Jare gelede word ek ontbied na die skoolhoof se kantoor. Oudste was betrokke by ‘n insident. Blykbaar het ‘n klasmaat van Sus haar (aspris) in ‘n sloot gestamp. Toe haar knie bloei, besluit sy om versterkings (in die vorm van Ouboet), in te roep. Ouboet en die res van sy Boksom-bende laat nie op hul wag nie. Hulle boks vir Stamper  en laat hom met stof tot nadenke terwyl hy sy ortodonsie van die grond optel “Niemand stamp aan my Suster behalwe EK nie!”

Of dit ware broederlike liefde of net ‘n magsvertoning was, sal ek nou nie weet nie.

Wat sal mens net nie alles doen vir liefde nie? En van watter tipe liefde praat ons? As dit Eros is, die romantiese liefde, glo ons mos ons sal vir mekaar sterf as ons daar voor die kansel staan. ‘n Jaar later, wanneer jy die mooiste babatjie in jou arms sus, besef jy dat hierdie ‘n ander tipe liefde is – ‘n liefde wat natuurlik oor jou spoel. Hy het geen grense nie en  heet Hogyn. Philos is ‘n moeiliker kalant en kom nooit natuurlik wanneer dit kom by ongepoetste bestuurders of bure wat knaend partytjie hou, nie.

Onvoorwaardelike liefde  behels fundamenteel om iemand lief  te hê vir die pesoon wie hy is – ten spyte van sy foute en tekortkominge. Sy naam is Agape – ‘n Goddelike liefde – een waarvoor iemand sy lewe gee vir ‘n ander.

Onvoorwaadelike liefde is uiteraard ‘n keuse en ‘n besluit wat vir verskillende mense, in verskillende situasies geneem moet word. Dit is nie ‘n tipe liefde nie, maar ‘n manier van lief hê. Ek dink ons is dikwels teleurgesteld in die liefde omrede ons verwagtinge  te hoog (of selfs belaglik), is.

Eendag vra ‘n vrou wie getwyfel het in haar man se liefde of hy vir haar ‘n blom sal pluk wat op ‘n berghang is, wetend dat die ekspedisie sy dood sal beteken en hy antwoord :

“Hmmm… jy sukkel soms so met jou rekenaar en huil wanneer jy frustreerd raak, dan het ek my vingers nodig om dit vir jou reg te maak. Jy vergeet jou sleutels dikwels dan het ek my bene nodig om huis toe te hardloop en vir jou oop te sluit. Omdat jy so lief is om te reis en maklik verdwaal, het ek my oё nodig om jou te help met die rigting. Ek sal my oё ook nodig hê om in jou oudag jou naels te knip  wanneer jy nie meer goed kan sien nie en om die sonsondergang vir jou te kan beskryf. Jy kry sulke erge krampe een maal ‘n maand daarom het ek my palms nodig om jou maag te vryf voor jy slaap. Jy kan jou soms so onttrek van die buite wêreld en dae lank in die huis bly – daarom moet ek my mond spaar om vir jou stories te vertel en jou op te beur. Indien jy begin vergeet, sal ek my brein
nodig hê om jou te herinner aan ons kinders se verjaarsdae en hoe verskriklik verlief ons lank terug op mekaar was. So om jou vraag te antwoord : Nee, ek kan nie my lewe waag om die blom vir jou te pluk nie.”

Sus skryf onlangs in Ouboet se verjaarsdagkaartjie:

“Baie geluk met jou 21ste verjaarsdag. Jy is my gunsteling pyn in die dinges!”

Is dit nie maar wat ons almal vir iemand wil wees nie?