Daar was eendag ’n man en vrou wat 60 jaar getroud was. Hulle het alles met mekaar gedeel en alles met mekaar bespreek. Hulle het geen geheime gehad nie, behalwe dat die vrou ’n ou skoendoos bo in haar kas gebêre het. Sy het haar man aangesê om nooit daaroor uit te vra of dit oop te maak nie.

Promosie

In hul huwelik van 60 jaar het hy haar versoek gerespekteer en nie een keer uitgevra oor die skoendoos nie. Op ’n dag het sy baie siek geword en die dokters het bevestig dat haar kans op herstel maar skraal was. Dis toe dat haar man die skoendoos uitgehaal en vir haar geneem het. Sy het ingestem dat dit nou ’n goeie tyd was om die inhoud met hom te deel.

Binne-in het hy toe twee gehekelde lappies en R25 000 kontant gevind. Hy het haar toe oor die vreemde inhoud uitgevra. Sy het verduidelik dat haar ouma op hul troudag vir haar gesê het dat die resep vir ’n gelukkige huwelik is om nooit te argumenteer nie. “Sy het gesê dat ek, in plaas van om te argumenteer, ’n lappie moet hekel elke keer wanneer ek vir jou kwaad word.”

Haar ou man was baie aangedaan en het gesukkel om die trane weg te sluk. Om te dink sy was net twee keer in hul gelukkige huwelik van 60 jaar vir hom kwaad . . . hy was baie emosioneel, maar tog gelukkig.

Promosie

Hy het toe uitgevra oor die geld en waar dit vandaan kom. Sy het saggies geantwoord, uitasem: “Dis die wins wat ek gemaak het met die verkope van al die gehekelde lappies.”

Dit laat my dink aan die dag toe ’n bejaarde paartjie hand aan hand verby my en oom Burtie gestap het. Ons het hulle agterna gekyk en ek het kommentaar gelewer oor hoe dierbaar dit is dat hulle steeds hande vashou. Hy het lekker gelag. “My kind, hulle hou mekaar net regop, dis al.”

Nou ja, hoe dit ook al sy, regop sal ons mekaar hou.

Vanjaar is ek ’n halfeeu oud. Dit is tragies dat ’n mens in ’n stadium eerder in dekades of eeue begin tel . . . maar van die wysheid wat met die grysheid sou kom, weet ek nie. Ek sal nou nie sê dat ek vandag veel wyser is as ’n kwarteeu gelede nie. Dis maar net ondervinding en lewenslesse wat intussen my perspektief oor sommige dinge verander het.

Almal wat al ’n koek gebak het, weet dat koekmeel alleen nie die ding gaan doen nie. Verskeie bestanddele moet saamgevoeg word en selfs dan is daar nog nie ’n koek nie. Die mengsel moet in ’n warm oond gebak word en die eindresultaat is soms bevredigend, maar soms ook teleurstellend.

Om dekade na dekade met ’n eggenoot in vrede saam te leef, is maar soos koek bak. Daar is ’n verskeidenheid bestanddele wat saamgevoeg moet word en elke kundige op dié gebied het sy eie resep vir ’n suksesvolle huwelik.

Noodsaaklike bestanddeel nommer een: ’n Behoefte om te dien. Om vrywillig in diens van die ander een te wil wees. Om deurgaans vir die ander een iets te doen wat sy/haar dag beter maak.

Hierdie doen of gee van jouself of jou tyd is terselfdertyd bevredigend en maak nie net jou eggenoot se las ligter nie, maar laat jou ook beter oor jouself voel. Dit is ongelukkig waar dat ons hedendaagse samelewing verkies om gedien te word, eerder as om te dien. Ons lees selde die verhaal waar Jesus sy dissipels se voete gewas het, of verkies om dit net nie toe te pas nie.

Niks grief my meer as wanneer paartjies mekaar in geselskap verkleineer of korrigeer nie. Respek vir mekaar se menings, tyd, passies, voorkeure, vermoëns en gevoelens is ’n basiese beginsel. Ons is soms versigtig om te lighartig met ons emosies om te gaan, want netnou kry ons seer.

Ons stel mekaar soveel keer teleur – dit neem baie deursettingsvermoë om keer op keer van voor af ’n nuwe resep nader te trek en weer te probeer – veral in daardie tye wanneer die oond onuithoudbaar warm word. Die geheim lê in die probeer – keer op keer.

Die bestanddele verander deur die jare. Ons ken hulle almal, want ons bak verskillende koeke op verskillende stadiums. Respek, vertroue, kommunikasie, regverdigheid, prioritisering, eerlikheid, dankbaarheid, vergifnis, spanwerk en, moenie vergeet van humor nie – daarsonder staan geen huwelik ’n kans om ’n halfeeu oud te word nie, want waar humor opdroog, kruip kritiek in.

Dalk het jy eendag die voorreg om jou eggenoot se valstande in toiletwater te bêre – omdat hy jou kierie Woensdag vir jou weggesteek het, net sodat jy nie met die bussie kon dorp toe gaan nie.