Ons leef in ’n fix-it era en selfhelpboeke laat boekrakke onder die gewig daarvan kreun. Daar is beslis ’n plek vir sulke boeke, maar as jy al daardie selfhelp-wenke wat jy lees, moet toepas, sal jy jou voldagpos moet bedank! Hier is egter tien daaglikse gewoontes wat jy deel van jou roetine behoort te maak.

Promosie

Jou man kan dit dalk nie verdra wanneer jy jou lokke om jou vingers draai terwyl jy diep dink nie. Terwyl dit die wit waks uit jou irriteer as hy sy mixed vegetables dissekteer tot daar drie netjiese hopies wortels, ertjies en mieliepitte lê. Jy dink dalk al aan jou nuwejaarsvoornemens wat miskien die verandering van gewoontes soos hierdie insluit. Dink ’n bietjie hoeveel van jou gewoontes of Nuwejaarsvoorneme het al in die verlede jou sekslewe bevoordeel? Nie veel nie, nê? Maak jou sekslewe in 2019 ’n prioriteit. Dit neem net 30 sekondes om ’n gewoonte te kweek. Gee jou maat R1 000 om iewers weg te steek en dit eers weer vir jou terug te gee wanneer jy 30 dae voltooi het sonder om te misluk. Probeer die volgende gewoontes een op ’n slag of al tien gelyk implementeer en kyk hoe jou sekslewe vlamvat!

Maak ruimte vir oggendseks
…deur elke dag twee ure vroeër as gewoonlik op te staan. Was jou gesig met koue water en sit iewers in ’n sonhoekie in jou huis. Gebruik ’n uur hiervan om jouself te sentreer en te visualiseer oor hoe jy graag wil hê jou dag moet verloop. Hou stiltetyd en bid vir jou sekslewe. Vra in jou gebed vir ’n positiewe gesindheid teenoor seks, ’n verhoogde seksdrang of waaraan jy ook al ’n behoefte het. Gaan maak dan ná ’n uur vir manlief wakker deur ’n spoor soene al met sy ruggraat langs te los. As jy geen reaksie kry nie, beweeg na sy nek en ore toe, en wanneer hy sy oë oopmaak, gee hom ’n warm glimlag. Julle het ’n uur oor waarin julle óf lekker kan gesels en alleentyd saam geniet voor die kinders wakker word en jul normale roetine begin, óf julle kan julle tyd selfs béter aanwend. Daar is ’n rede vir morning glory! “Oor die algemeen is mans se piek in die oggende (jip, daardie vroeë oggend-ereksies) terwyl vroue geneig is om snags te piek,” skryf David Strovny op www.askmen.com. Ongelooflike, innige oggendseks? Wat ’n begin tot ’n fantastiese dag! Natuurlik hoef elke vriendelike soen wat jy jou maat gee nie seks tot gevolg te hê nie, maar dit skep ’n intimiteit tussen julle wat julle kwalik sal kan ignoreer!

Skryf elke dag ’n liefdesverklaring neer
Dit is wonderlik as jy en jou maat elke dag vir mekaar kan sê hoe lief julle vir mekaar is, maar as een of albei haastig is, kan dit maklik saam met ’n haastige klapsoen in die verbygaan verlore raak. Sit jou liefde op skrif. Elke dag. Of jy dit nou op die gewasemde stortdeur skryf terwyl hy stort of met kaneel oor sy hawermoutpap sprinkel. En of jy dit nou vir hom SMS, e-pos of op ’n briefie skryf en in sy hempsak bêre, moenie een dag oorslaan nie al is jy kwaad vir hom. En wanneer jou kreatiwiteit die dag saai is, behoort ’n blote: “Ek is lief vir jou” op die yskas die ding te doen. Dit sal ’n speletjie tussen julle raak, wat een van die belangrike bestanddele van ’n suksesvolle huwelik – pret – in die verhouding implementeer. En hoe meer jy skryf wat jy wil hê, hoe meer waagmoed gaan jy hê om daardie meer stuitige boodskappe te los. Wat het dit met seks te doen? Alles! Wie kan ’n vrou weerstaan wat só onbevange en waaghalsig liefhet dat sy dit elke dag verklaar?

