Met die feesvieringe agter die rug, is dit nou weer tyd om te kyk na jou leefstyl en al die goeie gewoontes wat agterweë gebly het die afgelope ruk. Sukkel jy om ’n gesonde gewig te handhaaf? Raak jy pal siek? Lees hier . . .

Promosie

Dit is moonlik om gesond te wees én goed te lyk. Maak seker jy neem al die voedingstowwe in wat jou liggaam nodig het en sorg dat jy gebalanseerd (maar nie te veel nie) eet en jy is halfpad daar!

Jy het waarskynlik ’n voedingsaanvulling nodig

Die afgelope tyd het vitamiene en aanvullings in die spervuur beland, ná sekere kenners beweer het dit is onnodig en dat die misbruik hiervan vir jou meer skade as goed kan beteken. Jy het dit egter nodig! Ons leef in ’n dolle bestaan en wie kry tyd om elke dag perfek gebalanseerd te eet? Die meeste mense kry nie genoeg vrugte en groente in nie. Die meeste van ons eet verwerkte kos (wat tekort skiet aan voedingstowwe). Die grond waarin ons kos deesdae verbou word, is uitgeput en kom dus noodsaaklike minerale kort.

Promosie

Dit is ook belangrik om te onthou dat jy in sekere stadiums van jou lewe aanvullings nodiger as ooit gaan kry – soos wanneer jy swanger is en wanneer jy jou goue jare betree – dan kan jou kos bloot nie aan al jou lyf se vereistes voldoen nie! Vroue wat wil swanger raak, moet 400 mikrogram foliensuur daagliks inneem (dis afgesien van dit wat sy natuurlik in kossoorte kry). Vir swanger vroue is prenatale vitamiene en ’n ysteraanvulling ook nodig. Mense ouer as 50 moet kos met ekstra vitamiene B12 inneem of ’n multivitamien inneem hiervoor.

As jy minder as 1 600 kalorieë per dag inneem en nie kans kry om reg te eet nie, is ’n multivitamien ’n móét. Só ook as jy ’n vegan of vegetariër is (met beperkte kossoorte). As jy swaar bloeding ervaar gedurende jou periodes, kan jy ook baat vind daarby, en ook as jy ’n mediese toestand het wat beïnvloed hoe jou liggaam voedingstowwe absorbeer. Dit is belangrik om met jou dokter te gesels oor voedingsaanvullings.

Vir baie mense on the go het voedingsaanvullings in die vorm van ’n shake ’n wonderlike alternatief geword. As daar bloot nie genoeg ure is om ’n sorgvuldige maaltyd van vars produkte voor te berei nie, is dit ’n gerieflike, dog gesonde, opsie. As jy voedingsaanvullings neem, onthou die volgende:

  1. Kyk na die etiket: Lees dit versigtig om te sien watter voedingstowwe daarin voorkom, hoeveel daarvan en hoeveel jy moet inneem.
  2. Vermy té veel. Kies ’n multivitamien wat ongeveer 100% van die daaglikse aanbevole waarde voorsien, eerder as een wat byvoorbeeld 500% voorsien.
  3. Kyk na die vervaldatums. Dieetaanvullings kan oud word, veral in ’n warm en vogtige klimaat. Maak seker die produkte wat jy koop, het ’n vervaldatum en as joune die vervaldatum bereik het, vervang dit.
  4. Kyk mooi na wat jy eet. Vitamiene en minerale word by al meer kossoorte gevoeg. As jy ook voedingsaanvullings neem, kry jy dalk meer van sekere voedingstowwe as wat jy besef. Dit is duur en kan jou risiko vir newe-effekte verhoog.

Om heeltemal gesond te wees, moet jy egter probeer om die meeste van jou voedingstowwe in die vorm van vars kos in te neem. Melissa Janse van Rensburg vertel hoe jy slim kan eet én gewig kan verloor of ’n gesonde gewig kan handhaaf.

’n Reis na gesonde gewigsverlies

’n Jaar gelede het Nicole besluit dat sy dit aan haarself verskuldig is om goed te voel, in staat te wees om soggens vol energie op te staan en deur die dag te kom. Op 45 was dit tyd om weer ’n vol lewe te lei en ’n liefdevolle ma en vrou te wees.

