n kussing onder jou te sit.
  7. Probeer die wen-tegniek. Dis die coital alignment technique (CAT). Die man moet bo-op die vrou lê en sy pelvis vorentoe skuif van die normale sendelingposisie af sodat die basis van sy penis direk kontak maak met die klitoris. Begin stadige, ritmiese vorentoe-en-agtertoe bewegings eerder as op-en-af bewegings. Die penis en klitoris moet deurgaans kontak behou.
  8. Probeer woman on top. Só kan jy die posisie van haar pelvis aanpas en het jy meer beheer oor die hoek, diepte en spoed van penetrasie. Manlief kan lê/sit en jy kan wiegbewegings uitvoer, wat die klitoris stimuleer.
  9. Doen kegel-oefeninge. Knyp die bekkenvloerspiere saam, dis die spiere wat gebruik word om die vloei van uriene te stop. Versterk die pelviese vloer sodat jy tydens penetrasie hierdie spiere kan saamtrek en ontspan. Indien spiere nie genoegsaam versterk is nie, kan jy ’n seksuoloog kontak wat jou na opgeleide pelviese vloer-fisioterapeute kan verwys. Dit mag jou lewe verander!
  10. Knyp jou bene toe. Knyp jou bene toe tydens die sendeling-posisie, dit veroorsaak wrywing op die klitoris.
  11. Stimuleer die serviks. Baie vrouens vind diep penetrasie waartydens die serviks gestimuleer word uiters bevredigend. Eksperimenteer met posisies wat diep penetrasie moontlik maak. Lê op jou rug met jou bene opgetrek of wees jy bo, maar met jou rug na hom gedraai.
  12. Roep bystand in. Gebruik ’n goeie smeermiddel. Seksuele hulpmiddels soos ’n nuwe-generasie vibrator, penisring wat ook die klitoris stimuleer of vinger-vibrator kan baie doeltreffend in die liefdespel benut word.

Orgasmes het baie voordele. Geniet dit en vergeet waar dit vandaan kom!

 

Deur Elmari Mulder Craig