Promosie

Vermy vierkantige oë
Beperk jul televisiekyk tyd tot twee uur per dag. As jy ’n sepieliefhebber is, beteken dit jou sepies én ’n joernaalprogram. Of die laataand fliek. Vermy dit egter ten alle koste om in daardie roetine te verval wat beteken julle sak ná werk voor die kassie neer, eet sommer so in die kyk en staan eers op met slaaptyd. Daar is soveel dinge verkeerd met dié scenario. Daar is nie tyd vir gesels of aandete om die tafel nie. Probeer ook om nie saans na die nuus te kyk nie, maar eerder soggens koerant te lees. Daar gebeur genoeg dinge deur die dag om jou aandag af te lei van negatiewe nuus, maar om jou te bekommer oor die wisselkoers wanneer julle in die bed klim, is ’n doodskoot vir ’n sorgvrye sekslewe! Eerste prys is natuurlik om die televisie ook heeltemal uit jul slaapkamer te verwyder. ’n Studie deur ’n Italiaanse seksuoloog, het bevind dat paartjies wat nie ’n televisiestel in die slaapkamer het nie, twee keer soveel seks het as die paartjies wat dit wel het!

Sweet – ook buite die bed
Ons wil regtig nie soos ’n grammofoonplaat klink nie, maar oefening ís goed vir jou, veral vir jou sekslewe. Dit maak jou fiks genoeg sodat julle nie na jul asems snak ná ’n paar minute se bedpret nie. Met ’n bietjie spierkrag, sal hy jou ook makliker teen die muur kan vasdruk of slaapkamer toe kan dra. So, sleep vir manlief saam! Oefening is noodsaaklik vir stamina en prestasie en natuurlik verrig dit wondere vir jou selfbeeld (wat weer gaan veroorsaak dat jy makliker in die bed sal eksperimenteer). As jy jou inhibisies kan laat los, sal jul sekslewe beslis opwarm. Pepper Schwarts, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Washington en outeur van die boek The lifetime love and sex quiz book, sê enige aktiwiteit wat jou hartklop opjaag, skep die perfekte opset vir seks. “Oefening stel endorfiene vry wat jou gelukkig en ontspanne maak,” verduidelik hy. Dit bevorder ook bloedvloei van kop tot tone – en al die sensitiewe areas tussen-in! As die gimnasium jou bedreig, dans elke aand vir jou maat wanneer jy uittrek.

Raak sensueel ingesteld
Onthou waar jou grootste seksorgaan lê! ’n Lae libido is in die meeste gevalle eerder ’n kop-ding as ’n lyf-ding. Dit is ook hoekom soveel seksuoloë fantasering voorstel vir mense wat probleme in die slaapkamer het. Hoe meer jy aan seks dink, hoe meer gaan jy seks wil hê. Begin om alles rondom jou vanuit ’n sensuele hoek te sien. Mans is uitstekend daarmee! Terwyl jy jou bed opmaak, dink aan die laaste keer wat jy en jou man in die lakens rondgewriemel het en wat jy vanaand hier met hom gaan aanvang. Die hele lewe is sensueel. Kleure, mense, woorde, musiek, kos … stel jou brein in om hierdie sensuele dinge raak te sien. Leer om jou sintuie te betrek by die manier waarop jou liggaam beweeg, die wind deur jou hare waai, die water jou lyf tref wanneer jy in die swembad duik, die gevoel van jou man se bors teen jou kantbra …

Proe-proe tot ’n beter sekslewe
Ja-ja. Ons wil weereens nie nóg ’n cliché by jou keelgat afdwing nie, maar eerder dít as ’n donut! Want hoewel soveel bronne vir jou vertel hoe sleg obesiteit vir jou hart is, wil ons jou graag herinner aan hoe sleg dit is vir jou sekslewe. In die eerste plek laat dit jou goor voel. En wie kan seks geniet as sy weet die mannetjie wat onder haar lê, weeg die helfte as sy? Natuurlik is dit moeilik om seks te hê as jy sopas ’n lamb shank en malvapoeding verorber het. Fit Squad voedingskenner, Amanda Ursell, sê: “Almal voel sexier as hulle gesonder is – so sorteer jou dieet uit en jy sal ’n baie lekkerder tyd in die slaapkamer hê.” Sy stel voor dat jy eerstens die slegte (wat ons ken as die lekker) kos, soos koek, beskuitjies en ryk poeding, uitskakel. Moenie laat eet nie en vermy kafeïne vanaf laatmiddag. Beperk jou alkoholinname en eet stadig. Koolhidrate wat stadig vrygestel word, soos dié in pasta en volgraanbrood, gee jou die stamina wat jy nodig het vir seks, en kos wat yster bevat, soos rooivleis, eiers en donkergroen groente, sal moegheid teenwerk. Kos wat jou in die regte bui vir seks behoort te kry, is steak, maaskaas, salm en lae-vet jogurt (wat dopamien vrystel). Olierige vis sal jou bloedvloei verbeter en die sensitiwiteit van jou vel verhoog, terwyl proteïnryke kossoorte soos vis, hoender en tofu jou hormoonvlakke kan verbeter. (http://www.thesun.co.uk)