Na 12 jaar se gesukkel met pyne, moegheid, hoofpyn, gewig en ligte depressie het Nicole genoeg gehad. Haar man se opmerking dat hy nie meer aangetrokke tot haar voel nie het die saak vererger. Alles het sy tol begin eis en Nicole het besef dat dit tyd is om op te tree. In die verlede het ’n string kitsdiëte net gelei tot die “klimtol-effek” – alles wat sy verloor het en ’n bietjie meer het elke keer terug gekom. Nicole het egter ’n besluit geneem en haar pad na gewigsverlies het begin. Saam het ons begin fokus op haar klein suksesse elke week . . .

Jou briljante liggaam en hoekom kitsdiëte nie werk nie

Jou eetgewoontes is een van die moeilikste hekkies om oor te spring wanneer dit by gewigsverlies kom. Elke nuwe dieet wat op die mark kom, verkoop nuwe redes oor hoekom ons nie gewig kan verloor nie en skep hoop teen ’n prys dat die dieet die antwoord is. Vergeet van alles en luister na jou eie liggaam. Die rede hoekom jy oorgewig is as die moontlike mediese oorsake uitgeskakel is, is omdat jy meer eet as wat jou liggaam nodig het en kan verbrand – so eenvoudig soos dit.

Hoekom gebeur dit? ’n Beperkte dieetplan dwing jou om daarop te konsentreer en kontak met jou liggaam en die seine oor wat dit nodig het, te verloor of te breek. As die disassosiasie volgehou word, raak die behoefte aan eet vir die liggaam oorweldigend. Die gevolg is dat jy meer eet as wat jou liggaam nodig het. As ons egter ons liggame binne redelike perke voed, weet jy outomaties dat daar genoegsame kos is en ons metabolisme tel op en verbrand vetjies.

Hoe weet jy dan hoeveel brandstof jou liggaam nodig het? Wend jou tot die kundige – jou liggaam! Jou lyf is geskape met gesofistikeerde seine– is jy honger of is jy versadig? As die verhouding versteur is, moet jy van voor af bewus raak en aandag gee aan die wysheid van jou liggaam.

Leer ken jou hongerskaal

As iemand vir jou sê: “Eet wanneer jy honger is en stop as jy versadig is”, klink dit dalk vir jou vreemd en verwarrend. Dié metode is ’n manier wat jou sal help om weer in voeling met jou liggaam te kom. Dit word die hongerskaal genoem. Jou motor se brandstoftenk is ’n goeie vergelyking met dié skaal.

Hierdie skaal sal jou in staat stel om fisiese honger te erken. Dit loop vanaf -10, wat beteken dat jy rasend honger is, tot by +10, wanneer jy trommeldik is. Nul is neutraal – jy is dus nie honger nie, maar ook nie versadig nie. Jy het nodig om na hierdie skaal te verwys op dieselfde manier as wat jy sal kyk na jou motor se brandstoftenk.

Sodra jou liggaam -2 bereik, is dit tyd om iets te eet, maar sodra jy +2 bereik, hou jy op met eet, al is dit in die middel van ’n maaltyd. Dit is verbasend hoe min kos ons nodig het sonder om fisies honger te ly. Moenie jou liggaam bevraagteken nie, leer dit net ken. Jy sal die tekens ervaar in jou lyf en tevrede voel sonder om oorversadig te wees. As jy hierdie belangrike riglyn kan volg, sal jy nooit weer oorgewig in jou lewe wees nie!

Dis nie altyd maklik aan die begin nie, want as jy op +2 stop, sal jou negatiewe gedagtes en emosies van die verlede dreig om die oorhand te kry. Om op +2 te stop, is die eerste mylpaal tot sukses. Jy respekteer jou liggaam en jy en jou lyf is aan dieselfde kant. Só sal julle saamwerk om die vetjies af te skud. Solank jy en jou liggaam in ’n oorlog teen mekaar gewikkel is, sal jy nooit die geveg wen nie.

Die struktuur van die hongerskaal

  • Eet ses klein maaltye per dag minstens elke drie uur uit mekaar. (Twee van hierdie maaltye kan iets soos ’n hoë proteïen-stafie of ’n skommel wees).
  • Eet ’n porsie komplekse koolhidrate en ’n porsie proteïen met elke maaltyd.
  • Sluit ten minste een porsie groente in by drie van jou maaltye.
  • ’n Porsie is die grootte van jou handpalm of vuis – die werklike grootte van jou maag.
  • Drink ses tot agt glase water elke dag, dis goed vir jou!

