Om te hoor jou man word aangekla van ‘n seksuele misdryf, is genoeg om die mat onder enigiemand uit te ruk. Annette, radio-omroeper en geestelike berader, deel haar storie.

“Hy was anders as die ander kinders wat ek geken het,” vertel Annette. Haar gedagtes dwaal na baie lank gelede toe sy (toe graad 9) en *Kobus (toe graad 12) leerders aan ‘n Kwa-Zulu Natal hoërskool was.

“Ek het later uitgevind hy is anders omdat hy van jongs af die Here dien. Die manier waarop hy dinge hanteer het, het uitgestaan.” Annette was Kobus se eerste meisie en ‘n kysring met twee duifies (op skuld gekoop) het die verbintenis ‘formeel’ gemaak.

Ná hy weermag toe is, is hulle getroud en het hy vir pastoor gaan studeer. Dit was hy wat Annette na die Here toe gelei het. Sy het haar kwalifiseer as geestelike berader. Saam het hulle in die bediening gestaan, vuur-en-vlam vir mense met seer. “Ons het altyd ‘n standvastige huwelik gehad. Ons het twee seuns en ses kleinkinders (waarvan een oorlede is). Die lewe gebeur en daar is dood en hartseer, maar deur dit alles het ons sterk gestaan.”

Promosie

Verlede jaar was ‘n groot jaar. Hulle het hul veertigste huweliksherdenking gevier, maar nié soos hulle jare lank gedroom het hulle sou nie. Hulle kon met mekaar praat, maar daar was glas tussen hulle …

‘Die dag toe die mat onder ons uitgeruk is’

Ná 30 jaar saam in die bediening het iets gebeur waarop die paartjie hulle nooit kon voorberei nie. ‘n Vrou in die dorp waar hulle gewoon het het Kobus aangekla van verkragting.

Dit was vir Annette ‘n baie emosionele tyd, maar geestelik het sy nooit gestruikel nie, want dit is in die Here waar sy haar troos gekry het. “Ek moes hierdie skok verwerk, wat so radikaal was, dat dit my diabetes gegee het. Kobus het drie hartaanvalle gekry, waarvan twee amper sy lewe gekos het. Daar was woede en maar ook die ontnugtering. Jy moet aanpas. En die vraag: Wat gebeur nou? Dit het so goed gegaan in ons bediening en so goed gegaan in ons huwelik. Daar was nooit ‘n derde persoon nie. Ons was dan verlief en gelukkig.  En toe verloor ons ons gesondheid en ons werk en ons gaan deur erge beproewings.”

‘Dit het ons nader aan mekaar gedryf’

Waar die spanning van so ‘n voorval baie paartjies uitmekaar sal dryf, het dit hulle nader aan mekaar gebring. “Ons het baie swaar op mekaar geleun in hierdie tyd,” vertel Annette. Kobus het ‘n ander werk gekry en Annette kon haar vryskutwerk as radio-omroeper voortsit. “Ons het alles verloor. Al ons spaargeld en ons polisse is vir regskostes aangewend. Elke sent wat ons vir ons oudag gespaar het, was weg.”

Behalwe vir die finansiële uitdagings, was daar ook die emosionele uitdagings. “Die grootste oordeel het vanaf Christene gekom. Kerkmense. Die mense, wat nie gelowiges was nie wat ek beraad het, het vir ons kos en geld gebring, maar die kerk het sy rug op ons gedraai. Daar was wel ‘n handjievol kinders van die Here wat ook ons vriende is en wat ons bygestaan het en steeds doen. Natuurlik ook ons familie en kinders, wat self baie seergekry het in dié proses. Beide ons seuns is onderwysers en die skoolkinders het vrae gevra, want die nuus was landwyd in die pers gepubliseer.”

‘Die dag toe my man tronk toe is’

In Oktober 2016 is Kobus gevonnis tot vier jaar tronkstraf (hul prokureur het gewaarsku dat hulle hul moet gereed maak vir minimum van 15 jaar).  Hulle het appelleer teen die skuldigbevinding en vonnis, maar het nie die fondse gehad om enduit te veg nie.

Op 14 Februarie 2018, op haar verjaardag en Valentynsdag het hulle die dag met ‘n romantiese afspraak gevier …

Later in  Februarie 2018 is hy na die gevangenis.

Annette woon in Durbanville. Sy onthou die emosies van daardie dag toe sy vonnis voltrek is. “Ek het vooraf vir hom gesê: As die vonnis teen jou draai, hou net jou pose. Behou jou selfrespek, want daar is mense wat genot gaan put uit jou hartseer.”

Die oomblik toe die regter die vonnis lees, het Kobus en Annette vir mekaar gekyk. Sy het vir hom geglimlag. “Ons het krag uit mekaar geput met daardie kyk. In my oë kon hy sien ek sê: ‘Staan net sterk.’  Hulle en die prokureur en vriende het saam gebid alvorens hy na die selle weggelei was om  sy vonnis uit te dien.

Die realiteit van ‘n eggenoot agter tralies

Kyk Annette nou terug na die afgelope twee jaar, voel dit vir haar soos ‘n ewigheid. “Mens is alleen en die eensaamheid vang jou. Jy worstel met so baie dinge wat jy op jou eie moet uitsorteer. Skielik was ek alleen – waar ons voorheen, ook in die bediening, alles saam gedoen het. Ons het saam gewerk en die meeste van die goed saam gedoen. En skielik is ons weggeruk van mekaar …

Die eerste ses maande kon Kobus en Annette mekaar in die gevangenis slegs deur glas sien. Kontakbesoeke is nie toegelaat nie. Hul droom was om hul veertigste huweliksherdenking by Madikwe (‘n wildreservaat) te vier, maar dit het heel anders uitgedraai …

Tans bepaal die reëls dat hulle mekaar een keer per week mag bel en elke telefoonoproep mag tien minute duur. Vier besoeke per maand is toelaatbaar en elke besoek mag ‘n uur duur, maar weens finansiële beperkinge kan Annette slegs een keer per maand gaan kuier.