Moenie die krag van slaap onderskat nie
Enige ma wat vier keer per nag vir haar baba opstaan, se man kry ’n vuil kyk as hy haar om 05:00 bright and perky op die skouer klop. Slaap is inderdaad ’n wondersoete ding. Gee jouself saans 15 minute om aan die slaap te raak. As jy teen dan nog nie slaap nie, staan op en doen iets tot jy vaak is. Lees, maar moet nie televisie kyk of op jou rekenaar werk nie. Gaan slaap ook elke aand dieselfde tyd en moenie jou slaaproetine oor naweke verander nie. Sorg dat jy elke dag ’n bietjie sonlig kry (dit stimuleer jou liggaam om melatonien te vervaardig – ’n hormoon wat jou slaapsiklus reguleer) en vermy kaffeïne ná 16:00.

Kegel jou hier, kegel jou daar … en siedaar!
Jy het dit waarskynlik al oor Kegeloefeninge in INTIEM gelees. Dit doen jy deur jou bekkenvloerspiere saam te trek en dan te ontspan, so al asof jy urineer en dan skielik ophou. Doen jy gereeld jou Kegeloefeninge? “Dit laat jou nie net inskakel op jou fisieke sensasies en fokus op daardie deel van jouself nie, maar Kegels verbeter ook bloedsirkulasie daar onder, wat opwekking veroorsaak,” verduidelik Clifford Penner, ’n seksterapeut van Kalifornië. Dit versterk boonop al jou bekkenspiere en as jy ’n orgasme kry net na jy jouself op dié manier opgewerk het, sal jy dit meer intens ervaar, verduidelik Aline P. Zoldbrod, mede-outeur van Sex talk (www.cosmopolitan.com).

Wees jou huis se eie nudis!
Of jou man nou daar is of nie – wanneer jy klaar gestort het, moenie klere aantrek nie. Smeer jou hele lyf vol bevogtiger, borsel jou tande en kam jou hare. Trek jou bed reg en lees ’n stukkie – alles in jou naakte glorie! Die geheim is om nou nie nie-sexy take te doen, soos om agter in jou kas rond te krap vir naellak of jou voete te skuur nie. Dit is ’n paar minute waar jy in voeling kom met jou seksuele self. Dit gaan jou bewus maak van jou lyf, die feit dat dit ’n bietjie ‘stout’ is en boonop gaan dit vir manlief ’n fees vir die oë wees. Deur kaal rond te loop, laai jy die lug met seksuele energie en wys ons ’n man wat jou gaan kan uitlos ná hy dié toneel gesien het!

Dra elke dag sexy onderklere
Miskien is dit nie vir jou prakties nie en gaan dit baie van jou verg om al jou gemaklike ou katoen staatmakers uit te smyt, maar glo ons, met hierdie daaglikse gewoonte gaan jy ver in die slaapkamer kom. Koop vir jou goeie, sexy onderklere. Laat jouself professioneel meet om seker te maak jy dra die regte bra en belê dan in minstens sewe stelle bypassende bra-en kleinbroekie stelletjies. Jy kan eerder op ander dinge in jou klerekas bespaar. Onthou onderklere is die naaste iets wat jy aan jou lyf dra, die enigste stukkies lap wat voortdurend in direkte kontak met al jou hotspots is. Raak bewus van hoe onderklere teen jou lyf voel. Miskien hou jy van kant, of satyn, of ragfyn materiale. Besluit wat jou die beste laat vóél en koop dan nommertjies van daardie lap wat jou die beste laat lyk. Dit maak nie saak of niemand die dag jou onderklere sien nie, jý weet dit is daar en dit is bekoorlik! En wat manlief aan betref? Wanneer jy jou wel soggens vlugtig jou mooi stukkies sien, moet hy werk toe gaan met daardie gedagte en heeldag daarmee rondloop. Dink net wat dit aan hom dóén!

Die beste daaglikse gewoonte wat jy egter kan kweek en wat nie baie moeilik gaan wees as jy reeds al die bogenoemde geïmplementeer het, is om seks te hê. Elke dag. Seks is goed vir jou hart. Die gelukkigste mense is diégene wat die meeste seks het – dit is wetenskaplik bewys. Boonop versterk dit jou band met jou maat, dit verminder spanning, dit maak jou vel sagter, dit verbeter jou sintuie en dit beveg allergieë. Die lys is nimmereindigend, maar wie het nou gesê jy het ’n rede nodig!

Bykomende bron: www.news.softpedia.com/news