Agt wenke om te verhoed dat huiskoop jou huwelik beskadig
Almal wil ’n huisie by die see hê of dalk ’n voorstedelike woning met ’n wit heining, geplaveide paadjie en ’n dubbelmotorhuis. Maar huiskoop kan baie spanning meebring, veral as dit jou eerste keer is. Waar begin ’n mens en hoe maak jy seker dat jou droom seepglad verloop sonder dat die konflik-wolf jou huisie kom wegblaas?
Hier is ’n paar wenke om jou te help om nie jou maat aan die tone op te hang nie.
1. Neem die lang pad
Ronel Maritz, ’n eiendomsagent van Kathu, maan dat dit belangrik is om nie kortpaaie te neem wanneer jy ’n groot klomp geld op ’n eiendom bestee nie. Neem jul tyd om ordentlik te beplan, navorsing te doen en opsies op te weeg. Dit is dalk só dat jy jou droomwoning kan verloor as jy nie gou spring nie, maar moenie toelaat dat julle in ’n blik gedruk word om ’n besluit te neem waarvoor julle nie reg is nie.
2. Praat en praat
Mans en vroue kyk totaal verskillend na eiendomme en dit is tot jul voordeel. Praat met mekaar oor wat jul verwagtinge van die eiendom is. Sy wil dalk ’n groot kombuis met genoeg kaste en ’n netjiese badkamer (of twee) hê, en hy wil weer ’n eiendom hê wat goed onderhou is. Stel ’n lys op met dit wat vir julle ononderhandelbaar is, maar bespreek ook met mekaar waar julle ’n kompromie kan aangaan. As dit jul primêre eiendom is en julle beplan waarskynlik om vir ’n lang tyd daar te woon, is dit belangrik dat dit in albei se smaak val en in al jul behoeftes voorsien.
3. Luister na die spaarvarkie
Maak seker dat julle die huis wat julle koop, kan bekostig. Dit klink eenvoudig genoeg, maar maak seker dat die verband julle nie uiteindelik wurg nie. ’n Mens is dikwels só verblind van opwinding dat jy nie noodwendig nugter kan kyk nie. Maak julle somme en kyk noukeurig na jul begroting. Dit is ’n groot finansiële verantwoordelikheid vir ’n lang tydperk, maak seker dat julle dit koop wat vir julle belangrik is. Hou in gedagte dat die uitgawes vir ’n huiseienaar nimmereindigend kan wees. As julle byvoorbeeld in ’n veiligheidskompleks bly, is daar maandelikse heffings wat in die toekoms gaan aanhou styg.
4. Dink verder
Al beplan julle nie noodwendig om vir die volgende 30 jaar in dieselfde eiendom te bly nie, is dit nogtans belangrik om aan die nabye toekoms te dink. Kyk byvoorbeeld na trappe, ’n oop swembad, die grootte van die tuin en erf, asook die aantal kamers. Twee kamers is dalk in hierdie stadium meer as genoeg, maar as julle dit oorweeg om kinders te hê, kan dit gou beknop raak. Kyk of die eiendom ten minste vir die volgende vyf tot sewe jaar aan jul behoeftes gaan voldoen. As julle byvoorbeeld veranderings aan jul eiendom beplan, hou die kapitaal wat julle daarvoor gaan benodig ook in gedagte.
5. Maak só met jou deposito
Vra vir die prokureur wat die oordrag doen om jul deposito in ’n trustrekening te plaas. Die oordrag van ’n eiendom kan ’n paar maande duur, en as iets sou skeefloop en die koop gaan nie deur nie, is daar geen rede waarom jy die rente van jou deposito moet verloor nie. Dit help ook as julle vooraf die deposito vir die eiendom gereed kan hê wanneer julle aansoek doen vir ’n lening.
6. Sit jou skerpste bril op
Doen navorsing oor die eiendom, sê Ronel. Julle kan nie aanneem dat die verkoper alles vir julle sal sê wat oor die eiendom te wete is nie. Kyk fyn na die eiendom en maak seker wat vaste strukture is wat ingesluit is by die eiendom en wat die eienaar met hom gaan saamneem. Sorg dat julle ingeligte huiskopers is wat nie uiteindelik met ’n kat in die sak gevang gaan word nie.
7. Moenie blindelings teken nie
Ronel waarsku dat dit belangrik is om nié die kontrak sommer net te onderteken nie. Maak seker dat jy alles in die kontrak verstaan. Vra dat sekere dele van die kontrak aan julle verduidelik word. Kyk of alle klousules noodwendig nodig is. As julle nie vra nie, gaan julle mekaar net later verwyt as daar iets is wat julle nie in berekening gebring het nie. Jy kan selfs ’n onafhanklike prokureur se hulp inroep as jy wil seker maak julle word nie om die bos gelei nie.
8. Die (ou) skuldmonster
Maak seker dat daar nie ou skuld teen die eiendom is waarvoor jy as koper uiteindelik gaan moet pa staan nie. Laat jou prokureur jou help om seker te maak dat alles in orde is voordat jy jou handtekening op papier plaas. Jy wil nie met ’n ekstra finansiële las sit wat jy en jou maat nie beplan het nie, en wat nie in die eerste plek jul verantwoordelikheid was nie.
Die huissoekproses is veronderstel om ’n aangename avontuur te wees. Herinner mekaar daaraan om dit te geniet en te lag ten spyte van die uitdagings en frustrasies. Gaan oopoë in die proses in en ondersteun mekaar. Julle is spanmaats – uiteindelik gaan al die bekommernisse, swoeg en sweet die moeite werd wees. Vier die huissoek-reis met ’n glasie op die stoep van jul nuwe tuiste. Oos wes, tuis bes.
Artikel deur Lize Groenewald