Leer waar jou honger vandaan kom

Hoe tref ons die onderskeid tussen die sensasie van honger en ’n honger gevoel? Die sensasie van honger is biologies en fisies, en word veroorsaak wanneer jou lyf se tenk leeg raak. Net jy kan die konneksie maak oor waar jou lyf staan op die hongerskaal. Emosionele honger kan baie dieselfde as fisiese honger voel, maar die gevoel lê eerder in jou hart. Dit is baie belangrik om die twee van mekaar te onderskei. Emosionele eet om die leemte te vul, vererger die honger in ons harte.

Die vier tipes eetgewoontes wat ons kry

Sodra jy ’n beter verhouding met jouself het en die hongerskaal kan toepas, sal jy agterkom dat jy soms wil eet as jy nie honger is nie. Dit kan gebeur as jou weerstandsvlakke laag is en jy iets wil eet om beter te voel, of as iemand kos voor jou neersit en die versoeking raak groot. Moenie dat dit jou ontmoedig nie. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Daaruit leer jy oor jou eetpatrone, wat weer insig tot jou emosionele lewe sal gee.

Deur jou eetgewoontes in kategorieë te kan plaas, kan jy evalueer en verstaan wanneer jy nie eet volgens jou liggaam se hongerseine nie. Dit gee ook ’n goeie aanduiding van wat jy eet. Daar is vier verskillende kategorieë: Eet vir energie, eet vir plesier, onbewuste eet en storm-eet. Elke happie wat jy eet, val in een van dié kategorieë.

  1. Eet vir energie: 90% van die tyd

Ons het nodig om te eet vir optimale energie. Energie-kos is ryk aan voedingswaarde en voedingstowwe. Maaltyd-aanvullings is baie gewild. Hoë proteïen-stafies, skommels en vitamienaanvullings is ontwikkel om ’n gebalanseerde eetplan te komplementeer. Dit is gerieflik om ’n stafie in jou handsak te hou vir ’n noodgeval. Geprosesseerde- en kitskos kan vergelyk word met ’n lui, onbekwame werker wat jy in diens geneem het en jou skade aandoen.

Reëls:

  • Iets wat jy graag wil eet en wat jou liggaam nodig het.
  • Begin eet by -2 en stop by +2 op die hongerskaal.
  • Eet 90% van die energie-kossoorte.
  1. Eet vir plesier: 10% van die tyd

Eet vir die lekker – dit gaan niks doen vir jou lyf nie, maar proe fenomenaal. Koek, lekkers, roomys en southappies val in dié kategorie. ’n Mens het nodig on nou en dan net vir die plesier daarvan te eet, want dit is een van die redes hoekom ’n kitsdieet met sy beperkings nie volhoubaar is nie. Op ’n verjaardag-partytjie deel jy in ander se vreugde deur ’n stukkie koek saam met hulle te eet.

Reëls:

  • Eet vir die lekker 10% van die tyd.
  • Beplan vir iets waarvoor jy regtig lus is.
  • Geniet elke happie en hou op met eet sodra jy dit nie meer geniet nie.
  • Nadat jy plesierkos geëet het, gaan terug na energie-kos waneer jy honger is.
  1. Onbewuste eet

Dit is die springmielies wat jy in die fliek verorber, die skyfies voor die televisie en die “proe” terwyl jy besig is om te kook. Jy geniet dit nie, want jy kom skaars agter dat jy eet. Dis soos om agter jou eie rug te eet. Dit is nie pret nie en dra glad nie by tot jou liggaam se welstand nie. As jy eet – wees bewus daarvan.

  1. Storm-eet

Dit is soos ’n storm – jy voel totaal buite beheer. Jy weet jy ooreet, maar kan nie stop nie (binge). ’n Storm begin en eindig ook gelukkig. Dit kan gebeur omdat jy jouself ontneem van sekere kosse en dit ervaar as ’n skaarste, of dit kan ’n aanduiding wees van emosies en gevoelens dat dinge buite beheer is. Die belangrikste ding om te onthou as dit gebeur, is om jouself nie te veroordeel nie. Dit gee jou kans om uit te vind hoekom dit gebeur.

Kos en ’n maer lyf beheer nie jou lewe nie, dit is ’n goedkoop plaasvervanger van ’n konneksie en regte vreugde. Mag jy ware vreugde vind en dit met die wêreld deel – jou liggaam en gees dui vir jou die pad aan. Nicole en baie ander kon die draaipunt maak – jy kan ook.

 

Deur Annelize Steyn en Melissa Janse van Rensburg (Melissa is ’n gewigsverlies-lewensafrigter)
Bron: Castillo B. If I am so smart, why can’t I lose weight: Tools to get it done. BookSurge, 2007 (My mentor en lewensmodel).