‘Kobus se roeping in die tronk’

Aanvanklik was Annette baie bekommerd oor Kobus se veiligheid. Sy het aanhou bid en hy is nog elke dag tot op hede veilig. “Hy leer ‘n heel ander wêreld ken wat hy nie voorheen geken het nie. Hy hoor dinge wat hy nie gedink het bestaan werklik nie. Hy leef tussen geharde misdadigers in ‘n wêreld wat ons nie ken nie en hy vertel dat die Here hom ‘n roeping gegee het en hom beskerm om sy geloof daar uit te leef. Hy sien hoe mense bekeer en vry kom, selfs al is hulle in die tronk.”

Nou beraad en preek hy in die gevangenis, vertel Annette. Hy lei misdadigers na die Here toe. Hy dissiplineer en evangeliseer. Hy leer hulle en lei hulle.

Die lewe gaan aan hier buite

Intussen doen Annette berading onder vroue soos sy – vroue wie se mans ‘n vonnis uitdien. Wat sê sy vir hulle? Dat hulle hul krag uit die Here en nie uit mense moet put nie – hoewel mense se ondersteuning kosbaar is, is dit net die Here wat jou deur so iets kan dra.

Sy raai die vroue aan om kontak te hou, briewe te skryf en hul lewensmaats in die tronk te besoek. “Daar is baie mense wat sê dit is vir hulle te moeilik om besoek af te lê in die tronk, maar ek raai hulle aan om dit te doen, want dit is terapie.”

Annette vertel dat egskeidings ná ‘n tronkvonnis algemeen is. “Ongeveer ‘n driekwart van die mense skei. Dis aan die orde van die dag. Baie van die vroue weet hul maats is skuldig en besluit dan om hul lewens saam met iemand anders voort te sit. Party mense kry vyftien jaar tronkstraf. Gaan hulle maats hul lewens stopsit vir vyftien jaar? Jy kan nie daardie besluit namens enigiemand neem nie …”

Vandeesmaand is dit halftyd. Hulle bly droom daaroor om eendag wel hul huweliksherdenking by Madikwe te vier, selfs al is dit laat …

Annette deel haar raad:

  1. Kry ‘n sterk steunstelsel in die vorm van mense en van finansies, anders sal jy nie kan oorleef nie. Ek doen vryskutwerk as radio-omroeper, maar ek het ook vriende en familie wat my emosioneel én finansieel ondersteun.
  2. Bly so besig as wat jy kan! Ek leef my uit met my stokperdjies en my kleinkinders. Ek doen berading, en ek bied praatjies aan deur my getuienis te lewer of onderwerpe aan te spreek soos kommunikasie of kinderopvoeding.
  3. Moenie te veel dink nie. As jy heeltyd dink oor die situasie waarin jy is, gaan dit jou negatief maak. Jy het mos selfbeheersing en kan self jou gedagtes bepaal. As ek voel my gedagtes dwaal soontoe, sê ek vir myself: “Dit is verby, dis ‘n hoofstuk wat afgehandel is.”
  4. Jy moet vergewe. Sonder om te vergewe kan jy nie aangaan nie. En dit is moeilik – veral as die mense wat so onregverdig teenoor jou opgetree het, geen berou toon nie. Maar beide ek en Kobus het vergewe – alle persone betrokke.
  5. Jy moet daagliks kontak maak. Ek en Kobus skryf elke dag in briefvorm wat met ons gebeur en wat ons die dag gedoen het. As ek so 9 folio’s voltooi het, pos ek dit vir hom en hy doen dieselfde. Ek behou die romantiek met hartjies en parfuum en só dink ons elke dag aan mekaar en ‘praat’ ons elke dag met mekaar.
  6. Praat oor jou omstandighede. Ek moes leer om daaroor te praat, want daar is bevryding daarin. Jy mág maar sê hoe jy voel en jy mág hulp aanvaar.
  7. Trotseer elke dag. Wanneer ek in die oggende opstaan, maak ek my huis aan die kant, ek trek myself mooi aan en ek wend grimering aan – asof my man in die huis is. So vat ek elke dag aan, in plaas daarvan om verslons rond te loop en myself jammer te kry.
  8. Kry ‘n vlees-en-bloed steunpilaar. Ek het ‘n vriendin van 30 jaar. Wanneer ek voel asof alles te veel raak, bel ek haar en sê ek het haar nodig. Dan gaan drink ons ‘n koffie en sy sal sommer by my oornag ook. Soms is whatsapp ondersteuning nie genoeg nie en het ‘n mens behoefte aan ‘n méns om by jou te wees.
  9. Onthou altyd: Wat is ‘dinge’? Dit is geld. Dit is ‘n vonnis teen jou man. Dis alles materieel. Op die ou end bly die mens altyd belangriker as die dinge. Maar soms raak die seer in ‘n situasie só oorweldigend dat jy die mens miskyk. Dit is baie belangrik dat jy altyd die perspektief en die wete behou: Mense is belangriker as dinge …

Artikel deur Annelize Steyn

Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!